Burokrasie

Januarie 23, 2012 in Sonder kategorie

Ouboet moet ‘n studenterekening oopmaak by die bank. Ons sukkel nou al lank om ‘n tydjie te kry om dit gedoen te kry.  Vandag daag ons uiteindelik op by die bank op met alles wat die dame al tweekeer vantevore gesê het ons daar moet hê.

Nee, die studentekaart is nie voldoende bewys dat hy ‘n student is nie. Bewys van registrasie is nodig. Wel, dis geen probleem nie, ons het net mooi laasweek aanlyn geregistreer, so ons kan net gou op hulle internet gaan en dit print, geen probleem.

Nee, meneer, ongelukkig het ons werkstasies nie internetverbinding nie.

Goed dan, ek stap gou oorkant die pad na my kantoor toe en gaan print dit van my rekenaar af. Natuurlik skop die printer se bug in – jy weet, daai sensor wat agterkom as jy haastig is, dan jam hy die papier en soortgelyke dinge. Ek WhatsApp vir ouboet, wat intussen in die bank wag: “Dis burokrasie.”

Maar daremte kry ek al die goed uitgedruk en stap terug bank toe.

Nee meneer, jammer, ons aanvaar dit net as dit op ‘n briefhoof van die kampus is.

Ek gee nou eers op met die rekening.

Kom ons gaan nou maar liewer af na Binnelandse Sake toe om vir ouboet vir ‘n paspoort aansoek te doen.

Ek is gelukkig om reg voor die gebou parkering te kry. Hiér word jy oorval deur manne wat aanbied om jou paspoortfoto’s te voorsien. Gelukkig het ons dié reeds. Die hek agter die gebou waar ek altyd ingaan is toe. En daar is niemand nie. ‘n Vrou kom aangestap en keer toe ek wil wegstap.

“Hey, jy!” Sy fluit hard. Dan rol die gemotoriseerde hek oop en kan ons ingaan. Ons veg ons pad oop deur almal wie paspoortfoto’s aan jou wil verkoop.

Wanneer ek binne kom verloor ek sommer moed. By toonbank 3, waar jy moet aansoek doen vir die paspoort, sit daar genoeg mense om Binnelandse Sake vir die volgende drie dae en drie nagte besig te hou. Ek sê vir ouboet hy moet maar later op sy eie kom. Hy weet nou waar die gebou is en hoe om in te kom, ek sien nie hiérvoor kans nie.

Nes ons loop roep die een sekuriteitswag hom agterna. Sy’t ons waarskynlik gehoor, want sy beduie vir hom na ‘n veel korter ry toe. Dís waar jy aansoek doen vir paspoorte.

OK, nou het ek weer meer moed. Ons val agter in daardie ry in. So van gesels met die mense rondom ons kom ons agter jy moet eers hierdie ry verlaat om by ‘n kantoor eenkant jou vingerafdrukke te laat neem. Terwyl ouboet in daardie ry inval draf ek gou uit na die naaste kitsbank toe. Ons moet nog geld trek vir die transaksie. In daai deel van Bellville kyk ek maar rondom my soos ‘n verkleurmannetjie, veral as ek eers klaar die geld getrek het. Ek maak dit darem ongedeerd terug na Binnelandse Sake se kantoor toe. Dieselfde paspoortbemarkers as vroeër probeer weer hul diens aan my verkoop.

Terug vind ek vir ouboet steeds derde van voor af in die vingerafdruk ry staan waar ek hom flussies gelos het. Ek hou nou maar sy plek in die ander ry.

Later kom hy daar uit met vuil vingers. Hy was nie lus om sy vingers in daai pot goed te druk om dit skoon te maak nie. Ek stuur hom terug na die pot goed toe. Met sy terugkeer moet hy nou weer met skoon vingers en die vuil R400 wat ek nou net getrek het in die ander ry gaan inval om te betaal.

‘n Dame wat daar werk, en wat omtrent net drie bakstene hoog is, kom van tyd tot tyd daar verby om te kyk of jy in die regte ry staan. Teen daardie tyd staan ons toevallig in die regte ry.

Nou begin ek maar met my vrou WhatsApp om die tyd om te kry. Kleinboet het sy kitaar laat val, en dié is nou gekraak. Die kitaarjuffrou is besig om by winkels om te gaan om te hoor of dit reggemaak kan word. Die man van die skottelgoedherstelplek sms my dat my 21-jaar oud skottelgoedwasser se herstelwerk baie duur gaan wees.

Ons is 10de van voor af. Vroutjie voel nou al baie lief vir my oor ek hierdie oefening doen en sy dit nie hoef te doen nie.

Dis warm. Ek sweet. Binnelandse Sake kom voor die slegste uit mense uit te bring. Die mense voor ons in die queue is ontevrede en is ook onsubtiel daaroor. Hulle is darem vriendelik met ons. Nou kom die tou tot stilstand. Iewers is daar ‘n fout met die rekenaar. Nou moet hulle eers iemand kry om die fout op te spoor.

Vroutjie is eintlik nou al so beindruk met my dat sy nou allerlei oulike boodskappies vir my aanstuur.  Ouboet laat weet later vir haar sy WhatsApp na sý foon toe in plaas van na mý foon toe.  En nee, hy gaan nie saam nie.  Vroutjie WhatsApp vir my ‘n rooi smiley gesiggie wat nie smile nie.  

Uiteindelik kom die ry weer aan die beweeg. Uiteindelik is ouboet voor in die ry.  Dan is hy klaar. Nou moet ons nog net die vorm in ‘n box gaan gooi in dieselfde kamertjie waar die vingerafdrukke geneem word. Daar gekom staan dieselfde crowd wat voor ons in die tou gestaan het weer daar. En niemand het hulle vorms in die box gegooi nie. Ek is ook nie lus om my vorm waarvoor ek R400 betaal het sommer net in ‘n box te gooi nie.

‘n Amptenaar kom verby, neem ouboet se vorm, kyk daarna, en forseer dit onseremonieel deur die gleuf in die box in voor ek kan keer. Wel, nou moet ons maar in elk geval loop. En dit het nou net mooi begin lekker raak hier by Binnelandse Sake.

Buite vra ouboet my: “Wat is burokrasie?”

10 antwoorde op Burokrasie

  1. dit klink ver, maar ry volgende keer Paarl toe. hulle binnelandse sake het ek nog nooit besig gesien.
    oor die bankrekening : 🙂 Been there……..

  2. Vetjan het gesê op Januarie 23, 2012

    Gelukkig doen ek my Binnelandse sake besigheid in Caledon. Soms is daar tot 3 mense wat voor jou in die ry staan en jy moet 2 blokke ver loop om iemand te kry om fotos te neem.

  3. Nie soveel anders in ander lande nie, so moenie sleg voel nie. Ek kan boeke skryf oor Fraser Health en hulle dom agente wat elke keer as hulle opgemors het vir my probeer verduidelik hoe die betalingsisteem werk (waarvan ons lidmate is en gehelp het om die sisteem op te stel deur derduisende vergaderings by te woon, 6 jaar gelede). “Ja, Tannie, vier jaar voordat jy in die pos kom werk het en jy is nog steeds lekker onnosel”, loop so deur ‘n mens se kop, maar jy kan dit nou nie se nie. As ouboet sy paspoort het kan hy maar defnitief hier kom kuier. Die Newtonseuns sal hom ‘n XBox pro maak:). Omtrent vrou se kwaai gesiggie (emoji), ek is sympathiek. Ons het dit al gedoen, en dan kom vra kleinboet vir ons wat “Meet me under the covers” beteken: en hoekom ek dit vir hom stuur:). (bloos). Dan moet jy vinnig dink, en se: “Het van Pa se jas gepraat” itv ‘n “hug”. Tegnologie is nie altyd die beste manier om romans te bevorder nie. lol

  4. loudavisi het gesê op Januarie 24, 2012

    Ek wou net moedeloos raak, toe is die einde tog goed!
    Vasbyters – julle!

  5. Oor die bankrekening gaan hulle jou nog vra dat die brief nie n stemp op het nie.
    Al die foute op jou aansoek beteken maar net:Gaan weg ek ken nie my werk nie.

  6. TS het gesê op Januarie 24, 2012

    Sterkte
    Ons het so binnelandse sake vragmotor en dit werk so lekker Al wat jy dan doen is om dit te gaan afhaal

  7. Antwoord: Burokrasie is wat mense kry as die regering die baas word en nie meer die dienaar is nie.

  8. Petronell het gesê op Januarie 24, 2012

    aai – jy vertel dit skreeunsaaks en die ergste is – dis presies hoe dit is..!! hou duime vas julle binnelandse sake werk uit..!

  9. frandr het gesê op Januarie 24, 2012

    Laat jy my nou dink aan die dag toe ek vir myself geskrik het – het amper oor die toonbank gespring en ‘n binnelandse-sakeman aangerand.

  10. pgjonker het gesê op Januarie 25, 2012

    Die een hier naby my. 😉

Los ’n antwoord vir loudavisi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.