Gouritsmond 2011 – deel 11: Huis toe

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

So kom alle goeie dinge op ‘n einde.

Die dag voordat ons terugry huis toe is altyd so half ‘n ongemaklike dag. Jy weet môre gaan jy huis toe. Jy wil nie nou al oppak nie, maar jy is tog bewus van wat alles moet ingepak word. En voor jy jou kom kry begin jy goeters uitmekaar haal, sorteer, inpak.

Ons slaan een tent solank af. Daai tent is die eerste ding wat in die bakkie moet in voordat enige iets anders kan ingepak word, so dis darem ‘n begin.

Ons doen ‘n laaste idilliese swem by die see. ‘n Blou-en-wit vliegtuig kom oorgevlieg. Eers seker teen ‘n hoogte van so 30m. Dan draai hy en kom terug, sekerlik niks hoër as 10 – 15 m nie. Almal kyk so half onthuts vir die vliegtuig wat so laag oor die swemmers kom. Miskien het hy sy ma gesoek tussen die mense.

Die mense oorkant is ook besig om op te ruim. Die kamp begin nou leeg te loop. Ons sluit ons laaste aand af met melktertjies by die bure: kondensmelk, ideal melk en vodka gemeng. Met kaneel bo-op. Mens moenie bestuuur as jy ‘n paar van hierdie melktertjies gedoen het nie.  Ek dink dis die kaneel.

Die volgende oggend slaan ons op. Sussie se tent skeur beyond repair. Die tent het presies net mooi lank genoeg gehou.

Ek het nie verlengde kantspieëls nie. Die keer toe ek dit wel probeer het, toe breek die rek van die aanhegspieël die bakkie se spieël. Ek het nog nie weer probeer nie. Ek laat sak die karavaan se gordyne en pak my bakkie só dat ek in my tru-spieël deur die karavaan kan sien.

As die son egter op ‘n sekere manier op die karavaan se voorruit val kan jy niks deur die karavaan sien nie. En as die goed agter in die bakkie boonop nog effens skuif en jou uitsig belemmer, dan kan jy heeltemal niks sien nie. Nou moet mens allerlei tegnieke uitdink om te probeer agterkom of daar mense agter jou is.

Een is om (as die pad breed genoeg is) effens na links te gaan en dan weer net genoeg na regs te swaai dat jy, steeds nog aan jou kant van die wit streep, in jou kantspieël ‘n momentele uitsig op die pad agter jou het. Dit werk heel goed. Ek het ook al gevind dat die ouens wat presies op daardie oomblik van agter af by jou verbykom geneig om toeters te druk en vrolik vir jou te waai. Maar sommige van daai manne is al ure op die pad, hulle hande is so gekramp van die stuurwiel vashou dat hulle net een vinger reguit genoeg kan kry om mee te waai. Dan glimlag ek maar net vriendelik terug. Ek verstaan mos hoe moeg mens raak van lank bestuur.

Op die N1 Kaapse kant van die tonnel, egter, raak dit erg lastig. Nou kan jy nie lekker sien of daar dalk ‘n ou met ‘n hengse spoed van agter af in die regterbaan aangejaag kom nie. Dus kan jy nie waag om voel-voel oor te beweeg na die regterbaan toe soos andersins nie. Die gevolg is dat ek hierdie keer seker vir 10km agter ‘n Chana met ‘n sleepwa ry teen 40km/h. Ek ry as ‘n reël nie vinnig nie, maar dit was selfs vir my bietjie stadig.

Nee, ek dink dis dalk tyd vir verlengde kantspieëls voor volgende jaar se uittog.

Ons arriveer 16h00 tuis.

Ons stoot gou die karavaan langs die huis nie.   Die vorige keer het ek en ouboet alleen die karavaan ingestoot. Vandag kan ek en ouboet en twee tienermeisies en ‘n nege-jaaroud nie die karavaan inkry nie. Buiten vir die bo-grondse irritasie wat die bougainvilla veroorsaak, maak sy wortel nou ‘n hobbel, en dis verbrands of ons die karavaan oor die hobbel gestoot kry. Ek kan dit nie met die bakkie probeer nie, want die toleransies weerskante van die karavaan is te min. Dan ry ons ‘n muur plat.

Na ‘n klomp gesweet kry ons darem die karavaan verby die kritiese punt, en stoot ons hom nou rustig verder in. Te rustig. Een van die navigators kyk nie mooi nie. Die volgende oomblik kadwarra! ry ons die een geut raak. Dié spat in twee, maar darem gelukkig was dit twee stukke om mee te begin. Die knak het egter ‘n knou weg.

Maar nou ja, een van die wyshede van kamp is dat duct tape alles kan regmaak van ingroei-toonnaels, stukkende tente, en les bes, gekraakte geutpype.

Die bakkie se koppelaar het gehou tot by die huis. Ek trek hom al sidderend in langs die huis. Voor die bakkie weer swaar vrag doen sal hy ‘n nuwe koppelaar moet kry.

Nou daai was nou lekker gewees, né?

4 antwoorde op Gouritsmond 2011 – deel 11: Huis toe

  1. Ek dink ook dis die kaneel!

    Dankie, PG, ek het julle vakansie baie geniet

  2. TS het gesê op Januarie 16, 2012

    Baie dankie ek het heerlik aan die reeks gelees.

  3. avega het gesê op Januarie 16, 2012

    Bly julle is veilig tuis.

  4. frandr het gesê op Januarie 16, 2012

    Die lees was amper so lekker as om self daar te wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.