Gouritsmond 2011 – Deel 9: Oujaar

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

Ouboet bel ons 05h50 wakker. Van die huis af ná hulle deurnag trip op die bus. Net om te sê hy en oupa is veilig tuis. Ek is bly om te hoor, maar ek wonder darem of die spulletjie nie soms moedswillig is nie. Ek meen nou maar, was dit nou regtig nodig vir Willie om my by ‘n ander geleentheid om 04h49 te WhatsApp dat hy gaan visvang. Ek sou hom nie voor 08h00 gemis het nie, verstaan.

Elke jaar word die spookhuis ‘n paar keer besoek. Wel, dis nie regtig ‘n spookhuis nie. Dis bloot ‘n vervalle huis so 10km’s uit op die pad na Rein’s natuur reservaat toe. Maar iewerster het iemand gewonder of dit nie daar spook nie, en van toe af het die stories elke jaar erger geraak en die spook al woester.

So het ons laasjaar op ‘n aand vir Wallace daar sitgemaak met sy soundbox wat allerhande geluide maak. Uile wat hoe-hoe en al sulke dinge. Wallace moes in die donker die span tieners gaan inwag wat ons geweet het op pad was spookhuis toe. Wat Wallace egter nie op gereken het nie was daai lawwe uil wat amper in hom vasvlieg toe hy in die donker daar instap om sy sit te kry.

Hy’t blykbaar die uil luid tereggewys en hom aangemaan om dit nie weer te doen nie. Deesdae se uile het ook nie meer maniere nie. Maar Wallace het agterna daarop aangedring dat sy broek al vroeër die dag daai merk op gehad het.

My vrou neem vir sussie Mosselbaai toe. Daar’s ‘n verrassing. Sussie weet van niks. So toe sussie se goeie vriendin van die Kaap af van die bus afklim by Voorbaai Jack, toe is sussie in trane. Sy’t regtig niks geweet nie, of anders moet sy teruggaan na die skool se dramagroep toe.

Ek ontdek die boer wat fonteinwater verkoop.   Sy stalletjie is langs die pad.

Jy tap jou fonteinwater uit ‘n stainless steel tenk uit en gooi jou R2,50 per 5 liter in ‘n honesty boks. Jy koop op dieselfde manier hout en eiers ook by die hokkie, sonder enige toesig.

Ek wonder wat Raymond Ackerman van hierdie sakemodel sal dink. Dalk kan dit goed werk by Pick-n-Pay. Dink net hoeveel kan jy spaar op arbeidskoste.

Laatmiddag kom Willie in pyn van die see af. ‘n Jellyvis het hom getakel. Willie sê die jellievis het hom ingesluk, maar ek dink hy jok. Ten minste sou sy kop nog uitgesteek het. Maar dan weer, hy is so ‘n kortgat, dit kon dalk net moontlik wees. Groot rooi brandmerke op sy bors.

Ons Google op die selfoon vir rate. Asyn, Antizan, rooibostee, en baie aandag doen die ding. Iemand stel voor ons piepie op Willie se bors, maar hy sê hy is tas-defensief, hy hou nie daarvan as daar water in sy nek afloop nie. Toe los ons maar daai raat.

Ons hou ‘n oujaar spitbraai. Wallace het die skaap geskenk, vir die res moet elkeen net ‘n pak charcoal bydra.

Nie ‘n sleg transaksie nie, het ek nogals gereken. Ons eet baie lekker, en wag dan die oujaar uit met ‘n koffie en sjampanje en doen dan die happy-happy ding.

Nou ja, en toe is dit 2012.

5 antwoorde op Gouritsmond 2011 – Deel 9: Oujaar

  1. TS het gesê op Januarie 15, 2012

    Klink darem nog al te lekker

  2. Pak houtskool vir ‘n deel van skaapbraai is ‘n goeie transaksie…

  3. Ou-Top het gesê op Januarie 15, 2012

    Lekker loop n ou se gedagtes na die lese hiervan en die pragtige fotos daarby.
    Meat Tenderiser vir jellievis brand. En daai lekker spitbraai, twee sinkplate aan die kante halveer die braaityd. Maar nou ja, julle Kapenaars drink mos wyn en hou langer, ons Vrystaters met ons klipdrift en coke, sal die gaarkry einde nooit sien nie.

    Hoop daar is baie kinders betrokke, hulle onthou sulke goed vir ewig. Geniet jou blog, ou vriend.

  4. avega het gesê op Januarie 15, 2012

    Ek geniet jou vakansie amper net soveel as jy!

  5. eros01 het gesê op Januarie 15, 2012

    Mooi storie. Is ook al deur die jellievis storie en die piepie raat het ook nie byval gevind nie.xR

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.