Gouritsmond 2011 – deel 10: Kosmaak

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

 

Sardientjiebrood

 

Kamp is ‘n ideale plek om nuwe resepte uit te probeer.

 

JJ kom daar aan met ‘n resep vir ‘n sardientjie-brood (nee, regtig). Ons besluit om ‘n soortgelyke broodjie te bak, maar sien darem nie kans vir sardientjies in ons brood nie. Ons sit liewers die vorige aand se gaar bacon, in stukkies gesny, in ons broodjie.

 

Bruismeel, karringmelk, eier en so aan (kan nou nie al die bestanddele onthou nie).

 

Ons s’n lyk bietjie soos pizza, en smaak ook nogals so bietjie so. Glad nie sleg nie. Tewens, die tieners is mal daaroor en eet dit binne minute op.  So I rest my case oor die broodjie.

 

Ek stap oor na JJ toe om te sien hoe hulle s’n gekom het.   Hulle broodjie is onder ‘n doek weggesteek. Die resep het nie gesê jy moet die sardientjies uit die blikkie uithaal en net die sardientjies insit nie. Kort van die blikkie self het JJ-hulle alles in die bakmengsel ingewerk.

 

Hulle sal dit later vir vissmeer probeer, sê hulle. Hoflikheidshalwe het ons nie weer navraag gedoen oor wat van die broodjie geword het nie.

 

Maar nevermind nuwe resepte probeer. Kamp is ook ideaal om eintlik van scratch af te leer kosmaak. Jy weet, as jy ‘n kookboek lees, dan voorveronderstel selfs basiese kookboeke dat jy die verskil weet tussen bak en kook. Daai mense verstaan nie.

 

Só het ek ook maar op ‘n besonderse stadige manier my weg begin vind op die misterie van kosmaak. Wat my laat dink aan een van my eie pogings baie jare gelede by Gourits. Op daardie stadium was ons omtrent sewe gesinne wat almal op ‘n gesamentlike braai-blad kos gemaak het, elkeen in sy eie braaidrom. Ek was nog onder die beginpunt van die leerkurwe van kosmaak, en het eintlik maar min of meer net my vrou se instruksies uitgevoer. Sy is bereid om, as ek haar voor mense vra, toe te gee dat ek nou al bietjie beter is as toe.

 

Dis nogals so half intimiderend. Jy is tussen ‘n klomp manne wat almal baie kundig en bekwaam is op die kosmaak, en elke ou hou hom baie nonchalant oor die eksotiese kosse wat daar by elkeen se braaidrom tot stand kom. Vroulief het gesê ons maak potjie. Waarskynlik het sy gedink dis die veiligste opsie. Immers (wel, deesdae) kom ‘n potjie altyd goed, ten spyte van my pogings.

 

Ieder geval, first things first. Eers braai ons die uie in die pot. Piece of cake. Olie in die pot. Uie in die pot, daar gaan ons. Ek raak besig met my ander voorbereidings vir die pot. Later vra ek vir my vrou wanneer haal mens die uie uit. Nee, wanneer dit so glaserig begin lyk. O, OK, so kom ons kyk hoe lyk dit.

 

Soos dit nou maar gaan by so ‘n gemeenskaplike kosmaak oefening kyk almal maar wat almal doen. Daar is nie eintlik ‘n manier om diskreet oor jou pot te wees nie. Op dié manier het ek toe verskeie getuies toe ek my pot se deksel afhaal. En daar lê my swart verbrande verskrompelde uie onder in die pot. Dit lyk soos swart geroeste staalwol, ek sê jou.

 

Ek het nie eintlik gedink dis amusant nie.  Om die waarheid te sê, ek dink nog steeds nie dis snaaks nie.  Maar al die ander mense het hulle gatte af gelag. Om die waarheid te sê, dis nou 11 jaar later, en hulle lag nog steeds hulle gatte af as iemand weer die storie onthou.

 

En hoekom enige iemand dit nog na 11 jaar wil onthou… well, it beats me.

 

3 antwoorde op Gouritsmond 2011 – deel 10: Kosmaak

  1. goed vertel. die manier van ‘skryf’ laat my dink aan die slag toe jy vertel het van die kondoom inkopies wat jy moes gaan doen het.

  2. 😀
    Dis ‘n sagte giggel…
    Wie het nog nooit staalwol van uie gemaak nie?

  3. TS het gesê op Januarie 16, 2012

    Ek kry so die gevoel jy onderspeel bietjie daardie kosmaak talente!

Los ’n antwoord vir bloukaap. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.