Gouritsmond 2011 – deel 7: Die wonder van die sterre

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Ons is op ‘n middag op pad terug van die see af. By die ingang na die karavaanpark kom ‘n gestremde jong man op sy trapfiets van vooraf gery. Hy mik dié kant toe, ons ook. Hy mik dáái kant toe, ons ook. Hy mik weer ander kant toe, ons ook. Hy stop. Ons ook. Ons stap verby hom. In die verbystap hoor hy sê vir homself: “Sjoe, dit was ampertjies close.”

Ja, nogals.

Buurman bring vir ons ‘n Oos-Kaapse Tuna. Hy’t dit self gevang. Ek braai dit, op sy instruksies, met ‘n knoffel – suurlemoen – botter sousie. Geen appelkoos nie. Dit kom wonderlik, smaak meer soos snoek as soos Tuna.

Die stranddiensspan het ‘n paar talentkonserte. Kleinboet gaan speel klassieke kitaar en wen die junior afdeling. Hy’s nogals erg trots op homself. Ons ook eintlik

Dan hou die stranddiensspan ‘n mejuffrou Gourits en ‘n meneer Spiere kompetisie. ‘n Paar vriende gaan neem deel aan die Meneer Spiere kompetisie. Willie weier om sy hemp uit te trek. Die son gaan hom brand. En in elk geval, hulle kan mos sien hom bult sy hemp van die spiere, veral die gedeelte net bo sy broek.

Willie kan nóú nog nie verstaan hoekom hy nie gewen het nie. David (derde van links) het derde gekom, die mannetjie heel regs tweede, en die kêrel in die middel eerste. 

Maar ek vermoed David se prestasie is meer soos die keer toe ek aan Gouritsmond se meneer Bene kompetisie deelgeneem het en toe die meneer persoonlikheid prys wen. David se persoonlikheid het waarskynlik die deurslag gegee. Daai klong het nie ‘n skaam haar nie. Op sy kop nie.  Soos die foto toon was die kompetisie nie buitengewoon sterk hierdie jaar nie.

Ouboet en oupa moet terug Kaap toe. Ons sit hulle op die middernag bus. Ons kom erg laat eers weer by die kamp aan. Maar dis nog niks.

Nog heelwat later kom die oorblywende (na-skoolse) tieners terug van waarookal hulle gekuier het. Hulle giggel aanhoudend. My vrou stuur my later uit om te gaan kyk wat aangaan.

Ek kry die drie in die donker voor hule tent lê en giggel. Ek sien ‘n kooltjie van ‘n sigaret heen en weer waai. Amper soos die ouens by lewendige shows met hul selfone waai. Die manne kyk sterre. Vanaand is die sterre moerse snaaks. Ek rapporteer so terug aan my vrou.

Ek lê net, toe wil sy weet wat hulle rook. Nee, ek weet nie. Nou gaan kyk, sê sy. Ek gaan weer uit, maar kan nie sien wat hulle rook nie. Ek gaan terug en rapporteer dat dit nie dagga is nie.

Ons vra die volgende dag vir een van hulle: “was julle getrek of gerook?”

“Nee, net gerook, oom. Ag, nee, ek bedoel net getrek oom. Nee, ek meen, hoe bedoel oom nou, oom?”

7 antwoorde op Gouritsmond 2011 – deel 7: Die wonder van die sterre

  1. Pragtige versameling van jeugdige sixpacks!

    As hulle groot word gaan hulle hulself verwyt oor die pap pensies!

  2. Nee, die foto is bietjie groot, so jy moet daai skuifbaan onder die foto na regs skuif, dan sien jy die mannetjie heel regs ook.

  3. TS het gesê op Januarie 13, 2012

    Jy is nie baie kwaai nie nê?

  4. Nou wat laat jou so dink? Nee, jy kan maar sê ek is die Chuck Norris van Gourits. Ekke is ‘n mean dude!

  5. avega het gesê op Januarie 13, 2012

    Dit klink heerlik. Hoe verlang ek nou na ons karavaanvakansies by Natalia, tieners, stranddiens en Mej Natalia. Een jaar het my dogtertjies almal Make-up, Barbies en teddies gewen met ‘n plek in Mej. Tiener, Klein- en Kleuter Natalia kompetisie 🙂

  6. Vetjan het gesê op Januarie 14, 2012

    LMGA … hoe bedoel oom nou 🙂

    anyway, mens moet rêrig die appelkoos weghou van die tuna… eintlik selfs van snoek ook.

  7. Haha….as hulle dagga gerook het sou jy dit vinning geweet het. Ruik soos aktiewe muishond. Ek word herinner aan ons aand in Vancouver toe ons ‘n Bon Jovi konsert gaan sien het verlede jaar. Daat sit toe ‘n man met ‘n baie gelukkige uitdrukking op sy gesig en rook sy zol. ‘n Moeder met kinders klae toe en die sekuriteitswag gaan sê toe vir hom hy moet die ding dooddruk of waai. Hy neem toe nog 5-7 “puffs” totdat die stompie amper klaar is. My sentiment was dat in Vancouver, waar jy nie eers in publieke parke sigarette mag rook nie, hom sou laat uitsmyt het on onmiddellik as daardie ding ‘n sigaret was…..met publieke dwelm “shoot up sites” en whatnot vir verslaafdes, kom hulle met veel weg. So ja, pa, hulle het net ‘n sigaret uitgeprobeer. Mev Vink sou daardie grusame reuk waargeneem het deur tentflaps as die marijuana was:).So hulle was okay.

Los ’n antwoord vir pgjonker. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.