Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

Lafenis vir die siel

Januarie 31, 2012 in Sonder kategorie

Dis eintlik ongelooflik wat die natuurlike elemente aan ‘n mens se gemoed kan doen.

 

‘n Mooi sonsondergang, byvoorbeeld, of ‘n rivier wat loop.

 

OK, wind is nie eintlik my ding nie, dié laat my nie baie wonderlik voel nie. Maar die geklots van water is natuurlik ‘n ander storie.  Jy weet daai gevoel van rustigheid wat oor jy kom as jy luister na die kabbeling van water. Dis asof dit sommer die handbriek van die gejaagde lewe optrek en dinge in jou gemoed rustiger maak.

 

Ja-nee, die geklots van water is my ding.

 

Ek reken ek en hierdie skottelgoedwater gaan ‘n lang en heilsame verbintenis hê.

 

Happiness is

Januarie 29, 2012 in Sonder kategorie

Om Mr Bones saam met jou negejaaroud te kyk….

Van skottelgoedwassers en so

Januarie 25, 2012 in Sonder kategorie

 

Die skottelgoedwasser is stukkend. Onherstelbaar so. Die onderdeel wat nie meer werk nie word nie meer gemaak nie. Ek weet nie wat dit is met die mense nie. Ek meen, daai skottelgoedwasser was nou maar 21 jaar oud gewees.  Ons het twee maande maar met die stukkende ene geprobeer, en nog ‘n maand sonder hom klaar gekom terwyl dit by die hersteller was. Dié het toe laat weet dit kan nie herstel word nie.  Die bank sê toe hulle sal my nog ‘n bietjie geld leen, gaan gerus voort en koop ‘n nuwe een, meneer. Toe maak ek maar so gister. By dieselfde plek waar ek laasjaar ook ‘n wasmasjien moes koop.

 

Toé het die verkoopsman wat die wasmasjien aan my verkoop het my vertel dis ‘n groot special, daai spesifieke model kos eintlik dubbeld dit waarvoor hulle dit op die vloer het. Ek kom gister by dieselfde verkoopsman uit. Hy vertel my hulle het net mooi nou dieselfde special op hierdie spesifieke maak skottelgoedwassers, dit kos normaalweg eintlik dubbel die prys.

 

Yeah, right.

 

Maar nou ja, nou koop ek maar die ding.

 

 Tuis moet ek hom net instoot in die kas waar die vorige ene gestaan het, die pype en die kragprop koppel en daar gaan ons.

 

Yeah, right.

 

Die skottelgoedwasser is net-net te hoog. O, nee, OK, hy is amper net-net te hoog. As ek hom effens oplig voor en dan instoot dan maak hy dit in die spasie in, met geen spasie te spaar aan die bo-kant nie. Geweet dit gaan maklik wees.

 

Dan wanneer die outjie só diep in is dat die deurtjies net-net nie kan toemaak nie, dan hak hy vas teen ‘n plankie aan die bo-kant agter in die kassie.

 

Wel, volgens die aanwysings kan mens die skottelgoedwasser se bo-kant afhaal in gevalle soos dié. Peace of cake, ek sê. Ek kry my skroewedraaier en die instruksies.

 

?!  Nee, ‘n skroewedraaier pas nie daar in nie.  Dis iets soos die kruis tussen ‘n allan key en ‘n sterpunt, maar met 5 punte in plaas van drie.  Maar ek kry ‘n plan gemaak en skroef die agterste plaat se skroewe los. Nou moet ek die agterste plaat wegtrek sodat die bokant kan oplig. Maar niks roer nie. Ek kan sien daar sit twee plastiek knippe wat moet laat skiet, maar hulle is bietjie halsstarrig.

 

Vroulief vertel my ek het die verkeerde kant van die masjien beet, dis die voorkant wat mos oopmaak soos die prentjie sê. Ek verduidelik nee, ek is reg, sy is verkeerd. Die ou by die winkel het my ook so geverduidelik, want ek het hom juis vooraf gevra. Ek het die probleem voorsien, sien. Ek kan sien sy glo my nie.

 

Nou besef ek dat ‘n mate van geweld gaan nodig hê om die plaat agter los te kry. Maar ek is nie so gemaklik om geweld toe te pas op my splinternuwe skottelgoedwasser nie, al is dit wat die handleiding sê. Vroulief sê ek kan lekker gaan hamer aan die stukkende wasmasjien wat buite die agterdeur staan, maar nie aan haar nuwe skottelgoedwasser nie.

 

OK, dan moet ek daai plankie wat agter in die kas in die pad is bietjie weg skaaf. Ek gaan haal die skaaf en begin skaaf. Maar jy kan nie lekker bykom nie. En in elk geval kan jy mos nie met die skaaf die kante bykom nie. Daarvoor moet jy iets anders gebruik.  Die oefening vat nou al bietjie langer as wat ek gereken het.

 

Na ‘n paar skaaf-hale stoot ek weer die masjien in. Nou lig ek met my koplampie om te sien wat daar binne aangaan. Nee, sien ek, ek gaan verskeie millimeters van daai plankie moet wegskaaf voordat dit aan behoefte gaan voldoen. Waarna ek dan die plankie se kante met ‘n veil of iets dergeliks gaan moet wegwerk om dieselfde resultaat op die ente te bereik.

 

Ek sê niks, maar iemand hoor my brom.

 

Vroulief vertel my toe dit is nou al vir jare lank haar hartsbegeerte om daardie spesifieke kassie se deurtjies af te haal. As ek nou die deurtjies afhaal, dan gaan dit vreeslik fraai lyk met daai nuwe wit masjien wat so kuns in die kassie pas. Mmmm…….?

 

Wel, ek is nou ook al bietjie uit idees uit. Ten minste geskied die verwydering van die kasdeurtjies sonder enige komplikasies. Al wat nou kort is om die pype en die kragdraad te konnekteer. Wat beteken dat iemand in die kassie moet sit en die goed van onder af deurdruk. Maar die pype is nie onnodig lank nie, so die masjien moet nou ook halfpad saam met daai iemand in die kassie wees anders kom die pype nie by nie.

 

^&*(!!

^&*(!!

^&*(!!

[Ek het die vertelling net effens te verkort hier]

 

Uiteindelik is alles reg en gekoppel. Nou, die ding is, hierdie was veronderstel om eenvoudig te wees. Ek kan nie verstaan hoekom sulke eenvoudige goed so gekompliseerd kan wees nie. Maar juis omdat niks altyd so eenvoudig is soos dit lyk nie besluit ek om liewer die skottelgoedwasser die eerste keer onder my toesig te laat werk. Ek wil darem seker maak daar lek nie iewers water uit of so nie.

 

Dis natuurlik geen probleem met my gesin om die skottelgoedwasser vol te kry nie. Dié gebeur baie vinnig.

 

Saam met die skottelgoedwasser verpak was ook ‘n wassepie wat blykbaar alles gaan laat blink. Dis so ‘n drie-in-een pakkie in ‘n plastiekhouertjie. Nou haal ek die plastiek omhulsel af om die goed in die geallokeerde houertjie in te sit. Maar dis verbrands of jy daai plastiek stukkend kry. En toe ek dit uiteindelik min of meer stukkend het toe sit daai wassepies daarin vas soos honnebollie aan ‘n poelisejas. Jy kry dit net nie uit nie.

 

Vroulief besluit dis die ontwerp: jy sit dit met omhulseltjie en al daar, die hitte sal seker die plastiek laat smelt. Vir my lyk dit altevol soos om ‘n setpil met die omhulsesl en al in te sit. Maar nadat ek twee-derdes van die goed uit die verpakkinkie uit gedwing het gee ek moed op, en sit nou maar die houertjie met die oorblywende derde saam met die sepies wat ek daar uitgegrawe gekry het in die plekkie daarvoor en start die outjie op.

 

Ek start die masjien op en hou asem op, maar niks gaan verkeerd nie. Genuine.

 

Maar daai sepie pla my. Ek gaan nou op die internet kyk wat die vervaardigers sê, moet jy dalk daai sepie met plastiek en al insit?  Na ‘n lang gesukkel kry ek die regte webbladsy, maar die vervaardiger sê niks oor hoe om dit te gebruik nie. Maar ek sien daar is chatrooms oor skottelgoedwasseep (I kid you not)!

 

Dan verloor die rekenaar sy konneksie met die internet. Maar dis ‘n slim outjie. Hy doen sy eie diagnostics en vertel vir my die probleem lê by die “wireless adaptor or access point.” Nee, ek weet ook nie wat dit beteken nie.  Nou probeer ek maar nog ‘n paar keer, elke keer dieselfde probleem. Later sit ek maar eers alles af en weer aan – darem nie die skottelgoedwasser nie. Dié was flytig voort in die kombuis.

 

Nou ja, uiteindelik is die skottelgoedwasser klaar gewas, toe sukkel ek nog steeds om my internetkonneksie te bewerkstellig. Ek gaan loer in die skottelgoedwasser. Als is inderdaad mooi blink skoon. Al die sepies is op. En die plastiekhouertjie is ook weg. Ek dink ons hou maar eerder by die standaard produk wat dydelik sê: skep dié goed in dáái bakkie in!

 

Toe ek in standard vyf was het ons aanlegtoetse gedoen by die laerskool waar ek was. Die onderwyser het toe met groot oë vir my ma beduie hulle moet net seker maak ek gaan nie eendag in ‘n meganiese rigting in nie.

Ek wonder tog hoekom.

Burokrasie

Januarie 23, 2012 in Sonder kategorie

Ouboet moet ‘n studenterekening oopmaak by die bank. Ons sukkel nou al lank om ‘n tydjie te kry om dit gedoen te kry.  Vandag daag ons uiteindelik op by die bank op met alles wat die dame al tweekeer vantevore gesê het ons daar moet hê.

Nee, die studentekaart is nie voldoende bewys dat hy ‘n student is nie. Bewys van registrasie is nodig. Wel, dis geen probleem nie, ons het net mooi laasweek aanlyn geregistreer, so ons kan net gou op hulle internet gaan en dit print, geen probleem.

Nee, meneer, ongelukkig het ons werkstasies nie internetverbinding nie.

Goed dan, ek stap gou oorkant die pad na my kantoor toe en gaan print dit van my rekenaar af. Natuurlik skop die printer se bug in – jy weet, daai sensor wat agterkom as jy haastig is, dan jam hy die papier en soortgelyke dinge. Ek WhatsApp vir ouboet, wat intussen in die bank wag: “Dis burokrasie.”

Maar daremte kry ek al die goed uitgedruk en stap terug bank toe.

Nee meneer, jammer, ons aanvaar dit net as dit op ‘n briefhoof van die kampus is.

Ek gee nou eers op met die rekening.

Kom ons gaan nou maar liewer af na Binnelandse Sake toe om vir ouboet vir ‘n paspoort aansoek te doen.

Ek is gelukkig om reg voor die gebou parkering te kry. Hiér word jy oorval deur manne wat aanbied om jou paspoortfoto’s te voorsien. Gelukkig het ons dié reeds. Die hek agter die gebou waar ek altyd ingaan is toe. En daar is niemand nie. ‘n Vrou kom aangestap en keer toe ek wil wegstap.

“Hey, jy!” Sy fluit hard. Dan rol die gemotoriseerde hek oop en kan ons ingaan. Ons veg ons pad oop deur almal wie paspoortfoto’s aan jou wil verkoop.

Wanneer ek binne kom verloor ek sommer moed. By toonbank 3, waar jy moet aansoek doen vir die paspoort, sit daar genoeg mense om Binnelandse Sake vir die volgende drie dae en drie nagte besig te hou. Ek sê vir ouboet hy moet maar later op sy eie kom. Hy weet nou waar die gebou is en hoe om in te kom, ek sien nie hiérvoor kans nie.

Nes ons loop roep die een sekuriteitswag hom agterna. Sy’t ons waarskynlik gehoor, want sy beduie vir hom na ‘n veel korter ry toe. Dís waar jy aansoek doen vir paspoorte.

OK, nou het ek weer meer moed. Ons val agter in daardie ry in. So van gesels met die mense rondom ons kom ons agter jy moet eers hierdie ry verlaat om by ‘n kantoor eenkant jou vingerafdrukke te laat neem. Terwyl ouboet in daardie ry inval draf ek gou uit na die naaste kitsbank toe. Ons moet nog geld trek vir die transaksie. In daai deel van Bellville kyk ek maar rondom my soos ‘n verkleurmannetjie, veral as ek eers klaar die geld getrek het. Ek maak dit darem ongedeerd terug na Binnelandse Sake se kantoor toe. Dieselfde paspoortbemarkers as vroeër probeer weer hul diens aan my verkoop.

Terug vind ek vir ouboet steeds derde van voor af in die vingerafdruk ry staan waar ek hom flussies gelos het. Ek hou nou maar sy plek in die ander ry.

Later kom hy daar uit met vuil vingers. Hy was nie lus om sy vingers in daai pot goed te druk om dit skoon te maak nie. Ek stuur hom terug na die pot goed toe. Met sy terugkeer moet hy nou weer met skoon vingers en die vuil R400 wat ek nou net getrek het in die ander ry gaan inval om te betaal.

‘n Dame wat daar werk, en wat omtrent net drie bakstene hoog is, kom van tyd tot tyd daar verby om te kyk of jy in die regte ry staan. Teen daardie tyd staan ons toevallig in die regte ry.

Nou begin ek maar met my vrou WhatsApp om die tyd om te kry. Kleinboet het sy kitaar laat val, en dié is nou gekraak. Die kitaarjuffrou is besig om by winkels om te gaan om te hoor of dit reggemaak kan word. Die man van die skottelgoedherstelplek sms my dat my 21-jaar oud skottelgoedwasser se herstelwerk baie duur gaan wees.

Ons is 10de van voor af. Vroutjie voel nou al baie lief vir my oor ek hierdie oefening doen en sy dit nie hoef te doen nie.

Dis warm. Ek sweet. Binnelandse Sake kom voor die slegste uit mense uit te bring. Die mense voor ons in die queue is ontevrede en is ook onsubtiel daaroor. Hulle is darem vriendelik met ons. Nou kom die tou tot stilstand. Iewers is daar ‘n fout met die rekenaar. Nou moet hulle eers iemand kry om die fout op te spoor.

Vroutjie is eintlik nou al so beindruk met my dat sy nou allerlei oulike boodskappies vir my aanstuur.  Ouboet laat weet later vir haar sy WhatsApp na sý foon toe in plaas van na mý foon toe.  En nee, hy gaan nie saam nie.  Vroutjie WhatsApp vir my ‘n rooi smiley gesiggie wat nie smile nie.  

Uiteindelik kom die ry weer aan die beweeg. Uiteindelik is ouboet voor in die ry.  Dan is hy klaar. Nou moet ons nog net die vorm in ‘n box gaan gooi in dieselfde kamertjie waar die vingerafdrukke geneem word. Daar gekom staan dieselfde crowd wat voor ons in die tou gestaan het weer daar. En niemand het hulle vorms in die box gegooi nie. Ek is ook nie lus om my vorm waarvoor ek R400 betaal het sommer net in ‘n box te gooi nie.

‘n Amptenaar kom verby, neem ouboet se vorm, kyk daarna, en forseer dit onseremonieel deur die gleuf in die box in voor ek kan keer. Wel, nou moet ons maar in elk geval loop. En dit het nou net mooi begin lekker raak hier by Binnelandse Sake.

Buite vra ouboet my: “Wat is burokrasie?”

Dokters weet ook nie alles nie

Januarie 18, 2012 in Sonder kategorie

Jare gelede hanteer ‘n prokureur op Malmesbury ‘n onderhoudsaangeleentheid namens ‘n kliënt.

Die eerste hekkie om oor te kom is egter om vaderskap te bewys. Die aangewysde vader is nie oortuig dat hy die oorsaak van die probleem is nie. Nou moet daar bloedtoetse gedoen word.

Die prokureur reël alles en die man en die vrou gaan saam Kaap toe die dag om die nodige bloedtoetse te laat doen.

Ontsteld kom die dame die volgende dag by die prokureur aan: “Maar Mr F, daai dokter wiet niksie! Hy trek dan die bloed yt die man se vínger yt!”

Gouritsmond 2011 – deel 11: Huis toe

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

So kom alle goeie dinge op ‘n einde.

Die dag voordat ons terugry huis toe is altyd so half ‘n ongemaklike dag. Jy weet môre gaan jy huis toe. Jy wil nie nou al oppak nie, maar jy is tog bewus van wat alles moet ingepak word. En voor jy jou kom kry begin jy goeters uitmekaar haal, sorteer, inpak.

Ons slaan een tent solank af. Daai tent is die eerste ding wat in die bakkie moet in voordat enige iets anders kan ingepak word, so dis darem ‘n begin.

Ons doen ‘n laaste idilliese swem by die see. ‘n Blou-en-wit vliegtuig kom oorgevlieg. Eers seker teen ‘n hoogte van so 30m. Dan draai hy en kom terug, sekerlik niks hoër as 10 – 15 m nie. Almal kyk so half onthuts vir die vliegtuig wat so laag oor die swemmers kom. Miskien het hy sy ma gesoek tussen die mense.

Die mense oorkant is ook besig om op te ruim. Die kamp begin nou leeg te loop. Ons sluit ons laaste aand af met melktertjies by die bure: kondensmelk, ideal melk en vodka gemeng. Met kaneel bo-op. Mens moenie bestuuur as jy ‘n paar van hierdie melktertjies gedoen het nie.  Ek dink dis die kaneel.

Die volgende oggend slaan ons op. Sussie se tent skeur beyond repair. Die tent het presies net mooi lank genoeg gehou.

Ek het nie verlengde kantspieëls nie. Die keer toe ek dit wel probeer het, toe breek die rek van die aanhegspieël die bakkie se spieël. Ek het nog nie weer probeer nie. Ek laat sak die karavaan se gordyne en pak my bakkie só dat ek in my tru-spieël deur die karavaan kan sien.

As die son egter op ‘n sekere manier op die karavaan se voorruit val kan jy niks deur die karavaan sien nie. En as die goed agter in die bakkie boonop nog effens skuif en jou uitsig belemmer, dan kan jy heeltemal niks sien nie. Nou moet mens allerlei tegnieke uitdink om te probeer agterkom of daar mense agter jou is.

Een is om (as die pad breed genoeg is) effens na links te gaan en dan weer net genoeg na regs te swaai dat jy, steeds nog aan jou kant van die wit streep, in jou kantspieël ‘n momentele uitsig op die pad agter jou het. Dit werk heel goed. Ek het ook al gevind dat die ouens wat presies op daardie oomblik van agter af by jou verbykom geneig om toeters te druk en vrolik vir jou te waai. Maar sommige van daai manne is al ure op die pad, hulle hande is so gekramp van die stuurwiel vashou dat hulle net een vinger reguit genoeg kan kry om mee te waai. Dan glimlag ek maar net vriendelik terug. Ek verstaan mos hoe moeg mens raak van lank bestuur.

Op die N1 Kaapse kant van die tonnel, egter, raak dit erg lastig. Nou kan jy nie lekker sien of daar dalk ‘n ou met ‘n hengse spoed van agter af in die regterbaan aangejaag kom nie. Dus kan jy nie waag om voel-voel oor te beweeg na die regterbaan toe soos andersins nie. Die gevolg is dat ek hierdie keer seker vir 10km agter ‘n Chana met ‘n sleepwa ry teen 40km/h. Ek ry as ‘n reël nie vinnig nie, maar dit was selfs vir my bietjie stadig.

Nee, ek dink dis dalk tyd vir verlengde kantspieëls voor volgende jaar se uittog.

Ons arriveer 16h00 tuis.

Ons stoot gou die karavaan langs die huis nie.   Die vorige keer het ek en ouboet alleen die karavaan ingestoot. Vandag kan ek en ouboet en twee tienermeisies en ‘n nege-jaaroud nie die karavaan inkry nie. Buiten vir die bo-grondse irritasie wat die bougainvilla veroorsaak, maak sy wortel nou ‘n hobbel, en dis verbrands of ons die karavaan oor die hobbel gestoot kry. Ek kan dit nie met die bakkie probeer nie, want die toleransies weerskante van die karavaan is te min. Dan ry ons ‘n muur plat.

Na ‘n klomp gesweet kry ons darem die karavaan verby die kritiese punt, en stoot ons hom nou rustig verder in. Te rustig. Een van die navigators kyk nie mooi nie. Die volgende oomblik kadwarra! ry ons die een geut raak. Dié spat in twee, maar darem gelukkig was dit twee stukke om mee te begin. Die knak het egter ‘n knou weg.

Maar nou ja, een van die wyshede van kamp is dat duct tape alles kan regmaak van ingroei-toonnaels, stukkende tente, en les bes, gekraakte geutpype.

Die bakkie se koppelaar het gehou tot by die huis. Ek trek hom al sidderend in langs die huis. Voor die bakkie weer swaar vrag doen sal hy ‘n nuwe koppelaar moet kry.

Nou daai was nou lekker gewees, né?

Gouritsmond 2011 – deel 10: Kosmaak

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

 

Sardientjiebrood

 

Kamp is ‘n ideale plek om nuwe resepte uit te probeer.

 

JJ kom daar aan met ‘n resep vir ‘n sardientjie-brood (nee, regtig). Ons besluit om ‘n soortgelyke broodjie te bak, maar sien darem nie kans vir sardientjies in ons brood nie. Ons sit liewers die vorige aand se gaar bacon, in stukkies gesny, in ons broodjie.

 

Bruismeel, karringmelk, eier en so aan (kan nou nie al die bestanddele onthou nie).

 

Ons s’n lyk bietjie soos pizza, en smaak ook nogals so bietjie so. Glad nie sleg nie. Tewens, die tieners is mal daaroor en eet dit binne minute op.  So I rest my case oor die broodjie.

 

Ek stap oor na JJ toe om te sien hoe hulle s’n gekom het.   Hulle broodjie is onder ‘n doek weggesteek. Die resep het nie gesê jy moet die sardientjies uit die blikkie uithaal en net die sardientjies insit nie. Kort van die blikkie self het JJ-hulle alles in die bakmengsel ingewerk.

 

Hulle sal dit later vir vissmeer probeer, sê hulle. Hoflikheidshalwe het ons nie weer navraag gedoen oor wat van die broodjie geword het nie.

 

Maar nevermind nuwe resepte probeer. Kamp is ook ideaal om eintlik van scratch af te leer kosmaak. Jy weet, as jy ‘n kookboek lees, dan voorveronderstel selfs basiese kookboeke dat jy die verskil weet tussen bak en kook. Daai mense verstaan nie.

 

Só het ek ook maar op ‘n besonderse stadige manier my weg begin vind op die misterie van kosmaak. Wat my laat dink aan een van my eie pogings baie jare gelede by Gourits. Op daardie stadium was ons omtrent sewe gesinne wat almal op ‘n gesamentlike braai-blad kos gemaak het, elkeen in sy eie braaidrom. Ek was nog onder die beginpunt van die leerkurwe van kosmaak, en het eintlik maar min of meer net my vrou se instruksies uitgevoer. Sy is bereid om, as ek haar voor mense vra, toe te gee dat ek nou al bietjie beter is as toe.

 

Dis nogals so half intimiderend. Jy is tussen ‘n klomp manne wat almal baie kundig en bekwaam is op die kosmaak, en elke ou hou hom baie nonchalant oor die eksotiese kosse wat daar by elkeen se braaidrom tot stand kom. Vroulief het gesê ons maak potjie. Waarskynlik het sy gedink dis die veiligste opsie. Immers (wel, deesdae) kom ‘n potjie altyd goed, ten spyte van my pogings.

 

Ieder geval, first things first. Eers braai ons die uie in die pot. Piece of cake. Olie in die pot. Uie in die pot, daar gaan ons. Ek raak besig met my ander voorbereidings vir die pot. Later vra ek vir my vrou wanneer haal mens die uie uit. Nee, wanneer dit so glaserig begin lyk. O, OK, so kom ons kyk hoe lyk dit.

 

Soos dit nou maar gaan by so ‘n gemeenskaplike kosmaak oefening kyk almal maar wat almal doen. Daar is nie eintlik ‘n manier om diskreet oor jou pot te wees nie. Op dié manier het ek toe verskeie getuies toe ek my pot se deksel afhaal. En daar lê my swart verbrande verskrompelde uie onder in die pot. Dit lyk soos swart geroeste staalwol, ek sê jou.

 

Ek het nie eintlik gedink dis amusant nie.  Om die waarheid te sê, ek dink nog steeds nie dis snaaks nie.  Maar al die ander mense het hulle gatte af gelag. Om die waarheid te sê, dis nou 11 jaar later, en hulle lag nog steeds hulle gatte af as iemand weer die storie onthou.

 

En hoekom enige iemand dit nog na 11 jaar wil onthou… well, it beats me.

 

Gouritsmond 2011 – Deel 9: Oujaar

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

Ouboet bel ons 05h50 wakker. Van die huis af ná hulle deurnag trip op die bus. Net om te sê hy en oupa is veilig tuis. Ek is bly om te hoor, maar ek wonder darem of die spulletjie nie soms moedswillig is nie. Ek meen nou maar, was dit nou regtig nodig vir Willie om my by ‘n ander geleentheid om 04h49 te WhatsApp dat hy gaan visvang. Ek sou hom nie voor 08h00 gemis het nie, verstaan.

Elke jaar word die spookhuis ‘n paar keer besoek. Wel, dis nie regtig ‘n spookhuis nie. Dis bloot ‘n vervalle huis so 10km’s uit op die pad na Rein’s natuur reservaat toe. Maar iewerster het iemand gewonder of dit nie daar spook nie, en van toe af het die stories elke jaar erger geraak en die spook al woester.

So het ons laasjaar op ‘n aand vir Wallace daar sitgemaak met sy soundbox wat allerhande geluide maak. Uile wat hoe-hoe en al sulke dinge. Wallace moes in die donker die span tieners gaan inwag wat ons geweet het op pad was spookhuis toe. Wat Wallace egter nie op gereken het nie was daai lawwe uil wat amper in hom vasvlieg toe hy in die donker daar instap om sy sit te kry.

Hy’t blykbaar die uil luid tereggewys en hom aangemaan om dit nie weer te doen nie. Deesdae se uile het ook nie meer maniere nie. Maar Wallace het agterna daarop aangedring dat sy broek al vroeër die dag daai merk op gehad het.

My vrou neem vir sussie Mosselbaai toe. Daar’s ‘n verrassing. Sussie weet van niks. So toe sussie se goeie vriendin van die Kaap af van die bus afklim by Voorbaai Jack, toe is sussie in trane. Sy’t regtig niks geweet nie, of anders moet sy teruggaan na die skool se dramagroep toe.

Ek ontdek die boer wat fonteinwater verkoop.   Sy stalletjie is langs die pad.

Jy tap jou fonteinwater uit ‘n stainless steel tenk uit en gooi jou R2,50 per 5 liter in ‘n honesty boks. Jy koop op dieselfde manier hout en eiers ook by die hokkie, sonder enige toesig.

Ek wonder wat Raymond Ackerman van hierdie sakemodel sal dink. Dalk kan dit goed werk by Pick-n-Pay. Dink net hoeveel kan jy spaar op arbeidskoste.

Laatmiddag kom Willie in pyn van die see af. ‘n Jellyvis het hom getakel. Willie sê die jellievis het hom ingesluk, maar ek dink hy jok. Ten minste sou sy kop nog uitgesteek het. Maar dan weer, hy is so ‘n kortgat, dit kon dalk net moontlik wees. Groot rooi brandmerke op sy bors.

Ons Google op die selfoon vir rate. Asyn, Antizan, rooibostee, en baie aandag doen die ding. Iemand stel voor ons piepie op Willie se bors, maar hy sê hy is tas-defensief, hy hou nie daarvan as daar water in sy nek afloop nie. Toe los ons maar daai raat.

Ons hou ‘n oujaar spitbraai. Wallace het die skaap geskenk, vir die res moet elkeen net ‘n pak charcoal bydra.

Nie ‘n sleg transaksie nie, het ek nogals gereken. Ons eet baie lekker, en wag dan die oujaar uit met ‘n koffie en sjampanje en doen dan die happy-happy ding.

Nou ja, en toe is dit 2012.

Gouritsmond 2011 – Deel 8: Ek’s ‘n dapper kamper

Januarie 14, 2012 in Sonder kategorie

Die muise raak ‘n probleem by ons staanplek. Laasjaar het een van die manne ‘n pofadder van kant gemaak. But what you win on the swing you lose on the roundabout. Met die pofadder weg is daar nou niemand wat die muise onder beheer kan hou nie. Wel, hulle het nie met my en buurman rekening gehou nie.

Die muise is seker nie onaaklige diertjies nie.

Maar dis darem nou erg onsportief as jy by jou pot kom en daar sit 5 muise binne-in die pot. Of as jy die broodblik oopmaak en woeps! spring daar ‘n muis uit.

Ek en buurman kry muisvalletjies. Ons vang fluks muise. Ek vang 2. Buurman net 18.   (Buurman het ‘n dag voor my begin). Ek kom later agter die muise hou nie van die soort kaas wat ek opsit nie. Wel, ek ook nie, dis hoekom ek dit vir hulle voer. Ek verander maar die diëet.

Op ‘n middag trap ek een van die muise vas onder die opslaan koskas in die karavaantent. Hy sit rustig daar en loer vir my. Ek wil hom vang met die visnetjie, maar daar is nie plek onder die kas om met die net in te kom nie. Nou druk ek daar in sy rigting met die stok-gedeelte van die visnet. Maar daai muis is ‘n cool dude. Hy vat die stok met sy twee pootjies was en knibbel daaraan.

Ek en die muis kyk vir mekaar. Ek sê hom niks, maar ek glimlag vir hom. Ek sien hy begin ontspan, hy kan mos sien ek is vriendelik. Intussen druk-druk ek hom diskreet in die rigting van die muisvalletjie wat 10cm agter hom is.  Hy knibbel nog rustig aan die stok.

En sê nou daar’s ‘n valletjie?

Oe ‘n valletjie!

Ja, ‘n ding wat val met ‘n gruwelike knal

Ag nou ja ….

 

En dan trap die muis op die muisval. Die muisval klap met ‘n gruwelike knal, maar ou maat, daai muis is vinnig. Dis in ‘n oogwink, toe’s hy weg, met een klein muisbolletjie wat langs die muisvalletjie lê. Ten minste reken ek daarop dat sy oordromme moes gebars het van die gruwelike knal.  Laat dit nou vir hom ‘n les wees!

Ek het ook ‘n lewendige muis gevang in ‘n box. Stupid muis.  Hy sien my en hardloop in die naaste opening in, wat ‘n lang plat box is.  Maar toe’s ek darem nie rêrig lus om ‘n lewendige muis nek om te draai nie. En in elk geval het daai outjie my met sulke puss in boots oë aangekyk, g’n mens kan dit hou nie.

Toe gaan sit ek hom maar weer naby sy maats neer. Maar dis nie regtig oor ek nie die hart gehad het om hom nek-om te draai nie.  Nee, dit was eintlik ‘n fyn uitgewerkte ‘n strategiese skuif: ek meen nou maar, dalk sê hy vir die res van die clan hulle moet my uitlos, ek is aan hulle kant, dan is my probleem mos opgelos.

Maar hy het nie, die weselbrein! Hulle het nog steeds ‘n gat deur my tent se een onderpant geëet – terwyl daar 10cm verder ‘n opening was waar hulle bloot kon instap, soos al die ander kere.  

Maar ek dink nog steeds dis beter as om te wonder wanneer daar ‘n pofadder verby gaan sluip.

Gouritsmond 2011 – deel 7: Die wonder van die sterre

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Ons is op ‘n middag op pad terug van die see af. By die ingang na die karavaanpark kom ‘n gestremde jong man op sy trapfiets van vooraf gery. Hy mik dié kant toe, ons ook. Hy mik dáái kant toe, ons ook. Hy mik weer ander kant toe, ons ook. Hy stop. Ons ook. Ons stap verby hom. In die verbystap hoor hy sê vir homself: “Sjoe, dit was ampertjies close.”

Ja, nogals.

Buurman bring vir ons ‘n Oos-Kaapse Tuna. Hy’t dit self gevang. Ek braai dit, op sy instruksies, met ‘n knoffel – suurlemoen – botter sousie. Geen appelkoos nie. Dit kom wonderlik, smaak meer soos snoek as soos Tuna.

Die stranddiensspan het ‘n paar talentkonserte. Kleinboet gaan speel klassieke kitaar en wen die junior afdeling. Hy’s nogals erg trots op homself. Ons ook eintlik

Dan hou die stranddiensspan ‘n mejuffrou Gourits en ‘n meneer Spiere kompetisie. ‘n Paar vriende gaan neem deel aan die Meneer Spiere kompetisie. Willie weier om sy hemp uit te trek. Die son gaan hom brand. En in elk geval, hulle kan mos sien hom bult sy hemp van die spiere, veral die gedeelte net bo sy broek.

Willie kan nóú nog nie verstaan hoekom hy nie gewen het nie. David (derde van links) het derde gekom, die mannetjie heel regs tweede, en die kêrel in die middel eerste. 

Maar ek vermoed David se prestasie is meer soos die keer toe ek aan Gouritsmond se meneer Bene kompetisie deelgeneem het en toe die meneer persoonlikheid prys wen. David se persoonlikheid het waarskynlik die deurslag gegee. Daai klong het nie ‘n skaam haar nie. Op sy kop nie.  Soos die foto toon was die kompetisie nie buitengewoon sterk hierdie jaar nie.

Ouboet en oupa moet terug Kaap toe. Ons sit hulle op die middernag bus. Ons kom erg laat eers weer by die kamp aan. Maar dis nog niks.

Nog heelwat later kom die oorblywende (na-skoolse) tieners terug van waarookal hulle gekuier het. Hulle giggel aanhoudend. My vrou stuur my later uit om te gaan kyk wat aangaan.

Ek kry die drie in die donker voor hule tent lê en giggel. Ek sien ‘n kooltjie van ‘n sigaret heen en weer waai. Amper soos die ouens by lewendige shows met hul selfone waai. Die manne kyk sterre. Vanaand is die sterre moerse snaaks. Ek rapporteer so terug aan my vrou.

Ek lê net, toe wil sy weet wat hulle rook. Nee, ek weet nie. Nou gaan kyk, sê sy. Ek gaan weer uit, maar kan nie sien wat hulle rook nie. Ek gaan terug en rapporteer dat dit nie dagga is nie.

Ons vra die volgende dag vir een van hulle: “was julle getrek of gerook?”

“Nee, net gerook, oom. Ag, nee, ek bedoel net getrek oom. Nee, ek meen, hoe bedoel oom nou, oom?”