Jy blaai in die argief vir 2011 Desember.

Ouma bel huistoe

Desember 10, 2011 in Sonder kategorie

Nou een Sondag sit ek rustig en koffie drink in die bed.

My selfoon lui. Ek sien dis my ma.

Vreemd, nogals, reken ek. Waar sou my ma nóú vandaan bel? Dis seker nie vreemd dat ‘n ou se ma jou op ‘n Sondagoggend bel nie, maar my ma is 4 jaar gelede oorlede. En vandag is hoeka haar verjaarsdag.

Vir ‘n oomblik is ek onseker of ek moet antwoord. Netnou is dit ‘n kollekteeroproep, mens weet nooit.

Die foon bly lui, so ek antwoord toe maar. Daar’s niemand aan die ander kant nie. Wel, ek het nie regtig iemand aan die ander kant verwag nie, maar ek is tog so half verlig dat sy nie praat nie.

Nou’s ek bietjie ge-rattle, moet ek bieg.

Dan onthou ek. Ek het ‘n selfoon by my seun oorgeneem – een van daai modelle wat as ‘n vermaaklikheidsentrum ook diens doen. En ek het my ma se verjaarsdag op die reminders gesit.   Ek het net nog nie daarby uitgekom om te kies watter waarskuwingstoon die foon moet maak nie, en sy default setting was om soos ‘n telefoon te lui.

Misterie opgelos.  Ouma het nie gebel nie.