Betta Basset

Oktober 9, 2011 in Sonder kategorie

Ek kan onthou dat ek kleintyd iewers Fred Basset se strokiesprente geniet het.  Ek het net nooit besef hoe groot hierdie Basset honde is nie. 

Ons vriendin se Basset is op dieet pille om haar mooi in shape te hou.  Maar ten minste een keer ‘n week glip Betta uit en draf straat af.  Met ‘n gesig soos ‘n Basset – hulle lyk altyd honger en hartseer – is daar ‘n hele klompie mense in die buurt wie maar te bly is om vir Betta ietsie te gee om haar beter te laat voel.  Sodoende word die hele dieet oefening natuurlik bietjie in die wiele gery.

So glip Betta een oggend uit toe die Munisipale dromme uitgesit is, net mooi toe een van die drom krappers besig is om te aas uit die drom uit. 

“Ag, vang tog gou vir Betta asb!” roep ons vriendin vir die dromkrapper wat by haar drom besig is.  Dié kyk oorbluf rond om, maar maak toe self die afleiding dat die Basset wat daar verby waggel Betta moet wees.  Sy los haar goedjies langs die drom en draf agter Betta aan.  Nes ek sou sy ook met verbasing kennis neem hoe groot ‘n Basset nou eintlik is.

So kom die dromkrapper terug met Betta in haar arms.  Dit hyg en dit sweet.  “F*kit, Betta, maar jy’s swaar,” protesteer die arme vrou.  “My ma se naam is ook Betta, maar sy’s nie so swaar soos jy nie,” beskuldig sy vir Betta.

Betta, aan die ander kant, is heel tevrede om die wêreld vanuit die effe verhoogde posisie te beskou, en steur haar niks aan die gekla nie.

Ek moet sê, ek sien nie vir Betta heeltemal in die rol van ‘n waghond nie.

11 antwoorde op Betta Basset

  1. Berwick het gesê op Oktober 9, 2011

    Ai, bassets, ja, hehe.

  2. eros01 het gesê op Oktober 9, 2011

    Hello Basset man.Het nou n Great Dane puppy in die huis.Hello P G. Lees graag hier.xR

  3. TS het gesê op Oktober 10, 2011

    glimlag… jy skep mooi prentjies

  4. Daai honde maak goeie kussings voor ‘n kaggel vuur.

  5. Neander het gesê op Oktober 10, 2011

    Ek het ook met Bassets geboer, maar dis moeilike honde om te hanteer. Hulle maak hulle eie reels. Hulle hardloop hulle stukkend agter hase aan.

    Ons reun het weggeloop en eendag sien ek hom in die dorp, toe wil hy my byt.

  6. pgjonker het gesê op Oktober 10, 2011

    Ek aanvaar jy bou binnekort aan…

  7. pgjonker het gesê op Oktober 10, 2011

    Klink bietjie soos my tweedehandse bulhond, behalwe dat sy nooit aan my byt nie, selfs al dink sy soms dis nodig. Teenoor die tweedehandse Jack Russel wat weer maklik byt al dink ek dis onnodig.

  8. pgjonker het gesê op Oktober 10, 2011

    Dan verstaan mens hoekom http://www.dogbreedinfo.com van ‘n Basset sê: “With proper training, they are obedient, but when they pick up an interesting smell, it’s sometimes hard to get their attention, as they like to follow their noses and may not even hear you calling them back. Only allow your Basset off lead in safe areas.”

  9. frandr het gesê op Oktober 10, 2011

    Kleintyd het ek ‘n magiese storieboek gelees waarin ‘n basset was. Of dalk verbeel ek my net… Maar hulle is pragtig en lyk altyd asof hulle uit die een of ander storie ontsnap het

  10. lora2me het gesê op Oktober 11, 2011

    Ons het al twee Bassets in ons leeftyd gehad en dan altyd ook ‘n miniatuur worshond of twee – die kontras was altyd komies. Die Bassets kan nie maklik gedissiplineer word nie en smag om hul neuse te volg wat altyd op ‘n Basset-soektog uitloop. Ons moes altyd ons hond se ore was omdat dit gedurig in die kos gehang het. Hulle is ongelooflik groot en swaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.