Van seerowers en al daai

Oktober 3, 2011 in Sonder kategorie

By my werk klim ek soms saam met ‘n kêrel in die lift met ‘n bar code in sy nek getatoeër, kaalgeskeer, klein bokbaardjie, maar sonder ‘n snor.

Daai baardjie van hom laat my elke keer glimlag. Innerlik. Ek wil nie hê die man moet dink ek lag vir hom nie. Hy lyk te veel vir my soos ‘n ou wat Mixed Martial Arts onder die knie het.  

Daar is niks fout met die man se baard nie. Die rede hoekom sy baard my laat glimlag is ‘n insident van baie jare gelede.

Ons laat aan die huis verf. Ouboet is toe nog so 4 jaar oud, en hy speel nou maar daar rond en maak in die algemeen ‘n oorlas van homself.

Een van die jong manne wat skuur en verf het ook so ‘n bokbaardjie. Weliswaar nie heeltemal ‘n pronkstuk nie. Ek sou sê daar kon so 24 hare aan daardie baardjie gewees het. OK, wag, kom ons maak dit 30, dit was darem nie heeltemal so yl nie.

So vroetel ouboet maar daar rond en beland later onder die leer waar hy die bal waarmee hy speel moet uithaal. Dan is dit asof hy vir die eerste keer bewus raak van die man op die leer. Ek sien hy staar die mannetjie aandagtig aan, bal heel vergete.

Later kan Ouboet dit nie meer hou nie: “Oom, oom, is oom ‘n seerower, oom?”

4 antwoorde op Van seerowers en al daai

  1. lora2me het gesê op Oktober 3, 2011

    Ek het gedink jy gaan sê dit was Thys die Bosveldklong met daardie belaglike baardjie van hom.;)

  2. TS het gesê op Oktober 3, 2011

    hehehe… wel ek ken ook ‘n paar seerowers

  3. *grin*

  4. pgjonker het gesê op Oktober 3, 2011

    Dis hoeka sy boetie wat 10 jaar later vir die winkelassistent sê “you sir, are not nice…” http://blogs.litnet.co.za/pgjonker/die-dinge-wat-kinders-se

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.