Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Josef en die bro’s

Oktober 26, 2011 in Sonder kategorie

Die laaste week hou klein-Jan se skool konsert. Josef en sy veelkleurige jas. Klein-Jan speel een van van die gebroeders.

Gisteraand gaan kyk ek vir ‘n tweede keer die vertoning. So ek staan sommer in die een deur, hier vlak by die verhoog. Klein-Jan en sy broers doen hulle ding, 5 tree van my af. Dan, net momenteel, verstar hy wanneer hy my sien. Die herkenning, die smile, en dan gaan hy voort met nuwe ywer.

Dis ‘n ongelooflike show, eintlik. Omtrent 730 kindertjie neem deel, so jy kan nou dink hoe besig die verhoog by tye is.

Wanneer daai girl haar hande op Josef probeer kry dan sing sy vir hom: “Jan asseblief kom squeez my.” Maar Josef is ‘n standvastige jong man, hy sing vir haar “Hou jou hande van my lyf af,” en so gaan dinge aan, mooi ooreenkomstig die bybelse weergawe.

Op ‘n kol sien ek klein-Jan is nie lekker nie. Lyk my hy’t al weer verkeerd geëet, dan raak hy so narerig. Maar nee, kom ek agter, dis nou die hongersnood. Hy’s veronderstel om so te lyk. Hy en die broers verlang terug na die goeie dae toe kos in oorvloed was en sing “Kaboemielies vanmôre en kamoemielies vanaand.”

Dan sing hulle van die “one more angel in heaven, one more star in the sky”. Die seuntjie engeltjies (of dalk was hulle die sterre, ek is nou self nie seker nie) het almal wit cowboy hoede op en hout-trompette (jy wil nie regtig hê daai mannetjies moet speel op die goed nie). Maar ek sien een van die mannetjies sukkel bietjie. Hy’t nou net nie genoeg hande nie. Want sien, daai stukkie snot in sy neus sit nou net mooi daar dat hy later nodig het om die trompet neer te sit om dit met twee hande by te kom. Maar toe te skryf aan ‘n baie ywering poging kry hy die probleem opgelos, en kan hy weer lustig voortgaan met die trompet.

Na die tyd stap ek uit en sien ek die skoolhoof staan. Hy’t ‘n silwer das met 24 ander gestreepte kleure op sy das.

Mooi das, ek sê.

‘n Skot maak (ook) ‘n plan

Oktober 15, 2011 in Sonder kategorie

Ja, dis nie net die boere wat daai ding kan doen nie.

Jare gelede kuier Dave by ‘n Afrikaanse nooi op Stellenbosch (daai tyd het hulle nog van nooiens gepraat, genuine). Dave was van Skotse afkoms, en sy Afrikaans nie te watwonders nie. Maar as jy ‘n Afrikaanse meisie (jammer, ek sien net nie kans vir ‘n ‘nooientjie’ nie) en dié se familie wil beïndruk, dan moet jy maar deurdruk met die Afrikaans wat jy kon baasraak. As jy boonop oor boerdery ook kon praat dan sou mens dink die Skotsman se kop moet omtrent deur wees.

Daar groei toe nou een of ander plant daar rond wat peule maak. Die hele wêreld lê volg van die peule. So Dave maak nou maar praatjies oor saai en plant en boer en al daai goete, allester in Afrikaans mos nou.

“Eintlik,” reken Dave terwyl hy beduie na van die peule wat daar los lê, “moet mens al die buurt piele bymekaarkry en dit hier in die voortuin kom plan.”

Die voorstel word met ‘n geskokte stilte begroet. Nou kan ek nogals dink hoe het die meisie se pa se kop gewerk. Ek meen nou maar, ek is self die pa van ‘n tienerdogter, en so ‘n voorstel sal sekerlik die veiligheid in die buurt heelwat opgradeer vir ‘n jong meisie.  Ja-nee, hierdie Skot kan planne maak.

Na oorweging, egter, is die plan nie aanvaar nie. Die praktiese uitvoering van die plan is effe problematies. En dis in elk geval ook redelik seker dat só ‘n plan met redelike teenkanting begroet sou word deur die teikenmark.

En in elk geval, imagine die goed sou begin groei daar in die voortuin.

Vic Valle – verkoopsvernuf

Oktober 14, 2011 in Sonder kategorie

Uittreksel uit my reisverhaal van ‘n toer na Victoria Valle toe, Julie 2008

http://pgjonker.co.za/category/afr-victoria-valle-toer/

Ek plaas dit as ‘n bydrae vir Maggie se kompetisie.

Victoria Valle

The Smoke that Thunders.  Inderdaad.  Vandag besoek ons Victoria Valle toe.  Die eintlike doel van ons hele toer.   

Ons het 2 poncho’s by ons.  Ons huur ’n verdere 3 poncho’s een US$2 per kop.  ’n Wyse besluit blyk dit.  Jy reën nat van alle kante af.  Ons het vooraf die kameras in jiffy-sakkies gesit om teen die nat te beskerm.  Die gevolg is natuurlik erg onindrukwekkende foto’s, maar dit vertel darem die storie.  Of tot die mate wat mens hierdie skouspel op film kan vaslê. 

 

Ses-jaar oud Kleinboet word angsbevange vir die misreën en die gedonder rondom hom en ek moet hom op ’n stadium gryp en terughardloop na stiller en droër grond toe om hom te kalmeer.

 

Die Valle is doodgewoon awesome.  Amper heilig, groots.  Mens sien baie foto’s van die plek, maar om self daar te staan en jou eie foto te neem en dit waar te neem is moeilik om te beskryf.  Ek aanvaar manne soos Dana en Breyten het die vermoë om dit mooi te beskryf.  Ek is bevrees ek sal moet volstaan deur te sê dis eenvoudig f….rek indrukwekkend. 

 

Verkoopsvernuf

By die ingang na die valle is daar die gebruiklike stalletjies waar mens goed kan koop wat jy nie wil hê nie.  Ek gaan kyk wat daar is met die idee om later die kinders te bring om te kom koop.  Groot fout.  Luister nou na goeie raad:  moenie oogkontak maak met die vendors nie.  Moenie naby kom nie.  Moenie lyk of jy belangstel nie.  Moenie in die man se hokkie ingaan nie.  Moet onder geen omstandighede lyk of jy selfs eers later gaan belangstel nie.  En bowenal, moenie lat daai man jou laat gaan sit nie! 

Isaac verduidelik vir my mooi van al sy ware.  Ek verduidelik ek wil net kyk.  Hy verduidelik, “I’m from Zambia, you from South Africa, we’re from the same continent, I give you a good deal.” Ek verduidelik ek wil nie ’n goeie of ’n slegte deal hê nie, ek wil niks hê nie ek wil net kyk.  Nee, dis reg verduidelik hy, hy verstaan, maar sien, hier het ons nou die koning en die koningin van een of ander tribe uit hout uit gekerf, verduidelik hy. 

Baie eksoties.  Ja, ek sien, maar ek wil niks koop nie.  Maar omdat ons mos nou van dieselfde kontinent is gaan hy my hierdie special deal gee van US$50 vir hierdie pikante stelletjie van twee.  Ek verduidelik nou weer mooi ek wil net kyk, sal later terugkom.  Hy stel my voor aan die koning en die koningin se seun en dogter, ook gekerf uit die spesiale hout wat jy net in Zambië kry. 

Ek probeer my so half gehurk uit die hokkie uitkry, waarop Isaac ’n stoeltjie onder my boude indruk en my daarop plat druk, en vir homself ook ’n sitplek kry op ’n soortgelyke stoeltjie.  Daai is onse custom om so te onderhandel, verduidelik hy vir my en gaan voort om my aan die res van die koning en koninging se extended family voor te stel.  Ek raak benoud.  Daai koning en koningin is besig om aan te teel omtrent soos ek daar sit.  

Nou verduidelik Isaac vir my eers die reëls van die spel.  Sy openingsaanbod is ’n skamele US$50 vir hierdie stelletjie bestaande uit die koning en koningin, maar oorlat ons mos nou van dieselfde kontinent af kom (jy kan maar sê ons is bloed broers, man, so close is ek en Isaac met dié dat ons van dieselfde kontinent af kom) is hy oop vir onderhandeling.  En, reken hy, as ’n spesiale toegif sal hy die gesinnetjie mooi in ’n pakkie koerantpapier (gister s’n, ek kan nog die nuus ook lees) vir my toedraai ook, oorlat ons mos nou van dieselfde kontinent af kom.

So al wat ek nou moet doen, is om ’n teenaanbod te maak.  Ek kan trade met geld, t-shirts, skoene, enige iets, verduidelik hy. “You just offer me anything, anything, then we negotiate.”  Nou wil ek vir Isaac verduidelik dat hy heeltemal be…..  die kluts kwyt is as hy dink ek gaan R400 betaal vir daai twee simpel beeldjies.  Maar ek verduidelik nou mooi hoflik vir hom ek wil hom nie beledig nie, maar ek het nou meer gedink aan US$2 vir die beeldjies saam.  Wel, eintlik het ek gedink ek wil niks hê nie, maar ek het opgegee om dit vir hom te verduidelik.  Ek kan mos sien daai man verstaan nie daai nie.  In elk geval, die feit dat hy bereid is om vir ou skoene en t-shirts ook besigheid te doen het my ook laat voel ek kan nie heeltemal niks koop by hom nie. 

Anyway, die einde van die storie is dat ek hom US$10 en ’n blikkie Coke betaal vir die koning en die koningin van houtspeelgoedland.  En ek wou wraggies niks koop nie.  Daai Isaac, hy is baie goed!

 

Later bied ek hierdie baie spesiale geskenke met liefde vir my vrou aan.  Sy beskuldig my dat ek my laat inloop het.  Ek het eintlik gedink ek het heel goed gevaar.   

Die res van Livingstone

My vrou gaan koop ’n paar goedjies in die Spar.  Met die betaalslag roep sy my nader.  Die rekening beloop 133 090 Kwachas!  Sproing!!  Maar omgereken na Rande klink dit na ’n meer verteerbare ongeveer R330.

Die aand eet ons by die Ocean Basket.  Ons parkeer in ’n omheinde area, kompleet met ’n wag aan diens.  Nogals.  Dié sit sommer reg langs die bakkie op ’n stoel. 

 

Vanweë ’n gesamentlik ongesteldheid na die middag se ete gaan slaap almal behalwe ek en Ouboet in die bakkie nadat hulle rooibostee en toebies bestel het.  Later gaan kyk Ouboet of hulle oraait is, en kom rapporteer dat almal by die bakkie rustig slaap.  Die wag ook.

Betta Basset

Oktober 9, 2011 in Sonder kategorie

Ek kan onthou dat ek kleintyd iewers Fred Basset se strokiesprente geniet het.  Ek het net nooit besef hoe groot hierdie Basset honde is nie. 

Ons vriendin se Basset is op dieet pille om haar mooi in shape te hou.  Maar ten minste een keer ‘n week glip Betta uit en draf straat af.  Met ‘n gesig soos ‘n Basset – hulle lyk altyd honger en hartseer – is daar ‘n hele klompie mense in die buurt wie maar te bly is om vir Betta ietsie te gee om haar beter te laat voel.  Sodoende word die hele dieet oefening natuurlik bietjie in die wiele gery.

So glip Betta een oggend uit toe die Munisipale dromme uitgesit is, net mooi toe een van die drom krappers besig is om te aas uit die drom uit. 

“Ag, vang tog gou vir Betta asb!” roep ons vriendin vir die dromkrapper wat by haar drom besig is.  Dié kyk oorbluf rond om, maar maak toe self die afleiding dat die Basset wat daar verby waggel Betta moet wees.  Sy los haar goedjies langs die drom en draf agter Betta aan.  Nes ek sou sy ook met verbasing kennis neem hoe groot ‘n Basset nou eintlik is.

So kom die dromkrapper terug met Betta in haar arms.  Dit hyg en dit sweet.  “F*kit, Betta, maar jy’s swaar,” protesteer die arme vrou.  “My ma se naam is ook Betta, maar sy’s nie so swaar soos jy nie,” beskuldig sy vir Betta.

Betta, aan die ander kant, is heel tevrede om die wêreld vanuit die effe verhoogde posisie te beskou, en steur haar niks aan die gekla nie.

Ek moet sê, ek sien nie vir Betta heeltemal in die rol van ‘n waghond nie.

Van seerowers en al daai

Oktober 3, 2011 in Sonder kategorie

By my werk klim ek soms saam met ‘n kêrel in die lift met ‘n bar code in sy nek getatoeër, kaalgeskeer, klein bokbaardjie, maar sonder ‘n snor.

Daai baardjie van hom laat my elke keer glimlag. Innerlik. Ek wil nie hê die man moet dink ek lag vir hom nie. Hy lyk te veel vir my soos ‘n ou wat Mixed Martial Arts onder die knie het.  

Daar is niks fout met die man se baard nie. Die rede hoekom sy baard my laat glimlag is ‘n insident van baie jare gelede.

Ons laat aan die huis verf. Ouboet is toe nog so 4 jaar oud, en hy speel nou maar daar rond en maak in die algemeen ‘n oorlas van homself.

Een van die jong manne wat skuur en verf het ook so ‘n bokbaardjie. Weliswaar nie heeltemal ‘n pronkstuk nie. Ek sou sê daar kon so 24 hare aan daardie baardjie gewees het. OK, wag, kom ons maak dit 30, dit was darem nie heeltemal so yl nie.

So vroetel ouboet maar daar rond en beland later onder die leer waar hy die bal waarmee hy speel moet uithaal. Dan is dit asof hy vir die eerste keer bewus raak van die man op die leer. Ek sien hy staar die mannetjie aandagtig aan, bal heel vergete.

Later kan Ouboet dit nie meer hou nie: “Oom, oom, is oom ‘n seerower, oom?”