Jy blaai in die argief vir 2011 September.

Winde van Verandering

September 28, 2011 in Sonder kategorie

Ek ken iemand, ‘n man met vermaarde talente.  Ter wille van verleenthede sal ek hom liewer nie identifiseer nie, so kom ons noem hom Gert. Een van Gert se talente het veroorsaak dat hy die voorsitter van Helshoogte manskoshuis op Stellenbosch se Poep-en-Burp klub was. 

 

Die reglement van die klub was heel eenvoudig. Elke keer as ‘n lid een van daardie flytige liggaams-luggies laat onstnap het, dan moes hy ‘n 5c of so bydra tot die klub se kitty [dit was lank terug, nog voor 1980, toe kon jy nog iets doen met 5c].  Aan die einde van die jaar dan het al die lede van die klub in die Spur gaan milkshakes drink met wat in die kitty was.  Of dis wat hy sy ma gevertel het.  Dalk het hulle skelmpies ‘n bier gedrink.

 

Eintlik, ongelukkig vir Gert, het die hele klub maar op sy talente saamgery.  Hy was die hoof bydraer tot die kitty. Dis soms sleg om so talentvol te wees. Gelukkig het die klub net uit 3 lede bestaan, so elkeen kon dus darem ‘n ietsie kry.  By die Spur nou, bedoel ek.

 

‘n Paar jaar later woon ek in die buurkoshuis. Een donker aand stap ek en my kamermaat terug koshuis toe, by Helshoogte verby.  Iewers vanuit een van die boonste vloere burp daar ‘n man.  Indrukwekkend, man!  Ons ruk tot stilstand in ons spore en bewonder die meesterstuk.  Ek weet dit kan nie Gert wees nie, want hy is nie meer daar nie, maar ek weet hy sou ‘n diep buiging gemaak het uit erkentlikheid vir hierdie vertoning.

 

My kamermaat was vreeslik ordentlik.  Hy’t nie een in die toilet ‘n harde flatelasie gepasseer nie.  Burp was ook nie eintlik sy ding nie.  Deesdae, om die waarheid te sê, is hy nog meer ordentlik as toe.

 

Ekself was as kind blykbaar ook vreeslik ordentlik. Of so vertel my ma my. ‘n Tannie op Laaiplek het eendag in verstomming opgemerk: “Haai, die kind sê tot askies as hy poep.” Ek was toe drie jaar oud. So ek is nou nie seker of die askies sê eintlik nie ‘n Laaiplek ding was nie, en of dit dalk net my ouderdom was wat eintlik die bewondering uitgelok het nie. Hoe ookal, sedertdien het baie dinge verander, moet ek bieg.

 

So op hierdie aand in die donker voor Helshoogte het ek en my kamermaat mekaar al lank genoeg geken dat hy toe al sekere waarnemings ook oor my vermoëns gemaak.  Dit het blykbaar nie heeltemal gestrook met die tannie van Laaiplek se waarnemings van baie jare vantevore nie.

 

Onder my kamermaat se spesiale aandrang en versoek, dus, [“my roommate made me do it”] maak ek my toe mooi staan daar in die donker onder die boom om die man in gelyke klank te antwoord.  Ek het self nie sleg gevaar nie, as ek nou daaraan dink.

 

Feitlik onmiddellik, egter, gee die man aan die ander kant antwoord op my roepstem. Eweneens indrukwekkend.

 

So staan ons dus nou, elkeen in sy klein hoekie (in die donker, mos nou), met wat miskien vir die oningeligte waarnemer mag geklink het soos die mating call van …. wel…. ek weet nou self nie mooi wie se mating call só sou geklink het nie.

 

Ek moet bieg, daai man was in ‘n klas van sy eie.  Ek het maar later suutjies (in die donker) die aftog geblaas.  Eisj, daai man, hy was baia goed.

 

 

 

[Ek wonder nou so half by myself of mens veronderstel is om sulke stories onder jou eie naam te skryf…..]

 

PGJ

Sosiale Bekwaamheid

September 26, 2011 in Sonder kategorie

Ek het nou so lekker gelag vir Celia se storie oor sosiale onbekwaamheid.

Die storie laat my dink aan ‘n soortgelyk sosiaal onbekwame kêrel wie jare gelede saam met my op Varsity in die koshuis was.

Een van ons koshuismaats se broer is oorlede.  Toegegee, dis van daai ongemaklike dinge wat meeste ouens glad nie weet om te hanteer nie.  Meer dikwels as nie praat niemand daarvan nie, oor hulle nie weet hoe nie, en uiteindelik probeer almal kliphard om te maak of niks gebeur het nie.

Maar Klaas* (nie sy regte naam nie, netnou kry ek moeilikheid) meen darem mens moet simpatiseer.  Klaas homself is ook nie onnodig knap met hierdie tipe van simpatisering nie, so eintlik moet mens jou hoed afhaal vir sy poging:

“Ai man, sorry om te hoor van jou f**kin broer, né?”

Paarl Taalmonument ontbyt

September 24, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend gaan ek en vroulief vir onse huweliksherdenking ontbyt eet.  Ons soek iets wat soos ‘n tuin kan lyk, verkieslik met ‘n uitsig.  So land ons nege-uur vanoggend by die Taalmonument.  Enigste (eerste) gaste.

Die wye hoek laat bietjie detail verlore gaan.  Op die volgende foto sien mens beter.  Links is die Groot Drakenstein berge, dan Simonsberg, dan net regs van Simonsberg is Kanonkop – die donker een. 

Aan die teenoorgestelde kant steek die Taalmonument se punte uit.

Net vir ingeval jy wonder, ja, jy kan Tafelberg daarvandaan sien.

‘n Staproete is daar uitgelê.

Daar is blompies ook langs die pad.

Gewonder of hierdie dalk Heide kan wees?

Van die roete af sien jy die Taalmonument uit ‘n ander hoek uit.

Vir die volgende uur was ons basies die enigste gaste, met die hele plek vir onsself.  How cool is that, huh?

Sensitiewe inkopies

September 19, 2011 in Sonder kategorie

Kondome is deesdae vrylik beskikbaar. In enige openbare kleedkamer omtrent kan jy dit kry. So ek weet eintlik nie hoe die ouens wat die pakkies met die eksotiese prentjies op maak nog ‘n bestaan maak nie. Maar ek verstaan daar is blykbaar steeds ‘n behoefte aan die ‘brand name’ modelle. Die stakende studente van die Durban Tek het so ‘n tyd terug blykbaar aangedring op ‘brand name’ kondome as een van hul griewe.

 

Jare gelede stuur vroulief my om te gaan kondome koop. Ek kan nou nie eintlik meer onthou hoe dit gekom het dat ons dit nodig gehad het nie. Nee, nee, ek weet waarvoor ons dit wou gebruik het, ek bedoel nou maar, ons het normaalweg ‘n alternatiewe voorbehoeding gebruik.

 

Nou ja, hoe moeilik kan dit wees. Ek ry gou af na die naaste Spar toe. Ek fynkam die rakke. Elkeen, maar nee, geen kondome op die rakke nie. Nadat ek vir die tweede keer deur al die rakke is besef ek daar is inderdaad geen sodanige produkte beskikbaar nie. Dis tog onmoontlik. Goed, dan moet ek maar gou vra daarvoor.

 

Ek nader een van die rakpakkers. “Het julle kondome?” vra ek.

 

Die rakpakker se mond val oop. Hy staar my aan. Dan klim hy die enkel trappie van sy steppie af dat hy op gelyke grond staan. Hy sit die pakkie wortels neer en kyk agter hom. Ek dog eers hy dink ek praat met iemand anders, maar besef toe hy kyk of iemand anders dalk gehoor het wat ek vra.

 

Hy begin beduie met sy hande, aarsel, begin iets sê, maak weer sy mond toe, dan, sonder om iets te sê retireer hy weg van my af asof ek ‘n onbehoorlike voorstel aan hom gemaak het, maar iets aan sy handbewegings laat my tog die gevolgtrekking maak dat hy gou gaan navraag doen. Dan verdwyn hy vinnig om die hoek van die rak.

 

Nou staan ek maar en wag daar by die wortels en die komkommers. Miskien moes ek liewer een van die pakkers by die hoofpynille en so gevra het, dink ek by myself. Die man bly lank weg. Later sien ek hy en nog ‘n rakpakker loer om die hoek van die rak waar hy so flussies om verdwyn het. Hy wys my uit aan sy kollega, die kollega maak sy oë groot en knik sy kop (“aha, so dís hoe ‘n man lyk wat in die openbaar vra vir ‘n kondoom”), en dan verdwyn hulle weer altwee om die hoek.

 

Dit raak nou lank. Die tyd meen ek nou. Ek wonder of ek nie liewer die apteek moes probeer het nie. Dié is immers net langs die Spar.

 

Dan kom die twee manne om die hoek van die rak gestap. Hulle stap nou in my rigting. Een het ‘n pakkie in sy hande. Halfpad na my toe steek die een met die pakkie vas. Hy hou sy kollega aan sy mou terug en hou die pakkie uit na sy kollega toe. Sy kollega kyk hom aan of hy mal is. Die kollega draai opsluit om en stap kopskuddend weg vanwaar hy gekom het. Die man met die pakkie kyk hom ‘n oomblik agterna. Dan kyk hy na my. Dan kyk hy weer versigtig orals rondom hom, amper soos ‘n ou wat nou ‘n pakkie daggie voor die polisiestasie vir sy pel gaan gee.

Skoorvoetend stap hy nader, stadig. Dan, soos blits, druk hy die pakkie kondome, wat hy met altwee hande toehou, in my hande, draai om en stap verwoed vinnig weg. Ek wil hom terugroep en net herinner dat sy spot waar hy nou net nog gewerk het sommer hier by my by die leertjie is, maar los dit maar.

 

Nou begin ek self te wonder oor die wysheid daarvan om kondome in die Spar te koop. Op pad na die kasregister toe maak ek my hande oop om die pakkie te besigtig. Dis vreemd hoe die gees van sameswering in die rakpakker se handbewegings op my oorgedra het. Ek besef nou eers ek hou ook die pakkie kondome met altwee hande toe. Daar is ‘n prikkelende prentjie op.

 

So van die prentjie bestudeer bevind ek my toe uiteindelik by die kasregister. Te laat besef ek dat dit al is wat ek in my hande het. Plaas ek ‘n tydskryf en ‘n besem of so ook gekoop het, dan kon ek die kondome mos nou net so ongemerk daarmee saam deurgeglip het. Maar dis nou te laat, ek kan nie omdraai sonder om nog meer aandag op my te vestig nie.

 

Die meisietjie agter die kasregister kan sweerlik nog nie 16 wees nie. Ek is seker dis onwettig om sulke jong kinders te laat werk. Dis kinderarbeid. Ek sit die pakkie voor haar neer. Sy steek haar hande uit om dit te neem om te scan. Wanneer sy die prentjie sien stop haar hande in die lug. Sy bars uit in ‘n giggel, bloos bloedrooi, en bring dan die scanner nader om die skandeer sonder om aan die gewraakte pakkie te vat. Sy kyk my nie in die oë nie.

 

“Ja, ‘n sakkie ook asb,” hoor ek myself sê.

 

Wanneer ek by die Spar se deur uitstap kyk ek terug oor my skouer en sien die twee rakpakkers saam met wat lyk soos die res van die winkel se pakkers wat almal in my rigting kyk. Ten minste is hulle almal vrolik. Een wys vir my die thumbs up.

 

Ek kry nogals warm toe ek uitstap.

Die dinge wat kinders sê

September 18, 2011 in Sonder kategorie

Kleinjan kyk graag TV. Eintlik te graag.

Daar is seker ‘n paar goeie goed ook wat daaruit spruit. Soos dat Kleinjan op 9 jarige ouderdom meer Engels kan praat en verstaan as ek toe ek skool klaargemaak het. Toegegee, sy aksent is soms bietjie Loony-Toonish, maar darem.

Maar toe Kleinjan nog heelwat jonger was het hy soms met frases vorendag gekom wat hy nie die betekenis van gesnap het nie. Dit kon soms lastig raak wanneer hy sy nuut aangeleerde frases op iemand uitprobeer.

So is Kleinjan saam met sy ma in die winkel. Verveeld besluit hy toe om een van sy nuwe frases op die winkelassistent te probeer.

“You, sir, are not nice.”

Die winkelassistent is uit die veld geslaan, mammie is bloedrooi, en Kleinjan baie tevrede.

Dís nou vir ou ‘n lekker sêding, huh?

Sou ‘n verloor teen Wallis dalk beter gewees het?

September 11, 2011 in Sonder kategorie

Help my gou hier. 

Kom ons veronderstel die volgende eindposisies in die onderskeie poele:

Poel A:  N-Z, Frankryk

Poel B:  Eng; Argentinië

Poel C:  Aus, Ierland

Poel D: SA, Wallis

Dan is die kwarteindrondes as volg:

Eerste kwarteindrond:  Aus v Wallis, en kom ons verondersel Aus wen

Tweede kwarteindrond: Engeland v Frankryk, en ek dink dis ‘n moeilike raai wie hier gaan wen, maar sê maar Frankryk.

Derde Kwarteindrond:  Suid-Afrika v Ierland, en kom ons veronderstel SA wen.

Vierde kwarteindrond:  N-Z v Argentinië, en N-Z wen.

Nou lyk die halfeindrondes as volg:

Eerste halfeind:  Aus v Frankryk

Tweede halfeind:  Suid-Afrika v N-Z

Ok, nou as ons teen Wallis verloor het en in Poel D was en Wallis eindig eerste en SA tweede in die poel, dan beteken dit dat, ons die kwarteindronde teen Australië sou speel, en as ons wen, ons ‘n halfeindstryd teen Frankryk speel.  Toegegee, soos Australië nou speel weet ek nie of mens hulle sommer gaan klop nie, maar ek wonder maar oor die scenario bloot oor beweer word dat James Hook se een skop oor was, en dat Wallis eintlik moes gewen het. 

Op ‘n manier voel dit vir my of ons sielkundig makliker kan glo ons kan die Ozzies klop as die Nieu-Zeelanders.

So ek is nie seker of die argumente oor Cook se skop eintlik die saak verder neem nie.  In elk geval was daar toe nog 60 minute speeltyd oor, wat mog beteken het dat die Springbokke se ingesteldheid anders sou gewees het oor die hoeveelheid punt om in te haal – wat dalk ook ‘n groter desperaatheid in hul spel sou bring.

Just making talk.

Life ain’t fair – get used to it

September 10, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie term word volgens voorstedelike legende aan ‘n Bill Gates toespraak toegedig. Ek kon dit ook maar vir jou gesê het, maar ek dink nie dit sou eintlik as ‘n vreeslike wysheid die wêreld om gesirkuleer word nie. Hoekom nie? Want ek is nie Bill Gates nie. Ek meen nou maar, ek kan so ‘n slim opmerking maak soos ek wil, maar voor ek nie beroemd is nie, dink niemand anders dis ‘n slim opmerking nie. Wat maar net illustreer dat die lewe nie regverdig is nie.

Handig

Nou, in ooreenstemming met bogemelde lewenswysheid is ek ook nie onnodig handig nie. Nee, laat ek dit herfraseer. Ek is onhandig. Dus waag ek nie my hand eintlik aan praktiese goed nie. Mense doen goed self, vertel hulle vir my, omdat hulle nie geld het om te betaal om dit te laat regmaak nie. Ek, aan die ander kant,  probeer niks self regmaak voor ek nie weet ek het genoeg spaargeld om ‘n ou te betaal om weer my brouwerk te kom regmaak nie.

My pel wat veronderstel is om alles reg te maak bly nou in Engeland, so nou is ek genoodsaak om meer waagmoedig te raak.

 

Toerusting

Nou moet ek darem sê, wat ek sedertdien geleer het is dat die regte toerusting helfte van die geheim is. Toegegee, die ander helfte is stees ‘n bietjie vaardigheid, so dit lol steeds, selfs met die regte toerusting. Maar net om die punt te illustreer:

Jare gelede boor ek ‘n gat in die muur om ‘n prent op te hang. Ek het juis opgegee om spykers te probeer inkap, want as ek dit gedoen het, het ek gewoonlik dan ‘n area van so rofweg een vierkante meter wat weer oorgeplyster en geverf moet word.

Na 10 minute kom kyk my vrou hoe die prent hang. Toe is ek nog nie eens deur die verf met die boor se punt nie, ek is moerig en sopnat gesweet. Ek sê niks, maar glo my, iemand hoor my brom.  

Nou suiker ek oor na buurman toe. Hy het ‘n hamerboor. Terug in die kamer is die gat binne sekondes gedoen. Dis nou maar net om te illustreer hoe belangrik die regte toerusting is. Ek moet nou sê, ek beskou my nou al deesdae as ‘n bekwame gatboorder. ? (Jy verstaan mos nou wat ek bedoel, né?)

 

Alarm

Nou ja, vroeër vanjaar  pluk die drade per ongeluk uit my huisalarm se transformer uit. Aangesien my pel in Engeland is maak ek toe maar self die spul oop. Daar is drie gaatjies in die konnekteerblokkie, en vier drade wat daar ingesit moet word. So sit ek die drade in. Ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees. Nie baie moeilik nie.

Tog kos dit my toe ‘n nuwe alarm sisteem.

Wasmasjien

Nou ‘n week gelede begin my wasmasjien water lek. Geen probleem nie, dis net die rubber wat stukkend is. Dit kos so R120 om te vervang. As jy dit kan kry. Maar nou het die vervaardiger die land verlaat, en parte moet van Italië af ingevoer word. ‘n Onderdeel wat vir ‘n geringe prys vervang moet word, kos nou skielik meer as ‘n derde van die prys van ‘n nuwe wasmasjien, wat in elk geval al ‘n paar jaar oud is, so ons kyk nou na ‘n vervanging.

Maar, wat van patch & solution? Ek meen nou maar, dis hoe mense binnebande regmaak. Ek sien sommer hoe ek vir R7,50 hierdie outjie reggemaak kry. Ek gaan kry vir my die nodige by die fietswinkel.

Nou ja, vyf patches en ‘n buisie gom later sit my hande aan die rubber vas, maar die gat waar die water deur sypel grynslag nog vermakerig vir my.

Nou’t ek ‘n nuwe wasmasjien.

 

Skottelgoedwasser

Dis nogals moeite gewees om in die spasie in te kom waar die wasmasjien geinstalleer moet word. Ouboet het nou en dan eers weer uit die gat uitgeklim, want hy kry noutevrees. Maar uiteindelik is alles opgekoppel en werk dit weer.

Tot my vrou ‘n sms van die huishulp kry wat verduidelik sy moet kyk wat aangaan met die skottelgoedwasser, hy lek water.

Gisteraand vat ek die skottelgoedwasser vir ‘n toetsrit. Baie gou is die hele kombuisvloer onder water, dit loop onderdeur die kombuiskaste, uit by die kombuisdeur. Ek stop die skottelgoedwasser se siklus en sukkel met hom by die deur uit. Buite koppel ek hom op dat ek nou mooi kan sien waar die water uitkom.

Dan sê die skottelgoedwasser “woep”, met so ‘n aanskoulike blou vlam wat uitkom waar die kragdraad uit die skottelgoedwasser uitkom. Nou was hy nie meer nie. Hy is ook nie meer nie.

Die waterprobleem, het ek intussen vasgestel, was oor die nuwe wasmasjien se uitloop-pyp te diep in die Y-pyp afgedruk was, en sodoende die bek van die skottelgoedwasser se uitloop pyp verstop het.

Nou was ons maar met die hande skottelgoed, en ek wonder hoeveel skade die water aan my houtkassies gedoen het.

My waghond is ‘n weghond

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Buksie is ‘n Jack Russel. Hy’s dalk bietjie Fox Terrier ook. Buksie is mal oor aandag. Enige iemand s’n. En as jy lyk soos ‘n kandidaat wat gaan val vir sy charms, dan gaan sit hy sommer op jou voete net om te wys jy is nou sy nuwe beste vriend. Dis dan heeltemal in orde dat jy hom optel, sy ore vryf, of in die algemeen, aandag gee aan hom.

Buksie het ook ‘n korterige humeur. Eintlik dink ek meer dis ‘n ding te doen met instink. As jy per ongeluk daai lyfie seermaak dan byt hy eers die offending ledemaat voordat hy tot verhaal kom en dan verleë weghardloop na ‘n ander lid van die huishouding wie hy mag dink hom op daardie oomblik meer goedgesind is. Dan gaan sit hy onder daardie lid se stoel of blad, na gelang van die geval, en kyk net eers om te sien hoe die pas gebytene reageer.

Hulle sê Jack Russels is slim. Ek moet toegee, hy reageer heelwat beter as ons bulhond. Maar dan weer, die bulhond reageer glad nie, so dis nie te moeilik om haar te uitpresteer nie. As my vrou driftig vir die bulhond sê “sit” dan sit almal in die huis dadelik. Almal behalwe die bulhond.

Buksie het jeuk voete. As daar iewers ‘n deur oopgaan, dan wil hy dadelik gaan kyk wat in die buite-wêreld aangaan. Annerdag storm hy uit om die bouer oorkant die pad te gaan ontmoet. En byt toe sommer die bouer aan sy voet, sonder enige aanmoediging.

Nou onlangs het Buksie vir die tweede keer in twee weke weggeraak. Teen die tyd wat ons agterkom hy is weg, toe is hy as gelys by die vee-arts as gevind. Die sewende vermiste Jack Russel wat al aangemeld is vir die naweek. Dit lyk my dis maar hulle ding daai.

Ek kry die adres en gaan soek vir Buksie. Die samaritaan wat hom oor Buksie ontferm het verduidelik.   Hy sien hier kom ‘n Jack Russeltjie in die pad aangedraf net toe hy in sy bakkie klim. Met sy bakkie se deur nog oop toe skakel hy die bakkie aan. Toe daai Jack Russel die diesel se dreuning hoor, toe verander hy nét so van rigting, hardloop reguit vir die bakkie, spring in, en maak hom tuis op die passassiers-sitplek en sê “Jis, laat waai maar”. Nes hy gewoond was op die plaas maak.

Miskien moet ek ‘n dieselbakkie kry.

Bestuurde Chaos

September 1, 2011 in Sonder kategorie

Soggens is ‘n dier van sy eie. Chaos. As jy drie kinders in drie verskillende skole het, en die pa en die ma werk ook nog, dan gaan dit maar rof. Opstaan, ontbyt, aantrek, verlore sokkies en skoene, “Ma, waar’s my…..” en so aan.

Dan, as almal uiteindelik aangetrek en geëet het moet daar skool toe gery word. Dis ‘n ongelooflike ding hierdie. ‘n Tiener pak haar tas reg wanneer sy dit agter in die motor in sit – terwyl jy haastig wag dat almal klaarmaak.

Jy’s net om die blok dan bel die ma om te sê iemand het sy broodjies vergeet, dan dan draai jy weer om.

Dan, wanneer tienerdogter by die skool uitklim, dan pak sy wéér haar tas reg. Nie op die teerblad langs die motor nie nie, nee, terwyl dit in die motor se boot is en jy haastig wag dat almal klaarmaak, want jy moet ook nog by die werk kom.

Só begin jou dag elke dag met twee ure se chaos.

Ons het nou die oplossing gevind.

Ons staan nou ‘n uur later op. Dis nog steeds chaoties, maar dis nou net een uur ipv twee ure. Mens kan nie dink die oplossing kon so eenvoudig wees nie.