Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

Affie plaas

Augustus 27, 2011 in Sonder kategorie

Die plaasopstal buite Robertson.

“Sê howzit virrie aanties, né?”

Die gebou (ja, ja, OK, ek weet dis logies, maar ek moet seker darem iet sê).

Die perskepitte voel lekker onder jou voete.  Heelwat beter as klippertjies onder kaal voete, sal ek sê.

Soos Al Debo sou gesing het:  ‘allerhande goedjies …..’, alhoewel dalk nie heeltemal om ‘n kêrel mee te vang nie. 

OK, baai for now!

Studente braai

Augustus 26, 2011 in Sonder kategorie

Bernard se storie laat my wonder of ons nie gemeenskaplike vriende het nie.

Jare gelede article ek in Bloemfontein. Van my army pelle swot by Kovsies. Dis nou die manne wie direk na skool army toe is terwyl ek daar was na my studies. Ek is dus so ‘n paar jaar hulle senior.

 

Op ‘n aand daag ‘n karvrag vol manne by my huis op. Hulle dink hulle het ‘n probleem.

Sien, dit was intervarsity, verduidelik hulle. Op Potch. So hulle is nou ‘n paar motorvragte vol manne (en dames) op Potchefstroom toe. Daar was ‘n bietjie drank ook saam. Miskien bietjie meer as net ‘n bietjie, meen hulle by heroorweging. Eintlik, onthou hulle later, was daar nogals heelwat drank saam.

 

Halfpad Potch toe raak hulle honger. Maar helfte van die manne is boerklonge uit die Wes-Transvaal uit, so hulle het ‘n fris voorraad beeslvleisies wat saam is juis vir ingeval hulle mos nou ‘n bietjie honger raak. ‘n Vuurtjie word aanmekaargeslaan vir die vleisie. Maar dit raak hond koud in die Vrystaat en Wes-Transvaal in die winter, so hulle maak toe maar later die vuurtjie groter, net om die liggaamshitte eers bietjie op te kry voordat hulle by die braaiery uitkom.

 

‘n Polisievoertuig kom verbygery. Hulle waai vrolik vir die polisievoertuig (nee, regtig). Die polisievoertuig draai om en kom terug, hou daar by hulle stil. Die manne in blou wat uitklim lyk egter nie te gelukkig met hulle nie.

 

“Julle kan nie hier vuurmaak nie,” word verduidelik.

 

“Ja, ons kan, jy kan mos sien ons maak hier vuur,” antwoord ‘n wysneus.

 

“Kyk hier, ons kan dit selfs nog groter maak,” reken ‘n ander ene terwyl hy nog ‘n stomp opsit.

 

 

Die manne in blou is nie geamuseerd nie. Hulle besef egter ook hulle is effe in die minderheid. Die manne by hierdie braai is nie alleen nie. Hulle is, om die waarheid te sê, heelwat meer as wat hulle is. Back-up word ontbied van die naaste dorp af (vir die SAP nou).

 

Dit begin vir my klink van die oortreding van een of ander nonsens regulasie wat die SAP hier wou probeer afdwing, dink ek hardop.

 

“Absoluut,” beaam die manne.

 

In elk geval, die back-up het toe later ook daar ogedaag. Dis eers toe die getalle balans tussen student en SAP meer op ‘n gelyke vlak is wat die gesprekvoering meer sinvol begin raak.

 

“Julle kan mos nie hier vuur maak nie!” raas die senior offisier wat intussen opgedaag het kwaai. Dié man lyk te oud en te kwaai vir iemand om ‘n spitsvondige antwoord uit te dink. “Julle beter hierdie vuur dood kry, julle gaan betaal vir die skade!”

 

Iewers tussen die newels van die voggies en die teenwoordigheid van ‘n stewige klompie polisiemanne het die groepie studente begin insien dat mens nie op ‘n teerpad behoort vuur te maak nie. Dis nie goed vir die teer nie. Tewens, volgens die padinspekteur se verslag wat later beskikbaar geword het moes gedeelte van 5x5m teer oorgedoen word om die pad na behore te herstel.

 

“Nou sê die aanklaer hulle gaan die saak Streekhof toe stuur,” verduidelik een vir my. “Hoekom is dit?”

 

“Oor die Streekhof jou nie vir langer as 2 jaar kan tronk toe stuur nie,” onthou ek. Ek is toe nog baie slim, want ek leer juis toe vir my toelatingseksamen.

 

Die geskokte stilte wat in my sitkamer neergedaal het, het lank aangehou. Tot een darem later sê: “Ek het julle gesê ons is in die moeilikheid.”

 

 

Nou ja, die probleem is darem toe opgelos deurdat die betrokkenes almal ‘n finansiële bydrae gelewer het vir die Provinsiale Administrasie se afdeling wat die pad gaan regmaak het, en die strafsaak is toe teruggetrek.

 

So die moral van die storie is: braai verder weg van die dorp af.

Ver paaie [7]

Augustus 14, 2011 in Sonder kategorie

Donkernagoggend en hondkoud.  Tussen Murraysburg en Aberdeen in die Karoo.

(As dit nie so koud was nie sou ek self die hek oopgemaak het….)

Richtersveld.

Richtersveld.

Bloubergkoppie, met Tafelberg (afgesny) in die agtergrond.

Vleesbaai 4×4.

Stettyn, tussen Villiersdorp en Worcester.

Stettyn, met ‘n uitkyk oor die Brandvlei dam.

Close shave

Augustus 8, 2011 in Sonder kategorie

Kom ons noem hom maar John.

 

Hy en sy vrou en sy dogtertjie woon in Suid-Afrika al vir 4 jaar. Hulle verdien altwee hulle brood op ‘n eerlike manier, albei met ‘n vaardigheid wat aanwendbaar is in Suid-Afrika. Hulle kom van Zimbabwe af.

 

Sondag gaan besoek hulle ‘n vriend in Du Noon, buite Milnerton. John gaan klop, met sy vrou en dogtertjie wat in die motor bly wag. ‘n Ou Mercedes.  Bietjie geduik plek-plek.

 

Daar is niemand tuis nie. Wanneer John omdraai om terug te stap na die motor praat een van die locals met hom. In Xhosa. John verstaan nie Xhosa nie.

 

Dit is sekondes, toe weet almal binne hoorafstand hy is ‘n uitlander. John besef hy staar die dood in die oë. 

 

Hy hardloop na die Mercedes toe en spring in die motor. Sluit die deure. Die groepie het nou groter geword. Hulle begin pluk en stamp aan die motor, maar die deure hou. Ek het nou die aand staan en kyk hoe John sukkel om die Mercedes aan die gang te kry. Die enjin het ook bietjie aandat nodig. 

 

John kry uiteindelik die motor aan die gang en jaag weg, weg van die groter wordende groep mense.

 

Dit was close.  Baie close.

Ver paaie [6]

Augustus 8, 2011 in Sonder kategorie

Tussen Riebeeck-Wes en Gouda.

Die berg anderkant Porterville.  Op pad Beaverlac toe.

Naby Kamieskroon.

Wildeperdehoekpas

Namakwa Caracal roete – Noord.

Namaqua Caracal Roete – die Suidelike deel.

Langs die Groenrivier.

Ver paaie [5]

Augustus 5, 2011 in Sonder kategorie

Afdraai na die Brandrivier pad.  Op die pad vanaf Barrydale na Ladismith toe.

Die Brandrivierpad.  Verbind Barrydale met Riversdale – so soortvan.

Garcia pas.  Verbind Riversdale met die binneland.

Montagu.  Plaaspad.  Effense afdraendetjie.

Montagu.

Montagu.  Dit reënt bietjie.

Dis ok, oom kan maar ry.

Skuldinvordering

Augustus 5, 2011 in Sonder kategorie

‘n Kollega is in korrespondensie met ‘n prokureur met die oog op die invordering van geld vanaf ‘n skuldenaar. Die skuldenaar is nie besonders begerig om die terugbetaling te bewerkstellig nie. Daarom natuurlik die nodigheid om ‘n prokureur te betrek in die oefening.

Die invordering vorder nie na wense nie.

Kollega skryf by geleentheid aan die prokureur en versoek dat hy tog maar sy vinger op die pols moet hou ten einde die saak te probeer bespoedig. Die briefie gaan af, waarna die kollega dit agterna weer rustig deurgaan, net om te sien sy het geskryf: “Geliewe asb u vinger op die bols te hou.”

Sy is hewig ontsteld. Ek het weer gedink hierdie voorstel behoort eintlik baie effektief te wees.

Ver paaie [4]

Augustus 2, 2011 in Sonder kategorie

Oor die Limpopo rivier.  Die Zanzibar grenskruising naby Swartwater tussen Limpopo Provinsie en Botswana.

Sonneblomlande, sover jy kan sien.  Langs die pad tussen Nata en Kasane, Botswana.

In Chobe.  Sommiges moes uitgesleep word.  Dit was toe inderdaad 4×4 wêreld.

Die brug tussen Zam en Zim.  Links is Zambië, regs is Zimbabwe.

Die pad na beskawing!  Namashushu lodge in die Caprivi Strook

Petrol tap by Divundu, net uit die Caprivi strook uit.