Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Ver Paaie [3]

Julie 28, 2011 in Sonder kategorie

Naby Koringberg (soos die banierfoto)

Vir 3Q:  Die pad waar hierdie Koringberg foto geneem is:

Jacobsbaai

Stompneusbaai

St Helenabaai (Sandy Point) bou paaie

Tietiesbaai (met die tietie)

Studente dinge

Julie 28, 2011 in Sonder kategorie

Bileam se storie van vanoggend laat my toe dink aan ‘n dag baie jare gelede. 

Kampus.  Eksamen.  ‘n Laaste geheue verfrissing van die ‘spot’-vrae, en dan raak die geritsel van die papiers stil.  Stilte. 

Vraestelle word uitgedeel.  Gesig na onder.  Ademlose spanning in die afwagting om die vraestel om te draai om te sien of daar reg ge-‘spot’ is. 

“Goed, julle kan maar die vraestelle omdraai, julle tyd begin NOU.”

Papiere ritse.  Kug.  Gevroetel in potloodsakkies en hier en daar ‘n dowwe doef teen ‘n bank soos iemand sukkel om sy sit te kry.  En dan, uiteindelik, daal die stilte neer. 

Maar nie vir lank nie. 

‘n Stem, waar die paniek in ‘n effense falsetto deurslaan, klink gedemp op:  “Ek is in my moer!”

“Meneer, jy mag nie nou praat nie.”

En dan protesteer die effens falsetto nou meer in ‘n huiltoon, en sonder enige klankdemping meer:  “Maar ek is in my mooeeer!?”

Ver paaie [2]

Julie 26, 2011 in Sonder kategorie

Afdraai van N2 af na Gouritsmond toe

Gouritsmond karavaanpark

Swartbergpas.

Bordjie na Die Hel

Pad na Die Hel

Mis op die N4 naby Middelburg, Mpumalanga.  Benoud, meneer…

Ver paaie [1]

Julie 23, 2011 in Sonder kategorie

In die Kgalagadie Oorgrenspark

Kampeerplek by Tweerivieren

Grondpad tussen Kakamas en Loeriesfontein

Van Ai-Ais af Noordwaarts

Die laaste 78 km van Okongwati na Epupa

Enjinprobleme, 90km Noord van Noordoewer

McGregor

Julie 20, 2011 in Sonder kategorie

McGregor, naby Robertson.  Die dorp is nie baie groot nie.  OK, OK, die dorp is klein.  Dis so die helfte van die dorp op hierdie foto.

Ons eet middagete by Tebaldi’s.

Dit lyk asof die hele blok waarin Tebaldi’s is omskep is in ‘n tipe ‘sanctuary’, met verblyf, Zen-tipe tuine, meditasie plekke, biblioteke (2, nogal) en ‘n swembad.

Die dorp is rustig.  Daar is wel ‘n polisiestasie, het ek opgelet.

Die strate is nie te besig op ‘n Saterdagnamiddag nie.

Die straatlampe is stylvol.

Ek sou sê McGregor is ‘n rustige dorp.

Bastille fees, Franschhoek

Julie 17, 2011 in Sonder kategorie

Die naweek was dit weer die jaarlikse Bastille Fees op Franschhoek.  Groot vrolikheid.

Ons daag vroeg genoeg op om nog sitplek by ‘n sentraal geleë stoep-koffiewinkel te kry.   Eintlik weet ek glad nie waaroor die fees gaan nie.   Ons ry eintlik sommer net vir die joy ride deur Franschoek op pad na ‘n ander bestemming toe.

Nie te lank na ons ons sit gekry het nie kom daar ‘n orkes verbygemarsjeer.

‘n Klein groepie onder leiding van ‘n ouerige man maak ‘n eie groepie wat op die sypaadjie musiek maak.

‘n Paar jong mannetjies kollekteer donasies met roomysbakke, tot stoornis van sommige eienaars van die sypaadjie-restaurateurs.

Franse berets is die voorkeurhooftooisel vir die dag.

Sommige het ‘n beter sitplek as andere.

Reg voor waar ons sit is ‘n tafel opgeslaan waar Jagermeisters in mengsel met ‘n energiedrankie (dink ek?) aangebied word. 

Dis baie interessant om die verbygangers se gesigsuitdrukkings dop te hou wanneer hulle besef wat aangebied word.  Feitlik almal kry so ‘n effe stout-geamuseerde uitdrukking, kyk takserend na hul maat, amper asof dit ‘n ‘dare’ is, en val vir die uitnodiging.

Ons kry later koers Villiersdorp se kant toe. 

Aan die bo-kant van die dorp waar jy links draai by die museum is daar bietjie van ‘n commotion aan die gang op ‘n kleiner skaal.  Twee manne is met ‘n verwoede stoeigeveg besig in die middel van die pad. 

Iemand roep “You mustn’t push!”

Ek is nogal verbaas.  Nie eintlik gedog die ouens gaan Engels praat nie.

 

Perspektief op gesondheid

Julie 10, 2011 in Sonder kategorie

Jare gelede (baie jare gelede) stap ‘n skoolgroep van ons van Donkergat af Kaapstad toe, seelangs.  Die idee is om geld in te samel.  So jy loop nou maar van huis tot huis en vra mense om jou te borg vir die stappie.

Waar ons gebly het was daar nie veel huise om van te kies nie.  Sowat 10 huise in ‘n ry, en dit was min of meer die buurt gewees.  Die res was veld.  Dus is hierdie ouens maar telkens die ongelukkige slagoffers van elke poging tot geld insameling vir die skool.

Oom Morton was een van my slagoffers.  Hy het ‘n hartprobleem gehad.  Nie te lank vantevore nie moes hulle hom inderhaas met ‘n ambulans na ‘n Kaapse hospitaal toe vervoer.  Gelukkig het hy dit darem gemaak.

Die vra-proses is maar moeilik.  Oom Morton was Engels.  Wel, nee, hy was eintlik ‘n Noorweër, maar Engels was die taal waarin mens met hom ‘n gesprek voer.  Sy Afrikaans was op dieselfde vlak as my Noorweegs, so Engels wat die naaste gemeenskaplike deler.   Maar dis moeilik.  Engels was nie eintlik my ding nie, verstaan. 

As jy nou in ag neem dat die hele plaaslike laerskool se Engelssprekende kinders van Sub A tot Standerd 5 almal in een klas sit, dan kan jy verstaan, the town, she is not big in English.

Maar met moeite kry ek geverduidelik that “we wants mos to walk to Cape Town, oom sien, and now I need a…. a …. dinges …..  agge … a whatsamacalit… borg … dinges…..”

“Oh, you want money?”

Ek was verlig dat Oom Morton so mooi verstaan het.  Wat is ‘n flippen borg tog nou in elk geval in Engels.  Noudat ons duidelik was op die primêre doel van my besoek gaan dinge toe ook heelwat makliker.  Maar ek sukkel nog om vir Oom Morton te laat verstaan mooi presies wat ons gaan doen. 

Uiteindelik verstaan hy:  “What, you want to walk to Cape Town?!  I went there by ambulance, and I nearly did not make it!”

Hy was darem voldoende beindruk met my poging om fluks by te dra tot die borg.

Dasseneiland

Julie 10, 2011 in Sonder kategorie

Dit was ‘n uitsonderlike kouer November dag toe ons vroegoggend uit Tafelbaai hawe vertrek vir ‘n seil af na Dasseneiland toe.  ‘n Properse ‘downwind dash’ met die wind van agter.

 

Tewens, die wind was so fris dat ons skaars uit die hawe uit is toe Skipper Matthys wonder of almal gemaklik is om voort te seil en of iemand liewer wil omdraai.  Daar was geen stemme vir omdraai nie.  Met die wind so sterk is net die gyb seil gespan.  Ons was twee seiljagte bymekaar. 

By geleentheid het ‘n paar dolfyne by ons aangesluit.

 

 

Ons arriveer die namiddag in House Bay aan die Noordekant van Dasseneiland.  Die eiland beskut jou teen die slegte see, maar die wind kom maar steeds koud oorgewaai.

 

 

Die Saterdag het nog ‘n paar bote uit die Kaap gearriveer, met effens beter weer.

 

 

Sonsonder is dit nog koud, maar die wind is stiller.

 

 

Om ‘n naweek lank op ‘n seiljag te sit is soos om in ‘n hangmat te mediteer.  Net heelwat beter.

 

 

Teen Sondag is ons weer teen die wind in terug Kaap toe.

 

OK, so waar’s die anker dan nou?

 

 

Na ‘n koue dag teen die wind in tref ons die Kaap aan met temperature van 30 grade.

 

Voortreflik!

 

Kris Muier

Julie 8, 2011 in Sonder kategorie

Nee, ek bedoel miskruier.

 

Ek lees vandag in ‘n tydskrif ‘n artikel oor miskruiers. En dis nie net oor ek in die dokter se spreekkamer die tyd moes omkry dat ek dit gelees het nie, dit was regtig interessant. (Nee, ek makeer niks, dis my vrou wat gesê het ek moet dokter toe gaan). 

 

Byvoorbeeld, het jy geweet daar is 800 spesies miskruiers net in Suid-Afrika alleen?

 

En jy mag nou maar dink dis ‘n banale diëet, maar dié ouens het hulle voorkeure. Dis nie sommer enige dis wat hulle aanstaan nie. Byvoorbeeld hulle het meer van ‘n toegeneentheid tot die kullinêre uitskot van herbivore as van omnivore.

 

Nou wonder ek of ‘n miskruier ook ‘n spysverteringskanaal het? Ek meen nou maar, as jy die reeds verwerkte produk inneem, dan moet die behoefte aan ‘n eie spysverteringskanaal seker grootliks uitgeskakel word.

 

Dis ‘n alles-in-een diëet. Geen addisionele voeding of vloeistof hoef ingeneem te word nie. Heel nifty, eintlik.

 

Daar bestaan meer as een strategie vir die miskruier om sy daaglikse inname te bekom. Een opsie is om sommer vas te klou aan ‘n dier van jou keuse en te sit en wag vir die produk om gelewer te word. Omtrent soos om softserve te bestel, sal ek nou maar sê.

 

Dan is daar die gebruiklike hardwerkende tipe miskruier. Die eerlike tipe outjie wat in die gewone lewe met ‘n Chev sou gery het.  Dis hy wat op die harde manier die deposito sal nader. Kompetisie is egter maar straf, so hy gryp vir hom ‘n happie van sy keuse en dan moet hy so vinnig as moontlik ‘n distansie tussen hom en die voedingsbron kry voordat ander miskruiers dieselfde bron ontdek. Vir daardie rede reis miskruiers in ‘n reguit lyn tot die mate wat die omgewing dit toelaat, bloot oor dit die vinnigste manier is om afstand af te lê.

 

Nou moet jy natuurlik onthou dat ‘n miskruier hierdie karweiwerk in tru-rat doen. Probeer bietjie hande-viervoet ‘n bal agteruit rol in ‘n reguit lyn.

 

Jy kry natuurlik ook die aaskruiers. Hulle wag vir die hardwerkende tipe om ‘n ent weg te vorder, weg van ander kompetisie af. Dan bespring hulle die niksvermoedende miskruier, druk hulle lyf onder hom in en dop hom om. Dan, soos blits, voordat die beroofde homself weer op sy voete kan kry, dan sit die rower die stuk in en hol met die bol. [Nie seker of die woordkeuse heeltemal gepas is hier nie].

 

Sommige van hierdie miskruiers kan meer as 50x hulle gewig stoot. Stel jou voor jy stoei met ‘n bol van 300kg. Dis die tipe goed waarvan hulle rillerflieks maak, man! [Dit sal natuurlik ook ‘n mediese wonder wees.]

 

‘n Lekker fris bol is net die ding om ‘n dame miskruier in die regte luim te kry. Sy is baie gewillig om die manlike miskruier te help stoot (aan die bol mos nou) tot die bol op ‘n lekker plekkie begrawe kan word, waarna hulle dan sal paar. Wie sou kon dink so ‘n bol kan ‘n afrodasiac wees.

 

Wys jou net waarheen dinge kan ontwikkel.

 

Uit die mond van die suigeling

Julie 1, 2011 in Sonder kategorie

Buksie is die tweedehandse onopreggeteelde Jack Russel wat by ons aangesluit het om ons tweedehandse baie opreggeteelde bulhond (sy’t papiere, ‘n microchip en kan lees en skryf) geselskap te hou.

Dit lyk of die twee goed regkom. Daar is net hierdie een klein probleempie, en dis die kosbakke. Ons het nou al die een se kosbak een kant van die huis, en die ander se kosbak aan die ander kant van die huis. Die inhoud van die twee kosbakke is identies. Maar dit is asof die twee ‘n aptyt het vir moedswilligheid en moeilikheid het onderskeidelik.

 

Zoë het ‘n gewigsvoordeel van min of meer twee keer Buksie s’n. Ongelukkig dink Buksie nog steeds dat hyself ‘n 80-kilogram swaar Boerboel is. Het immers sy tande geslyp op so ‘n Boerboel se pote. Buksie is dus maar self ‘n moedswillige Buksempie wanneer hy naby Zoë se kosbak kom. Dan het ons moeite om die twee uitmekaar te hou. Mens sou verwag dat Buksie verlig sal wees met ons toetrede, maar nogals nie. Hy hardloop agterna om nog ‘n byt in te kry.

 

Dan, drie minute later, dan lê die twee rustig langs mekaar in hul bedjies voor die kaggel. Dis amper soos broer-en-suster.

 

So van ná 16h00 die middag dan begin die twee my vrou teister vir ‘n stappie. Elkeen met ‘n harnas aan en aan ‘n leiband. Buksie mag dalk terugkom as jy hom roep, maar Zoë het geen geneëntheid om te reageer op ‘n roep nie. Mens kan dus nie kanse waag om hulle los te laat loop nie. Maar Zoë gedra haar eintlik verbasend mooi ordentlik so op die leiband al om die plaaslike dam.

 

So kom ‘n dogtertjie kom van voor af en staar Zoë in verstomming aan. “Kyk, mamma, die lelike een se tong hang uit.”

 

So much vir jou goed gedra, en dan laat jou voorkoms jou in die steek…..

 

PGJ