Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

Van Viscounts en al daai

Junie 26, 2011 in Sonder kategorie

Ek het nog altyd gedink skrywers word gebore. Jy kan skryf, of jy kan nie. Nou lees ek bietjie boeke oor hoe om boeke te skryf. Die rede daarvoor is oor ek agtergekom het ek kan nie boeke skryf nie. En ek wil graag ene skryf voor ek doodgaan. Nie dat ek enige planne het nie (vir doodgaan nou, meen ek).

Nou die outeurs van hierdie boeke is adamant daaroor dat jy wél iemand kan leer boeke skryf. Daaroor is ek natuurlik baie dankbaar, want dit beteken daar is hoop.

Goed, daar is sekere basiese beginsels om te volg. So skryf Elizabeth George in Write Away dat jy moet begin met ‘n karakter (point taken), en dat hierdie karakter ‘n naam moet hê. ‘n Naam wat somehow inpas by die karakter wat die skrywer wil skep. Sy skryf hoe sy soms ‘n verkeerde naam kies, en dat haar storie dan net nie wil vorder voordat sy nie die karakter ‘n beter / goeie / regte naam gegee het nie.

Dit laat my toe toe terugdink aan storieboeke wat ek in my laat laerskooldae op St Helenabaai gelees het. Die dorpsbiblioteek op Stompneusbaai was min of meer die enigste vermaaklikheidsentrum daar, behalwe vir die movies wat mnr Joynt van die Laerskool HP Williams so nou en dan in die skoolsaaltjie gewys het. Toegangsgeld was iets soos 5c gewees, en dan is daar pouses sweets en koeldrank en so verkoop. Maar sorrie, ek dwaal bietjie af.

Terug by die storieboek. Ek aanvaar dit moes ‘n vertaling uit Nederlands gewees het, want die karakters het name en titels gehad wat ek vermoed dalk eie aan die Nederlandse omgewing was, maar sekerlik nie eie aan Afrikaans nie. So was daar een van die hoofkarakters in die boek wie ‘n Burggraaf was.

‘n Burggraaf?!?

Goed, deesdae weet ek (of dink ek) dat ‘n Burggraaf waarskynlik ‘n ‘count’ of so iets moes gewees het. ‘n Grondeienaar met klomp ouens onder hom wat grond by hom huur of so. Maar daai tyd het ek nog nooit van so iets gehoor nie. OK, ons naaste dorp was Vredenburg. So ‘n ‘burg’ kan dalk iets met ‘n dorp te doen hê. ‘n ‘Burg’ klink ook nogals baie soos ‘n brug. Die graaf-gedeelte was maklik. Almal weet immers wat ‘n graaf is.

Alle twyfel kon natuurlik uit die weg geruim geword het as ek dit in die woordeboek nageslaan het, maar wie wil nou waardevolle leestyd laat verlore gaan met die opsoek van woorde in die woordeboek. Maar terwyl ek nou daarvan praat het ek nou gou (amper 40 jaar later) in my Tweetalige Woordeboek gaan kyk wat ‘n burggraaf is, net om vir eens en vir altyd enige twyfel uit die weg te ruim. Daarvolgens is ‘n burggraaf ‘n “viscount”.

Ook maar goed ek het nie destyds goeie leestyd gemors om die woord te gaan opsoek nie, want ek sou nie geweet het wat ‘n “viscount” is nie. Op Google (wat in elk geval nie 40 jaar gelede bestaan het nie) kry ek in die Wikipedia Dictionary dat ‘n “viscount” beskryf word as “a British nobleman ranking above a baron and below an earl.”

Piece of cake. Ek kon mos gedink het so ‘n ou moet iewers tussen ‘n baron en ‘n earl inpas. So much vir duidelikheid. Maar ek is nou op ‘n roll, so kom ons check maar gou op Wikipedia se woordeboek wat ‘n Earl is. Dit is “a British nobleman ranking above a viscount and below a marquess.”

&*()$%^?!

So wat is ‘n Marquess dan? Dit is “a British nobleman ranking above an earl and below a duke.”

Eisj.

Nou wat is ‘n Duke dan? Dit, sê Wikipedia se woordeboek, is “a male holding the highest hereditary title in the British and certain other peerages.”

OK, ek geen nou eers op. Ek kry nie die gevoel dat ek eintlik vorder in my poging om duidelikheid te kry nie, maar ek aanvaar julle weet nou almal wat ‘n burggraaf is.

Terug by my storieboek. Ek kon nog aanwurg met hierdie kêrel met die koddige titel van Burggraaf. Maar daai man se van was BOUDEWYN.

Nou verstaan nou, ek was waarskynlik 11 jaar oud. En hier verskyn ‘n hoofkarakter met só ‘n naam. Ek meen nou maar, ons weet wat boude is. Ons weet wat wyn is. So wyn wat uit boude ….. nee, let’s not go there, shall we.

Nou vra ek jou. Hoe kán jy enige-iemand (of dit nou die held of die villain is) ernstig opneem wat bekend staan as Burggraaf Boudewyn!

Aan die vertalers van daardie leesboek: “What were you thinking?!”

PGJ

Hondestories

Junie 24, 2011 in Sonder kategorie

Ons het ‘n tweedehandse bulhond. Dié is nou al 8 jaar oud. Sy’s bietjie van ‘n vreemde hond, met vreemde gewoontes. Meer in besonder kom sy nie as jy roep nie. Ook, as sy voor die deur staan en vir jou met daai ‘puss in boots’ oë aankyk om die deur oop te maak en jy maak dan uiteindelik die deur oop, dan gaan hardloop en blaf sy eers weer ‘n slag deur die tuin, ipv om in te kom.

Ná ‘n onlangse besoek aan ‘n karooplaas het ons nou nóg ‘n tweedehandse hond. ‘n Jack Russel (met ‘n bietjie Foxterrier in hom ook) het nou by ons aangesluit.

Die kort weergawe van hierdie proses is as volg deur neef op die plaas aan my nege-jaar oud voorgestel: “Jy kan nou Maandag op die mat vir juffrou vertel jou oom het gesê Ek gaan daai hond skiet! Toe skree my ma Nee, nee, moenie! En nou het ons ‘n nuwe hond.”

Dis min of meer ‘n akkurate beskrywing. Sien, dis lastig as jy ‘n rondloper Jack Russel op ‘n plaas het, en die baba Boerboel van 80 kilogram drentel agter hom aan. Hierdie Boerboel het geen idee van sy grootte, gewig of krag nie.

So speel ek en my nege-jaaroud sokker op die gras voor die huis. Die volgende oomblik vermorsel iemand my plat in die grond in. Toe ek weer tot verhaal kom sien ek dit was die Boerboel wat besluit het sokker is ‘n lekker game. Hy’t my toe doodgewoon platgeduik, op die bal beslag gelê en daar trek hy. Gelukkig is dit andersins darem ‘n heel docile dierasie wat my teregwysing in goeie gees aanvaar en die bal weer teruggegee het nadat ek hard met hom geraas het.

Dis nogals nice om nou ‘n hond te hê wat selfs luister as jy hom roep. Die Jack Russel het net een keer nodig gehad om te sien waar die luik in die garage deur is om toegang tot die huis te kry – iets wat die bulhond in 4 jaar nog nie kon baasraak nie.

Maar nou ja, nie almal is ewe slim (of mooi) nie.

PGJ

Die goed wat kindertjies doen

Junie 6, 2011 in Sonder kategorie

Sondag is ek by die Endlersaal op Stellenbosch vir ‘n kultuur-middag.  Kore, sang, orkeste, almal daai goete.  ‘n Harp ook, nogals.

Ek besoek die kleedkamers.  Daar is so drie hokkies met deure aan.  Een die beset, die ander twee is oop.  Ek gaan na die volgende oop ene.

Nou hoor ek ‘n pa spreek sy twee seuntjies aan.  Hulle moet teruggaan en die deur oopmaak.  Dit blyk dat die twee rakkers in die hokkie was en die deur van binne af gesluit het.  Toe hulle klaar is, toe het hulle óf nie die deur kon oopkry nie, óf hulle het besluit dis ‘n gawe plan om liewer oor of onderdeur die muurtjie te gaan.  Nou is die hokkie mooi toegesluit van binne af, met niemand binne nie.

Nou hoor ek hoe steun die een mannetjie om onderdeur die deur te kruip na binne.  Maar terwyl hy nou so in die omgewing is toe loer hy sommer onderdeur die muurtjie na my kant toe.  “Halo oom, hoe gaanit oom?” 

“Nee, dit gaan goed en met jou jong?”

“Nee goed oom.”  Steun steun verder (hy, nie ek nie).

Vriendelike knaap.  Maar ek kan hom sommer nou al sê:  as hy daai ding oor 10 jaar van jou af doen, dan gaan hy in groot moeilikheid beland!

Oranje is ‘n moeilike kleur

Junie 1, 2011 in Sonder kategorie

Oranje is blykbaar ‘n moeilike kleur vir kleuters om baas te raak.  So verstaan ek van my vrou, nie dat ek dit moeilik vind nie. Sy was ‘n speelgroepie tannie gewees. Sy gee ook skool vir die kleingoed. So sy verstaan van wat kindertjies moeilik vind om baas te raak.

 

Maar Mitsibushi is ook ‘n moeilike woord. Probeer bietjie dat jou 4-jaar oud daardie woord sê en luister hoe klink dit.

 

Vriende van ons se jongeling was reeds van jongs af ‘n groot motor entoesias. So het hy reeds baie vroeg in sy lewe (hy was seker so 3 of 4 jaar oud) besluit watse voertuig hy wil hê wanneer hy die dag begin bestuur. En Mitsibushi sal dit wees, het hy besluit. So kondig hy toe op ‘n dag aan: “Pappa, as ek groot is wil ek ‘n Pusipusi hê.”

 

“Ja my seun, ek ook,” sê sy pa.

 

Sy ma gee opsluit sy pa ‘n vuil kyk.

 

Sy’s natuurlik meer ‘n Toyota fan, sien.