Die Rottevanger van Durbanville

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Dit was ‘n vreemde ding.

‘n Paar weke gelede het die Munisipaliteit die dreine in die omgewing skoongemaak. En die half-geboude huis oorkant die pad het na drie jaar ‘n nuwe baas gekry wat weer begin bou het. My raai is dat een van hierdie twee aktwiteitie iets met my probleem te doen mag hê.

So breek Vrydagaand aan. Op my ouderdom is Vrydagaand die aand vir by die huis rondhang en niks doen nie, nie vir uitgaan nie. So is dit ‘n rustige aandjie tuis, met die kinders se maats wat ook daar rondkuier.

Ouboet het ‘n meisie van die Tek af saamgebring. Maar sy’s van ‘n ander planeet af – sy kom van Bantry baai af. Nou kuier die twee in die agterplaas rond – nee, niks romanties nie, sommer net. So kom kla ouboet dinge ruik nie reg daar in die agterplaas nie. Ek gaan stel ondersoek in.

“Ah, how sweet!” sê die meisiekind. “Ugh! No! They’re dead”.

Dan sien ek ook wat sy sien. Ses dooie muise lê in ‘n ry. Kleintjies. So ses tree weg lê wat lyk na die ma. Ook dood. So dis waar die reuk vandaan kom. En, vind ons, daar dryf ook ‘n dooie duif in die swembad.

My vrou is ontsteld. Dis nie die manier om jou kinders se vriende wie die eerste keer kom kuier mee te beindruk nie, reken sy.

Ek verwyder die lyke en alles word mooi skoongespuit en so, so nou lyk en ruik dit weer reg. Saterdag gaan gooi ek die dooie buit by die Munisipaliteit se mopgat.

Ek loop weer deur die tuin, maar wraggies, ek meen ek ruik ‘n rot. Letterlik. My sinusprobleem maak dat ek nie so goed ruik nie. Ek roep my vrou. Nou loop ons altwee snuif-snuif deur die tuin. Smell the rats. So wrintiewaar, hier lê die bure se kat. Nee, toe nie. Dis ‘n dooie rot. Genugtig, die ou is groot. Nou moet hy begrawe word.

Ek en ouboet maak beurte om in ons klipperige grond ‘n graf te grawe wat darem so 13 duim diep is net om darem die besoeker te begrawe. ‘n Dag later ruik ek weer iets. Die reuk kom uit die pyp uit wat die geut- en swembad se backwash water straat toe weglei. Dus het rot se maat natuurlik besluit om in daai pyp te loop lê en doodgaan, en ek kan hom nie daar bykom nie.

In ‘n halfhartige poging backwash ek die swembad. Sowaar, daar spoel die dooie rot in die straat af.

Nou ja, so het ek my dooie rotplaag lyk my onder beheer. Moet sê, dis heelwat beter as wat ‘n lewendige rotplaag sou gewees het.

7 antwoorde op Die Rottevanger van Durbanville

  1. lora2me het gesê op Mei 31, 2011

    Het jy gif uitgesit of is hulle dood van ander mense se gif. As dit laasgenoemde is, sal jy jou troeteldiere en tuinvoëls nogal mooi moet dophou. Geluk met die vangs, Rottevanger. Gelukkig is jy nie ‘n kindervanger nie. Speel jy dalk fluit? 😉

  2. pgjonker het gesê op Mei 31, 2011

    Nee, hulle is dood van ander se gif, wat ek aanvaar hulle ook op ‘n ander plek gekry het. Ek het nou maar die blokfluit diep weggebêre. Mens weet nooit of ek dalk ‘n aandeel hierin gehad het nie…

  3. TS het gesê op Mei 31, 2011

    mmmm en jy het nie eers op jou fluit gespeel nie…

  4. HeavyHenry het gesê op Mei 31, 2011

    Hoop nie dis die builepes wat die rotte uitroei nie…

  5. fanjan het gesê op Junie 1, 2011

    Hier op ons dak speel die rotte gereeld sokker. Ek weet net nie vir watter span nie! Nou moet ek hulle al elke twee weke kos gee. Dan raak hulle eers na drie dae stil.

  6. pgjonker het gesê op Junie 1, 2011

    Ja-nee, sokker maak mens moeg. Hulle hou eintlik lank…

  7. jjjonker het gesê op Junie 1, 2011

    Elsa,

    Elke winter het ons daai plaag, en het eers onlangs deur ons Jack Russel se rotjaery kon sien waar hulle die dak binnegaan.

    Uit ondervinding weet ek hoe dooie rotte ruik, veral bokant jou slaapkamer se plafon – waar jy nie kan in nie.

    Maar die goeie nuus is, die reuk verdwyn na so 5 dae.

    Dus, vasbyt!

Los ’n antwoord vir lora2me. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.