Daai eerste keer

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Dis nou so elf jaar gelede wat ek ‘n 4×4 bakkie aangeskaf het.  Het bakkie, wil 4×4, maar weet glad nie hoe nie. 

Destyds was Bloubergkoppie nog oop vir 4×4 ry, en ‘n vriend spreek af om my vir my maiden voyage sountoe te neem en bietjie touwys te maak.

Nadat ons bande afgeblaas het lei Bernard ons op ‘n tweespoor paadjie met lekker dik sand.  Hy ry voor met sy geel Range Rover, en beduie van tyd tot tyd vir my watter rat, en of dit low range of high range moet wees.  Ek ry maar soos hy sê.  Great fun, eintlik.

By die eerste duine moet ons eers bietjie oefen om ‘n duin uit te ry.

Ja, ja, OK, ek weet, dis nie veel van ‘n duin nie.  Maar jy moet onthou dinge lyk nooit op ‘n foto so steil soos in die regte lewe nie.  Hier takel ek my eerste duin onder die wakende oog van Bernard.  Ek het dit effe stresvol ervaar.  Maar gelukkig is Bernard ‘n sielkundige.  Vreemd, ek het nie toe aan die potensiële voordeel daarvan gedink nie.  Ek besef dit maar nou eers, elf jaar later!

Soos ons vorder so neem die selfvertroue toe.  Bernard se Range Rover het ‘n dakrak op, en vinnig-vinnig is sy kinders op die dakrak – dis hulle gebruiklike ding, blykbaar.  Teenstrydig met my konserwatiewe geaardheid laat ek my kinders ook op die dak sit. 

My meisiekind is baie opgewonde.  Sy is 5 jaar oud, en bly vrolik vir haar pappa waai wie agterna gery kom.  So voor ‘n knikkie sien ek nog sy waai vrolik vir my.  Die Range Rover verdwyn uit die gesigsveld uit, en toe ek weer die Range Rover sien is daar een kindertjie minder op die voertuig se dak.  Die remligte kom aan, die stof staan, Bernards spring uit en hardloop terug.  Ek kan nie mooi verder sien nie, maar sit voet neer om daar te kom. 

Daar gekom het my meisiekind darem toe al die ergste sand uit al die holtes uit verwyder gekry.  Sy’t bietjie meegevoer geraak met die waaiery en die opwinding dat sy vergeet het om vas te hou, en toe sy haar weer kom kry toe voeter sy van die dak af.  Gelukkig op sagte sand, stadige spoed, met geen beserings nie.  Agterna het ek dikwels by myself gedink:  “what were you thinking!?” 

Op ‘n stadium kom ons by ‘n dieperige donga.  Ek is so effe onseker of ek daar moet afgaan. 

“Ek dink nie ek moet nie, ek dink die bakkie se maag gaan krap,” dink ek hardop.

“Nee, oom moenie hier af nie,” beaam ‘n nege-jaar oud passassier, “my maag gaan ook krap as oom hier afgaan.”

Bloubergkoppie het ‘n interessante geskiedenis.  Eers was die Kaap mos Hollands.  Toe raak hy Engels.  Toe vat die Hollanders dit terug.  Toe raak die koningin bietjie omgekrap daaroor en stuur die Engelse om weer die Kaap oor te neem.  Dit doen hulle toe in 1806, met die beslissende slag wat gevoer is by Bloubergkoppie. 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit ook ‘n uitkykpos om te kyk vir vyandelike skepe.

Nouja, sedertdien was die Kaap nie weer Hollands nie.  En intussen is Bloubergkoppie ook ‘out of bounds’ verklaar vir 4×4 entoesiaste, verstaan ek. 

Bly ek was daar.

8 antwoorde op Daai eerste keer

  1. Wel ek is nou omtrent waar jy 11 jaar terug was. Iets nuut om gewoond te raak aan 4 wiele en nie net 2 nie. Ken bietjie van plaas, maar regtige woestynduin, die moet ek nog leer!

  2. AfrikaNerd het gesê op Mei 31, 2011

    Ek het tog so ‘n gevoel vier wiele is makliker!

  3. kanak het gesê op Junie 3, 2011

    Was lekker gewees daai dag. Ook my eerste 4×4 rit, alhoewel ek ‘n passasier was. Goeie ding die fotos het oraait uitgekom, want dit was die eerste keer dat ek ‘n SLR (joune nogal) gebruik het, en as ek reg onthou het dit nie outo fokus gehad nie. Kan nie lekker uitmaak wie dit is op foto 3 nie. Epos my as jy kan sien.

  4. AfrikaNerd het gesê op Junie 3, 2011

    Sjoe, en nou’s jy al wat, 9 jaar ‘n Kanuk? Op die foto, vlnr: Bernard, sy seun en jy. Met Anita op die agterklap.

  5. kerneelsie het gesê op Julie 21, 2011

    “Het die bakkie, wil 4X4…”
    Dis maar ek ook daai. Die bakkie staan op 344 000km, en het so jaar gelede vir die eerste keer ge-4X4. En nie eens ek nie. Vriende van my.
    Maar ek het onlangs onder ‘n treinbrug in knie diep water vasgesit. Kon om die dood nie daar uit nie. Toe onthou ek van die ekstra rat hefboom, en die “moffie-knoppie” hier langs die stuurwiel. Toe klim ek oor die rots wat my terughou, en voel soos ‘n kind met ‘n BMX fiets wat sy eerste sukseslvolle wheelie reggekry het.

  6. AfrikaNerd het gesê op Julie 21, 2011

    Wel, dit klink of ek en jy in dieselfde kategorie val in terme van sagtebaard viertrekkers. Ek is nie groot op rof ry nie. Jy kan gaan kyk by http://pgjonker.co.za/?p=1148.
    Maar tsv die benoude boude terwyl dinge aan die gang is, het mens agterna so ‘n ‘sense of achievement’, hé?

  7. kerneelsie het gesê op Julie 22, 2011

    Ding is, dis my daaglikse vervoer, en mens moet mos maar jou vervoer met respek behandel, want more los hy jou en dan loop jy met die voete.
    So, ek is ook nie groot op rof ry nie. Maar aan die anderkant voel ek ook dis onheilig om ‘n 4X4 te ry en hom nie te gebruik waarvoor hy gemaak is nie.

  8. AfrikaNerd het gesê op Julie 22, 2011

    Ja. Myne op 13 jaar oud het 262 000 km’s op. Sy ry eintlik min, maar het ‘n harde eerste 114000km’s gehad as ‘n Hertz Car Rental bakkie in 2 en ‘n half jaar se tyd. Maar sy kan toer, werk toe ry, mopgat toe ry, 4×4, almal daai goete. Bietjie dors,net…

Los ’n antwoord vir kerneelsie. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.