Die mense van die stad

Mei 5, 2011 in Sonder kategorie

Of dalk eerder:  ‘the last 100 yards’.

Gisteraand woon ek ‘n boekbekendstelling by in die stad in.  Ons was bietjie laat vir die okkasie, en glip toe by die eerste parkeergarage daar naby in.  Dit blyk toe ‘n privaat concern te wees, maar die man in beheer is heel tevrede om ons daar toe te laat.  Geen probleem nie, sê hy.

Laataand los ek die res van my geselskap by die gebou waar die geselligheid is en gaan haal gou die motor.  Dis net ‘n 100m (eintlik minder) wat ek moet aflê, maar dis diep stad hierdie.  Ek loop in die middel van die pad en probeer maar so half om 360 grade rondom my waar te neem.  Mens moet darem weet watter kant toe jy kan hardloop as dit nodig raak.

Links van my op die sypaadjie staan ‘n jong seun.  Hy sien my aankom, leun terug teen die muur.  Onsubtiel druk hy sy broek af dat die helfte van sy onderbroek uitsteek.  Dan trek hy sy hemp stadig op en streel oor sy naeltjie met sy hand.  Ek aanvaar hy probeer vir my sê hy is honger, dus vermy ek oogkontak.

Twee manne kom van voor af gestap.  Ook in die middel van die pad.  ‘n Sekuriteitswag by ‘n gebou naby sien hulle en klap die ysterhek voor hom toe;  met hom binne-in die gebou.  Ek verander maar van rigting dat ek en die twee manne nie paaie kruis nie.  Dit lyk altevol of dit hulle pad is hierdie.  Ek vermy maar moeilikheid en oogkontak.

In die parkeer garage is die man in beheer bly om my te sien.  Die motor is nog veilig en hy wonder hoeveel ek gemeen het ‘n billike tarief sou wees.  Hy’s vlug van begrip;  teen daardie tyd het hy al die twintig Rand in my hand waargeneem en wonder hy hardop of ek ook dink R20 is in billik. 

Wanneer ek daar uitry moet ek afry in ‘n eenrigtingstraat.  Die verkeerslig is rooi.  Lank.  Op die oorkantse hoek staan twee dames.  Die een is nogals mooi aangetrek.  Nes die seun hoër op in die straat leun sy ook terug agteroor teen ‘n paal.  Sy teug aan haar sigaret, en blaas mooi gemoduleerde rokies uit.  Sy kyk vir my deur die rook.  Ek maak oogkontak met haar.  Sy trek haar rok bietjie op en maak haar knieë effe oop.  Seker ook moeg gestaan.  Ek verstaan daai, ek staan al heel aand en is ook al moeg gestaan.

Dis ‘n ander wêreld dié.  Binne die bestek van enkele meters het ek by mense verbygestap wie waarskynlik amazing (alhoewel dalk nie noodwendig aangename) stories het om te vertel.

PGJ

 

3 antwoorde op Die mense van die stad

  1. Maankind2 het gesê op Mei 5, 2011

    Ja. Jou kamera in jou oë.

  2. loudavisi het gesê op Mei 6, 2011

    Kon nie help om te smile vir die dame met die moeë bene nie!
    ; )

  3. HeavyHenry het gesê op Mei 6, 2011

    🙂

Los ’n antwoord vir HeavyHenry. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.