Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Daai eerste keer

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Dis nou so elf jaar gelede wat ek ‘n 4×4 bakkie aangeskaf het.  Het bakkie, wil 4×4, maar weet glad nie hoe nie. 

Destyds was Bloubergkoppie nog oop vir 4×4 ry, en ‘n vriend spreek af om my vir my maiden voyage sountoe te neem en bietjie touwys te maak.

Nadat ons bande afgeblaas het lei Bernard ons op ‘n tweespoor paadjie met lekker dik sand.  Hy ry voor met sy geel Range Rover, en beduie van tyd tot tyd vir my watter rat, en of dit low range of high range moet wees.  Ek ry maar soos hy sê.  Great fun, eintlik.

By die eerste duine moet ons eers bietjie oefen om ‘n duin uit te ry.

Ja, ja, OK, ek weet, dis nie veel van ‘n duin nie.  Maar jy moet onthou dinge lyk nooit op ‘n foto so steil soos in die regte lewe nie.  Hier takel ek my eerste duin onder die wakende oog van Bernard.  Ek het dit effe stresvol ervaar.  Maar gelukkig is Bernard ‘n sielkundige.  Vreemd, ek het nie toe aan die potensiële voordeel daarvan gedink nie.  Ek besef dit maar nou eers, elf jaar later!

Soos ons vorder so neem die selfvertroue toe.  Bernard se Range Rover het ‘n dakrak op, en vinnig-vinnig is sy kinders op die dakrak – dis hulle gebruiklike ding, blykbaar.  Teenstrydig met my konserwatiewe geaardheid laat ek my kinders ook op die dak sit. 

My meisiekind is baie opgewonde.  Sy is 5 jaar oud, en bly vrolik vir haar pappa waai wie agterna gery kom.  So voor ‘n knikkie sien ek nog sy waai vrolik vir my.  Die Range Rover verdwyn uit die gesigsveld uit, en toe ek weer die Range Rover sien is daar een kindertjie minder op die voertuig se dak.  Die remligte kom aan, die stof staan, Bernards spring uit en hardloop terug.  Ek kan nie mooi verder sien nie, maar sit voet neer om daar te kom. 

Daar gekom het my meisiekind darem toe al die ergste sand uit al die holtes uit verwyder gekry.  Sy’t bietjie meegevoer geraak met die waaiery en die opwinding dat sy vergeet het om vas te hou, en toe sy haar weer kom kry toe voeter sy van die dak af.  Gelukkig op sagte sand, stadige spoed, met geen beserings nie.  Agterna het ek dikwels by myself gedink:  “what were you thinking!?” 

Op ‘n stadium kom ons by ‘n dieperige donga.  Ek is so effe onseker of ek daar moet afgaan. 

“Ek dink nie ek moet nie, ek dink die bakkie se maag gaan krap,” dink ek hardop.

“Nee, oom moenie hier af nie,” beaam ‘n nege-jaar oud passassier, “my maag gaan ook krap as oom hier afgaan.”

Bloubergkoppie het ‘n interessante geskiedenis.  Eers was die Kaap mos Hollands.  Toe raak hy Engels.  Toe vat die Hollanders dit terug.  Toe raak die koningin bietjie omgekrap daaroor en stuur die Engelse om weer die Kaap oor te neem.  Dit doen hulle toe in 1806, met die beslissende slag wat gevoer is by Bloubergkoppie. 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit ook ‘n uitkykpos om te kyk vir vyandelike skepe.

Nouja, sedertdien was die Kaap nie weer Hollands nie.  En intussen is Bloubergkoppie ook ‘out of bounds’ verklaar vir 4×4 entoesiaste, verstaan ek. 

Bly ek was daar.

Die Rottevanger van Durbanville

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Dit was ‘n vreemde ding.

‘n Paar weke gelede het die Munisipaliteit die dreine in die omgewing skoongemaak. En die half-geboude huis oorkant die pad het na drie jaar ‘n nuwe baas gekry wat weer begin bou het. My raai is dat een van hierdie twee aktwiteitie iets met my probleem te doen mag hê.

So breek Vrydagaand aan. Op my ouderdom is Vrydagaand die aand vir by die huis rondhang en niks doen nie, nie vir uitgaan nie. So is dit ‘n rustige aandjie tuis, met die kinders se maats wat ook daar rondkuier.

Ouboet het ‘n meisie van die Tek af saamgebring. Maar sy’s van ‘n ander planeet af – sy kom van Bantry baai af. Nou kuier die twee in die agterplaas rond – nee, niks romanties nie, sommer net. So kom kla ouboet dinge ruik nie reg daar in die agterplaas nie. Ek gaan stel ondersoek in.

“Ah, how sweet!” sê die meisiekind. “Ugh! No! They’re dead”.

Dan sien ek ook wat sy sien. Ses dooie muise lê in ‘n ry. Kleintjies. So ses tree weg lê wat lyk na die ma. Ook dood. So dis waar die reuk vandaan kom. En, vind ons, daar dryf ook ‘n dooie duif in die swembad.

My vrou is ontsteld. Dis nie die manier om jou kinders se vriende wie die eerste keer kom kuier mee te beindruk nie, reken sy.

Ek verwyder die lyke en alles word mooi skoongespuit en so, so nou lyk en ruik dit weer reg. Saterdag gaan gooi ek die dooie buit by die Munisipaliteit se mopgat.

Ek loop weer deur die tuin, maar wraggies, ek meen ek ruik ‘n rot. Letterlik. My sinusprobleem maak dat ek nie so goed ruik nie. Ek roep my vrou. Nou loop ons altwee snuif-snuif deur die tuin. Smell the rats. So wrintiewaar, hier lê die bure se kat. Nee, toe nie. Dis ‘n dooie rot. Genugtig, die ou is groot. Nou moet hy begrawe word.

Ek en ouboet maak beurte om in ons klipperige grond ‘n graf te grawe wat darem so 13 duim diep is net om darem die besoeker te begrawe. ‘n Dag later ruik ek weer iets. Die reuk kom uit die pyp uit wat die geut- en swembad se backwash water straat toe weglei. Dus het rot se maat natuurlik besluit om in daai pyp te loop lê en doodgaan, en ek kan hom nie daar bykom nie.

In ‘n halfhartige poging backwash ek die swembad. Sowaar, daar spoel die dooie rot in die straat af.

Nou ja, so het ek my dooie rotplaag lyk my onder beheer. Moet sê, dis heelwat beter as wat ‘n lewendige rotplaag sou gewees het.

Aquarium

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

Kinderpartytjie in die aquarium by die Waterfront

Sorrie, watter kant toe is die July nou weer?

Hiert, jou karnallie, bly weg!

Binne-in ‘n lugholte in die watertenk!  How cool is that, huh?

“Dum-dum-dum”  [Jaws se temaliedjie, vir die wie dit nie herken nie]

Buite die aquarium is ook interessante goed.

“Stick ‘m up, mate!”

Dan is daar natuurlik altyd ‘n iemand met ‘n beter idee.  Hier kom ‘n seerowerskip verby met ‘n hele kinderkonsert aan die gang as deel van ‘n kinderpartytjie.  Wow!

Die Vicorian & Alfred hotel (dink ek?)

Sterrekyk

Mei 7, 2011 in Sonder kategorie

By die Taalmuseum buite Paarl word gereeld sterrekykaande aangebied.

Jy daag daar op met jou piekniekmandjie en kuier.  Daar is ook ‘n koffiewinkel waar jy die medies imperatiewe kaffeinversterkers kan kry.

Uiteraard moet die son eers sak voordat jy in alle erns kan begin sterre kyk.

En dan donkeraand is die ware entoesiaste daar met hul teleskope, en kry jy kans om deur hulle teleskope te loer vir die sterre.

‘n Nice outing.

Die mense van die stad

Mei 5, 2011 in Sonder kategorie

Of dalk eerder:  ‘the last 100 yards’.

Gisteraand woon ek ‘n boekbekendstelling by in die stad in.  Ons was bietjie laat vir die okkasie, en glip toe by die eerste parkeergarage daar naby in.  Dit blyk toe ‘n privaat concern te wees, maar die man in beheer is heel tevrede om ons daar toe te laat.  Geen probleem nie, sê hy.

Laataand los ek die res van my geselskap by die gebou waar die geselligheid is en gaan haal gou die motor.  Dis net ‘n 100m (eintlik minder) wat ek moet aflê, maar dis diep stad hierdie.  Ek loop in die middel van die pad en probeer maar so half om 360 grade rondom my waar te neem.  Mens moet darem weet watter kant toe jy kan hardloop as dit nodig raak.

Links van my op die sypaadjie staan ‘n jong seun.  Hy sien my aankom, leun terug teen die muur.  Onsubtiel druk hy sy broek af dat die helfte van sy onderbroek uitsteek.  Dan trek hy sy hemp stadig op en streel oor sy naeltjie met sy hand.  Ek aanvaar hy probeer vir my sê hy is honger, dus vermy ek oogkontak.

Twee manne kom van voor af gestap.  Ook in die middel van die pad.  ‘n Sekuriteitswag by ‘n gebou naby sien hulle en klap die ysterhek voor hom toe;  met hom binne-in die gebou.  Ek verander maar van rigting dat ek en die twee manne nie paaie kruis nie.  Dit lyk altevol of dit hulle pad is hierdie.  Ek vermy maar moeilikheid en oogkontak.

In die parkeer garage is die man in beheer bly om my te sien.  Die motor is nog veilig en hy wonder hoeveel ek gemeen het ‘n billike tarief sou wees.  Hy’s vlug van begrip;  teen daardie tyd het hy al die twintig Rand in my hand waargeneem en wonder hy hardop of ek ook dink R20 is in billik. 

Wanneer ek daar uitry moet ek afry in ‘n eenrigtingstraat.  Die verkeerslig is rooi.  Lank.  Op die oorkantse hoek staan twee dames.  Die een is nogals mooi aangetrek.  Nes die seun hoër op in die straat leun sy ook terug agteroor teen ‘n paal.  Sy teug aan haar sigaret, en blaas mooi gemoduleerde rokies uit.  Sy kyk vir my deur die rook.  Ek maak oogkontak met haar.  Sy trek haar rok bietjie op en maak haar knieë effe oop.  Seker ook moeg gestaan.  Ek verstaan daai, ek staan al heel aand en is ook al moeg gestaan.

Dis ‘n ander wêreld dié.  Binne die bestek van enkele meters het ek by mense verbygestap wie waarskynlik amazing (alhoewel dalk nie noodwendig aangename) stories het om te vertel.

PGJ

 

Klein Karoo Magic

Mei 2, 2011 in Sonder kategorie

Die wonderwêreld van die Klein Karoo.

Alle paaie lei nie na Rome nie.

Gaan ons hiér afry, pappa?

Gekleurde rotse.

Mooi rotsformasies

Rotslae.

Watergat!

Ons soek ‘n lekker springplek.

Nee, nie jy nie, oupa.  Kom staan liewerster hier by my.

Terug huis toe.

Pampoene

Mei 1, 2011 in Sonder kategorie

‘n Paar pampoene bymekaar.

En boonop nog ‘n klomp boerpampoene in die agtergrond….