Poupi Kakas

April 29, 2011 in Sonder kategorie

Poupi Kakas is die naam van die busdrywer in die fliek “My Life in Ruins”.

 

Ek was nogals geamuseerd oor die naam. In Afrikaans verg dit geen verduideliking hoekom die naam potensiaal het om snaaks te wees nie. Wat my geinteresseer het is die feit dat in die fliek almal op die bus ook geamuseerd was deur die naam. Ek het nie geweet dit is universeel gebruikte woorde nie – gedog dis maar Afrikaans.

 

Maar so kom Willie gisteraand daar by my aan. Ontsteld. Laasnag het hulle bakkie se alarm afgegaan. Daar is een of ander elektriese probleem met die bakkie. Nou is hy in die donker en reën uit buitentoe om die battery te gaan ontkoppel om die alarm af te kry. Dit sukkel, dis koud, dis nat, hy’s kaalvoet. Hulle het ook ‘n paar honde op die werf.

So voel hy later sy tone ingly in ietsie glibberigs en sags. Instinktief weet hy (voel hy?) dat dit is waar Boelie die bulhond laas sy ding gedoen het. Maar eers moet Willie die lawaaierige alarm af kry. Die spanner is weg, so hy kan nie die battery ontkoppel nie. Nou probeer hy die knippie losmaak wat die alarm se sirene moet stilmaak, maar dié kry hy nie in die donker los nie.

 

Na baie moeite is die battery darem ontkoppel en die alarm stil.

 

Die volgende taak is om die glibberigheid tussen sy tone uit te kry voordat hy teruggaan in die huis in. In die donkerte kry hy die kraan en die tuinslang. Maar die tuinslang laat niks water deur voordat jy nie ‘n koppelstuk vooraan sit nie. In die donkerte weet Willie nie waar om die koppelstuk te kry nie. Nou maak hy maar die pyp los, maar dit verg bietjie van ‘n akrobatiese toertjie om sy voet nou onder die kraan in te kry. Die pogings is slegs semi-suksesvol, en Willie wend hom tot die gras om nou maar liewer met vee en skuur die nodige te doen.

 

Uiteindelik is sy voet voldoende gedekontamineer dat hy weer in die bed kan gaan klim. Tuinslang opgerol, kraan toegedraai, bakkie gesluit, terug huis toe.

 

Net voor Willie by die buitehekke kom om na die voortuin toe te beweeg voel hy weer ‘n vars glibberigheid tussen sy tone. Boelie die bulhond het duidelik ‘n ywerige aand gehad.

 

Nou wat sou my tog nou aan Poupie Kakas laat dink het…..

3 antwoorde op Poupi Kakas

  1. TS het gesê op April 29, 2011

    eeeeuuuuuuwwwww… dis tyd vir ‘n skudflitsie!

  2. pgjonker het gesê op April 29, 2011

    Dalk ‘n poop scoop ook.

  3. jjjonker het gesê op April 29, 2011

    Ek glo nie dis so ‘n groot probleem by Oscar Pistorius se huis nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.