Jagstorie – close call

April 2, 2011 in Sonder kategorie

 

Jare gelede het ek saam met ‘n pel van my op ‘n plasie van hom buite Robertson gery. Hy’t nie geboer daar nie, maar die plaas in ‘n privaat natuur reservaat omskep. Nou ry ons my sy ploiing Dyna trokkie op die plaas. Die volgende sien ons ‘n bokkie staan. Doodstil. Seker twintig treë van ons af. Pierre-Jean hou stil en skakel die trok se raserige enjin af. Nou is dit doodstil. Dis net ons en Bambi wat ons op ‘n afstand nuuskierig dophou.

 

“Ons moet seker die bok skiet?” wonder Pierre.

 

“Hoekom?” vra ek.

 

“Wel, hy is dan nou hier,” verduidelik Pierre.

 

“O, jy meen so,” verstaan ek.

 

Nou haal hy tydsaam sy .22 agter die trok se sitplek uit.

 

“Sal ek hom skiet?” soek hy goedkeuring by my.

 

“Dis jou bok, skiet hom,” ek wil ook nou nie onnodige bloed op my hande hê nie. Dan maak Pierre sy deur oop wat ‘n onaardse ge-squeek afgee. Hy druk die deur nog ‘n entjie verder oop nadat dit al lankal groot genoeg oop is vir hom om uit te beweeg.

 

Bambi is min gepla.

 

Pierre sit tydsaam ‘n paar rondtes in die magasyn.

 

“Dink jy ek moet hom skiet?” vra hy weer nadat hy die magasyn in die geweer gesit het. Ek antwoord hom nie.

Nou neem Pierre dooierus op die trokkie se deur. Bambi het nie ‘n kans nie. Dan kry Pierre ‘n beter plan.

 

“Ek sê jou wat, hier, skiet jy die bok,” stel hy grootmoedig voor en staan weg van die kolf af dat ek die geweer moet oorneem.

 

“Nee, dis jou bok, skiet self jou bok.”

 

“Hoekom wil jy nie die bok skiet nie?” verneem Pierre geskok-verbaas.

 

“Ek wil nie die bok skiet nie, dit was jou idee,” verweer ek myself.

 

Nou staan Pierre weer in vertwyfeling. Bambi wei nog rustig, selfs ‘n paar treë nader nou.

 

Pierre neem weer dooierus op die oop deur. Bambi kyk hom vraend aan. Dan wikkel Pierre die trokkie se deur so ‘n bietjie heen-en-weer. Dit squeek kliphard. Bambi kyk gesteurd op en stap dan weg. Ons staar hom agterna.

 

Pierre kyk die bokkie agterna.  Dan maak hy die geweer veilig.

 

“Sjoe, dit was amper,” reken hy.

 

6 antwoorde op Jagstorie – close call

  1. TS het gesê op April 2, 2011

    Sug… dankie tog

  2. loudavisi het gesê op April 2, 2011

    Net vir ‘n oomblik het ek gedog..

  3. jeanihess het gesê op April 2, 2011

    :))

  4. dis mos hoe gejag moet word

  5. pgjonker het gesê op April 2, 2011

    Ek ook.

  6. HeavyHenry het gesê op April 3, 2011

    Nice!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.