Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Deliveries

April 29, 2011 in Sonder kategorie

Baksteen deliveries?  Ja, ons doen huis deliveries ook.  U moet net sê waar ons moet aflaai.

O, u bedoel u wou dit nie daar gehad het nie?  Ons kan die bakstene net vir u mooi in hopies pak?

Skade, hoe bedoel u nou skade?  O, ek sien wat u bedoel.

So meneer wil nie meer die bakstene hê nie?

O, die bakstene was vir die huis hoër op in die straat bedoel?  Nee, ek verstaan, ons sal dit dan liewerster daar gaan aflewer as u dan nou so wil wees.

Poupi Kakas

April 29, 2011 in Sonder kategorie

Poupi Kakas is die naam van die busdrywer in die fliek “My Life in Ruins”.

 

Ek was nogals geamuseerd oor die naam. In Afrikaans verg dit geen verduideliking hoekom die naam potensiaal het om snaaks te wees nie. Wat my geinteresseer het is die feit dat in die fliek almal op die bus ook geamuseerd was deur die naam. Ek het nie geweet dit is universeel gebruikte woorde nie – gedog dis maar Afrikaans.

 

Maar so kom Willie gisteraand daar by my aan. Ontsteld. Laasnag het hulle bakkie se alarm afgegaan. Daar is een of ander elektriese probleem met die bakkie. Nou is hy in die donker en reën uit buitentoe om die battery te gaan ontkoppel om die alarm af te kry. Dit sukkel, dis koud, dis nat, hy’s kaalvoet. Hulle het ook ‘n paar honde op die werf.

So voel hy later sy tone ingly in ietsie glibberigs en sags. Instinktief weet hy (voel hy?) dat dit is waar Boelie die bulhond laas sy ding gedoen het. Maar eers moet Willie die lawaaierige alarm af kry. Die spanner is weg, so hy kan nie die battery ontkoppel nie. Nou probeer hy die knippie losmaak wat die alarm se sirene moet stilmaak, maar dié kry hy nie in die donker los nie.

 

Na baie moeite is die battery darem ontkoppel en die alarm stil.

 

Die volgende taak is om die glibberigheid tussen sy tone uit te kry voordat hy teruggaan in die huis in. In die donkerte kry hy die kraan en die tuinslang. Maar die tuinslang laat niks water deur voordat jy nie ‘n koppelstuk vooraan sit nie. In die donkerte weet Willie nie waar om die koppelstuk te kry nie. Nou maak hy maar die pyp los, maar dit verg bietjie van ‘n akrobatiese toertjie om sy voet nou onder die kraan in te kry. Die pogings is slegs semi-suksesvol, en Willie wend hom tot die gras om nou maar liewer met vee en skuur die nodige te doen.

 

Uiteindelik is sy voet voldoende gedekontamineer dat hy weer in die bed kan gaan klim. Tuinslang opgerol, kraan toegedraai, bakkie gesluit, terug huis toe.

 

Net voor Willie by die buitehekke kom om na die voortuin toe te beweeg voel hy weer ‘n vars glibberigheid tussen sy tone. Boelie die bulhond het duidelik ‘n ywerige aand gehad.

 

Nou wat sou my tog nou aan Poupie Kakas laat dink het…..

Paasnaweek op Gouritsmond – die dorp – deel 2

April 28, 2011 in Sonder kategorie

Paassondag trek ‘n vol kerk.

Gouritsmond is ‘n rustige plek.  Die tipe plek waarheen mens vir ‘n laaste keer kan trek.  OK, behalwe miskien vir nog een keertjie se trek.

Dis maar koud, so die strand is nie te vol mense nie.

Niks skrik natuurlik die vissermanne af nie.

Daar is orals mooi aanwysings, ook vir diegene wat nie kan lees nie.

Die Gouritsriviermond self lyk lekker wild.

Teen die einde van die naweek is nog net ‘n paar bittereinders oor in die karavaanpark.  Ek moet sê, ek sou self nie graag hierdie koue in die karavaanpark wou trotseer nie.

En dan breek die einde van ‘n naweek aan, en dis weer tyd vir petrol tap en huistoe gaan.

Paasnaweek op Gouritsmond – die dorp – deel 1

April 28, 2011 in Sonder kategorie

Saterdag  

Saterdagoggend is koud. Ek en my vrou gaan stap.

“Stil,hé?” reken ek onnodig. Voordat my vrou kon antwoord word die stilte oorverdowend onderbreek.

“Goeiemore almal! Almal word hartlik uitgenooi na ons basaar vanoggend…..” kondig die PA system op die motor se dak aan wat by ons verby ry. Daar is waarskynlik baie min kerke wat op die Saterdag van Paasnaweek susesvol ’n basaar kan aanbied!

Op die voorgrond is die grafsteen van die hond Gourits.

Die winkels op Gourits (daar is twee) bly, buiten nou vir die karavaanpark, die kern van meeste bedrywighede.

 

 

Daar is interessante name op huise.

 

Sommige titels spreek van die tipe wysheid wat slegs deur ervaring opgedoen word.

 

 

Deel 2 volg

Paasnaweek op Gouritsmond – die reis

April 28, 2011 in Sonder kategorie

Paasnaweek, 22 Mei 2011

Vertrek

 

Dit voel stresloos om Gouritsmond toe te vertrek sonder om die karavaan te moet sleep. Daar is geen rede om vroeg te ry en haastig te maak nie – behalwe vir die rede dat dit lekker is om daar te wees nie.

 

Die tieners vertrek voor ons. ‘n Konvooi van 3 motors vol tieners wie mekaar almal van Gourits of elders ken ontmoet mekaar by die Wynland Engen. Hulle ry op hulle eie vooruit.

 

Ons volg so ‘n halfuur later. Deure gesluit, vensters toe, alarm aan en daar gaan ons. Ons roete is effens anders. Ons moet ons tweedehandse bulhond by Montagu op ‘n plaas gaan aflaai waar sy een enorme Boerboel en ‘n (heelwat kleiner) Jack Russel gaan geselskap hou.

 

Die bulhond is te bly sy gaan saam. Sy is ongelukkig nie onnodig bedeeld met verstand nie. Sy is so opgewonde, sy gaan sit onder die bakkie en hyg en waai haar stert. Wel, eintlik het sy meer soos ‘n kopborsstuk wat strek tot net voor die stert, so die hele agterlyf swaai eintlik heen en weer. Dit kos twee van ons om haar te uitoorlê en te vang dat ons haar in haar kom agterin die bakkie kan sit. Dit verstom my dat een hond so onnosel kan wees. Mens sou dink soveel onnoselgeit behoort tussen ‘n paar honde versprei te gewees het.

 

Nou ja, net na sewe-uur die oggend ons is op pad. Die mobiele tieners is vooruit. Ons tap petrol by die Wynland Engen so 10km’s van ons af. Dis vrolik. Een konvooi met karavane. Nog ‘n konvooi met motorfietse. En dan oor die algemeen die res van die Kaap wat gou vir oulaas kom petrol ingooi voordat hulle die lang pad vat.

Dis ons eerste koue dae.

In Robertson is daar ‘n bordjie soos jy inkom by die dorp wat sê “Dros Welcomes all bikers.” Mmm….

 

Soos jy uitry aan die ander kant van Robertson is daar ‘n bordjie wat sê jy mag nie daar staan en duimgooi nie. Onder die bordjie staan ‘n man en duimgooi. Dis Suid-Afrika hierdie.

By Ashton waai ‘n woeste wind.

Buite Montagu se Seven-Eleven loop ‘n dame in die snerpende koue en lek aan haar opdraai roomys.

Op die plaas is die Boerboel en die Jack Russel bly om ons bulhond te sien. Veral die Jack Russel. As hy ‘n mens was sou hy lankal toegesluit gewees het as ‘n reeksverkragter.

  

Nuwe paaie

 

Na ‘n lekker ontbyt op die plaas op Montagu vat ons die pad. My swaer beduie my ‘n pad wat ek voorheen nie eens geweet het bestaan nie.

 

 

 

Ons ry deur Barrydale, en 16km anderkant Barrydale draai ‘n grond pad af na die Brandrivier.

 

 

Daar draai ons regs en ry op ‘n heerlike grondpad, so goed soos enige teerpad.

 

Mens voel sommer onmiddellik veilig hier.

 

 

 

Dit ten spyte daarvan dat die grootste gedeelt van die pad net die helfte van die rybaan beskikbaar het, aangesien die ander helfte in aanbou is. Op hierdie pad kry ons twee voertuie van voor in 35km.

 

 

By die teerpad draai ons regs. Dit is die pad van Calitzdorp na Riversdale.   So 3 km’s later kry ons die Garcia pas.

 

 

Kort na die pas ry ons by die Oakdale Landbouskool verby, en kom ons in Riversdale. In Riversdale verdwaal ek op soek na die N2. (Ja, regtig).

 

Hierdie roete laat my met slegs 33km wat ek op die N2 hoef te ry. Die verkeer vloei goed. Ons handhaaf 100km/h en vinniger, maar in ‘n string karre so ver as wat jy kan sien. As dit nie was dat die manne met die karavane hoflik oorbeweeg in die geel baan nie, kon dit nogals heel anders verloop het.

 

Teen 13h10 is ons in Gouritsmond.

 

 

Ek die amazing ding is, ek hoef nie nou vir 5 ure lank tente op te slaan en penne in te slaan nie! En die kombuis is dadelik gereed.  Maar dit voel amper soos cheat om by die karavaanpark verby te ry.

 

Dis ‘n behaaglike gevoel.  

Deel 2 volg

Reunie

April 17, 2011 in Sonder kategorie

Die lekkerste deel van ‘n vakansie is om agterna jou foto’s te kyk en die vakansie te herleef.  Die tweede-lekkerste deel is die vooraf beplanning.  En dan tussen-in, natuurlik, is die vakansie.  Maar die punt is dat beplanning redelik sentraal staan tot die oefening. 

Hierdie naweek het die ‘classes of 1977 – 1981’ van die Vredenburg Hoërskool reunie gehou (terloops, waar kry ek die deelteken op die ‘u’?)

Van ons vriende het so ver as Johannesburg gekom om die geleentheid die Saterdagaand by te woon.  So ry Naas en sy vrou deur na die gastehuis op Saldanha waar hy ingeboek is.  Daar gekom kry hy sy GPS en die e-pos met die padaanwysings uit om die adres van die geleentheid na te gaan.  Die vorige reunies was altyd op Saldanha, of naby Langebaan, so dit kan nie te moeilik wees om te kry nie. 

Mmm….. die aanwysings na die lokaal wys die okkasie vind plaas in Milnerton.  Naas sou daar verbygery het op pad Saldanha toe.  Die lastigheid is net, Milnerton is nou weer 140km’s terug in die rigting van waar hy gekom het.  Die gevolg is toe nou dat Naas nie onnodig vroeg by die geleentheid opdaag nie.  Daar was darem nog ‘n paar mense gewees toe hy uiteindelik daar opdaag.  Maar ons is bly hy was daar.  Vreemd, Naas het nie gedink dis so snaaks soos wat ons gedink het dit is nie.

Die ander lastigheid is net dat, toe die partytjie hier by middernag se kant heeltemal ten einde loop, toe moet hy weer die 140km terug ry Saldanha toe om by die gastehuis uit te kom wat hy bespreek het.

Mmm…. 

Meneer, dit is mos meneer?

April 4, 2011 in Sonder kategorie

In die Vissery museum op Velddrif staan die meegaande navorsingskaart opgestel deur Jaco Louw, met inligting en foto’s van die vistreiler Hoëveld II se ekspedisie na die Kaapse Suidkus.

 

 

Die ekspedisie is in November 1976 onderneem in opdrag van die Departement van Seevisserye, en die doel daarvan was om ondersoek in te stel na pelagiese visbronne tussen Mosselbaai en Port Elizabeth. Bro’ Johnie het die ekspedisie meegemaak en elders al geskryf daaroor.

 

Regs onder op die navorsingskaar is ‘n uittreksel uit die skipper, Enrico Smith, se dagboekinskrywings. Die volgende inskrywing val op:

 

“Sondag, 22 November: Sit mnr van Antwerpen (Ousus) op die vliegtuig.”

 

Ousus?

 

In 1976 was lang hare nie eintlik ‘n ding vir mans op die Weskus nie. Dalk was dit elders anders, maar op die Weskus is redelik gefrons vir manne met lang hare. Mnr van Antwerpen was toe ‘n jong man werksaam by Suid-Oranje Visserye op St Helenabaai. Hy het hom ooglopend nie veel gesteur aan plaaslike voorkeure nie, en het gespog met ‘n welige bos hare.

 

Dit was dan ook nie lank nie, of hy die manne by die fabriek het hom die bynaam “Ousus” gegee.   Ousus was saam op die ekspedisie, maar het vroeër teruggevlieg Kaap toe, vandaar die dagboekinskrywing.

 

Ons kinders is natuurlik van kleins af geleer om grootmense met respek te behandel. So vir ons was hy “oom Ousus.”

 

PGJ

Kamieskroon

April 2, 2011 in Sonder kategorie

Ek het onlangs op Kamieskroon oornag.  Donkeraand daar aangekom, en die volgende oggend net petrol getap voordat ons Wes-waarts deur die Namakwa Nasionale Park gery het.

Dit was die aand voor die super volmaan gewees.

Toe ons half-tien die aand daar aankom, toe hardloop die voertuig se aircon steeds.  Ons groep van negentien mense het gemaklik in die gastehuis gepas sonder dat al die kamers gebruik is.  Die volgende dag was dit ‘n snoesige 49 grade.  Daarom dat hierdie prentjie relevant is.  Aircon in elke kamer!

 

Die Gousblom gastehuis het ‘n redelike versameling blikke.

Met die likeurglasies netjies in ‘n ry daaronder.

Toerisme blyk ‘n belangrike deel van die dorp se bestaan uit te maak.

 

 Die volgende oggend moes ons eers petrol tap.

Die Kamieskroon kafee sit net langsaan.

En die kerk net om die hoek.

Ons is met die grondpad by die dorp uit, verby die Kamieskroon hotel.

Ek het nogals gewonder oor hierdie koppie.  Dit kan nie dalk die Kroon van Kamieskroon wees nie?

PGJ

Jagstorie – close call

April 2, 2011 in Sonder kategorie

 

Jare gelede het ek saam met ‘n pel van my op ‘n plasie van hom buite Robertson gery. Hy’t nie geboer daar nie, maar die plaas in ‘n privaat natuur reservaat omskep. Nou ry ons my sy ploiing Dyna trokkie op die plaas. Die volgende sien ons ‘n bokkie staan. Doodstil. Seker twintig treë van ons af. Pierre-Jean hou stil en skakel die trok se raserige enjin af. Nou is dit doodstil. Dis net ons en Bambi wat ons op ‘n afstand nuuskierig dophou.

 

“Ons moet seker die bok skiet?” wonder Pierre.

 

“Hoekom?” vra ek.

 

“Wel, hy is dan nou hier,” verduidelik Pierre.

 

“O, jy meen so,” verstaan ek.

 

Nou haal hy tydsaam sy .22 agter die trok se sitplek uit.

 

“Sal ek hom skiet?” soek hy goedkeuring by my.

 

“Dis jou bok, skiet hom,” ek wil ook nou nie onnodige bloed op my hande hê nie. Dan maak Pierre sy deur oop wat ‘n onaardse ge-squeek afgee. Hy druk die deur nog ‘n entjie verder oop nadat dit al lankal groot genoeg oop is vir hom om uit te beweeg.

 

Bambi is min gepla.

 

Pierre sit tydsaam ‘n paar rondtes in die magasyn.

 

“Dink jy ek moet hom skiet?” vra hy weer nadat hy die magasyn in die geweer gesit het. Ek antwoord hom nie.

Nou neem Pierre dooierus op die trokkie se deur. Bambi het nie ‘n kans nie. Dan kry Pierre ‘n beter plan.

 

“Ek sê jou wat, hier, skiet jy die bok,” stel hy grootmoedig voor en staan weg van die kolf af dat ek die geweer moet oorneem.

 

“Nee, dis jou bok, skiet self jou bok.”

 

“Hoekom wil jy nie die bok skiet nie?” verneem Pierre geskok-verbaas.

 

“Ek wil nie die bok skiet nie, dit was jou idee,” verweer ek myself.

 

Nou staan Pierre weer in vertwyfeling. Bambi wei nog rustig, selfs ‘n paar treë nader nou.

 

Pierre neem weer dooierus op die oop deur. Bambi kyk hom vraend aan. Dan wikkel Pierre die trokkie se deur so ‘n bietjie heen-en-weer. Dit squeek kliphard. Bambi kyk gesteurd op en stap dan weg. Ons staar hom agterna.

 

Pierre kyk die bokkie agterna.  Dan maak hy die geweer veilig.

 

“Sjoe, dit was amper,” reken hy.