Van Wastrogte en al daai

Maart 26, 2011 in Sonder kategorie

 

 

 

 

Johnie is ‘n verwer. Hy het met die bus van Montagu af gekom. Johnie se neef se vrou se jonger suster het voorheen by ons gewerk. Toe het Johnie se neef se vrou se nóg jonger sussie by ons gewerk. En toe nou Johnie ook, tydelik, tot hy die huis klaar geverf het.

 

Johnie verf baie goed. Beter as wat hy praat, byvoorbeeld. Ek het eers gedog Johnie is doofstom, maar hy’t soms “ja” gesê as ek hom iets vra.

 

Johnie had nie verblyf hier in die Kaap nie, dus bly hy toe tydelik in ‘n Wendy huis op my erf. En om dinge bietjie meer gerieflik te maak vir hom en die verwery het my vrou besluit dat daar ‘n wastrog geinstalleer moet word. Ek verdink haar daarvan dat sy Johnie net vir ‘n verskoning gebruik het vir daai wastrog.

 

So gaan koop ek toe al die onderdele wat nodig is om die wastrog te installeer. Maar wastrogte installeer is nie eintlik my ding nie, verstaan. Ek het nou meer gereken dat ‘n handige man soos Johnie sommer so in die verbygaan die wastrog ook moet installeer, terwyl hy dan nou on site is.

 

Maar so word ek die Saterdagoggend voor Johnie sou arriveer lui-lui wakker. So met die orentkomslag sê my vrou  my vandag monteer ons (ek, bedoel sy) die wasbak. Oeps! Ek loer op die horlosie. Ek was eintlik genooi om te gaan seil daai dag. As ek nou kan verduidelik dat ek het bietjie vergeet om vir haar te sê dat ek eintlik gaan seil, miskien kan dit werk. Maar ek sien dis reeds te laat. Daai boot flankeer al lankal in Tafelbaai hawe rond. Geen uitkomkans nie.

 

Ek het my toe maar mooi omring met al die goeters wat vir my nodig lyk om die wastrog te monteer. My vrou kom kyk later opgewonde of die wasbak al sit, toe sukkel ek nog om die krane uit hul plastiek verpakking te kry.

 

Maar teen laatmiddag toe staan ek terug en bewonder my handewerk.   En nee, die wastrog sit nie skeef nie, dis bloot ‘n optiese illusie. Ek het nie ‘n waterpas nie, en my bouer-buurman was ook nie tuis dat ek by hom een kon leen nie. Toe het ek maar van alle kante af gemeet. Van die grond af, van die dak af, van die vensterbanke af, van oralster af. So kry ek toe mos darem min of meer ‘n gemiddelde horisontale lyn waarop ek die wastrog kon monteer. So die wastrog is definitief gemiddeld horisontaal.

 

Maar in ieder geval is ons huis so skeef gebou plek-plek dat ‘n presies horisontale wasbak in elk geval sal afbreuk doen aan die simmetrie daarvan.

 

PGJ

7 antwoorde op Van Wastrogte en al daai

  1. Maankind2 het gesê op Maart 26, 2011

    Ons deure en vensters werk weer so. As een reguit is, is die ander een skeef.

  2. pgjonker het gesê op Maart 26, 2011

    In ‘n vorige huis het my pa vir my kaste ingebou. Hy’t toe later die waterpas gelos en papier knipsels gemaak om die belyning ooreenkomstig die huis se lyne te kry.

  3. TS het gesê op Maart 26, 2011

    Huis met persoonlikheid

  4. loudavisi het gesê op Maart 26, 2011

    Ons het ons teëls diamant gelê, oorlat die mure so skeef is, nou kom mens dit nie so maklik agter nie..
    Geluk met jou poging. Solank niks lek nie, is alles perfek

  5. Geitjie1 het gesê op Maart 26, 2011

    Solank hy werk, wie gee om vir waterpas!

  6. Renedewaal het gesê op Maart 28, 2011

    Voel nou net so goed soos destyds toe ek gehoor het ander mense het ook hardkoppige dwarstrekkerige astrante kinders, bestaan daar erens ‘n huis met reguit mure?

  7. pgjonker het gesê op Maart 29, 2011

    As mens oor hulle kinders kla het ek altyd gehou daarvan om te sê nee, ons kinders doen niks sulke stout goete nie. Tot my vrou toe later sê ek moet ophou vir my simpel hou.

Los ’n antwoord vir TS. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.