Die kerk en die bar sit langs mekaar

Maart 16, 2011 in Sonder kategorie

Dis verbasend wat mens alles waarneem langs die pad as jy stap, in plaas van ry.

My bakkie se battery dreig nou al lank om my in die steek te laat. Vanoggend neem ek hom gou Battery Centre toe dat hulle ‘n nuwe battery kan insit. Die goeie nuus is toe dat my battery niks makeer nie. Die slegte nuus, egter, is dat my alternator nie laai nie. Dus moet hy oorgedoen of vervang word, verduidelik Shameegh. Ek los toe maar die bakkie daar en stap werk toe.

 

Ek sien plekke wat ek nooit voorheen opgelet het nie. Braai toerusting, motor onderdele, selfs twee Adult Worlds baie naby aan mekaar. Ek aanvaar daar is ‘n groot vraag na volwassenes hier in die Bellville in.

 

Een van hierdie Adult worlds sit reg langs ‘n kerk. Soos in vasgebou aan hom, só langs hom, meen ek nou. Dis ‘n klein kerkie, nou nie jou outydse tradisionele kerk met ‘n groot toring en so aan nie, maar ‘n kerk nietemin. Miskien net sonder die pyp-orrel. Ek het nog altyd gewonder (wonder nog steeds) wat binne-in ‘n Adult World aangaan. Die kerkie het egter meer detail op sy mure geverf as die Adult World oor wat binne aangaan. Die apostel belowe bevryding van alle booshede. Nou wonder ek of hy moontlik skimp daar na sy buurman se kant toe. Ek meen, dit kan beswaarlik ‘n gedeelde franchise wees.

 

Mense kla altyd daar is nooit ‘n polisieman naby as jy een nodig het nie. Vanoggend het ek by rooi verkeersmannetjies gebly staan ten spyte van die feit dat daar nie enige verkeer is nie, bloot vanweë die besonderse hoë teenwoordigheid van die Metro polisie.

 

‘n Span bestaande uit ‘n dame met ‘n groot motorfiets en ‘n koeëlvaste baadjie, en ‘n man in ‘n motor, trek ‘n taxi af. Ek weet nie wat die taxi gedoen het nie, maar die bestuurder ontken dit in elk geval. Dis die dame wat hom konfronteer en hom vreesloos met haar vinger teen sy bors stamp, terwyl haar manlike kollega in sy motor bly sit. Die taxi-bestuurder praat terug en dirigeer sy toespraak met arm- en handgebare. Hy besef natuurlik dat met dié dat die verkeersbeampte steeds haar valhelm op het, haar motorfiets steeds luier en daar boonop ander verkeer is, hy baie hard moet praat dat sy kan hoor. Sy gaurdjie praat ook saam – natuurlik om net seker te maak die verkeersbeampte hoor mooi. Mens wil mos nou nie ‘n misverstand saam met die law hê nie. Ek het ‘n gehoorprobleem en selfs ek hoor hom.   Want ek staan stil by die rooi verkeersmannetjie, ipv om oor te stap. Ek meen, sê nou die girl op die bike arresteer my. Sy het nie ‘n ekstra valhelm nie, en ek sal dan dalk moet saam stap na die polisiestasie toe, en ek is dan nou juis amper laat vir werk.

 

‘n Bussie kom verby: DOWE BEJAARDE SORG, staan op die kant. Dis nou nogals nice van die dowes om die bejaardes te help versorg.

 

Sowaar ‘n leersame oggend. Mens moet meer stap.

 

5 antwoorde op Die kerk en die bar sit langs mekaar

  1. thenack het gesê op Maart 16, 2011

    dit is nogal so, ‘n nuwe perspektief

  2. Was ‘n ruk terug op my grootword dorpie. Dinge het beslis verander. Die ou klein Engelse kerkie is nou ‘n kroeg. My eie kerk waarin ek aangeneem is, is nou van alle dinge ‘n prokureurkantoor!

  3. Trakie het gesê op Maart 16, 2011

    So lewer elke dag iets nuuts op.

  4. pgjonker het gesê op Maart 16, 2011

    Gelukkig darem steeds ‘n eerbare aanwending van die kerkgebou mos….?

  5. Renedewaal het gesê op Maart 17, 2011

    Kostelike beskrywing, dis asof ek die toneel so voor my oë sien afspeel

Los ’n antwoord vir Renedewaal. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.