Verskillende perspektiewe

Maart 14, 2011 in Sonder kategorie

Die alarm in my huis is baie oud. Als werk darem. Die sleutelbord is in die hoofslaapkamer. Dis nou waar ek en my wettige gade slaap.

 

Nou het die kinders intussen begin groot raak. Soms gaan slaap hulle eers 01h00 in die oggend. Soms staan hulle 05h00 al op (I kid you not). Wat beteken dat hulle die alarm moet kom aan- en afsit op tye wat ons alreeds, of nog steeds, lekker in die kooi lê. Dit kan nogals steurend wees, verstaan.

 

So het my vrou voorgestel ons skuif die alarm se sleutelbord na buite ons kamerdeur. Dis ‘n goeie plan vol belofte, maar dis nie so eenvoudig nie. Juis vanweë die oudheid van die sisteem kan die ouens nie nie sommer net dit skuif, of ‘n ander sleutelbord daar insit nie. Nee, die sisteem moet vervang word, meneer.

 

So hou ons maar uit met die stoornis.

 

Enkele dae gelede word daar geskuif aan die kamers. Die kragtoevoer na die alarm loop vanaf ‘n transformator. Met die gewerskaf trek die drade uit die transformator uit. Nou is my alarm sonder krag, alhoewel darem nog op die rugsteun battery. Maar nou weet ek die alarm mense gaan elke kort-kort bel om my te sê ek het ‘n kragonderbreking, so ek beter die probleem regstel.

 

Ek skroef die transformatortjie oop. Ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees. Daar is ‘n connector block met drie gaatjies in, en ek moet net die regte draadjies terugsit. Piece of cake.

 

Die eerste probleem, sien ek, is dat daar 4 draadjies van die alarm se kabel af kom, maar daar is net drie gaatjies in die connector block. By wyse van eliminasie, en gelei deur die kleur van die afgebreekte drade wat nog in die connector block vassit, konnekteer ek weer die drade. Prop in, alles werk. Trots op myself. Ek meen nou maar, ek het ‘n reputasie as ‘n ou wat nie baie handig is nie. Wys jou net.

 

So ‘n halfuur later sien ek die kragliggie op die alarm se sleutelbord is dood. Oeps. Ek gaan maak weer oop daar waar ek aan die transformator gevroetel het. Maak seker alles is reg, prop in. Nee, niks krag nie. Mmm….

Nou moet ek eers iemand kry wat weet. Ek bel my pel wat verstaan van die goed. “Ek hoop nie jy’t die drade verkeerd gekoppel nie,” reken hy.

 

“Nee, man, hoe stupid lyk ek vir jou. Ek het hulle almal mooit teruggesit waar hulle hoort.”

 

Dis eers laataand toe my pel ‘n kansie kry om te kom kyk wat aangaan. Ek verduidelik hom mooi wat ek gedoen het. Hy gaan krap in die alarm se boks, maak die transformator oop, neem dan ‘n papier en teken ‘n prentjie. Die prentjie, verduidelik hy, is hoe die bedrading van die transformator gekoppel moet word. Dan gaan trek hy ‘n klomp deurmekaar lyne op die prentjie.

 

“Dit,” sê hy, “is wat jy gedoen het. Jy het dit hiér ge-short, en jy het dit dáár ge-short.”

 

“O,” reken ek.

 

“En sien jy hierdie dingetjie,” beduie hy vir my na ‘n komponent wat langs die alarm se elekroniese bord lê, “hierdie dingetjie hoort dáár op die elektroniese bord.”

 

“En wat maak hy dan daar langsaan?” verneem ek hoflik.

 

“Met die dat jy die transformator ge-short het, het jy die transformator uitgebrand. Toe kom hier ‘n stroom deurgehardloop wat te kwaai was vir daai komponentjie om te hanteer, toe onplof hy – dis hoekom hy nie meer aan die kragbord vas is nie.”

 

“O, jy meen so.”

 

Eisj.

 

Vandag kom die alarm man hier aan. Ek verduidelik vir hom dat daar vermoedelik ‘n kortsluiting moes ontstaan het in die transformator.   Die transformator is baie oud, verstaan, sulke dinge gebeur maar. Ja nee, hy sien die transformator is baie oud.

 

Ek gaan wys hom waar die alarm geinstalleer is. Ek sê hom van die stukkende komponentjie, miskien kan hy net ‘n nuwe enetjie daar vas soldeer?

 

“Meneer sien, daai komponente daar wat so blou is, hulle was eers ‘n ander kleur, maar dit lyk of daar bietjie fout gegaan het – hulle het gebrand. Dis hoekom hulle so blou is.”

 

“O. So jy bedoel jy gaan nie net ‘n ander komponentjie vir my daar vas soldeer nie.”

 

“Uhm….. nee, sien, meneer, die sisteem is nogals bietjie oud, en mens weet nie wat nog alles seergekry het nie…..”

 

Sug.

 

Vier ure later het die man met groot geduld die nuwe boks geinstalleer. Die upside van die storie is dat die nuwe boks nie op die ou paneelbord pas nie. Dus is ‘n nuwe paneelbord nou ook geinstalleer. Buite ons kamer.  

 

Ek voel ergerlik vir die onnodige uitgawe wat ek opgedoen het. Van my eie stupidgeit. Ek kon ‘n hele vakansietjie gaan hou het met daai geld.

 

My vrou, daarenteen, glimlag skalks elke keer as sy by die paneelbord in die gang verbystap.

 

4 antwoorde op Verskillende perspektiewe

  1. gobetween het gesê op Maart 14, 2011

    Hierdie dinge gebeur maar partykeer – vir ‘n rede. Vergeet dit nou en geniet die stil slaapkamer.

  2. Vetjan het gesê op Maart 14, 2011

    Jy en vroulief kan seker darem nou ‘n beter nagrus inkry.

  3. Mooi so PG – ek wonder net of Marga nie so n bietjie aspris die drade uit die transformertjie gaan uittrek het nie…..
    Sy het seker net te veel kere self “geshort” oor jul nagrus so versteur word….

  4. pgjonker het gesê op Maart 15, 2011

    Now there’s a thought. Mmmm….

Los ’n antwoord vir MarieAtterbury. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.