Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Veldherstelwerk

Maart 28, 2011 in Sonder kategorie

‘n Paar jaar gelede was ons deel van ‘n groep van drie gesinne wat op ‘n toertjie Richtersveld toe is. 

Dit was my eerste 4×4 toer.  Ek het selfs ‘n swaardiens grootte hoogligdomkrag wat iemand op ‘n dag daar by my gelos het gehad.  Teen die tyd was alles egter ingepak is en ons moet besluit wie van ons gaan die domkrag saamneem, het ons besluit dat

(a) nie een van ons het meer plek vir die domkrag nie, en

(b) ons gaan liewer uit die moeilikheid uit probeer bly. 

Dus bly die swaardiens hoogligdomkrag tuis.  Miskien gee dit nou ook ‘n aanduiding hoe ernstig ons van plan was om rof te viertrek.  Dit was gebiedend dat my vriend Frikkie op hierdie toer moes saamgaan.  Die ou wat die op jou voete-dink ding moes doen. 

Kort voor ons vertrek, egter,  het my splinternuwe tweedehandse bakkie ‘n klep gebrand wat ek laat regmaak het.  Op presies 1000km’s, is ek gesê, moet die enjin ge-retorque word.  En teen die tyd wat ek die 1000km merk sou bereik sou ek net mooi by Port Nolloth wees, en ver van die werktuigkundige af wie die werk gedoen het.  Maar Frikkie is daai ou.  Ons huur dus ‘n huis met ‘n motorhuis by McDougal’s baai buite Port Nolloth sodat Frikkie die nodige kan doen die oggend voor ons vertrek vir Richtersveld. 

Ek kyk die oggend in verwondering hoe Frikkie dit doen.  Dis amper soos daai storie van “In die woud is daar ‘n huisie, in die huisie is ‘n kamer, in die kamer is ‘n kas….” en so aan, totdat jy uiteindelik by die deel van die enjin kom waar die werk gedoen moet word.  Nou en dan gee ek vir Frikkie ‘n moersleutel of iets aan wat ek darem met die derde probeerslag (dalk) korrek identifiseer.  Nadat ons tuis gekom het, het ek besef dat die die syfers in voet-ponde vir Frikkie gegee het, in plaas van in Newton meter, met die gevolg dat die re-torque teen die verkeerde spanning geskied het (te lae wringkrag) en moes die werk oorgedoen word by die werktuigkundige wie aan die enjin gewerk het.

Vir die res van die storie, lees hier verder.

Van Wastrogte en al daai

Maart 26, 2011 in Sonder kategorie

 

 

 

 

Johnie is ‘n verwer. Hy het met die bus van Montagu af gekom. Johnie se neef se vrou se jonger suster het voorheen by ons gewerk. Toe het Johnie se neef se vrou se nóg jonger sussie by ons gewerk. En toe nou Johnie ook, tydelik, tot hy die huis klaar geverf het.

 

Johnie verf baie goed. Beter as wat hy praat, byvoorbeeld. Ek het eers gedog Johnie is doofstom, maar hy’t soms “ja” gesê as ek hom iets vra.

 

Johnie had nie verblyf hier in die Kaap nie, dus bly hy toe tydelik in ‘n Wendy huis op my erf. En om dinge bietjie meer gerieflik te maak vir hom en die verwery het my vrou besluit dat daar ‘n wastrog geinstalleer moet word. Ek verdink haar daarvan dat sy Johnie net vir ‘n verskoning gebruik het vir daai wastrog.

 

So gaan koop ek toe al die onderdele wat nodig is om die wastrog te installeer. Maar wastrogte installeer is nie eintlik my ding nie, verstaan. Ek het nou meer gereken dat ‘n handige man soos Johnie sommer so in die verbygaan die wastrog ook moet installeer, terwyl hy dan nou on site is.

 

Maar so word ek die Saterdagoggend voor Johnie sou arriveer lui-lui wakker. So met die orentkomslag sê my vrou  my vandag monteer ons (ek, bedoel sy) die wasbak. Oeps! Ek loer op die horlosie. Ek was eintlik genooi om te gaan seil daai dag. As ek nou kan verduidelik dat ek het bietjie vergeet om vir haar te sê dat ek eintlik gaan seil, miskien kan dit werk. Maar ek sien dis reeds te laat. Daai boot flankeer al lankal in Tafelbaai hawe rond. Geen uitkomkans nie.

 

Ek het my toe maar mooi omring met al die goeters wat vir my nodig lyk om die wastrog te monteer. My vrou kom kyk later opgewonde of die wasbak al sit, toe sukkel ek nog om die krane uit hul plastiek verpakking te kry.

 

Maar teen laatmiddag toe staan ek terug en bewonder my handewerk.   En nee, die wastrog sit nie skeef nie, dis bloot ‘n optiese illusie. Ek het nie ‘n waterpas nie, en my bouer-buurman was ook nie tuis dat ek by hom een kon leen nie. Toe het ek maar van alle kante af gemeet. Van die grond af, van die dak af, van die vensterbanke af, van oralster af. So kry ek toe mos darem min of meer ‘n gemiddelde horisontale lyn waarop ek die wastrog kon monteer. So die wastrog is definitief gemiddeld horisontaal.

 

Maar in ieder geval is ons huis so skeef gebou plek-plek dat ‘n presies horisontale wasbak in elk geval sal afbreuk doen aan die simmetrie daarvan.

 

PGJ

Die kerk en die bar sit langs mekaar

Maart 16, 2011 in Sonder kategorie

Dis verbasend wat mens alles waarneem langs die pad as jy stap, in plaas van ry.

My bakkie se battery dreig nou al lank om my in die steek te laat. Vanoggend neem ek hom gou Battery Centre toe dat hulle ‘n nuwe battery kan insit. Die goeie nuus is toe dat my battery niks makeer nie. Die slegte nuus, egter, is dat my alternator nie laai nie. Dus moet hy oorgedoen of vervang word, verduidelik Shameegh. Ek los toe maar die bakkie daar en stap werk toe.

 

Ek sien plekke wat ek nooit voorheen opgelet het nie. Braai toerusting, motor onderdele, selfs twee Adult Worlds baie naby aan mekaar. Ek aanvaar daar is ‘n groot vraag na volwassenes hier in die Bellville in.

 

Een van hierdie Adult worlds sit reg langs ‘n kerk. Soos in vasgebou aan hom, só langs hom, meen ek nou. Dis ‘n klein kerkie, nou nie jou outydse tradisionele kerk met ‘n groot toring en so aan nie, maar ‘n kerk nietemin. Miskien net sonder die pyp-orrel. Ek het nog altyd gewonder (wonder nog steeds) wat binne-in ‘n Adult World aangaan. Die kerkie het egter meer detail op sy mure geverf as die Adult World oor wat binne aangaan. Die apostel belowe bevryding van alle booshede. Nou wonder ek of hy moontlik skimp daar na sy buurman se kant toe. Ek meen, dit kan beswaarlik ‘n gedeelde franchise wees.

 

Mense kla altyd daar is nooit ‘n polisieman naby as jy een nodig het nie. Vanoggend het ek by rooi verkeersmannetjies gebly staan ten spyte van die feit dat daar nie enige verkeer is nie, bloot vanweë die besonderse hoë teenwoordigheid van die Metro polisie.

 

‘n Span bestaande uit ‘n dame met ‘n groot motorfiets en ‘n koeëlvaste baadjie, en ‘n man in ‘n motor, trek ‘n taxi af. Ek weet nie wat die taxi gedoen het nie, maar die bestuurder ontken dit in elk geval. Dis die dame wat hom konfronteer en hom vreesloos met haar vinger teen sy bors stamp, terwyl haar manlike kollega in sy motor bly sit. Die taxi-bestuurder praat terug en dirigeer sy toespraak met arm- en handgebare. Hy besef natuurlik dat met dié dat die verkeersbeampte steeds haar valhelm op het, haar motorfiets steeds luier en daar boonop ander verkeer is, hy baie hard moet praat dat sy kan hoor. Sy gaurdjie praat ook saam – natuurlik om net seker te maak die verkeersbeampte hoor mooi. Mens wil mos nou nie ‘n misverstand saam met die law hê nie. Ek het ‘n gehoorprobleem en selfs ek hoor hom.   Want ek staan stil by die rooi verkeersmannetjie, ipv om oor te stap. Ek meen, sê nou die girl op die bike arresteer my. Sy het nie ‘n ekstra valhelm nie, en ek sal dan dalk moet saam stap na die polisiestasie toe, en ek is dan nou juis amper laat vir werk.

 

‘n Bussie kom verby: DOWE BEJAARDE SORG, staan op die kant. Dis nou nogals nice van die dowes om die bejaardes te help versorg.

 

Sowaar ‘n leersame oggend. Mens moet meer stap.

 

Verskillende perspektiewe

Maart 14, 2011 in Sonder kategorie

Die alarm in my huis is baie oud. Als werk darem. Die sleutelbord is in die hoofslaapkamer. Dis nou waar ek en my wettige gade slaap.

 

Nou het die kinders intussen begin groot raak. Soms gaan slaap hulle eers 01h00 in die oggend. Soms staan hulle 05h00 al op (I kid you not). Wat beteken dat hulle die alarm moet kom aan- en afsit op tye wat ons alreeds, of nog steeds, lekker in die kooi lê. Dit kan nogals steurend wees, verstaan.

 

So het my vrou voorgestel ons skuif die alarm se sleutelbord na buite ons kamerdeur. Dis ‘n goeie plan vol belofte, maar dis nie so eenvoudig nie. Juis vanweë die oudheid van die sisteem kan die ouens nie nie sommer net dit skuif, of ‘n ander sleutelbord daar insit nie. Nee, die sisteem moet vervang word, meneer.

 

So hou ons maar uit met die stoornis.

 

Enkele dae gelede word daar geskuif aan die kamers. Die kragtoevoer na die alarm loop vanaf ‘n transformator. Met die gewerskaf trek die drade uit die transformator uit. Nou is my alarm sonder krag, alhoewel darem nog op die rugsteun battery. Maar nou weet ek die alarm mense gaan elke kort-kort bel om my te sê ek het ‘n kragonderbreking, so ek beter die probleem regstel.

 

Ek skroef die transformatortjie oop. Ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees. Daar is ‘n connector block met drie gaatjies in, en ek moet net die regte draadjies terugsit. Piece of cake.

 

Die eerste probleem, sien ek, is dat daar 4 draadjies van die alarm se kabel af kom, maar daar is net drie gaatjies in die connector block. By wyse van eliminasie, en gelei deur die kleur van die afgebreekte drade wat nog in die connector block vassit, konnekteer ek weer die drade. Prop in, alles werk. Trots op myself. Ek meen nou maar, ek het ‘n reputasie as ‘n ou wat nie baie handig is nie. Wys jou net.

 

So ‘n halfuur later sien ek die kragliggie op die alarm se sleutelbord is dood. Oeps. Ek gaan maak weer oop daar waar ek aan die transformator gevroetel het. Maak seker alles is reg, prop in. Nee, niks krag nie. Mmm….

Nou moet ek eers iemand kry wat weet. Ek bel my pel wat verstaan van die goed. “Ek hoop nie jy’t die drade verkeerd gekoppel nie,” reken hy.

 

“Nee, man, hoe stupid lyk ek vir jou. Ek het hulle almal mooit teruggesit waar hulle hoort.”

 

Dis eers laataand toe my pel ‘n kansie kry om te kom kyk wat aangaan. Ek verduidelik hom mooi wat ek gedoen het. Hy gaan krap in die alarm se boks, maak die transformator oop, neem dan ‘n papier en teken ‘n prentjie. Die prentjie, verduidelik hy, is hoe die bedrading van die transformator gekoppel moet word. Dan gaan trek hy ‘n klomp deurmekaar lyne op die prentjie.

 

“Dit,” sê hy, “is wat jy gedoen het. Jy het dit hiér ge-short, en jy het dit dáár ge-short.”

 

“O,” reken ek.

 

“En sien jy hierdie dingetjie,” beduie hy vir my na ‘n komponent wat langs die alarm se elekroniese bord lê, “hierdie dingetjie hoort dáár op die elektroniese bord.”

 

“En wat maak hy dan daar langsaan?” verneem ek hoflik.

 

“Met die dat jy die transformator ge-short het, het jy die transformator uitgebrand. Toe kom hier ‘n stroom deurgehardloop wat te kwaai was vir daai komponentjie om te hanteer, toe onplof hy – dis hoekom hy nie meer aan die kragbord vas is nie.”

 

“O, jy meen so.”

 

Eisj.

 

Vandag kom die alarm man hier aan. Ek verduidelik vir hom dat daar vermoedelik ‘n kortsluiting moes ontstaan het in die transformator.   Die transformator is baie oud, verstaan, sulke dinge gebeur maar. Ja nee, hy sien die transformator is baie oud.

 

Ek gaan wys hom waar die alarm geinstalleer is. Ek sê hom van die stukkende komponentjie, miskien kan hy net ‘n nuwe enetjie daar vas soldeer?

 

“Meneer sien, daai komponente daar wat so blou is, hulle was eers ‘n ander kleur, maar dit lyk of daar bietjie fout gegaan het – hulle het gebrand. Dis hoekom hulle so blou is.”

 

“O. So jy bedoel jy gaan nie net ‘n ander komponentjie vir my daar vas soldeer nie.”

 

“Uhm….. nee, sien, meneer, die sisteem is nogals bietjie oud, en mens weet nie wat nog alles seergekry het nie…..”

 

Sug.

 

Vier ure later het die man met groot geduld die nuwe boks geinstalleer. Die upside van die storie is dat die nuwe boks nie op die ou paneelbord pas nie. Dus is ‘n nuwe paneelbord nou ook geinstalleer. Buite ons kamer.  

 

Ek voel ergerlik vir die onnodige uitgawe wat ek opgedoen het. Van my eie stupidgeit. Ek kon ‘n hele vakansietjie gaan hou het met daai geld.

 

My vrou, daarenteen, glimlag skalks elke keer as sy by die paneelbord in die gang verbystap.

 

Koerant opskrif

Maart 10, 2011 in Sonder kategorie

Soms doen redakteurs nogals ‘n netjiese woordspeling.  Sommiges, soos van die banieropskrifte wat ons hier in die Kaap teen die lamppale kry, kan soms effe banaal wees.  Snaaks ook.

Maar vanoggend lees ek die MotorBurger.  Marnus Hattingh het ‘n artikel daar oor die nuwe Audi TT afslaankap.  En ek kon nie help om te dink die opskrif van die storie was baie skerp nie:

“Punt in die wind met jou TT, my bra”

‘n Joernalistieke gem, sou ek sê.  Nie seker of dit heeltemal bedoel was soos dit klink nie, maar nogtans.

Voorsate

Maart 4, 2011 in Sonder kategorie

Daar is al voorheen navraag gedoen in kommentare of ek en JJ familie is. Wanneer ons dan skuld erken – ons is broers – sou ‘n opvolg kommentaar wees dat ons soortgelyk skryf. Ons verkies om die word “styl” hier uit te hou.

Toe dag ons – sonder om bymekaar af te kyk – om iets te blog oor dieselfde onderwerp, en dan self te sien of bostaande observasie waar is.

***

 

Onlangs maak ‘n dame met my kontak uit die bloute uit. Sy het op my ander blog afgekom. Sy woon in Kanada, oorspronklik van Amsterdam, en dra ook dieselfde van as ek. Sy reken ons kan familie wees. OK, miskien nou nie naby familie nie, veral gegewe dat sy reeds 45 jaar in Kanada woon. Ek weet, om die waarheid te sê, nie eens hoe oud sy is nie. Ook nie gedink dit sou hoflik wees om te vra nie.

Sy het rekords van haar voorsate van hier by die 1500’s. Ek, daarenteen, weet nie eens wat my oupa se naam was nie. Ek weet wel dat ‘n tipiese reaksie wanneer ek aan mense voorgestel word is die vraag of ek van die Bonnievale se Jonkers is. Ek verstaan daai ouens het plase en so. Maar helaas nee, my pa het ‘n effe meer nederige herkoms uit die Dordrecht omgewing gehad het. Dis nou Dordrecth in die Oos-Kaap, nie die ene in Nederland nie.

Ek het al voorheen gelees dat die van Jonker van Junker vandaan kom, wat beskryf word as “son of a count” (let tog op die ‘o’). ‘n Count in daai tyd se taal was ‘n grondbaron. Wat my laat dink, dalk as my voorsate nie Afrika toe gekom het nie, dan kon ek dalk ‘n lappie grond gehad het iewers in die Nederlande. Maar dan weer, net dalk was daai lappie aan die verkeerde kant van ‘n dyk gewees, so miskien moet mens liewer nie so daaroor dink nie.

Nou begin die soektog om uit te vind wie my voorsate is en waar hulle vandaan kom. Net om te kyk of die familiebande met die dame in Kanada gekoppel kan word. Nou moet ek sê, ek het neefs en niggies, en ‘n oom en ‘n tante wie ek nog net een keer in my lewe (OK, dalk was dit 2 keer) gesien het. Al woon hulle in Suid-Afrika. Om nou die eerlike waarheid te sê, ek weet nie eens wat daai neefs en niggies van my se name is nie, so jy kan aflei ons is nie so kwaai op die familiebande nie.

‘n Tante van my stuur toe vir my op versoek ‘n lysie met name aan van my voorsate. Dit begin in Java en Makasser. Nee, nie die Makasser hier naby Muizenberg nie, die ene in Jakarta. Naby Java, hier in die 1700’s.

Nou toe nou! Kyk, ek het so bietjie van ‘n selfsugtige streep in my. So ek reken toe nou, as my voorsate van Java af kom, dan mag dit wees dat ek nie heeltemal wit is nie. Om die waarheid te sê, dit mag beteken dat ek glad nie wit is nie. Dit mag ook beteken dat ek miskien voortaan heeltemal anders mag kyk na gerespekteerde burgers van ons land soos mnr Jimmy Manyi. Vir al wat ek weet het mnr Manyi nog al die tyd net my beste belange op die hart gedra. Ek dink die mense verstaan hom net verkeerd. Regtig.

Nou wil ek darem meer uitvind van my voorsate. Ek meen nou maar, ek is op die punt van ‘n deurbraak hier. Wikipedia toe. Makassar. Jakarta. Jakarta was voorheen Batavia. Ag nee, hier sien ek nou al weer my nuwe plan ontspoor. Batavia was ‘n Nederlandse kolonie. Wat waarskynlik beteken dit was bloot my my Nederlandse voorsate met wanderlust wat weer uit Batavia uit Kaap se kant toe gekom het.

Maar OK, ek het nog ‘n voorsaat uit Java. Ai! Dieselfde probleem. Ook Java was ‘n Nederlandse kolonie gewees (verbrands, die Nederlanders was ook oralster, hê?). So dieselfde geld vir Java.

$%^&. So nou is ek al weer wit.

Ek herroep my opmerkings oor daai Manyi-kêrel wat ek hierbo gemaak het.

PGJ