Aandjie saam met pelle

Februarie 20, 2011 in Uncategorized

 

Lank gelede stroll en ek vroulief een aand in die Tygervallei rond met ons (toe nog net) twee kinders. Hulle is toe seker so 3 en 6 jaar oud, moontlik selfs nog jonger.   Dit was darem al die tyd van selfone, want my pel uit PE uit bel my op my selfoon en sê hy is in die Kaap, hy en nog ‘n pel kuier in die Cantina Tequila, ek moet kom groet.

 

Nou ry ons gou oor Cantina toe. Ek wil net gou gaan groet. Die groot ou by die deur wil my nie inlaat nie. Nie sonder ‘n fooi nie. Ek verduidelik ek wil net my pel groet, ek kom nou-nou terug. Later laat hy my toe, in ruil vir my motorsleutel. Ek is nie mooi seker hoe die sekuriteit op die motorsleutel sou werk as ek sou blyk nie binne ‘n paar minute terugkeer nie.

 

Binne raas dit. En daar is ménse. Met moeite beur ek tussen die mense deur tot ek uiteindelik my vriende by die toonbank kry sit. Ons groet, hulle dring aan ek moet daar kuier vir die res van die aand. OK, net eers met my vrou gaan reël. Nou beur ek weer terug tussen die mense deur. By die deur moet ek die regte bouncer kry om weer my motor se sleutel te kry. Uiteindelik is ek darem onder op die parkeerterrein.

 

“Ja, gaan, geniet dit, en moenie voor middernag huis toe kom nie,” moedig my vrou my aan. (Nee, regtig!) Ek stap terug Cantina toe, met my kinders wat altwee by die motor se venster uithang en roep: “Nee, Pappa moenie gaan nie….!” Verskeurd waai ek maar vir hulle en gaan in.

 

Na ‘n lang tyd kry ek uiteindelik my sit by my pelle. Twee dames staan daar naby, en begin praatjies maak. Dis nou nie heeltemal my gemaksone nie. Gelukkig is ek saam met twee pelle wie hierdie tipe ding mooi verstaan. Nie dat hulle rof of so is nie. Dis net, hulle is sosiale diere, gemaklik met vreemde mense, en voldoen aan die beskrywings van ‘dark, tall & handsome’ en ‘blonde, tall & handsome’ onderskeidelik, so die girls praat in elk geval graag met hulle. Altwee gerekende besigheidsmanne. So ek hou my maar eenkant en hou die vertoning deur die pro’s dop. Ek sit tussen hulle, half met my rug na die twee dames toe. Ek is dus nie regtig deel van die geselskap nie en onder geen sosiale druk nie.

 

Ek sit ook naaste aan die twee dames. Dit besef ek eintlik eers toe een van hulle haar hier van agter af teen my rug kom aanvlei. Nou sit ek stom versteen (ek moet dit nou versigtig bewoord), onseker wat nou. Ek kan in elk geval nie veel doen anders as om net te bly sit nie. Die dame is nie klein nie, en met haar twee floating devices (soos een Survivor deelnemer dit genoem het) wat weerskante van my ore rus kan ek in elk geval nie eintlik my kop draai nie.  

 

Nou hou ek my so cool soos wat ek kan. Maar glo my, dis harde werk om cool te wees as die sweet jou in strome aftap. Ek meen nou maar, jy weet, picture jy druk ‘n warmwatersak teen elke oor vir ‘n langerige tyd.

 

Nou kyk ek om die beurt swyend, hulpsoekend na my twee pelle. Ek meen, synde die pro’s is hulle mos nou veronderstel om te weet hoe om my nou uit hierdie situasie uit te kry. Ek is nie seker of hulle bloot moedswillig was, en of hulle hierdie tipe goed in hulle stride kan vat nie, maar hulle teug rustig verder aan hul drankies en gesels verder met die girls. Intussen kos dit al my wilskrag om nie my drankie oor my kop uit te gooi net om die ergste hitte te breek nie.

 

Ek kan nou nie meer onthou of die twee dames vanself belangstelling verloor het, en of ons besluit het om te loop nie, maar dis met ‘n besonderse gevoel van verligting wat ek uiteindelik weer die koel aandlug op my lyf kon voel.

 

En al wat my vrou daaroor sê is: “Jy weet ook niks nie.”

 

‘n Opmerking was sy sedertdien al meer as een keer herhaal het.

4 antwoorde op Aandjie saam met pelle

  1. Skud kop heen en weer.
    Dis so maklik!

  2. O, jy meen so.

  3. 😀
    En hier sit ek kry jou jammer… lol

  4. *grin*

Los ’n antwoord vir loudavisi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.