Kinderpartytjie

Februarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Ek het vanoggend swaar opgestaan.  Ons het gisteraand ‘n partytjie by ons huis gehad.  Nee, dis nie wat jy dink nie.  Ek het nie ‘n hang over nie.  Daar was nie eens alkohol nie.  Kleinboet het 9 jaar oud geraak, en hy het 12 maats gehad wat kom partytjie hou het.

Het jy enige idee hoe kan 13 seuntjies van tussen 9 en 10 jaar oud raas?  Trust me.

Die swembad en trampoline was veronderstel om hulle energie bietjie te tap.  Maar iemand moes hierdie lotjie skelmpies suiker of iets ander wat jou vlerke gee gevoer het, want dis verbrands of daai energie vlakke enigsins getaan het.  Hoe later hoe kwater.

Later kry hulle kos.  My vrou verduidelik vir my hoe belangrik dit is dat hulle kos inkry.  “Anders bly hulle heelaand so,” bedoelende nou daai suikergedrewe energie-bolle.  Na die ete boender ons die lot in die bakkie en nog ‘n motor om hulle bietjie om die dam te laat stap.  Die doel van die oefening is tweeledig.  Ons probeer steeds daai energie uitgewerk kry.  Maar ook moet my vrou kans kry om goed in die tuin weg te steek vir ‘n skattejag, en die idee is om dit in die donker te moet soek.  Daarom moes elkeen ‘n flits gebring het.  On second thought, ons moes hulle eintlik niks van flitse gesê het nie, dan sou hulle heelwat langer gesoek het.

Anyway, by die dam wat ek die lotjie op ‘n stappie om die dam.  Ek het darem die hulp van my twee tieners plus nog een om te help toesig hou.  ‘n Paar manne vang vis by die dam.  Elders sit ‘n verliefde paartjie en piekniek hou onder die boom.  Dis ‘n wonderlike stil aand.  Of dit was, tot ons daar aangekom het. 

Die eende is gewoond mense kom gee kos.  So hulle storm vinnig nader na enige nuwe aankomeling toe.  Mense kom gooi brood en ander kos vir hulle en so aan.  So gooi van die mannetjies in die groep ook kos na die eende toe.  Maar nee, onthou ek toe, hulle het nie kos of brood of mieliepitte of enige sulke goed saamgebring nie.  Nee, hierdie swernootjies is besig om die eende met klippies te gooi!  Gelukkig kom ek dit agter voordat enige van die omstanders my aantree oor my onbehoorlike toesig. 

Ek is verbaas oor die vlak van intelligensie van die eende.  Vir enige ander persoon wie aangestap kom swem of storm hulle nader.  Maar dit word vinnig duidelik dat, soos wat ons groepie om die dam vorder, so vlug die eende weg.  Moet instink wees, want daar kan wraggies nie veel brein in daai eende se koppe wees nie.

Nou ja, na twee trips om die dam toe is die span nie meer kwaai lus vir verder stap nie, ten spyte van die vooraf brawe spoggery dat hulle sommer 6 keer om die dam gaan stap.  Intussen laat weet my vrou als is weggesteek en dis amper donker genoeg, ek kan hulle maar terugbring.  Dis nogals ‘n verligting, want ek het al later die mannetjies gedreig met hulle skoolhoof om hulle onder bedwang te hou.  Ek meen nou maar, selfs ek is bang vir die skoolhoof, jy verstaan.

Terug by die huis gebeur die skattejag.  Dit laat my dink, ek moet nog die skade in my tuin  en sprinkelbesproeing gaan inspekteer.  Uiteindelik is min of meer al die skatte opgespoor.  Nou probeer ons vasstel of daar dalk nog skatte onontdek is.  Om dit te weet moet ons uitvind wie van die 13 het hoeveel skatte gekry.  Dis mos nou eenvoudig:  hande op as jy 1 maar nie meer as een nie gekry het.  Hande op as jy twee maar nie meer as twee gekry het nie, en so aan.

Raait, hande op as jy….”Tannie, tannie, tannie, ek en Malan het saam drie gekry, ons deel dit.”  “Tannie, tannie, ek het nie ‘n skat gekry nie, maar hier is ‘n waterballon wat nog nie gebars het nie, dit tel vir twee.”  “Tannie, tannie, tannie,  as ek twee gekry het moet ek my hand opsteek saam met die wat 1 gekry het?” 

Ek het die stryd gewonne gegee en dit aan my vrou oorgelaat om dit uitgewerk te kry.  Ek weet nie of sy dit reggekry het nie.  Hoe kry juffrouens dit reg om die spannetjie in ‘n klaskamer te beheer!? 

Nou ja, so het dit aangegaan.  Half-tien die aand was huistoegaan tyd.  Voldoende om te sê dat die spannetjie wat weer hier weg is ieder en elk nog meer energie oorgehad het as ekke.

PGJ

9 antwoorde op Kinderpartytjie

  1. 🙂

  2. Maankind2 het gesê op Februarie 19, 2011

    Jy kan dankbaar wees die lot het nie oorgeslaap nie, anders het jy eers vanaand krag gehad vir hierdie blog!

  3. lekker gelees, ek dink nie jy ‘n idee hoe raas ‘n kleuterskool van kindertjies nie. hiehie, wees baie dankbaar hulle was so min…..Geniet die rus. Jou kind sal sy partytjie nooit vergeet nie.!!

  4. pgjonker het gesê op Februarie 19, 2011

    Ek het nou ‘n goeie idee!

  5. pgjonker het gesê op Februarie 19, 2011

    Ek is dankbaar. Dit sou juis aanvanklik ‘n oorslaap partytjie gewees het. My vrou het nou my posting gelees, maar sy sê sy was by heel ‘n ander kinderpartyjie. ‘n Rustige ene…

  6. so span rammetjies kan mens moeg maak. Maar hulle geniet dit altyd

  7. louisna het gesê op Februarie 19, 2011

    Mooi. Ek is 1 keer deur daai fase en saam met my seuns nog 2 keer.

  8. Ek dink my kommentaar het dalk iewers anders geland…soek maar:)

  9. pgjonker het gesê op Februarie 20, 2011

    Ek het dit gekry onder ‘Denzil se Ding”. http://blogs.litnet.co.za/pgjonker/denzil-se-ding

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.