Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Mooi, Pieter!

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Dis karnavaltyd. Vlotte bou, goeters moet aangery word, daai klas van ding. Pieter leen sy pa se bakkie, iemand anders voorsien ‘n groot dubbel-as sleepwa.

Nou word daar goed gekarwei. Die bakkie is vol gelaai. Die sleepwa is vol gelaai. Al die manne wat help sit sommer bo-op die goed op die sleepwa dat hulle lekker kan beduie vir die agteruit ry slag. Sommer vir die vorentoe ry slag ook.

Telkens wanneer Pieter ‘n moeilike trajek suksesvol afgelê het, soos om nie oor die sypaadjie te ry nie, of om mooi netjies agteruit te stoot met die bakkie-en-sleepwa kombinasie, dan word dit begroet met ‘n waarderende “Mooi, Pieter!” hier van die sleepwa af.

So word “Mooi, Pieter” later ‘n spreek-koor, en hoe beter Pieter die sleepwa gewoond raak, hoe beter raak sy vertoning, en hoe meer waarderend sy gehoor.

By geleentheid, toe dinge nou mooi stadig gaan en mens darem kan waarneem wat langs die pad ook aangaan, tree ‘n dame die manne aan. Sy is kwaad, baie kwaad. Sy dreig dat sy hulle gaan aangee by die owerhede, die polisie, haar man, die buurtwag, die dekaan, die metro-polisie en sommer die dominee ook. Sy verduidelik vir hulle mooi en luidkeels dat hulle ‘n onbedagsame, onbeskofte klomp lummels is.

Die span staar haar verstom aan. “Hoe bedoel tannie dan nou?” waag een dit darem later, maar dis olie op die vuur.

“Moenie vir jou stupid hou nie, jong man!” antwoord die dame. “Julle ry hier verby en skree almal vir my ‘mooi tiete!’ en dan maak julle of dit niks is nie. Waar is julle maniere!”

[Dankie vir die storie, Jack.]

Aandjie saam met pelle

Februarie 20, 2011 in Uncategorized

 

Lank gelede stroll en ek vroulief een aand in die Tygervallei rond met ons (toe nog net) twee kinders. Hulle is toe seker so 3 en 6 jaar oud, moontlik selfs nog jonger.   Dit was darem al die tyd van selfone, want my pel uit PE uit bel my op my selfoon en sê hy is in die Kaap, hy en nog ‘n pel kuier in die Cantina Tequila, ek moet kom groet.

 

Nou ry ons gou oor Cantina toe. Ek wil net gou gaan groet. Die groot ou by die deur wil my nie inlaat nie. Nie sonder ‘n fooi nie. Ek verduidelik ek wil net my pel groet, ek kom nou-nou terug. Later laat hy my toe, in ruil vir my motorsleutel. Ek is nie mooi seker hoe die sekuriteit op die motorsleutel sou werk as ek sou blyk nie binne ‘n paar minute terugkeer nie.

 

Binne raas dit. En daar is ménse. Met moeite beur ek tussen die mense deur tot ek uiteindelik my vriende by die toonbank kry sit. Ons groet, hulle dring aan ek moet daar kuier vir die res van die aand. OK, net eers met my vrou gaan reël. Nou beur ek weer terug tussen die mense deur. By die deur moet ek die regte bouncer kry om weer my motor se sleutel te kry. Uiteindelik is ek darem onder op die parkeerterrein.

 

“Ja, gaan, geniet dit, en moenie voor middernag huis toe kom nie,” moedig my vrou my aan. (Nee, regtig!) Ek stap terug Cantina toe, met my kinders wat altwee by die motor se venster uithang en roep: “Nee, Pappa moenie gaan nie….!” Verskeurd waai ek maar vir hulle en gaan in.

 

Na ‘n lang tyd kry ek uiteindelik my sit by my pelle. Twee dames staan daar naby, en begin praatjies maak. Dis nou nie heeltemal my gemaksone nie. Gelukkig is ek saam met twee pelle wie hierdie tipe ding mooi verstaan. Nie dat hulle rof of so is nie. Dis net, hulle is sosiale diere, gemaklik met vreemde mense, en voldoen aan die beskrywings van ‘dark, tall & handsome’ en ‘blonde, tall & handsome’ onderskeidelik, so die girls praat in elk geval graag met hulle. Altwee gerekende besigheidsmanne. So ek hou my maar eenkant en hou die vertoning deur die pro’s dop. Ek sit tussen hulle, half met my rug na die twee dames toe. Ek is dus nie regtig deel van die geselskap nie en onder geen sosiale druk nie.

 

Ek sit ook naaste aan die twee dames. Dit besef ek eintlik eers toe een van hulle haar hier van agter af teen my rug kom aanvlei. Nou sit ek stom versteen (ek moet dit nou versigtig bewoord), onseker wat nou. Ek kan in elk geval nie veel doen anders as om net te bly sit nie. Die dame is nie klein nie, en met haar twee floating devices (soos een Survivor deelnemer dit genoem het) wat weerskante van my ore rus kan ek in elk geval nie eintlik my kop draai nie.  

 

Nou hou ek my so cool soos wat ek kan. Maar glo my, dis harde werk om cool te wees as die sweet jou in strome aftap. Ek meen nou maar, jy weet, picture jy druk ‘n warmwatersak teen elke oor vir ‘n langerige tyd.

 

Nou kyk ek om die beurt swyend, hulpsoekend na my twee pelle. Ek meen, synde die pro’s is hulle mos nou veronderstel om te weet hoe om my nou uit hierdie situasie uit te kry. Ek is nie seker of hulle bloot moedswillig was, en of hulle hierdie tipe goed in hulle stride kan vat nie, maar hulle teug rustig verder aan hul drankies en gesels verder met die girls. Intussen kos dit al my wilskrag om nie my drankie oor my kop uit te gooi net om die ergste hitte te breek nie.

 

Ek kan nou nie meer onthou of die twee dames vanself belangstelling verloor het, en of ons besluit het om te loop nie, maar dis met ‘n besonderse gevoel van verligting wat ek uiteindelik weer die koel aandlug op my lyf kon voel.

 

En al wat my vrou daaroor sê is: “Jy weet ook niks nie.”

 

‘n Opmerking was sy sedertdien al meer as een keer herhaal het.

Kinderpartytjie

Februarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Ek het vanoggend swaar opgestaan.  Ons het gisteraand ‘n partytjie by ons huis gehad.  Nee, dis nie wat jy dink nie.  Ek het nie ‘n hang over nie.  Daar was nie eens alkohol nie.  Kleinboet het 9 jaar oud geraak, en hy het 12 maats gehad wat kom partytjie hou het.

Het jy enige idee hoe kan 13 seuntjies van tussen 9 en 10 jaar oud raas?  Trust me.

Die swembad en trampoline was veronderstel om hulle energie bietjie te tap.  Maar iemand moes hierdie lotjie skelmpies suiker of iets ander wat jou vlerke gee gevoer het, want dis verbrands of daai energie vlakke enigsins getaan het.  Hoe later hoe kwater.

Later kry hulle kos.  My vrou verduidelik vir my hoe belangrik dit is dat hulle kos inkry.  “Anders bly hulle heelaand so,” bedoelende nou daai suikergedrewe energie-bolle.  Na die ete boender ons die lot in die bakkie en nog ‘n motor om hulle bietjie om die dam te laat stap.  Die doel van die oefening is tweeledig.  Ons probeer steeds daai energie uitgewerk kry.  Maar ook moet my vrou kans kry om goed in die tuin weg te steek vir ‘n skattejag, en die idee is om dit in die donker te moet soek.  Daarom moes elkeen ‘n flits gebring het.  On second thought, ons moes hulle eintlik niks van flitse gesê het nie, dan sou hulle heelwat langer gesoek het.

Anyway, by die dam wat ek die lotjie op ‘n stappie om die dam.  Ek het darem die hulp van my twee tieners plus nog een om te help toesig hou.  ‘n Paar manne vang vis by die dam.  Elders sit ‘n verliefde paartjie en piekniek hou onder die boom.  Dis ‘n wonderlike stil aand.  Of dit was, tot ons daar aangekom het. 

Die eende is gewoond mense kom gee kos.  So hulle storm vinnig nader na enige nuwe aankomeling toe.  Mense kom gooi brood en ander kos vir hulle en so aan.  So gooi van die mannetjies in die groep ook kos na die eende toe.  Maar nee, onthou ek toe, hulle het nie kos of brood of mieliepitte of enige sulke goed saamgebring nie.  Nee, hierdie swernootjies is besig om die eende met klippies te gooi!  Gelukkig kom ek dit agter voordat enige van die omstanders my aantree oor my onbehoorlike toesig. 

Ek is verbaas oor die vlak van intelligensie van die eende.  Vir enige ander persoon wie aangestap kom swem of storm hulle nader.  Maar dit word vinnig duidelik dat, soos wat ons groepie om die dam vorder, so vlug die eende weg.  Moet instink wees, want daar kan wraggies nie veel brein in daai eende se koppe wees nie.

Nou ja, na twee trips om die dam toe is die span nie meer kwaai lus vir verder stap nie, ten spyte van die vooraf brawe spoggery dat hulle sommer 6 keer om die dam gaan stap.  Intussen laat weet my vrou als is weggesteek en dis amper donker genoeg, ek kan hulle maar terugbring.  Dis nogals ‘n verligting, want ek het al later die mannetjies gedreig met hulle skoolhoof om hulle onder bedwang te hou.  Ek meen nou maar, selfs ek is bang vir die skoolhoof, jy verstaan.

Terug by die huis gebeur die skattejag.  Dit laat my dink, ek moet nog die skade in my tuin  en sprinkelbesproeing gaan inspekteer.  Uiteindelik is min of meer al die skatte opgespoor.  Nou probeer ons vasstel of daar dalk nog skatte onontdek is.  Om dit te weet moet ons uitvind wie van die 13 het hoeveel skatte gekry.  Dis mos nou eenvoudig:  hande op as jy 1 maar nie meer as een nie gekry het.  Hande op as jy twee maar nie meer as twee gekry het nie, en so aan.

Raait, hande op as jy….”Tannie, tannie, tannie, ek en Malan het saam drie gekry, ons deel dit.”  “Tannie, tannie, ek het nie ‘n skat gekry nie, maar hier is ‘n waterballon wat nog nie gebars het nie, dit tel vir twee.”  “Tannie, tannie, tannie,  as ek twee gekry het moet ek my hand opsteek saam met die wat 1 gekry het?” 

Ek het die stryd gewonne gegee en dit aan my vrou oorgelaat om dit uitgewerk te kry.  Ek weet nie of sy dit reggekry het nie.  Hoe kry juffrouens dit reg om die spannetjie in ‘n klaskamer te beheer!? 

Nou ja, so het dit aangegaan.  Half-tien die aand was huistoegaan tyd.  Voldoende om te sê dat die spannetjie wat weer hier weg is ieder en elk nog meer energie oorgehad het as ekke.

PGJ

Tietiesbaai, o Tietiesbaai

Februarie 19, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Een goeie naweek besluit ons om bietjie op my vrou se kinderspore te gaan loop.  Kleintyd, lank voordat die wêreld Tietiesbaai ontdek het, is dit waar hulle elke jaar gaan kamp het.  

 

Ons ry die grondpad van St Helenabaai af, deur Paternoster. Paternoster was altyd een van hierdie plekke waarheen jy gegaan het om bietjie weg te kom van almal af. Nou as jy daar kom is almal klaar daar. Downtown Paternoster is besig.  Maar dit is buite seisoentyd, so mens is amper gewaarborg om ‘n verlate en rustige Tietiesbaai te kan ervaar. Amper, amper…..

 

Op Tietiesbaai is daar groot aksie. Een of ander Inter-corporate challenge is daar aan die gang. Spanne ding teen mekaar mee in kleurgekodeerde klere.  Sover ons kon agterkom word daar geroei, gehardloop fietgesry en al sulke goed. Tietiesbaai is nie eers amper rustig nie. Ons ry verby die aksie, sover soos die pad ons toelaat, en parkeer. Vandaar stap ons om die verste punt, weg van die rumoer af.

 

 

 

Ons is eintlik op pad na ‘n grot wat my vrou my wil gaan wys waar hulle kleintyd baie ure verwyl het. Ons soek die stilte vandag.  Sy herleef kleintyd se groot krewe, branders, speel in die branders.  Sy vertel my van hierdie groot poel waarin sy as 4-jarige met haar duikbrilletjie op by die diep kant ingeduik het en deurgeswem het na die ander kant toe.  Ons kry die groot poel.  Dis 3 voet diep van 5 voet lank….[?]  Miskien onthou mens dinge maar anders as jy nog klein is.  Sy wys my ook waar die ouer meisies bostukloos gesonbaai het.  En waar al die seuns dan skelmpies gelê en oor die rots geloer het.

 

Maar nou is ons op pad na die grot toe.  Dan kom ‘n kêrel moet ‘n vreeslike groot kamera kom van agter af aangehardloop, verby ons, op pad na die grot toe.  ‘n Meisie met sportklere kom agterna gehardloop met ‘n papier in die hand wat lyk soos instruksies.  Dan sien ons, reg voor die grot waarheen ons op pad is, is daar ‘n vlag geplant, met twee manne aan diens.  Die volgende kom ‘n paar spanne verbygehardloop met hul verskillende kleure klere aan. 

 

 

Dan dawer ‘n helikopter oor die bult.  ‘n Kameraman met ‘n groot kamera hang uit en neem die hardlopers af.  Dit voel skielik of ons in die middel van ‘n realiteitsreeks is.  Ons is nie seker hoe ons moet maak om nou nie in die pad te wees nie.  Die woepe-woepe-woepe is oorverdowend.  My selfoon lui, maar ek kan nie hoor wie praat nie.  Die helikopter kom oor ons, hang oor die see, sak laag om goeie skote te kry van die deelnemers.  Skuim dwarrel in die lug op, die sand waai.  

  

Mettertyd raak dit stil.  Die deelnemers het voor die grot omgedraai en terug gehardloop.  Die vlagmanne is weg met hul vlag.  Die helikopter is weg.  Nou het ons darem ons stilte. Die grot is miskien nou nie heeltemal ‘n grot nie. Dis meer soos ‘n rots-oorhang. Iemand het onlangs daar gebraai en nie agterna opgeruim nie. Ons kan sien Jordan was daar. Del was ook daar. Carien ook. Angel en Reija like mekaar kwaai, beduie die grafitti op die sandsteen rots. Die grot is nou ook kleiner as wat my vrou  dit onthou van kleintyd af.

 

Ons gaan sit op ‘n rots en geniet die branders wat breek. Later ry ons terug. Tietiesbaai kry sy naam van die een heuwel met ‘n rots reg op die hoogste punt. Op ‘n afstand lyk dit soos ‘n vrouebors. Iemand was nie tevrede met die voorkoms nie, en het dit nou gaan opkikker met ‘n blikkie of iets wat die punt nou bietjie meer punt-in-die-wind laat staan.

  

Die spanne van die sportgebeurtenis is almal besig om klaar te maak op Paternoster se strand. Dis vlae, trokke, busse, borge se advertensies, en baie mense.   Die Driekus Horseride groep kom ook strandlangs aangery van die teenoorgestelde kant af.  Dis ‘n pragtige gesig.  Die besoekers neem foto’s en oe en ah oor die perde. 

 

Paternoster lyk nou al soos ‘n groot dorp in verhouding met hoe dit jare gelede was. Daar is gastehuise, te koop-bordjies, kunstenaars, die werke. Dis vooruitgang. Dis goed vir die ekonomie.  

Stettyn 4×4

Februarie 16, 2011 in Sonder kategorie

One Saturday morning four families (including us) met at the Huguenot museum in Franschhoek, en route to Stettyn, via Villiersdorp, for a bit of 4 x4 and a sleep-over in nature, while putting our vehicles to the test at the same time.

Setting

From Franschhoek we travelled in convoy on the twisty road to Villiersdorp. The Stettyn 4×4 trail is located on the farm Stettyn between Villiersdorp and Worcester, at the foot of the Stettyn mountain range. The trail provides some nice challenges, we were told, and the views and terrain are magnificent, with a variety of fynbos and proteas.

Arriving at Stettyn, we found our way by following the directions to a nearby silo, which served as the admin building.

Vir die res van die storie, klik hier.

Tafelberg se Kabelkarretjie

Februarie 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek het gemeen om hierdie blog te gebruik om my stories op pgjonker.co.za in Afrikaans te vertaal. 

Maar ek het besluit daar is nie veel te vertaal aan ‘n fotoverhaal van ‘n rit met die kabelkarretjie nie.  Daarom plaas ek sommer net die skakel hier. 

PGJ

Die tale wat ons (kinders) praat

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

Dalla-se-Pa se oproep laat my dink aan my pel wat met sy vrou en kindertjie in ‘n meenthuis gebly het.  Saam met hulle Ierse Wolfhond wat so 75 kg geweeg het.  Nee, die hondjie was nie oorgewig nie, hulle kom maar so in daardie groottes.

Soos dit nou maar die ding van honde is verkies die hond om by sy mense te wees.  Dis net, daar is nie noodwendig heeltyd orals plek vir die hondjie om sy 75kg lyfie gemaklik te maak nie.  Maar so het die hond darem sy lê in die gang gekry.

So hoor my pel sy seuntjie van 3 jaar oud in die gang af gesukkel kom.  Maar nou het die seuntjie ‘n probleem, want daar lê ‘n lummel van ‘n hondjie in sy pad wat sy pad versper. 

So hoor hy die drie-jaar oud mompel hardop by homself:  “Aag f*k, hond!”

Hy weet glad nie waar die kind dit sou gehoor het nie, reken hy.

Denzil se ding

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

 

“Hey, uncle, gee daa’ ‘n five bob ek sê?” reken die straatkind.

Albert mik so die mannetjie met die oog, maar dié is nog vroeg laerskool.

“Jong, watter standerd is jy?”

“Nie, uncle, ekke issie innie skoolie, so ek sal selfiekasêrie. Ma’ as ekke nie ‘n R50 het die nawiekie da’ kan ekke nie oppie Sondagskoolpiekniek gaan die.” Die mannetjie sit die stuk in en huil dat die trane spat oor die Sondagskoolpiekniek wat hy gaan mis.

Albert is ‘n filantroop, en nog altyd ‘n sucker vir stories. Hy sit toe maar die paar Rand by wat die straatkind kort om sy R50 vol te maak. Hy het darem net omtrent nog R49 gekort darem, so dis nie asof die mannetjie nie self ‘n bydrae gemaak het nie, verstaan.

“Ma’ uncle, ek is dors ook, né.”

“Ja, jy lyk nogal honger en dors. Kom ek koop vir jou ‘n bottel melk.”

“Nee, mylanie,” help die straatkind se tjom wie intussen bygekom het. “Denzil issie eintlik een vir melk nie.”

Né!

Richtersveld toertjie – Hoofstuk 2

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

 

‘n Paar dae later versit ons na De Toon toe. Die plan is om die roete te volg na die Sprinbokvlakte en Kokerboomkloof. Dit is 71 km.   Hierdie roete neem ons onder meer deur Domerog Pas.

 

 

Baie smal en steil. Aan die onderent van die pas wag ‘n plaaslike boer met ‘n gewone bakkie vir ons om verby te kom sodat hy oor die pas kan gaan. Ons is verras dat hy dit doen met ‘n gewone bakkie. Maar hy verduidelik hy het nie ‘n keuse as om oor die pas te gaan nie, maar “met ‘n bietjie IK”, reken hy, kan mens dit doen, sonder viertrek. OK, daar het jy dit nou.

 

By die Springbokvlakte hou die pad hou in die middel van niks op met ‘n bordjie wat sê verder aan is verbode terrein vanweë eksplorasie-bedrywighede. Die kinders is baie teleurgesteld. Hulle wou ‘n paar diamante gaan soek het.

 

 

Daarvandaan ry ons na Kokerboomkloof, verby Die Toon (of Eierkop).

 

 

Hierdie keer neem ek ‘n paar foto’s van Kokerbome, om nie dieselfde oor te kom soos met die halfmense nie.

 

 

Ons kampplek.

 

 

Ons besoek die drumsticks rotsformasie.

 

Reg oorkant hierdie formasie is ‘n ander formasie wat soos ‘n kalkoen se kop lyk. ‘n Baaie groot kalkoen!

 

 

Motor moleste

Ons verlaat die Richtersveld by die Helskloof hek. Ons sukkel bietjie om uit te kom. Die bewys dat ons betaal het met die ingangslag by Sendelingsdrift is soek. Die man by die hek dui aan dat dit nou “‘n bietjie van ‘n probleem is” – hy moet seker maak ons het betaal. Uiteindelik kry ons die vorm los lê in die een bakkie, probleem opgelos.

Net buite die hek hou ons piekniek. Dis hier waar Frikkie sien dat sy bakkie se regter-agterwiel remolie uitmors. Maar hy is nie te bekommerd daaroor nie.

Nou is ons op die “grootpad” uit. Ons ry die dorp Khubus in net om te sien hoe dit lyk. Dit is heelwat kleiner as Paternoster, en heelwat verder van die see af. Die kerkie is mooi afgewit en staan uit in die dorp. Daar is ook ‘n groterige skool. Hiervandaan volg ons die pad rigting Lekkersing. Voor Lekkersing draai ons af vir Eksteensfontein.   Soos die pad vorder begin dit plek-plek lyk asof die pad wil begin wegraak, dan kom hy weer terug. Redelik stamperig, maar dit kan nog gaan.

Ons doen aan by Eksteensfontein se sakekern. Die dorpie is bietjie groter as Khubus. Ook hier staan die kerk baie netjies wit uit. Daar is selfs ‘n video-winkel. Hier kom Frikkie agter sy lekkende remolie is eintlik ewenaar-olie. Maar hy is nie te bekommerd nie. Maar nou vra ek jou, hoe het hy geweet dis ewenaar-olie? Ek meen, het die goed ‘n kultivar of iets wat jy kan proe?

Hiervandaan ry Frikkie voor. Die pad versleg algaande. Dit is die tipe sinkplaat wat jy of glad nie moet ry nie, of 65km/h moet ry om ten minste net so elke 3de hobbel van die sinkplaat te vang, in plaas van elke sinkplaat. Dit skuld verwoed. Iets tok-e-tok erg onder Frikkie se bakkie. Hy inspekteer en kom agter dit is sy uitlaatpyp wat losgekom het van die rubber wat dit vashou. Hy sit dit terug. Hy is nie te bekommerd nie. Net voor ons die Helskloofpad verlaat hou Frikkie weer stil om te inspekteer, aangesien die tok-e-tok steeds daar is. Hy wikkel bietjie aan sy wiele, maar niks is fout nie. Hy is nie te bekommerd nie.

Ons is net deur die Helskloofpad, gelukkig op ‘n reguit en gelyk stuk pad, sien Frikkie in sy spieël sy regter agterwiel is besig om met die half-as en al uit te skuif. Hy kry gestop voordat die wiel heeltemal uitval, maar redelik net-net, aangesien daar al ‘n voet of meer an die as uitsteek. Ek weet nou nie of Frikkie eintlik bekommerd is nie, maar ek dink hy behoort nou al bekommerd te wees.

 

 

[Let op na waar die regter agterwiel sit].

 

Ek bly by Frikkie en sy vrou, terwyl Pieter en die res van die toergroep Peace of Paradise toe ry, 11km weg, om te gaan kamp opslaan. Dan sal Pieter weer terugkom.   Dit is so 5-uur se kant.  

Die bakkie word opgedomkrag en die wiel afgehaal. Frikkie verstaan gelukkig wat hy doen. Pieter is ook so half handig. En ek, wel, ek is mos darem goeie geselskap. Dis eintlik ‘n vreeslike lang storie waarvan ek nogals agterna mooi volledige notas gemaak het, net vir ingeval my wiel eendag uitval, dan weet ek mos nou wat om te doen, het ek nou maar gedink. Maar ek het intussen besluit as dit met my gebeur sal ek liewerster wag tot ‘n ou soos Frikkie daar verbykom. Of ek vat hom sommer van meet af saam.

Terwyl ons aan die bakkie werk reken ek by myself, ek is nie mooi seker hoe ons weer by die huis gaan kom nie, maar dit gaan wraggies ‘n goeie storie wees om oor te vertel!

Uiteindelik is die wiel weer terug. Een wielbout het seergekry van die geslaan en kan nie ‘n moer vat nie. Die moer wat jy inskroef, bedoel ek nou. Gelukkig is dit ‘n 6-bout wielvelling, so 5 boute hou darem nog die wiel vas. Uiteindelik, so teen half-nege donkeraand, is Frikkie se bakkie hinkepink op pad Peace of Paradise toe.

My nood-driehoeke wat ek uitgesit het (my onontbeerlike bydrae tot die herstel van die wiel) het in amper 4 ure se tyd geen doel gedien nie. Nie ‘n enkele voertuig is na enige kant toe op die pad verby nie.

Peace of Paradise was wrintiewaar daardie aand ‘n stukkie paradys na die dag se gebeure.

 

Die volgende dag begin ons maar vroeg. Frikkie beplan om 60km/h huis toe te ry. Maar ons het nog nie 3km gery nie toe merk Frikkie op dat sy wiel weer besig is om stadig uit te beweeg. Hy vra aanwysings na ‘n werkswinkel wat blykbaar daar in die omgewing is. Die eerste plek waar daar ‘n paar wrakke staan lyk asof dit dit kan wees. Dit is toe nie. Maar afgetrede Oom Hendrik van Zyl wie daar woon was jare lank ‘n motorwerktuigkundige vir Spoornet, wie in die veld en op die pad voertuie moes gaan regmaak. Hy het al wat ‘n “tool” is daar. Bygestaan deur sy seun Christo begin die proses van wiel afhaal en al daai weer van voor af.

 

 

Dit blyk dat Frikkie alles reg gedoen het wat gedoen moes word. Maar hy het nie ‘n circlip gehad wat op die regte plek ingesit kon word nie. Oom Hendrik het ook nie, maar hy maak een van ‘n stuk spring. Als word teruggesit, en siedaar (seker so ‘n uur-en-‘n-half later) is ons weer reisvaardig.

 

Pieter-hulle is intussen vooruit. Hulle reis kom egter tot ‘n abrupte einde met ‘n kop-aan-kop botsing in die Piekenierskloofpas so teen vyf-uur later die dag.   Genadiglik geen beserings nie, maar sy bakkie word in die proses afgeskryf.

 

 

Ons ry konvooi saam met Frikkie tot hy by Vanrhynsdorp afdraai vir Vredendal. Dis so 21h00 die aand. Net na middernag is ons tuis. Minute later is als stil en rustig. Almal slaap.

 

Home sweet home, hê?

TOER STATISTIEKE:

Afstand afgelê:             2050 km

Liters gebruik:               307liters

Brandstofverbruik:         (Mazda 3.4 V6 DC 4×4)

            Gemiddeld:       6,7 km / liter                                          (14,9l/100km)

            Slegste:            4,8 km/l (4×4 oor 420 km)                       (20,8l/100km)

            Beste:               8,7 km/l (stadige trajek oor 400km)         (11,5l/100km)

Nagte uit:                      7 (1 x Port Nolloth, 5 x Richtersveld, 1 x Peace of Paradise)

Tent opgeslaan:                        3 keer

Water gebruik:               90 liters drinkwater oor 5 dae tussen 7 grootmense en 5 kinders

                                    (en waarskynlik sowat 450 liter rivierwater vir was- en opwasdoeleindes)