Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Namibië toertjie – Hoofstuk 2

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Windhoek na Etosha

 

Namibië het ‘n magnetiese bekoring vir baie Suid-Afrikaners. Buiten vir die natuurskoon is die ander voordeel natuurlik dat die taal en kultuur dieselfde is, die winkels lyk dieselfde, en jy kan selfs met Suid-Afrikaanse Rande betaal. Alles dinge wat jou veilig en tuis laat voel. Namibië het vir my ‘n addisionele bekendheid vanweë die feit dat ek die grootste deel van my diensplig in Windhoek gedoen het.

 

‘n Entjie buite Windhoek is ‘n padblokkade net mooi by die ingang na die Luiperdsvallei militêre basis, wat destyds nog as Sektor Vier-Zero bekend was. Ons paspoorte word nagegaan. Alles geskied in gemaklike en gemoedelike stemming. Ons vat die groot Westelike verbypad, waarvandaan ons met die C28 Daan Viljoen toe mik.

 

Daan Viljoen is ‘n oases. Goeie en netjiese geriewe, gras, krag, warm water, wasgeriewe, selfs diere. Ek en my vrou glip gou uit Windhoek toe vir ons gunsteling tydverdryf. Op Gatheman’s se balkon gaan sit ons en koffie drink terwyl ons oor die stad Windhoek uitkyk. Windhoek is mooier, groter, skoner, besiger as die tyd wat ek hier ‘n dienspligtige was. Ek gaan gou op ‘n nostalgie trip verby die Suiderhof basis waar ek as dienspligtige tuisgegaan het. Ek het nie gedink om verder te kyk as net die hek nie. Ek meen nou maar, ek is nie seker of dit ‘n gawe plan sou wees om daar aan te meld en te sê “Howzit, in die tyd van die ou Suid-Afrika was ek hier ‘n dienspligtige” nie.

 

Ons het ‘n besonder slegte nag. Dis vrek koud. Hier by 0 grade rond, want die ys het die volgende oggend op die te tente gesit. En, kom ons agter, daai duwweljties van Hardap dam het mooitjies ons dubbel-opblaasmatras vol gate gesteek. Na ‘n paar keer se gepomp in die nag het ons dit maar opgegee, die prop uitgetrek en onsself en die kinders herrangskik vir ‘n (relatief) gemaklike slaap.

 

Dis nog vriesend koud teen die tyd wat ons die volgende dag in die pad val Waterberg toe, naby Okakarara.

 

Buite Windhoek weer ‘n padblokkade. Geen hassles nie. Die beampte het wel hardop gewonder of ons nie dalk ‘n telefoonkaart het nie. Ons het nie gehad nie, en dit was die einde van die navraag.

 

Die eerste stop is Okahandja. By die ingang van die dorp is ‘n groot padstal waar allerhande houtsneewerke verkoop word. Ek hou my op ‘n afstand. Ek is nie goed om aggressiewe verkoopsvernuf suksesvol te weerstaan nie. Frikkie leer ken een van die locals.

 

‘n Reis van 315km bring ons by die waterberg. Die laaste sowat 25km is grondpad.

 

Waterberg

 

Die geriewe by Waterberg is goed. Warm water en krag. Die kampeerplekke is effens ongeorganiseerd. Dis moeilik om te weet wie het aanspraak op watter braaiplek, indien enige. Kort nadat ons lekker ingerig is, daag ons bure op, en ons hoor die een vrou verontwaardig: “En waar moet ons nou braai”. ‘Skies toggies, maar ons het toe klaar die braaiplek gevat, sien.

 

 

‘n Herero dame wie by die oord werk neem my en my vrou op ‘n begeleide toer deur die ou gebou, vertel bietjie van die geskiedenis, en vertel ook vir ons dat hulle kleredrag uit die Victoriaanse mode oorgeneem is. Dis net, toe die span in Engeland se modes aangepas het, het hulle verkies om te hou by hulle s’n.

 

Ek het nogals gedink hierdie dame is ‘n ongelooflike ambassadeur, nie net vir die plek nie, maar vir die land. Nadat ek so vier sinne in Engels gesukkel het, het sy oorgeslaan Afrikaans toe. ‘n Duitse toeris het sy ewe gemaklik in Duits aangespreek, en met Engelssprekende besoekers was sy ewe gemaklik. Boonop het sy sommer self aangebied om ons op die begeleide toer te neem deur die plek.

 

Waterberg is die toneel van verskeie veldslae. Eers het Hendrik Witbooi (die man wie se gesig op die Nam$ is) en sy Namas in gevegte met die Herero’s betroke gewees. Die Namas het van die Suide af getrek agter weiding en water aan.   Later het die Duitsers ook met die Herero’s oorlog gemaak. Hul kommunikasie was beter (heliograwe en dies meer) en het die Herero’s die onderspit gedelf. Daar is egter heelwat grafte van Duitse soldate wat spruit uit die tyd van hierdie gevegte. Die restaurant is ‘n pragtige ou gebou wat in 1904 nog gedien het as ‘n polisiestasie.

 

 

Binne is verskeie foto’s uit vervloeë dae.

 

 

 

Etosha

  

Die volgende dag reis ons die 330km Etosha toe.

 

 

Binne 5 minute vandat ons die kamp binnegaan stop ons by ‘n watergat waar ons omtrent alle sien. Gemsbok, Springbok, Vlakvark, Kameelperd, Zebra (daar is hier en daar ‘n Zebra en ‘n Springbok, sien) Blouwildebees, Kudu, Swartneus-impala’s, Jakkals. ‘n Trop olifante hang eenkant rond. Later jaag hulle almal uit die watergat en neem dit oor. Een jong bulletjie is heeltemal oorlams en jaag alles weg wat beweeg. Later kom ‘n groot bul wat steeds eenkant gestaan het en jaag weer almal uit die gat uit. Nou is hy alleen in die gat. Mens kom vinnig die orde van die voedingsketting agter.

 

 

Ons gaan meld aan by Okaukujo en ry daarna deur Halali toe om te gaan kamp opslaan. Lonely Planet se boek beskryf die kampeerplek as ‘n “dustheap”. Heeltemal reg, nogals. Hierdie was baie lank terug, ek vermoed dinge kon intussen verander het.

 

Die aand by Halali se watergat is ons gelukkig om verskeie kudu’s en renosters te sien. Daar heers daardie tipiese gewyde stilte. Nou en dan hoor mens ‘n waarderende, gedempte, “aaahh” van iemand. Totdat die stilte onderbreek word deur ‘n vyfjarige seuntjie wat kliphard ‘n wind laat. Nou nie so hard dat die renosters dit kan hoor nie, maar hard genoeg vir almal in die nabyheid om te hoor. Niemand sê iets nie, maar skielik lyk dit asof almal in ‘n bus sit wat op ‘n sinkplaatpad ry soos almal skud van die lag, maar ewe hard probeer om nie hardop te lag nie. Dis amper soos om in die kerk te probeer om nie te lag nie. Later lag almal maar, behalwe die vyfjarige seuntjie en sy ma (name word verswyg ten einde verleentheid te voorkom). Ek sê jou, gewyde oomblikke.

 

Met een van ons uitrye deur die park beland ons per ongeluk reg in die middel van ‘n leeu-jagtog. ‘n Groot maanhaar lê en wag dat 3 wyfies en ‘n mannetjie ‘n trop swartneus impala’s [dis hoe ek die prentjie in die handleiding verstaan] verbyjaag dat hy een kan gryp vir ontbyt. Net toe hy wil storm, egter, ry ek met die Venture tussen hom en die bokkies in. Eers toe dit te laat is sien ons wat aangaan. Ek gewaar die leeu oor my linkerskouer en skrik my melk weg, want dit lyk of die ou op die Venture afstorm. Maar die leeu hardloop agterom die Venture en probeer desperaat ‘n bokkie gryp, maar hy is te lomp oor die ronde klippe, en gee die stryd gewonne. Toe hy wegloop onthou ek eers van my kamera. Ek pluk dit uit, maar al wat oorbly om af te neem van die hele petalje is die leeu se stert. Ek neem toe maar sy stert af. Miskien glo iemand tog ons storie as ek die foto kan wys.

 

 

Mens misgis jou lelik met afstande in Namibië. Die lastigheid is dat jy beplan om net tot by Ai-Ais te gaan. Maar dan reken jy, jy is nou so naby, jy kan nou netsowel Duwiseb kasteel gaan kyk. Maar as jy eers daar is, dan kan jy netsowel deurhou Solitaire toe. Dit sal natuurlik simpel wees om daar om te draai, so jy hou maar deur Walvisbaai toe. En Swakopmund is net ‘n katspoegie verder, so jy kan darem nie nalaat om daar ‘n draai te gaan maak nie. En as jy eers in Swakop is, dan is Henties ‘n klein entjie aan. As jy nou op die kaart kyk, dan sien jy die Brandberg is nie te ver van ……. jy kry die idee. Uiteindelik eindig jou Ai-Ais kuier met ‘n draai in Etosha, terwyl jou mos nou in die omgewing is, verstaan.

 

So op hierdie manier besluit twee van ons gesinne ons wil Epupa valle toe. Daar is sprake van ‘n dam wat daar gebou gaan word wat sal maak dat die waterval daarmee heen sal wees.

 

Ons besluit dis nou of nooit.

 

PGJ

 

 

 

 

 

 

Oom Manus en die Portugese wyn

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

“Vrou, maak daar bietjie koffie, die Dienders is hier,” roep die oom na die kombuis se kant toe en beduie vir die twee polisiemanne van Vredenburg om op die opstal se stoep plaas te neem.  “Vaatjies wyn, seg julle? Daar’s nou nogals ‘n ding, né?  Nogals van die Lisboa af.  Mmm….”

 

Op 23 Oktober 1910 loop die vier maande oud Portugese staalskip, die Lisboa, op die rotse naby Paternoster. Op daardie stadium die grootste skip in die Portugese handelsvloot. Die 250 passassiers en 50 bemanningslede moes inderhaas skip abandaneer. Die skip het op ‘n rif gaan lê ‘n entjie see in, nie te ver van die plaas Trekoskraal nie.

 

Wagte is uitgeplaas op die strand om te keer dat mense nie kom aas wat op die strand uitspoel nie. Maar selfs wagte raak vaak, verstaan, en in elk geval, wie gaan tog nou in die nag op die strand kom rondloop om uitspoel goed te kom steel.

 

Wel, verskeie mense.

 

Sien, woord het vinnig versprei van die vaatjies Portugese wyn wat uitgespoel. Ongekontamineer deur seewater wat dalk die smaak kon bederf. So belangstelling was daar sekerlik. Dis nou net half lastig hoe mens die vaatjies daar wegry. Vir ‘n begin is daar die wagte. Jy druk nou nie eintlik ‘n wynvaatjie voor by jou broek in en loop fluit-fluit by die wagte verby nie. Tewens, jy kan nie eens die vaatjie optel nie, jy moet hom wegrol. En vir selfs ‘n ongeoefende oog is die spoor van ‘n gerolde vaatjie op die strand ietwat opvallend. En dan moet jy nog met jou buit die pad terugvind huis toe ook. So enige poging om Portugese wyn op die tafel te kry sou bietjie van ‘n innoverende poging verg.

 

Maar so kom die wagte een oggend agter daar lê spore van ‘n paar vaatjies wat weggerol is van die strand af, pad se kant toe. Maar daar het die spoor verdwyn. Die pad loop deur landerye en by Trekoskraal se opstal verby. So uiteraard is Trekoskraal die plek om met navrae te begin vir die geregsdienaar wat die diefstal van die wyn moes ondersoek.

 

“Nee, vrinne, ek sal my oge oophou vir booswigte wat met vaatjies wyn hier verbykom,” verseker die oom. Hy het gekyk, maar daar het niemand met ‘n vaatjie wyn verbygekom nie. Die ondersoek dossier is as onopgespoor afgesluit.

 

Later het die belangstelling in die Lisboa getaan en die verkeer na en van die toneel het verminder. Soos wat hierdie verkeer afgeneem het, is oom Manus van Schalkwyk se gaste toenemend getrakteer op lekker Portugese wyn.

 

Sien, Manus en broer Albertus was innoverende manne. Die plan het min of meer soos volg gewerk. In die donkerte is ‘n paar slote gegrawe in die wapad en in die braakland. Dan, met die wagte rustig aan’t slaap, het hulle vaatjies wyn op die strand gaan aas en dit weggerol. Dié is dan aangery na die slote en die slote toegegooi. Teen die tyd wat die son weer opkom, was die getuienis daar van baie wa-verkeer oor die pad met ‘n vreeslike klomp spore wat daar lê. Daar was ook vars aanduidings van ‘n gewoel in die land, maar die skielik opeenhoping van skape het dit onmoontlik gemaak om enige afleidings te maak.

 

So elke dan en wan is daar na behoefte nog ‘n vaatjie gaan opgrawe. Die buit, verstaan ek, het jare gehou.

 

 

PGJ

Visvang by Gourits – ‘n ware verhaal

Januarie 10, 2011 in Sonder kategorie

“O, jy’s terug! Het jy iets gevang?”

“Ja, nogals ‘n mooie.” HP haal sy visvang gery agter die bakkie uit.

“Nou wys, dat ons sien.”

“Nee, hy’s nie hier nie,” HP sit sy goed onder die gezibo neer.

“Wie’s nie hier nie?” effe oorbluf.

“Die vis,” verduidelik HP.

“Huh?” Dis nog nie baie duidelik nie.

“Ek het bietjie gesukkel,” HP gaan sit op die kampstoeltjie teen die tent. “Eers het die water my bietjie onkant gevang, toe moes ek hoër opskuif teen die sand op.” Hy steek ‘n sigaretjie aan. “Toe sien ek daar gaan my aasbox, see toe.”

Ek gaan sit ook. Ek is nie ‘n visserman nie, maar herken ‘n storie as ek een hoor.

“Toe druk ek inderhaas my stok in die sand en en hardloop agter die aasbox aan. Gelukkig kry ek hom darem voor hy af is diepsee toe. Al my aas was daarin.”

Maak sin, dis waarvoor ‘n aasbox daar is. Dis immers nie die tipe ding wat jy in jou broeksak druk nie.

“Maar ek vang toe ‘n mooie, man.” HP beduie hoe mooi. Ek sien dit is ‘n mooi vis soos wat hy nou beduie, verstaan. “Nou’t ek die vis neergesit, en wraggies, daar gaan my aasbox alweer af met ‘n simpel brander. Ek los weer alles en hol agter die aasbox aan. Gelukkig het hy nie dié keer ver gekom nie. Maar ek is nog nie terug by my stok nie, toe sien ek hier sak ‘n seevoël af op my vis. Ek gooi die wetter met die aasbox. Die voël los toe my vis, maar my aas is toe nou nie meer in die box nie. Toe moet ek nou eers weer die stukke aas by die sand uitsoek.”

HP se vrou het intussen ‘n koffietjie vir ons elkeen gemaak.

“Anyway, ek dog toe ek gaan nou liewer die vis begrawe dat die seevoëls nie daarby uitkom nie. Daarná het ek nog ‘n paar gevang, maar te klein, so hulle is almal weer terug see toe, ek het mos darem gelukkig ‘n mooietjie al gekry, reken ek. Maar met dié dat van my aas in die sand geval het, toe raak my aas bietjie gou op. Dis dié dat ek so vroeg terug is.”

Agtuur die oggend is vroeg om terug te wees van ‘n visvang by Gourits, ja.  Die bure staan ook intussen nader om te verneem hoe suksesvol die visvangery was.

“Met dié wat die water gemaak het dat ek ‘n paar keer moes versit het, toe weet ek nie meer lekker waar my vis begrawe is nie.”

“Oohhh,” koor die omstanders. Dis sommer ‘n liegstorie hierdie.

“Nee, genuine, ek kry toe my vis met bietjie moeite, maar die ou is mos nou van die sand. Toe gaan spoel ek hom af.”

“Nou waar is die vis?”

“Nee, sien, ek het die vis so in die een hand, en ek was hom af met die ander hand. Die volgende oomblik toe kom daar ‘n groterige brander en hy slaan die vis uit my hande uit. Woeps, weg! Al die moeite verniet.”

“? Uuhm…. OK, so … wat braai ons dan vanaand?”

“Seker maar weer ‘n hoendertjie, of hoe?”

PGJ

Namibië toertjie – Hoofstuk 1

Januarie 9, 2011 in Sonder kategorie

 

Namibië – Julie 2000

 

[Aangepaste weergawe hiervan gepubliseer in Leisure Wheels, November 2010]

  

Grenskruising

Ons maak die strategiese fout om die dag na die skole gesluit het van die Kaap af te vertrek vir ‘n Namibië toertjie. Die hele Kaap dam by Vioolsdrif op. Amper soos ‘n plattelandse kerkbasaar, net nog baie meer karre.

  

Ek moet sê, ons het ook bietjie verkeerd begin. Toe ons konvooi van drie voertuie by Vioolsdrif aankom toe staan daar al ‘n tou van langer as ‘n kilometer. Soos wetsgehoorsame burgers parkeer ons agter in die ry, haal ons toebies uit en begin middagete eet. Mettertyd kom ons agter dat die tou nie beweeg nie. Toe sal ons agterkom dis nie hoe dit werk nie. Jy moet die kilometer vorentoe voetslaan, en daar agter in ‘n voetgangertou gaan inval. En die ouens is nie so vriendelik soos wanneer hulle toustaan vir basaar poeding nie.

  

Die son brand ons vir die meer-as-‘n-uur wat ons daar toustaan. Frikkie reken dit was ‘n simpel plan om sy bakkie te diens vóór die vakansie. As hy geweet het ons gaan so lank in die tou staan dan het hy sy bakkie hier kom diens terwyl hy wag. Frikkie doen sulke dinge. Na ‘n uur is ons darem deur die Vioolsdrif grenspos.

  

  

Aan die Namibiese kant is ons nou bietjie slimmer. Ons het nog nie behoorlik stilgehou nie, toe spring die helfte al uit die voertuie uit om ‘n goeie staanplek in die tou te kry. Maar nee, hier werk dit net mooi anders. Die Namibiese verkeersbeampte wie sake daar reël jaag almal terug – hier moet jy by jou motor wag tot dit jou beurt is. Algaande leert men.

  

Aan die Noordoewer kant is daar nie ‘n rekenaar nie. Die vorms word per hand ingevul, en die hele toestroming word deur 2 beamptes hanteer.   Die uitgaande stroom (nie-bestaande) word ook deur 2 ledige beamptes hanteer. Maar hulle help nie met die in-stroom nie, net met die uit-stroom. Dus wag ons ‘n verdere 2 ure plus in hierdie tou voordat ons uiteindelik op pad is.

  

Uiteindelik is ons op pad.   Ons stel ons horlosies een uur terug in ooreenstemming met Namibië tyd. Met wat lyk na sowat ‘n uur se sonlig oor pak ons die pad aan Ai-ais toe. Ongelukkig word die son nie ook ‘n uur teruggehou nie.   Sowat 30 km voor Ai-ais vang die donker ons.   Ons arriveer in Ai-Ais in die donker en na 850km op die pad. Ons probeer ‘n kampplek kry, maar die plek is tjok-en-blok vol. Al daai ouens wie voor ons in die tou gestaan het by die grenspos het toe voor ons hier ook opgedaag.

 

  

Ai-Ais se geriewe is nog nie heeltemal herstel na ‘n groot vloed wat hulle gehad het nie. Orals staan kabeldromme, grondverskuiwingsapparaat en diese meer.  

 

Daar is nou ook minder kampplekke as gewoonlik.   Dié met daktente staan sommer in die pad gekampeer. Nadat ons die hele plek platgeloop het gate-crash ons daar op ander ouens se persoonlike ruimte en slaan ons 3 tente daar op. Frikkie parkeer sy bakkie so dat niemand anders op ons persoonlike ruimte kan inbreuk maak nie, en ons ook nie kan vas parkeer nie.

  

Die volgende dag begin die kamp leeg te loop. Dit kom voor asof toeriste dit net as ‘n intree-staanplek gebruik het voordat hulle die res van Namibië aanpak. Ons ontmoet die motorwerktuigkundige van Grunau, wie ontbied is om aan ‘n Stellenbosser se nuwe Toyota Land Cruiser te kom werk. Ons gesels oor bande en so. Die man sê hy het ook eers met Dunlop gery.   “Dan lop hy hie, dan lop hy da…” reken hy.

  

  

Na twee nagte by Ai-Ais is ons reg vir die res van ons reis. Ons is douvoordag op (nie moeilik nie, in ag genome dat ons al die vorige aan teen 20h00 gaan slaap het) en ruim die kamp op.   Die motorwerktuigkundige is nog nie daar teen die tyd wat ons vertrek nie, en ons vertrek sonder Frikkie se v-belt.

 

Colin het twee aande gehad waarin hy ure kon spandeer om nuwe planne te bedink waar om sy plastiek tafel agter in sy bakkie te herrangskik om nie so in die pad te wees nie. Hierdie was ‘n oefening wat Colin vir die res van die toer feitlik elke dag sou herhaal. Ek kan rapporteer dat hy toe nooit ‘n bevredigende oplossing vir sy in-die-pad tafel kon kry nie.

 

Eers ry ons na die uitkykpunt van die Visrivier canyon.   Ons neem die nodige ‘been-there-dunnit’ foto’s soos gewoonlik op poskaarte pryk, waarna ons in die pad val vir Hardapdam.

 

 

In ons beplanning het ons gereken dat, ter wille van die kindes, ons nie te lang stuke op ‘n dag wou reis nie. By heroorweging sou dit egter ‘n beter plan gewees het om deur te ry Windhoek toe. Vandag se trip Is net 520km tot by Hardap, eerder as die 770 km Windhoek toe.

Ons volg die gruispad Seeheim toe. Die Visrivier kruis die pad kort voordat ons die Luderitz-Keetmanshoop teerpad kry. Daar is water in die rivier.

Ons parkeer agter die Spar op Keetmanshoop in die koelte. Tyd vir ons middagete-toebies. Skielik daag twee locals op en kom skend ons persoonlike ruimte blatant ernstig. Hulle stap ongepoets binne-in ons kring in, en kyk voorbarig wat ons eet.   Frikkie en Colin staan nader, maar voor hulle tot enige aksie kan oorgaan daag die plaaslike ‘car-watch’ op tot ons redding. Met groot gebaar jaag hulle “die Wambos” weg en onderneem om ons veiligheid te verseker. Ons is nie mooi seker of die hele oefening dalk so beplan is, en of hulle werklik tot ons hulp gekom het nie. Die res van ons ete verloop verder sonder voorval.

Ons arriveer laatmiddag by Hardapdam. Die dam is spieël-glad. Ongelukkig is al die gras-staanplekke reeds geneem, en ons slaag ons tente op in ‘n stofhoop. Duwweltjies vir Afrika. Die krag ‘trip’, en derhalwe is daar nie lig of warm water nie.

Dis koud, en die gerieflikste plek is maar in jou bed. Ons gaan slaap vroeg.

Die volgende oggend vat dit ‘n tydjie om die duwweltjies uit my anchovie-net te kry wat vir ‘n grondseil diens doen.   Op pad Windhoek toe doen ons aan by die Kalahari Bar, die vermaaklikheidsentrum van die Kalkrant Hotel. Ons het moeite om die plaaslike ruitwassers van ons voorruite af te hou.

 

 

PGJ

 

Vade Kithmith itthie liefimy nie!

Januarie 8, 2011 in Sonder kategorie

By Gouritsmond karavaanpark is die stranddiensspan dikwels die plaaslike agent van Kersvader.  En meer dikwels dan nie is ‘n Nissan bakkie die voorkeur ryding van Kersvader, eerder as ‘n slee.  Wat eintlik vreemd is.  Ek meen nou maar, daai plek is soortvan Ford wêreld.  Elke tweede ou ry ‘n Ford Tuner, alhoewel hulle aandring daarop dat dit eintlik Toyota is.

Ieder geval, hoe dit werk is dat die borg, wie nou maar tipies moeder en vader sal wees, gaan lewer vroegmiddag die persente af by die aandeduide plek, en teen laatmiddag kom Kersvader met sy gevolg daar aan en deel die geskenke uit.  Dit werk heel goed, en hierdie jaar was geen uitsondering nie.

Laasjaar, egter, was dit effe anders.

Kersvader daag op met blêrende bokke … nee, sorrie, ek meen met ‘n blêrende toeter daar aan.  Die opwinding is tasbaar, met die kindertjies wat grootoog, sommige omtrent bewend van afwagting, sit en wag vir die persente om uitgedeel te raak.

Ek let hierdie een dogtertjie op.  Grootoog.  Opgewonde.  Maar soos wat Kersvader se Nissan al leër raak so verander haar  gesigsuitdrukking van afwagting na angs.  Totdat Kersvader om hom kyk om seker te maak  die bakkie is leeg, en opdrag gee dat sy designated driver  maar weer kan vertrek.  Sonder dat sy iets gekry het.

Die volgende oomblik spat daai traantjies omtrent in ‘n boog soos sy huil.  Moontliik was hulle nuwe kampers en het haar ma en pa nie die vooraf delivery by Kersvader se agent gaan doen nie.  (Of dalk glo hulle net nie in Kersfees nie).   Die dogtertjie se ouer sussie kom tot haar redding en begelei haar na hulle tent toe.

Hulle trek al doer, toe hoor ek nog sy protesteer:  “Kesvade itthie lieffiemy nie!” terwyl sy hartstogtelik huil.

PGJ   

Van alarms en al daai

Januarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Gouritsmond, 2010.  Drie weke lank.  Slegte weer.  Bewolk, soms reën, dikwels koud.  Drie keer gaan swem in drie weke se tyd.

Nee, ek kla nie, ek meen nou maar net om ‘n opsomming te maak.  Ek is heel tevrede om in my karavaan te lê en lees as dit koud is of reën.  Deesdae is dit makliker, maar voorheen was ‘n trip af strand toe nes werk.

Eers moet jy drie kindertjies bymekaarmaak en in hulle swemklere kry en insmeer teen die groot brand.  Halfpad deur die proses kom ‘n maatjie verby wie ook wil saam gaan.  “Gou my ma gaan sê, oom.”  Nou moet daai een ook eers natuurlik deur die hele oefening gaan van swemklere aantrek, ingesmeer, “luister virrie omie,” en dergelike instruksies.  Dan nes jy op pad is dan kom nog ‘n maatjie agter hier word see toe gegaan, dan begin die proses van voor af.  So min of meer 50 minute later (op ‘n goeie dag) dan is jy uiteindelik met die hele prosessie af see toe.

Vir drie weke van die jaar sluit ek nie ‘n deur nie, ek stel nie ‘n alarm nie, ek sluit nie eens my kar se deure nie.  Die kinders loop in die kamp en in die dorp se strate rond sonder dat ek skelmpies agterna loer om te keer dat ‘n booswig hulle nie bykom nie.  Ek mind nie vir slegte weer nie, alhoewel ek nogals verkies om nie die park te moet ontruim vir ‘n veldbrand, of winde wat gust tot 90km/h hoef te trotseer nie. 

Dan is ek terug by die huis en ek loop my vas in 37ºC se weer vir dae aaneen.  Saans stel ek die alarm en maak vensters toe by plekke waar die alarm nie so mooi bykom nie, ten spyte van die hitte. 

Ai, hoe mis ek nou Gouritsmond se slegte weer!

PGJ