Richtersveld toertjie – Hoofstuk 1

Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n Afrikaanse weergawe van die storie op my ander blog.  So vir ingeval Engels nie heeltemal jou ding is nie kan jy sommer hier verder lees.

 

Voertuig

 

Ná ons Namibië toer het Frikkie besluit ons moet die Richtersveld gaan besoek. Ek het aanvanklik beplan om die toer met my Venture te doen. Maar ek het gou besef ek is ‘n senuweeagtige reisiger as die terrein bietjie rof raak. So dalkies moet ek ‘n voertuig kry wat beter geskik is vir veldry. Frikkie het voorgestel ek leen sy swaer se baie ou Mahindra, hy sal my drie dae voorsprong gee vir reistyd. Dit het nie heeltemal soos ‘n gawe plan geklink nie. Na baie rondsoek kry ek toe ‘n 1998 Colt dubbelkajuit bakkie. Maar eers moet ek my Venture verkoop. Dit neem ‘n paar dae, maar ek kry darem ‘n billike prys. Ek kontak die handelaar om te reël dat die Colt met ‘n trok van Gauteng af Kaap toe gestuur word, net om te verneem die Colt is intussen aan iemand anders verkoop.

 

Dus begin die soektog na ‘n 4×4 van voor af. Uiteindelik kry ek ‘n ex-car rental Mazda Magnum dubbelkajuit. Goed, have 4×4, will drive. Ek is nog steeds ‘n senuweeagtige reisiger, maar ek is darem nou beter toegerus vir die toertjie.

 

Kaap na Port Nolloth

 

So breek Julie 2001. Ons en Frikkie ry uit die Kaap uit, met Pieter en sy gesin wat by De Hoop by ons sal aansluit.

 

 

Ons en Frikkie-hulle daag die namiddag by Port Nolloth op en besluit om sommer daar te oornag. Ons huur ‘n huis in MacDougalsbaai vir die nag met ‘n toesluitmotorhuis. Die rede daarvoor is oor my nuwe tweedehandse bakkie ‘n klep gebrand het. Dié is herstel, maar nou moet die bakkie se top presies 1000km later ge-retorque word. Dis nou net mooi sulke tyd, en Frikkie is die ou wat daai dinge kan doen. En ek kan mos vir hom die spanners aangee.

 

 

Vroeg die volgende oggend is ek en Frikkie op om die enjin te gaan retorque.   Dit werk toe omtrent soos die storie van “in die bos is ‘n huisie, in die huisie is ‘n kamer, in die kamer is ‘n kas, in die kas…..” en so aan, en uiteindelik, as jy alles afgehaal het dan kom jy uit by die boute wat retorque moet word.

 

Ek kyk in bewonderende verstomming wat Frikkie doen. Ek meen, ek ry nie eens met ‘n fiets as ek self aan die fiets se remme gewerk het nie, man. Nou en dan gee ek ‘n spanner aan, wat ek gewoonlik met die derde probeerslag korrek identifiseer as die verlangde ene.

 

Sowat 2-en-‘n-half-uur later is ons klaar. OK, OK, Frikkie was klaar. Alles is weer teruggesit van die pullie en alternator tot die tappet covers. Ek het nie ‘n clue wat dit is nie, maar dit klink so geleerd om dit te vertel, sien. ‘n Paar weke later, egter, met die nagaan van die notas in my dagboek van die instruksies wat ek by die garage gekry het kom ek agter dat ons die retorque op die Voetpond lesing gedoen ipv op Newton meter – dus was die hele oefening nutteloos. Ek is inderhaas af garage toe dat hulle dit weer kon doen. My fout, nie Frikkie s’n nie.

 

Port Nolloth na De Hoop

 

Ons ry deur Alexanderbaai waar ons petrol ingooi. Daarvandaan vort na Sendelingsdrift toe. Kort voor mens by die hek kom is die Wondergat. ‘n Veertig meter diep sinkgat. Dis ‘n senutergende gat om met kinders te besigtig, want daar is niks wat keer dat jy inval nie. Dis nou nie so groot soos Kimberley se gat nie, maar jy sal maar sukkel om daar uit te kom as jy inval en jy oorleef dit.

 

Die son begin bak, en ek kom agter die bakkie se lugversorger werk nie. Dit het later geblyk net ‘n fuse te gewees het, maar eers toe ek by die huis gekom het aan die einde van die toer.

 

Na al die formaliteite by Sendelingsdrift en tap ons petrol teen R4-20 per liter. Toe het ons gedink dit is duur. En uiteindelik, na ‘n jaar van beplan en uitsien, is ons in die Richtersveld Nasionale Park.  My eerste regte 4×4 uitstappie.

 

Dit is hier waar die halfmense groei. Maar van elke keer wag vir ‘n beter foto is ek toe uiteindelik deur die hele Park sonder ‘n foto van een!   Dis nou van spaarsamig probeer wees met film in die pre-digitale era!

 

By De Hoop kampeer heelwat mense, maar gelukkig het jy ‘n hele paar kilometers se rivier om van te kies. Die son sak baie vroeg agter die berge. Alreeds in skaduwee gehul slaan ons kamp op.   Met laaste lig daag Pieter-hulle ook op. Nou is ons toergroep voltallig.

 

***

 

Die volgende dag verken ons bietjie ons omgewing. Die nodige sanitasie-reëlings moet getref word. Ons het nogals gewonder oor die vreemde vierpotige toestel wat Frikkie op sy dakrak gehad het. Dit blyk die metaal vierpoot sitraam van ‘n plastiek stoel te wees, maar sonder die plastiek-gedeelte. Die boonste rante is met ‘n (growwe!) mat bedek is vir ‘n sagte(r) sit. Frikkie se eie-gemaakte porta-pottie.   Van tyd tot tyd sien jy iemand wegraak, porta-pottie in die hand, toiletrol aan die poot vas, graaf oor die skouer.

 

 

By geleentheid het ek self ook die toestel benut. Mettertyd, terwyl ek nou so daar sit minding my own business, kry ek die gevoel ek word dopgehou. En wrintiewaar, ja, ‘n spannetjie apies spring van boom tot boom en gaan sit in ‘n ry en hou my dop. Dis natuurlik die geriefie wat hulle so interesseer. Of dalk amuseer. Man, ek is seker ek het een van die apies hoor sê:  “Hey check daai larnie levvie, ek sê“. Maar ek kon ‘n foutjie gemaak het.

 

***

Daar loop ‘n pad vanaf De Hoop na die Tatasrivier piekniekterrein en Richtersberg langs die rivier af. Rigting Suid.   Dit is 10km se poeierstofpad. Daar is ook ‘n langer ompad van sowat 45km daarnatoe. Ons besluit op die kort sandpad.

 

 

Poeiersand! Dis baie opwindend vir die bestuurders, maar vir die res van die geselskap is dit meer ‘n oefening om stof uit hul oë en neuse te probeer uithou. Nadat ons dus piekniek gehou het by Tatasrivier se kampterrein (‘n abolute lafenis-plek) word met ‘n meerderheidstemming besluit dat ons die langpad van Tatasrivier af gaan terugry De Hoop toe. Een van die oorwegings was die feit dat my vrou toe net mooi 8 weke swanger is, en karsiek bietjie van ‘n lastigheid is in rowwe omstandighede.

 

Dit laat my met ‘n probleem dat ek nog nie die “been there, dunnit” foto van my en my bakkie in die poeiersand het nie. Ek en Pieter ry dus en gaan soek ‘n lekker sanderige kol om die nodige foto vir rekord-doeleindes te neem. Dit kry ons nie te ver van waar ons piekniek hou nie. Pieter neem stelling in langs die pad met my kamera, en ek kom soos ‘n macho viertrek-spesialis aangery deur die stof. Die beste deel van die toneeltjie (vir my) was toe Pieter wegraak in die stofwolk toe ek weer langs hom stilhou.

 

 

Iewers in die middel van die Richtersveld Nasionale Park hou my bakkie se afstandbeheer op werk. Die batterytjies is pap. Maar gelukkig het die bakkie ‘n by-pass sok bedoel vir sulke geleenthede. Maar nee. Dit blyk met die laaste werk wat by die motorhawe gedoen is hierdie sok iewers agter die dashbord geinstalleer is – buite sig en buite bereik. Na ‘n paar benoude oomblikke vis Pieter ‘n stelletjie ou batterytjie uit sy glove-box, en siedaar, ons is weer op pad. Terwyl die benoude sweet my egter uitslaan laat Frikkie na om my in te lig dat hy toe al klaar uitgewerk waar hy ‘n paar drade kan short om die immobiliseerder te pypkan.

 

 

 

 

Kort voor De Hoop hou ons stil by Josef. Hy is ‘n bokwagter, en is op pad na sy kraal toe met twee pasgelamde bokkies in sy rugsak. Josef vertel hy was al op die TV ook gewees. Hy is redelik dorstig. Ons deel water, neem foto’s en is weer op pad.

 

 

Deel 2 volg

 

3 antwoorde op Richtersveld toertjie – Hoofstuk 1

  1. TS het gesê op Januarie 31, 2011

    lekker gelees Dankie

  2. Dankie vir die deel hiervan…was vir nr 2!

  3. Het lekker gelees! Wanneer kan ons deel 2 verwag?? Ek sien uit daarna!

Los ’n antwoord vir loudavisi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.