Interessante tye

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend het ek op die kampus by een van ons plaaslike institute van uitnemende tersiêre onderrig gaan rondhang.  My seun moes daar wees vir inskryf en almal daai goete.  Alles het mooi verloop, verbasend vinnig.  En as dit nie was vir ‘n rekenaar-haakplek nie kon ek teen 10h00 kant en klaar gewees het. 

Dit was interessant om die studente te kyk.  My waarneming is dat die dames redelik opgedress het vir die okkasie, terwyl van die mans lyk of hulle uit hulle pad uit gaan om so verslons as moontlik te lyk.  Ja, OK, dis veralgemeen en subjektief, maar ek het darem ‘n uur tyd gehad om observasie te hou. 

Verrigtinge neem in aanvang waar my seun alfabeties saam met ‘n klein groepie in klas ingedeel word om die vorms te kry, seker te maak dis reg, dit te teken en so aan.  Die instrukteur beduie mooi, soos vir kindertuin kinders.  Selfs ek verstaan wat hy sê.  Ietwat laat kom ‘n dametjie ingestap.  Hare in rasta-styl gebind, mooi aangetrek, pers toon- en vingernaels, Afrika oorbelle.

Sy kom neem agter my plaas, ons sit nou so half skuins met ons rûe na mekaar toe.  Sy’t haar vorm gekry, dit onaangeraak langs haar neergesit.  Toe haal sy haar raakskerm selfoon uit en begin Facebook daarop.  Toe sy klaar ge-Facebook het, toe haal sy haar pen uit en teken ‘n prentjie op die tafel waar sy sit.  Toe vat sy haar goed en sy loop.  Na sy weg is het ek gaan kyk net om seker te maak dis nie dalk ‘n Picasso tipe tekeninkie wat dalk baie werd gaan wees oor ‘n paar jaar wat sy daar geteken het nie, maar helaas nee, my stokmannetjies kan kers vashou.

Ek skat daar lê ‘n interessante paar jaar voor.

PGJ

6 antwoorde op Interessante tye

  1. louisna het gesê op Januarie 26, 2011

    Jou seun gaan die paar jaar in die “blomparadys” geniet, soos my jongste.

  2. Huppel en sy maats…

  3. Is dit nou galgehumor, of wat?

  4. TS het gesê op Januarie 26, 2011

    vreemd voorwaar… sterkte en nogmaals geluk met die jongeling

  5. louisna het gesê op Januarie 26, 2011

    Pragtig. Ek pos netnou ‘n stukie oor die onderwerp op die stoep.

  6. Dalk ‘n ietwat premature opskop?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.