Namibië toertjie – Hoofstuk 4

Januarie 22, 2011 in Sonder kategorie

 

Van Epupa af terug huis toe

 

Die terugtog van Epupa af is baie meer ontspanne. Ek weet nou wat om van die pad te verwag, en ek het nog geen pap wiel nie. Wat beteken dat ek nog twee spaarwiele beskikbaar het vir sodanige gebeurlikheid.

 

Nadat ons weer op Opuwa petrol ingetap het reis ons verder. Ek gaan lewer Jörgen se spaarwiele vir hom af. My spaarwiel lê reggemaak en wag vir my. Binne ‘n halfuur is ons weer op pad. Khorixas toe.

 

Ons misgis ons bietjie met die afstand. Die donker begin ons vang, met ‘n wesenlike Kudu-gevaar. Ons sien een voor sononder. Die bordjie wat moet sê Khorixas is nog 10 km weg sê egter dis nog 40km. My vrou vererg haar vir die bordjie en dring aan dat ons stop. Sy gaan sit in die middel van die pad om af te koel.

 

So ‘n halfuur na sononder kom ons in Khorixas aan. Colin-hulle is reeds daar, en halfpad met kosmaak. Ons kry die enigste oorblywende stukkie gras in die karavaanpark. Dit was ‘n uitputtende meer as 11 ure se ry aan 580 km.

 

Die karavaanpark is in ‘n uitstekende toestand. Ons bestel wegneem-etes by die restaurant.

 

Weskus

 

Die volgende dag mik ons Langstrand toe, tussen Walvisbaai en Swakopmund.  Frikkie is steeds op sy eie vandat ons hom in Etosha agtergelaat het.  Van Khorixas af is Colin ook in sy eie rigting in, maar die afspraak is om mekaar weer by Langstrand se karavaanpark te ontmoet. 

Ons ry verby die Brandberg waar dié ‘n ent weg na die Weste van die pad lê, maar nou is ons bietjie haastig en besluit om nie daar in te draai nie.

 

Toe ons Hentiesbaai in die oog kry besef ek en en my vrou maar net weer: ons is eintlik see-mense. Nee, dis te koud om in te swem, ons hengel nie, niks nie. Ons wil dit kan sien en hoor, en met ons voete op koue nat sandstrand kan stap.

 

Dis ‘n blye weersiens om die ander manne by Langstrand te kry.  Ons ruil stories uit van pap wiele en stukken coils en al daai.

 

Ek en my vrou gaan doen weer ons gunsteling tydverdryf en gaan drink koffie op die stoep van die Strand Hotel by die promenade. Daarna besoek ons die museum. Dit spaar ‘n klomp moeite, want daar kan ek sommer ‘n foto neem van ‘n afbeelding van die Brandberg se Wit Vrou om by my foto van die Brandberg te liasseer!

 

 

Ons het stukke hardboard by die hardeware winkel in Walvisbaai gekoop, en gaan doen ‘n bietjie duinry. Ons takel sommer die eerste beste duin wat ons kan kry. Dit vat ‘n tydjie voor ons besef die idee is om die kerswas wat jy aansmeer weer af te poets voordat die bord glad word. Maar ons kry die idee.   Dit ry duin dat die byle huil! Groot pret.

 

 

Teen die aand begin ek en my vrou beide besef dat hierdie styl van duinry nie medies aangedui is vir almal nie. Ons sukkel beide met kwaai laer rugpyn. Miskien moes ons gelê het, eerder as gesit het, op die borde.

 

Waarnemings

 

Dis vreeslik irriterend om te luister na ouens wat drie weke in Suid-Afrika besoek afgelê het en hulleself dan beskou as bevoeg om te adviseer hoe Suid-Afrika sy probleme moet oplos. ‘n Besoek aan ‘n land laat jou bloot net met ‘n te oppervlakkige waarnemings.  Baie bewus daarvan maak ek die volgende waarnemings oor Namibië.

 

My persepsie is dat, selfs van nog voor Namibië se onafhanklikwording, rasse-verhoudinge meer gemoedelik is as in Suid-Afrika. Dit mag te doen hê met die feit dat daar reeds vir elf jaar voor onafhanklikheid nie meer apartheid in Namibië was nie. Die sowat 1,8 miljoen mense in Namibië is natuurlik ook ‘n fraksie van die bykans 50 miljoen in Suid-Afrika, met minder druk op hulpbronne.

 

Dis nie asof daar nie misdaad is nie. Die roldraad en hoë heinings in Windhoek is stille getuienis daarvan. Iemand sal waarskynlik heel geneë wees om die klere van jou lyf af te steel in Windhoek as jy lank genoeg wil stilstaan daarvoor. Maar ek kry die indruk dat die kanse minder is dat iemand noodwendig jou keel daarvoor gaan afsny. 

 

  

Die lang pad huis toe

 

Ons keer huiswaarts deur die Namib Naukluft park. Ons probeer petrol tap by Solitaire, maar die pompe is droog.  Ek verstaan daar is nou weer petrol.

Vandaar mik ons na Sesriem. By Sesriem se afdraai kry ons ‘n buitelander wat die land op ‘n fiets deurkruis. Stoksielalleen. Op sy versoek neem ek ‘n foto van hom met sy kamera terwyl hy in die pad afry. So ‘n “into the sunset” tipe van foto, behalwe dat die son nog hoog sit.

By Sesriem kry ons petrol.

 

Sossusvlei het water, verneem ons. ‘n Rare gesig wat gesien móét word. Maar gister se duine ry en die gevolglike rugpyn wat ek en my vrou ervaar laat ons besluit om verby te hou.  Teen die tyd wat ons by Sesriem kom het my vrou haar op die agersitplek gemaklik probeer maak in ‘n poging om ‘n posisie te kry waar haar rug minder seer kan wees. Ek self skuif ook maar rond agter die Venture se stuurwiel op soek na daardie ontwykende posisie waarin my rug dalk minder seer mag wees.  Ons sien bloot nie kans om dalk die Venture deur dik sand te moet stoot op pad Sossusvlei toe nie. Ons hou dus deur Maltehoë toe, terwyl Frikkie en Colin en hul gesinne die pad aandurf Sossusvlei toe. Iets wat ons natuurlik onsself later oor sou skop nadat ons hulle fotos gesien het.

 

Maltehoë

 

Ons doen aan by die Pappot op Maltehoë.

 

Hulle het kampeerplek, en ook ‘n kamer wat baie billik geprys is. Ons wil die kamer bespreek ter wille van ons seer rûe, maar Mannetjies verduidelik dat daar nou pas ‘n buitelander op ‘n fiets 3 dae lank in die kamer gebly het. Daar moes ietsie fout gegaan het met sy kosmakery, met die gevolg dat die geur in die kamer dit vir die oomblik ongeskik maak vir menslike bewoning. Ek vertel vir mannetjies van die buitelander op die fiets, en spreek my kommer uit oor die goeters wat mens kan oorkom so op jou eie op ‘n fiets in die verlatenheid.  Mannetjies stem saam, maar met ‘n stemtoon wat dit meer na ‘n wens laat klink as ‘n besorgdheid.

 

 So slaan ons dus toe maar weer tent op en wag vir Frikkie-hulle om op te daag. Colin is weer sy eie koers in.

 

Motorprobleme

 

Vroeg die volgende môre val ons in die pad terug huis toe. Negentig km van die SA grens af staan Siegfried en sy gesin met ‘n linkerhandstuur Ford Explorer.

 

 

Hulle het so pas ‘n band verloor. Dié is darem met ‘n gelapte spaarwiel vervang, maar die Explorer wil nie start nie. Die Explorer het ‘n veiligheidsmeganisme wat die petrolpomp uitsny as daar ‘n harde slag is, om brand te voorkom. ‘n Nota op die enjin sê die petrolpomp moet net ge-reset word, en dat jy die eienaarshandleiding moet raadpleeg. Geen probleem nie, buiten dat Siegfried nie so ‘n boekie saam met die tweedehandse Explorer gekry het nie. Na sowat ‘n uur gee ons op en besluit om die Explorer verder te sleep. Dis egter ‘n outomatiese voertuig, so eers spring die eienaar se handige seuns onder die voertuig in om die dryfaste te ontkoppel. By Vioolsdrif het ons weer selfoonontvangs en kan Siegried die motorhandelaar bel wie verduidelik waar die reset knoppie druk. En siedaar, die Explorer loop weer.

 

Home, James, home, and don’t spare the horses…

 

Ons vertrek eers na 5 die middag by Vioolsdrif. By Vanrhynsdorp neem ons afskeid van Frikkie en sy gesin. My vrou reël ‘n bottel koffie by die restaurant om ons wakker te hou.   By Olifantsdam hou ons stil, drink koffie en hardloop ‘n paar keer om die kar om wakker te word. By Citrusdal hou ons stil, drink koffie en hardloop om die kar. By Moorreesburg haal ons die Explorer in – met al ons stop, koffie drink en om die kar hol het hulle ons al verbygesteek.

 

Om 00h15 toet en flikker ons afskeid van Siegfried-hulle by die Durbanville afdraai. Om 00h45 is ons tuis. Om 01h00 slaap ons. Vas.

 

TOER STATISTIEKE:

 

Afstand afgelê:             5820 km

Liters gebruik:               611

Brandstofverbruik:         9,5 km / liter (Toyota Venture 2.2 GLE)

Nagte oorgeslaap:         14

Tent opgeslaan:             9 keer

 

 

 

3 antwoorde op Namibië toertjie – Hoofstuk 4

  1. TS het gesê op Januarie 22, 2011

    aaaagggg… ek is skoon jammer dis verby!

    Dit was nou voorwaar ‘n lekker lees.

  2. Vetjan het gesê op Januarie 22, 2011

    Mooi vertelling. Dankie.

    Een van my moeilikste trips ooit was ‘n volmaan nagtrip met 2 bakkies tussen Windhoek en Opuwo. Ek voor en Blommekind(toe 21) agter die wiel van die 2e bakkie.

    http://blogs.litnet.co.za/petruspap/blommekind

    http://blogs.litnet.co.za/petruspap/jesus-ontmoet-die-himbas

  3. Nice storie. Lekker gelees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.