As die see gryp

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Kleinbrak se strand, tien jaar gelede. Ek dink dis Kleinbrak. Ek raak altyd deurmekaar met Kleinbrak en Grootbrak. Anyway, die ene Mosselbaai se kant van Rheebok.

Ons het net na 18h00 die middag by die strand opgedaag. My vrou was hoogswanger en het met haar niggie op die strand sit en gesels.

 

Ek en my oudste, toe 9 jaar oud, is water toe. Ek reken toe dis ‘n gawe tyd om hom die basics van body surfing te leer. Nie dat ek eintlik mooi weet hoe nie, maar ek weet darem op daardie stadium nog beter as ‘n nege-jaar oud.

 

Ek maak seker ons bly redelik vlak, en dat daar altyd ander mense dieper in die water is as ons. Die backwash trek baie sterk, maar die volgende brander spoeg jou darem weer uit. So ry ons branders, en as jy so halflyf in die water kom skop jy met jou tone in die grond vas om te bly staan teen die backwash, en dan gaan soek jy die volgende brander.

 

Dan ry ons weer ‘n lekker brander uit strand toe. Ek trap vas op die grond om te keer teen die backwash, maar net my tone raak. Ek besef ek is te diep en die water te sterk. En dan, soos ‘n magiese hand, gryp die water net vir my en my seun tussen die mense uit, en daar gaan ons, see in. Ons is letterlik in die middel van ‘n ry mense gewees, en net ons twee is weggevat. Vreemd.

 

Agterna het ek hierdie belewenis oor en oor in my kop herleef en probeer ontleed. Die swelle was so groot dat ek by tye nie eens die berge kon sien nie, net water en lug. Net omtrent drie weke tevore het ek ‘n eksperiment met my seun in die swembad gedoen om te sien of ek hom in ‘n noodsituasie bo die water sou kon hou. Ek kon nie. Ek het geweet ons is in die moeilikheid. Die water was nie koud nie, en op daardie stadium was ek swem-fiks, so ek was nie besorgd oor myself nie, alhoewel dit bietjie eerie voel op jou eie in die dieperige water.

 

Een van die vreemde dinge vir my is dat ek feitlik niks gedink het nie.  Die enigste gedagte wat ek kan onthou, was toe ek op een stadium gedink het: O, so dis hoe mense verdrink.

 

Ek weet die goeie advies is om nie teen die water te baklei nie en te wag tot die stroom jou iewers terugbring. Ek kan slim wees en sê ek wou nie ‘n kans vat dat die water my seun verder van die strand af wegvat nie en dat dit die rede is dat ons teruggebeur het strand toe. Maar die feit is, ek het nie eens daaraan gedink nie. My instink was om terug te mik kortste pad strand toe.

 

‘n Groot brander is oor my, en ek gebruik die momentum om tot by my seun te kom. Toe ek by hom kom stoot ek hom in die rigting van die strand so hard ek kan, en dieselfde brander vat hom ‘n paar treë verder. Toe breek die brander, en hy is weg onder die vaalbruin skuim. Ek swem vir wat ek werd is om weer by hom te kry, en dan dop sy kop weer uit onder die brander.

So het dit lank aangegaan. Ek ry ‘n swel tot by hom, stoot hom, die swel vat hom weg van my af, maar nader strand toe, en dan breek die brander oor hom en hy is weg. Later kan ek sien van die mense op die strand besef ons is in die moeilikheid. Die lewensredders was reeds huis toe, en ek besef ek kan nie van enige iemand verwag om sonder toerusting in te swem en te kom help nie. Dan is ons bloot almal saam in die moeilikheid.

 

Twee fris myners van Welkom met wie ek vroeër staan en gesels het sien ek later haak in bymekaar en loop so diep in soos hulle kan sonder om self ingesuig te word. Uiteindelik kom ons daar waar hulle my seun uit ‘n brander gryp en met uitgaan strand toe. ‘n Paar branders later kom ek self weer daar waar ek kan staan.

 

My vrou weet toe van niks. Ek wil haar nie te veel ontstel nie, maar sê darem ons was bietjie in die moeilikheid.

 

Later die aand braai ons. My seun is toe lankal verby die ouderdom wat hy op my skoot sal kom sit. Maar elke nou en dan daardie aand kom soek hy my op en kom sit op my skoot. Dan wil ek net tjank. Later sms ek vir ‘n pel. Ek het nodig om vir iemand te sê ek het vandag amper my laaitie verloor.

 

Dis nou 10 jaar later. Soos ek hier tik staan die hare op my arms nou weer orent, soos elke keer as ek die storie bedink. En ek is dankbaar, want ek weet, dit kon soveel anders gewees het.

PGJ

4 antwoorde op As die see gryp

  1. TS het gesê op Januarie 20, 2011

    Sjoe… dit is angswekkend…

  2. UNPOCO het gesê op Januarie 20, 2011

    Ek sal dink die dankbaarheid sal vir altyd bly. Maar iets wat jy in een van jou paragrawe gesê het, het my nou tussen die oë getref. “Ander mense is in dieper water as ons”

    So ry ons maar die branders in die lewe ook. Soms is vlak water, soms in diep water. Soms klein golfies en soms verdrink ons amper en die dankbaarheid as ons anderkant uitkom is groot dankbaarheid.

  3. Dit is nogal snaaks dat n mens met iemand wil praat daaroor maar ook nie te naby aan die huis nie.

  4. Vetjan het gesê op Januarie 22, 2011

    water wat beweeg! bly dat julle ongedeerd uit die rip gekom het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.