Welkom by die wêreld van akamediese uitnemendheid

Januarie 18, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Vanoggend vergesel ek my seun na die tersiêre instansie waar ons hoop hy die volgende drie jaar groot hoogtes gaan bereik. Dit was ‘n seremonie in ‘n groot oop amfiteater. Ons was vroeg, en ons het ‘n lekker plek onder ‘n boom gekry.

 

Die akademiese prosessie het onder die majestieuse tone van Gaudiamus Igitur uit die gebou gestap gekom en onder die gezibo’s plek ingeneem. Gaudiamus het bietjie gelol, maar iemand het die probleem vinnige opgelos en dit het toe nie verder geklink soos ‘n langspeelplaat wat vashak nie.

 

Die studente en hul ouers is vriendelik welkom geheet. Die Vise-rektor het ‘n toespraak gemaak. Ek kon nie lekker hoor nie – het te ver gesit. Maar dan weer, ek hoef nie te hoor nie, dis my seun wat moet hoor. Nadat ons vir Nkosi Sikilela gesing het verlaat die prosessie weer die gezibo’s terug na die administrasie gebou toe.

 

‘n Welsprekende professor neem toe die mikrofoon oor en doen ‘n lekker ‘pep talk’ waarin hy die studente aanmoedig om ‘n boek of wat te lees. Of vir die wie moontlik al die ondervinding gesmaak het om ‘n boek te lees, om dit nog een te lees. En om ‘n paar flieke te gaan kyk. Hy het voorgestel dat ouens The Social Network gaan kyk. Die punt wat hy probeer maak het was: kry ‘n nuwe idee, voer jou idee uit. Moenie jou bekwaam om ‘n goeie werker te wees nie maar ‘n werkgewer. Eintlik ‘n heel inspirerende toesprakie, het ek nogals gedink. Ek het amper weer lus geraak vir swot.

 

Dan het ‘n dame wie in beheer van HR is verduidelik van die fasiliteite soos mediese, sielkundige en HIV ondersteuning en so aan. Daarna stel sy die SRC voor aan ons, en stel en groot mandoer van die SRC voor.

 

Die kêrel heet toe ook almal kortliks welkom. En toe, minder kortliks, slaan hy oor na Malemese en verduidelik vir ons klompie Eerstejaar- en ander Comrades wat nou daar aandagtig na hom luister dat:

 

– Die gebrek aan fondse vir studente is te wyte aan wanadministrasie.

– Die SRC verstaan die behoefte van honger studente – die SRC sal werk dat almal kos kry.

– Die derdejaars (wie nie eintlik nou daar is nie) moet weet hulle kwalifiseer vir finansiële bystand.

– Freedom is not to end up being dressed fancy.

– “They” will not understand. Hy’t nie gesê wie “they” is nie. Ek is ook nie mooi seker wat dit is wat “they” nie gaan verstaan nie – miskien is dit ‘n case in point, dan.

– Hy gee ons klompie comrades toe ‘n vinnige rondown van die 1976 onluste, van die struggle teen apartheid, en van apartheid education wat maak dat mense nie weet wat Twitter is nie, of dink Google is iets wat jy eet.

 

 

 

Alhoewel ek die toespraak heel vermaaklik gevind het, het ons toe maar besluit om bietjie te loop en die kampus te bekyk. Ek is jammer, dit was regtig ongeskik vir ons. Sal dit help as ek noem dat ons nie die enigstes was nie?  Nie lank daarna nie was die toespraak klaar en is daar verversings aangebied. Die toeloop na die verversings toe was egter bietjie kwaai, toe het ons dit ‘n ‘skip’ gegee en huis toe gegaan.

 

So daar het ons dit: ons eerste skoolverlater se eerste dag op kampus.

 

PGJ

6 antwoorde op Welkom by die wêreld van akamediese uitnemendheid

  1. Tja, welcome to the real world…
    En ek sou dieselfde as jy gedoen het tydens daardie onsensitiewe drol se toespraak.
    Mag ek vra, was dit op Maties se kampus?

  2. die struggle gaan lank struggle om in vrede gelaat te word.
    dis ‘n nuwe wêreld wat vir die kinders oopgaan

  3. Dalk is dit ‘n kwessie van perspektief. Dalk is dit die nuwe drinkwater.

  4. Die antwoord is ‘nee’, maar moet liewer nie weer vra nie, ek het juis gemeen om diskreet te wees en nie die instansie te identifiseer nie.

  5. Jammer, nie bedoel om nosy te wees nie.

  6. Berwick het gesê op Januarie 18, 2011

    “waarin hy die studente aanmoedig om ‘n boek of wat te lees. Of vir die wie moontlik al die ondervinding gesmaak het om ‘n boek te lees, om nog een te lees.”

    Great!

Los ’n antwoord vir Doubtingthomas. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.