Namibië toertjie – Hoofstuk 3

Januarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Epupa valla

 

Frikkie se coil

 

Ons paaie skei van Frikkie en sy familie. Hulle bly nog aan in Etosha terwyl die res van die geselskap die pad aandurf Epupa toe. Sowat 4km nadat ons paaie geskei het, gaan staan Frikkie se bakkie met hom.   Volgens oorlewering geskied sy volgende 2 dae as volg.

 

Iemand sleep hom in Halali toe. ‘n Motorwerktuigkundige sluit aan en help soek na die fout. Hulle identifiseer die coil as die moontlike sondaar. Om te toets word ‘n ander Toyota s’n benodig. Frikkie spoor ‘n kelner op wie ‘n soortgelyke bakkie ry. Leen die man se coil, en siedaar, dit werk. Hy bied aan om die coil by die kelner te koop, maar dié wil niks weet nie.   Sondag betaal hy die kelner R100 om sy coil te huur. Frikkie ry alleen deur Tsumeb toe, op soek na ‘n vervangende coil. By geleentheid ry hy tussen ‘n trop van so 20 olifante deur, maar dit amuseer hom nie. Hy’t belangriker sake op die brein.  

 

By Tsumeb kry hy ‘n plek waar ‘n klomp stock cars staan. Hier behoort hy reg te kom. Helaas nee, die plek se outo-elektrisiën is met verlof, en als is toegesluit. Frikkie oorreed die man om ‘n coil van ‘n stock car af te verkoop aan hom. Met tweedehandse coil is hy spoedig weer op pad terug Halali toe. Blikners gery kom hy in Halali aan. Net om natuurlik sy gesin aan te tref, honger om ‘n entjie te gaan ry…..

 

Epupa toe

 

Die Venture kry ‘n pap wiel in Etosha, wat ons vertrek na Epupa toe vertraag. ‘n Assistant by die petrolpomp maak my band vir my reg, en ons en Colin en sy gesin is weer op pad.  Ons doen by Kamanjab se bakkery aan om proviand aan te vul.

 

 

Dan ry ons verder Noordwaarts waar ons op die gasteplaas Rustig gaan oornag. Kort voor die plaas kry ek ‘n tweede pap wiel.  

 

Ek ruil wiele om – en kom agter sy domkrag is net semi-funksioneel. Dit buig in sy poging om die Venture op te lig. Die spaarwiel lyk verdag. Dis nie dieselfe bandgrootte as die ander bande aan die Venture nie. En daar sit ‘n groot prop aan sy een kant waar hy al reggemaak is.

 

Die son begin sak, en dit lyk asof die rit Epupa in die gedrang is. Dis Saterdagaand net voor sonsonder. Kamanjab lyk nie na die dorp waar ek ‘n band gaan kry nie, en Outjo is meer as 100km weg. En dis Saterdagaand.

 

Jörgen Gotshe van Rustig se plaasbakkie is ‘n Toyota Stallion, wat dieselfde wiel- en bandgrootte as my Venture het. Hy stel voor ek los my stukkende band by hom om reg te maak, en dan neem ek twee van sy bande saam met my. Ons is weer op koers! Maar dit raak donker, en ek moet die Venture oorpak om nou ‘n ekstra spaarwiel saam te neem. Weet jy hoeveel goed jy moet herrangskik om ‘n ekstra spaarwiel in jou bagasieruim in te prop!

 

Daardie nag rol ek slapeloos rond, uitgestres. Ek worry oor my bande en my domkrag en al die ander goed wat in die verlatenheid kan verkeerd gaan. Jörgen het ook niks gedoen om my beter te laat voel nie. Tot die teendeel. Hy vertel my hy ry gereeld met toeriste Epupa toe. Soms, vertel hy, kry hy nie ‘n pap wiel nie, maar gewoonlik kry hy as hy gelukkig is net een pap wiel, maar hy het al ook 3 op een rit gekry. Daarom ry hy allerhande tools saam om bande van wielvellings te kan afhaal om reg te maak. Sy vrou waarsku ook dat ons die kinders moet dophou by die valle. Daar is pofadders en krokodille.

 

Dis ‘n snerpende koue en winderige oggend toe ons van die gasteplaas af wegry op pad Epupa toe. Die grondpad is in ‘n uitstekende toestand. Vir lang dele ry ons langs die Etosha se grensdraad, maar ons sien geen wild nie. Dan kry ons ‘n veeartseny-hek. Dit lyk asof hulle daar die Nguni beeste uit die Noorde weghou van die res van Namibië af. Die polisie-beampte daar laat ons sonder voorval deur. Dis die oorgang van Damaraland na die Kaokoveld toe.

Die eerste 255 km Opuwa toe gaan baie goed. Op Opuwa gooi ons vir oulaas petrol in. Die dorp lyk vir my bietjie stowwerig. Verlate.

 

Opuwa
 

 Ek kyk vir bekende bakens in Opuwa, maar kan niks sien wat bekend lyk nie. Gedurende my dienspligtyd was ek eenmaal hier. Ek sou destyds die oggend invlieg, en die aand terug. Nadat ek die oggend douvoordag by Ondangwa se vliegveld aangemeld het om die vliegtuig te haal wat stiptelik om 09h00 sou vertrek, was ek die namiddag teen omtrent 15h00 uiteindelik in die lug.   Ek was die enigste passassier in die vliegtuig. Die ops Dakota het gevlieg op ‘n hoogte wat gevoel het of dit net-net die bomtoppe mis. Blykbaar om onder radar te bly, en om nie deur rakkers met rocket launchers raakgesien te word nie. So het die vlug verloop oor Owamboland, totdat ons die meer bergagtige dele van Kaokoland bereik het. Daar het die Dakota tussen die koppe deur gevlieg, eerder as bo-oor. Dit was ‘n fassinerende ervaring. 

 

Ek dwaal af.  Terug by my toer.  Die volgende 112 km vanaf Opuwa na Okongwati toe is die pad steeds redelik goed, behalwe vir die oneindige hoeveelheid driwwe. Dié moet jy in 1ste of 2de rat doen as jy nie jou kar wil omgooi nie.

 

Van Okongwati na Epupa ry ons van die langste 75km’s wat ek al gery het. Dis nie regtig so erg nie. Dis net, as jy gedog het jy gaan op ‘n pad ry, en dan beland jy op iets ietwat swakker as ‘n slegte plaaspad dan vang dit jou bietjie onkant. Die Venture stamp woes deur die rivierlope in my pogings om nie vas te sit nie.   As ek op my eie was het ek by die eerste rivierloop omgedraai. Ek was oortuig daarvan hier gaan ek vassit.

 

Dit stamp voort vir die res van die 75 km. Plek-plek ry ons darem so vinnig as 40 km/h. Maar meeste van die tyd is ons in 2de of 3de rat. Op plekke het jy ‘n breë strook van sê maar 50 meter breed waar jy kan kies of jy oor die klipperige terrein links wil ry – of oor die klipperige terrein regs. Maar dit toon min ooreenkomste met ‘n pad in die klassieke sin van die woord nie.

 

 

Goeie humor is later by die venster uit. Deel van die probleem is daai ekstra spaarwiel wat ek by Jörgen geleen het. Jy moet tog probeer om ‘n ekstra spaarwiel sommer so in jou voertuig se bagasie-ruim in te laai saam met twee weke se kampgoed. Nou al daai paar goedjies wat moes plek maak vir die ekstra spaarwiel is nou op my vrou se skoot. Sy doen briljant om onder omstandighede die kinders stemmig te hou.

 

Lonely Planet se boek sê van die Epupa-valle dat “it defies description”.   En al wat ek op die oomblik oor die valle kan dink is: “F**** die valle!”

 

Langs die pad sien ons tradisionele krale wat lyk of dit vir toeriste oopgestel is om foto’s te kan neem. Elke Himba wat jou langs die pad gewaar beduie ongelukkig nou ook dat jy moet stop en betaal vir ‘n foto. Nogals jammer, want die Himbas tref jou eintlik as baie trotse en waardige mense, ten spyte van die feit dat hul stamnaam beteken “hulle wat bedel”.

 

En dan, uiteindelik kom ons oor ‘n bult en kyk af op die hoof val van die reeks valle. “Indeed, it defies description!”

 

 

 

Die valle strek oor 1,5 km. Die eerste daarvan is ‘n 37m val. Asemrowend.

 

Ons kry ‘n wonderlike staanplek, letterlik teenaan die rivier, sowat 60m stroomop van die hoof val. Die dreuning klink soos white noise. Harderige white noise, sal ek nou maar sê. Ons besluit dit was inderdaad die moeite werd om te kom.   Ons kinders swem heerlik. Die weer is wonderlik. Aan Angola se kant van die rivier hang ‘n verdwaalde wolkie rond. Die rivier maak natuurlike jacuzzi’s wat baie vlak is. Mens kan dus duidelik sien daar is nie krokodille nie, en dis darem ver genoeg dat jy nie sommer vanself by die waterval sal afval nie.

 

Buite die hek van die kampplek sit ‘n paar Ova-Himbas. Onder andere ‘n vrou met ‘n baba, wat diens doen as model. Ek is nie goed om besigheid te gesels met bostuklose vrouens nie. My vrou doen die onderhandelinge, en vir R5 mag ek foto’s neem van die dame. Ek neem drie.

 

 

 

Langs ons kampeer ‘n groep wat met die 4×4 roete van Ruacana af gery het. Hulle moes hul Toyota RAV plek-plek met die Gelandewagen by steiltes uitsleep. Die RAV het nie laestrek nie, en kon nie die steiltes uitkom nie. Hulle is baie beindruk met die feit dat ek met ‘n Venture daar uitgekom het.   Wanneer hulle Okongwati om terugry sal hulle wel agterkom dis eintlik geen probleem nie.

PGJ

9 antwoorde op Namibië toertjie – Hoofstuk 3

  1. TS het gesê op Januarie 15, 2011

    sjoe wat ‘n ondervinding
    Dankie ek het te lekker gelees

  2. Vetjan het gesê op Januarie 15, 2011

    Ek het in Kamanjab by die stalletjie langs die pad ‘n 15″ band gekoop… geen probleem nie… die ou daar het sommer my ander pap wiel reggemaak ook.

    Was bietjie haastig, want ons het in een dag van Halali na Epupa gery.

  3. Wel, ek is beindruk. My lastigheid was dat ek vroeër ‘n binneband in my tubeless band laat sit het. Vermoedelik ‘n prop aan die binnekant van die buiteband het telkens die binneband lyk my laat warm word en laat bars. So ek moes ‘n permanente plan kry. My voorgeneem volgende keer sit ek soveel proppe in ‘n buiteband soos nodig, maar nooit weer ‘n binneband nie.

  4. Vetjan het gesê op Januarie 15, 2011

    Is ‘n prop nou daardie toutjies wat mens met so els besigheid deurdruk? Hulle werk nogal goed.

  5. Juis hom. Vir ‘n illustrasie sien my karoo boer pel se styl van proppe: http://pgjonker.co.za/?p=750 (heel onderste foto)

  6. ek bly in die land en lees te lekker aan jou stories voel of ons saam getoer het!!!
    ja dit is ;n mooi bar land veral by raucana dit is asof die wereld nog ongerep is [sonder die donnerse chinese]

  7. 🙂 met die pakkery by die huis het ek besluit dat daai eksta spaar wiel nie gaan saam ry nie, die het toe saam met die extra diesel kan tuis gebly.

    Nou ja ek is net deur die Suide en op tot by Henties, die slegste pad wat ek op was is die stuk tussen Solitare en Walvis en gelukkig geen papwiele.

  8. Dis soos met my eerste 4×4 trip. Toe als in is, toe is daar nêrens in 3 voertuie meer plek vir die hooglig domkrag nie. Toe bly dit maar by die huis. Ons besluit toe om maar net liewer uit die moeilikheid uit te bly. Dit gee jou ‘n aanduiding hoe ‘hardebaard’ my vaardighede is.

  9. Ek sal die laaste ou wees om komentaar te lewer op enige iemand se vaardighede.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.