Don’t trust anyone….

Januarie 13, 2011 in Sonder kategorie

…. nie eers jou uroloog nie.

 

Jan Twak se hospitaalstorie inspireer my om ook (een van) my hospitaalstories te vertel. Die kruks van die storie (vir die wat nie vandag tyd vir nonsens het nie) is dit: moet niemand vertrou nie, veral nie jou uroloog nie, hoor nou wat ek sê.

 

Dit was eintlik ‘n groot dag, daai dag in April 2002. Vir my en vir Mark Shuttleworth. Nee, ek ken hom nie, ons het net toevallige ‘n gedeelde belangrike dag. Mark is daai dag maan toe, en ek is hospitaal toe.

 

Ek gaan meld die oggend aan by die hospitaal en boek myself in. Die dame agter die rekenaar pons allerhande brokkies inligting op die rekenaar in en druk ‘n vorm uit vir my om te teken.

 

Gelukkig lees ek die vorm, eerder as om net te teken by die kruisies wat sy gemerk het. Ek sien ek is bespreek vir ‘n vasektomie en ‘n besnydenis. Ek skrik. Ek het geweet van die vasektomie, maar die besnydenis is vir my nuus. Ek sê die dame daai besnydenis-ding gaan nie werk nie. As hulle my weer besny gaan dit ‘n amputasie wees. Sy kyk my humorloos aan. Sy neem die vorm terug en vergelyk dit met die besonderhede op haar rekenaar. Die inligting is korrek, lig sy my in. Sy bel nietemin die dokter se spreekkamer. Ek sweet.

 

Die dokter se ontvangsdame sê toe bykbaar dis oraait, ek hoef nie vir ‘n sirkumsisie te gaan nie. Dankie, ek voel nou beter, maar ek sweet nog steeds. Ek meen nou maar, ek is nog nie eens toegelaat nie, en ek bespeur ‘n basies fout, gelukkig darem voordat dit gebeur het. Dis nie asof die waarde van my voorhuid my so aanstaan nie, dis net, sover ek weet, ‘n nie-herhaalbare prosedure. Ek meen nou maar, waaraan sny jy die tweede keer?

 

Nou tik die dame weer die toelatingsvorm oor. Sy is nou al bietjie ongeduldig met my wat so orig is. Sy druk weer die vorm uit en sit dit onder my neus neer om te teken. Baie geïntimideerd besluit ek egter daar is te veel op die spel. Ek sal maar liewerster weer lees voor ek teken.

 

Nee! Wraggies, weggesteek op ‘n ander plek op die vorm staan dit lewensgroot weer: SIRKUMSISIE. Ek begin nou palpitasies kry, benewens die erge sweet wat nog nie tot bedaring gekom het nie.

 

“Seblief toggies?” prewel ek en druk ‘n bewende vinger op die woord.

 

Die dame versag haar houding, tik weer die vorm, en hierdie keer kom ek weg sonder die gewraakte prosedure.

 

Ai, maar slaap ‘n man lekker van die narkose. Met ‘n derde baba in die huis (jy verstaan nou waar die behoefte aan die mediese proseduretjie ontstaan het) het ek lanklaas so lekker geslaap.  Later maak hulle my wakker, my vrou is daar, ek kan maar huis toe gaan. Ek trek aan en ons gaan huis toe. ‘n Rustige daggie uit.

 

Maar narkose, lyk my, is ‘n pes. Iewers het ek ‘n paar uur verloor. Ek meen nou, buiten vir die die ure wat ek lê en slaap het. My vrou vertel my dat ek soos ‘n grapgat aangegaan het en al die nurse’e later rondom my bed gestaan en luister het vir my twakpraatjies. Ek weet niks van daai af nie. Dis eintlik onbillik, ek is seker mens sou iets kon skryf daaroor.

 

My vrou wil my nie alles vertel wat ek gesê het nie. Maar blykbaar het ek haar gegroet met die mededeling dat die nurse sê ons mag nie daai aand seks hê nie. By geleentheid, verstaan ek, het iemand iets van ‘n stand-up comedian gemompel, waarop ek toe blykbaar verduidelik dat ek meen hy is tans tydelik buite aksie.

 

Dit was blykbaar die kuis deel van my vertoning. Ek is vreeslik jammer. Ek is nie seker waaroor nie, maar ek is regtig jammer. Ek het blykbaar ietwat ongepoetsde goeters kwytgeraak.

 

Nou ja, 8 ure later, toe is die “8-ure blok” uitgewerk. Nou sien, terwyl die uroloog besig was het hy ook sommer ‘n sistoskopie gedoen. Dis wanneer hulle ‘n kamera voor by die blaaspyp indruk en loer wat in jou blaas aangaan. Soos ‘n “pee(p)ing tom”?

 

Die uroloog het vooraf mooi verduidelik dat hy dit met ‘n miniatuur kamera doen. Sommer so tjop-tjop. Sy woordkeuse, mag ek noem, het my ietwat ongemaklik gelaat. In ieder geval, toe daai 8-ure blok uitgewerk is, toe raak dit duidelik dat die uroloog NIE met ‘n miniatuur kamera daar in is nie. My outydse Richo KR10 Super kamera met zoomlens is ‘n mooi bog. Of dalk het die uroloog net vergeet om die driepoot af te haal, ek sal nooit weet nie.

 

‘n Paar dae later kon ek darem weer normaal toilet toe gaan sonder om flou te word van die pyn.

 

 

Ek reken Mark Shuttleworth het daai dag meer opwinding gehad as ek. Maar dan weer, dis baie goedkoper om vir ‘n vasektomie te gaan as om maan toe te gaan, en boonop betaal die mediese fonds nie vir trippe maan toe nie.

 

Maar die punt is: oppas vir jou uroloog!

 

PGJ

1 antwoord op Don’t trust anyone….

  1. lindiew het gesê op Januarie 13, 2011

    Lekker gelag!!!!!!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.