Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Richtersveld toertjie – Hoofstuk 1

Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n Afrikaanse weergawe van die storie op my ander blog.  So vir ingeval Engels nie heeltemal jou ding is nie kan jy sommer hier verder lees.

 

Voertuig

 

Ná ons Namibië toer het Frikkie besluit ons moet die Richtersveld gaan besoek. Ek het aanvanklik beplan om die toer met my Venture te doen. Maar ek het gou besef ek is ‘n senuweeagtige reisiger as die terrein bietjie rof raak. So dalkies moet ek ‘n voertuig kry wat beter geskik is vir veldry. Frikkie het voorgestel ek leen sy swaer se baie ou Mahindra, hy sal my drie dae voorsprong gee vir reistyd. Dit het nie heeltemal soos ‘n gawe plan geklink nie. Na baie rondsoek kry ek toe ‘n 1998 Colt dubbelkajuit bakkie. Maar eers moet ek my Venture verkoop. Dit neem ‘n paar dae, maar ek kry darem ‘n billike prys. Ek kontak die handelaar om te reël dat die Colt met ‘n trok van Gauteng af Kaap toe gestuur word, net om te verneem die Colt is intussen aan iemand anders verkoop.

 

Dus begin die soektog na ‘n 4×4 van voor af. Uiteindelik kry ek ‘n ex-car rental Mazda Magnum dubbelkajuit. Goed, have 4×4, will drive. Ek is nog steeds ‘n senuweeagtige reisiger, maar ek is darem nou beter toegerus vir die toertjie.

 

Kaap na Port Nolloth

 

So breek Julie 2001. Ons en Frikkie ry uit die Kaap uit, met Pieter en sy gesin wat by De Hoop by ons sal aansluit.

 

 

Ons en Frikkie-hulle daag die namiddag by Port Nolloth op en besluit om sommer daar te oornag. Ons huur ‘n huis in MacDougalsbaai vir die nag met ‘n toesluitmotorhuis. Die rede daarvoor is oor my nuwe tweedehandse bakkie ‘n klep gebrand het. Dié is herstel, maar nou moet die bakkie se top presies 1000km later ge-retorque word. Dis nou net mooi sulke tyd, en Frikkie is die ou wat daai dinge kan doen. En ek kan mos vir hom die spanners aangee.

 

 

Vroeg die volgende oggend is ek en Frikkie op om die enjin te gaan retorque.   Dit werk toe omtrent soos die storie van “in die bos is ‘n huisie, in die huisie is ‘n kamer, in die kamer is ‘n kas, in die kas…..” en so aan, en uiteindelik, as jy alles afgehaal het dan kom jy uit by die boute wat retorque moet word.

 

Ek kyk in bewonderende verstomming wat Frikkie doen. Ek meen, ek ry nie eens met ‘n fiets as ek self aan die fiets se remme gewerk het nie, man. Nou en dan gee ek ‘n spanner aan, wat ek gewoonlik met die derde probeerslag korrek identifiseer as die verlangde ene.

 

Sowat 2-en-‘n-half-uur later is ons klaar. OK, OK, Frikkie was klaar. Alles is weer teruggesit van die pullie en alternator tot die tappet covers. Ek het nie ‘n clue wat dit is nie, maar dit klink so geleerd om dit te vertel, sien. ‘n Paar weke later, egter, met die nagaan van die notas in my dagboek van die instruksies wat ek by die garage gekry het kom ek agter dat ons die retorque op die Voetpond lesing gedoen ipv op Newton meter – dus was die hele oefening nutteloos. Ek is inderhaas af garage toe dat hulle dit weer kon doen. My fout, nie Frikkie s’n nie.

 

Port Nolloth na De Hoop

 

Ons ry deur Alexanderbaai waar ons petrol ingooi. Daarvandaan vort na Sendelingsdrift toe. Kort voor mens by die hek kom is die Wondergat. ‘n Veertig meter diep sinkgat. Dis ‘n senutergende gat om met kinders te besigtig, want daar is niks wat keer dat jy inval nie. Dis nou nie so groot soos Kimberley se gat nie, maar jy sal maar sukkel om daar uit te kom as jy inval en jy oorleef dit.

 

Die son begin bak, en ek kom agter die bakkie se lugversorger werk nie. Dit het later geblyk net ‘n fuse te gewees het, maar eers toe ek by die huis gekom het aan die einde van die toer.

 

Na al die formaliteite by Sendelingsdrift en tap ons petrol teen R4-20 per liter. Toe het ons gedink dit is duur. En uiteindelik, na ‘n jaar van beplan en uitsien, is ons in die Richtersveld Nasionale Park.  My eerste regte 4×4 uitstappie.

 

Dit is hier waar die halfmense groei. Maar van elke keer wag vir ‘n beter foto is ek toe uiteindelik deur die hele Park sonder ‘n foto van een!   Dis nou van spaarsamig probeer wees met film in die pre-digitale era!

 

By De Hoop kampeer heelwat mense, maar gelukkig het jy ‘n hele paar kilometers se rivier om van te kies. Die son sak baie vroeg agter die berge. Alreeds in skaduwee gehul slaan ons kamp op.   Met laaste lig daag Pieter-hulle ook op. Nou is ons toergroep voltallig.

 

***

 

Die volgende dag verken ons bietjie ons omgewing. Die nodige sanitasie-reëlings moet getref word. Ons het nogals gewonder oor die vreemde vierpotige toestel wat Frikkie op sy dakrak gehad het. Dit blyk die metaal vierpoot sitraam van ‘n plastiek stoel te wees, maar sonder die plastiek-gedeelte. Die boonste rante is met ‘n (growwe!) mat bedek is vir ‘n sagte(r) sit. Frikkie se eie-gemaakte porta-pottie.   Van tyd tot tyd sien jy iemand wegraak, porta-pottie in die hand, toiletrol aan die poot vas, graaf oor die skouer.

 

 

By geleentheid het ek self ook die toestel benut. Mettertyd, terwyl ek nou so daar sit minding my own business, kry ek die gevoel ek word dopgehou. En wrintiewaar, ja, ‘n spannetjie apies spring van boom tot boom en gaan sit in ‘n ry en hou my dop. Dis natuurlik die geriefie wat hulle so interesseer. Of dalk amuseer. Man, ek is seker ek het een van die apies hoor sê:  “Hey check daai larnie levvie, ek sê“. Maar ek kon ‘n foutjie gemaak het.

 

***

Daar loop ‘n pad vanaf De Hoop na die Tatasrivier piekniekterrein en Richtersberg langs die rivier af. Rigting Suid.   Dit is 10km se poeierstofpad. Daar is ook ‘n langer ompad van sowat 45km daarnatoe. Ons besluit op die kort sandpad.

 

 

Poeiersand! Dis baie opwindend vir die bestuurders, maar vir die res van die geselskap is dit meer ‘n oefening om stof uit hul oë en neuse te probeer uithou. Nadat ons dus piekniek gehou het by Tatasrivier se kampterrein (‘n abolute lafenis-plek) word met ‘n meerderheidstemming besluit dat ons die langpad van Tatasrivier af gaan terugry De Hoop toe. Een van die oorwegings was die feit dat my vrou toe net mooi 8 weke swanger is, en karsiek bietjie van ‘n lastigheid is in rowwe omstandighede.

 

Dit laat my met ‘n probleem dat ek nog nie die “been there, dunnit” foto van my en my bakkie in die poeiersand het nie. Ek en Pieter ry dus en gaan soek ‘n lekker sanderige kol om die nodige foto vir rekord-doeleindes te neem. Dit kry ons nie te ver van waar ons piekniek hou nie. Pieter neem stelling in langs die pad met my kamera, en ek kom soos ‘n macho viertrek-spesialis aangery deur die stof. Die beste deel van die toneeltjie (vir my) was toe Pieter wegraak in die stofwolk toe ek weer langs hom stilhou.

 

 

Iewers in die middel van die Richtersveld Nasionale Park hou my bakkie se afstandbeheer op werk. Die batterytjies is pap. Maar gelukkig het die bakkie ‘n by-pass sok bedoel vir sulke geleenthede. Maar nee. Dit blyk met die laaste werk wat by die motorhawe gedoen is hierdie sok iewers agter die dashbord geinstalleer is – buite sig en buite bereik. Na ‘n paar benoude oomblikke vis Pieter ‘n stelletjie ou batterytjie uit sy glove-box, en siedaar, ons is weer op pad. Terwyl die benoude sweet my egter uitslaan laat Frikkie na om my in te lig dat hy toe al klaar uitgewerk waar hy ‘n paar drade kan short om die immobiliseerder te pypkan.

 

 

 

 

Kort voor De Hoop hou ons stil by Josef. Hy is ‘n bokwagter, en is op pad na sy kraal toe met twee pasgelamde bokkies in sy rugsak. Josef vertel hy was al op die TV ook gewees. Hy is redelik dorstig. Ons deel water, neem foto’s en is weer op pad.

 

 

Deel 2 volg

 

Karnaval

Januarie 28, 2011 in Sonder kategorie

OK, ek sien hulle noem dit deesdae Jool soos in die Noordelike provinsies.  Ons het van karnaval gepraat.  Gisteraand was dit “vensters”.  Die hele Kaap was daar.  Al van net na 18h00 af het jy al gesukkel om by Stellenbosch ingery te kom.  Op die kampus was daar massas en massas mense. 

Dit bly altyd vir my ‘n interessante sensasie.  ‘n Nostalgie.  Dis asof ek daar staan en die herinneringe wil indruk.  Ek voel nie tussen 25 en 30 jaar ouer as die studente nie.  En alhoewel ek dink ek lyk ook nie ouer nie wys my kinders en hulle vriende my ontaktvol daarop dat ek verkeerd is.  [$%^& hulle, het ek nou maar gedink].

Ek probeer waak daarteen om my kinders te verveel met “toe ek” stories.  Maar ek kon darem nie help om die herinnering gisteraand te deel met my seun van die ietwat banale kompetisie wat hom een donker aand buite Helshoogte afgespeel het nie.  Ek en my kamermaat kom van iewers af gestap, minding our own business.   Nes ons by Helshoogte verbystaap burp ‘n ou daar van bo af.  Man, ‘n absolute meesterstuk. 

Ek reken toe dit behoort nie onbeantwoord gelaat te word nie.  Dus antwoord ek.  Ek meen nou maar, ek het self ‘n paar versweë talente gehad, het ek toe gedink.  Daar is egter onmiddellik weer ‘n antwoord.  Ek sweer daai ou het op ‘n PA system geburp, dit was unreal, man.  Ek probeer weer, beter as die eerste keer.  Die antwoord is weer sonder enige vertraging.  Nou hoor ek iemand anders skree daar van ‘n ander kant af “sies, jou vark!”  Ek weet glad nie waaroor dit was nie, dalk het iemand iets op die vloer gemors of so, verstaan.

Anyway, there comes a time when one has to admit defeat.  Daai man was ‘n meester.  Ons gee toe maar die stryd gewonne en stap voort koshuis toe. 

Anyway, terug by gisteraand se ‘vensters’. 

Die geheelbeeld is een van sorgloosheid, vryheid, en pragtige mense. 

Daar is ook die hiper cool ouens.  Soos die een ou wat met ‘n mobiele hubly geloop het – tensy hy doodgewoon sy drank met ‘n dik pyp uit ‘n half-jack uit gesuig het natuurlik.  Ek moet sê, ek het gedog daai man probeer miskien net so effentjies te hard om cool te wees.  Maar dan weer, ek is 30 jaar ouer as hy, so ek is nie veronderstel om dit te verstaan nie.

Ek kon nie anders as om te dink aan die aanhaling uit die Sunscreen speech nie: 

“Enjoy the power and beauty of your youth. Oh, never mind. You will not understand the power and beauty of your youth until they’ve faded. But trust me, in 20 years, you’ll look back at photos of yourself and recall in a way you can’t grasp now how much possibility lay before you and how fabulous you really looked. You are not as fat as you imagine.”

PGJ

Interessante tye

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend het ek op die kampus by een van ons plaaslike institute van uitnemende tersiêre onderrig gaan rondhang.  My seun moes daar wees vir inskryf en almal daai goete.  Alles het mooi verloop, verbasend vinnig.  En as dit nie was vir ‘n rekenaar-haakplek nie kon ek teen 10h00 kant en klaar gewees het. 

Dit was interessant om die studente te kyk.  My waarneming is dat die dames redelik opgedress het vir die okkasie, terwyl van die mans lyk of hulle uit hulle pad uit gaan om so verslons as moontlik te lyk.  Ja, OK, dis veralgemeen en subjektief, maar ek het darem ‘n uur tyd gehad om observasie te hou. 

Verrigtinge neem in aanvang waar my seun alfabeties saam met ‘n klein groepie in klas ingedeel word om die vorms te kry, seker te maak dis reg, dit te teken en so aan.  Die instrukteur beduie mooi, soos vir kindertuin kinders.  Selfs ek verstaan wat hy sê.  Ietwat laat kom ‘n dametjie ingestap.  Hare in rasta-styl gebind, mooi aangetrek, pers toon- en vingernaels, Afrika oorbelle.

Sy kom neem agter my plaas, ons sit nou so half skuins met ons rûe na mekaar toe.  Sy’t haar vorm gekry, dit onaangeraak langs haar neergesit.  Toe haal sy haar raakskerm selfoon uit en begin Facebook daarop.  Toe sy klaar ge-Facebook het, toe haal sy haar pen uit en teken ‘n prentjie op die tafel waar sy sit.  Toe vat sy haar goed en sy loop.  Na sy weg is het ek gaan kyk net om seker te maak dis nie dalk ‘n Picasso tipe tekeninkie wat dalk baie werd gaan wees oor ‘n paar jaar wat sy daar geteken het nie, maar helaas nee, my stokmannetjies kan kers vashou.

Ek skat daar lê ‘n interessante paar jaar voor.

PGJ

Namibië toertjie – Hoofstuk 4

Januarie 22, 2011 in Sonder kategorie

 

Van Epupa af terug huis toe

 

Die terugtog van Epupa af is baie meer ontspanne. Ek weet nou wat om van die pad te verwag, en ek het nog geen pap wiel nie. Wat beteken dat ek nog twee spaarwiele beskikbaar het vir sodanige gebeurlikheid.

 

Nadat ons weer op Opuwa petrol ingetap het reis ons verder. Ek gaan lewer Jörgen se spaarwiele vir hom af. My spaarwiel lê reggemaak en wag vir my. Binne ‘n halfuur is ons weer op pad. Khorixas toe.

 

Ons misgis ons bietjie met die afstand. Die donker begin ons vang, met ‘n wesenlike Kudu-gevaar. Ons sien een voor sononder. Die bordjie wat moet sê Khorixas is nog 10 km weg sê egter dis nog 40km. My vrou vererg haar vir die bordjie en dring aan dat ons stop. Sy gaan sit in die middel van die pad om af te koel.

 

So ‘n halfuur na sononder kom ons in Khorixas aan. Colin-hulle is reeds daar, en halfpad met kosmaak. Ons kry die enigste oorblywende stukkie gras in die karavaanpark. Dit was ‘n uitputtende meer as 11 ure se ry aan 580 km.

 

Die karavaanpark is in ‘n uitstekende toestand. Ons bestel wegneem-etes by die restaurant.

 

Weskus

 

Die volgende dag mik ons Langstrand toe, tussen Walvisbaai en Swakopmund.  Frikkie is steeds op sy eie vandat ons hom in Etosha agtergelaat het.  Van Khorixas af is Colin ook in sy eie rigting in, maar die afspraak is om mekaar weer by Langstrand se karavaanpark te ontmoet. 

Ons ry verby die Brandberg waar dié ‘n ent weg na die Weste van die pad lê, maar nou is ons bietjie haastig en besluit om nie daar in te draai nie.

 

Toe ons Hentiesbaai in die oog kry besef ek en en my vrou maar net weer: ons is eintlik see-mense. Nee, dis te koud om in te swem, ons hengel nie, niks nie. Ons wil dit kan sien en hoor, en met ons voete op koue nat sandstrand kan stap.

 

Dis ‘n blye weersiens om die ander manne by Langstrand te kry.  Ons ruil stories uit van pap wiele en stukken coils en al daai.

 

Ek en my vrou gaan doen weer ons gunsteling tydverdryf en gaan drink koffie op die stoep van die Strand Hotel by die promenade. Daarna besoek ons die museum. Dit spaar ‘n klomp moeite, want daar kan ek sommer ‘n foto neem van ‘n afbeelding van die Brandberg se Wit Vrou om by my foto van die Brandberg te liasseer!

 

 

Ons het stukke hardboard by die hardeware winkel in Walvisbaai gekoop, en gaan doen ‘n bietjie duinry. Ons takel sommer die eerste beste duin wat ons kan kry. Dit vat ‘n tydjie voor ons besef die idee is om die kerswas wat jy aansmeer weer af te poets voordat die bord glad word. Maar ons kry die idee.   Dit ry duin dat die byle huil! Groot pret.

 

 

Teen die aand begin ek en my vrou beide besef dat hierdie styl van duinry nie medies aangedui is vir almal nie. Ons sukkel beide met kwaai laer rugpyn. Miskien moes ons gelê het, eerder as gesit het, op die borde.

 

Waarnemings

 

Dis vreeslik irriterend om te luister na ouens wat drie weke in Suid-Afrika besoek afgelê het en hulleself dan beskou as bevoeg om te adviseer hoe Suid-Afrika sy probleme moet oplos. ‘n Besoek aan ‘n land laat jou bloot net met ‘n te oppervlakkige waarnemings.  Baie bewus daarvan maak ek die volgende waarnemings oor Namibië.

 

My persepsie is dat, selfs van nog voor Namibië se onafhanklikwording, rasse-verhoudinge meer gemoedelik is as in Suid-Afrika. Dit mag te doen hê met die feit dat daar reeds vir elf jaar voor onafhanklikheid nie meer apartheid in Namibië was nie. Die sowat 1,8 miljoen mense in Namibië is natuurlik ook ‘n fraksie van die bykans 50 miljoen in Suid-Afrika, met minder druk op hulpbronne.

 

Dis nie asof daar nie misdaad is nie. Die roldraad en hoë heinings in Windhoek is stille getuienis daarvan. Iemand sal waarskynlik heel geneë wees om die klere van jou lyf af te steel in Windhoek as jy lank genoeg wil stilstaan daarvoor. Maar ek kry die indruk dat die kanse minder is dat iemand noodwendig jou keel daarvoor gaan afsny. 

 

  

Die lang pad huis toe

 

Ons keer huiswaarts deur die Namib Naukluft park. Ons probeer petrol tap by Solitaire, maar die pompe is droog.  Ek verstaan daar is nou weer petrol.

Vandaar mik ons na Sesriem. By Sesriem se afdraai kry ons ‘n buitelander wat die land op ‘n fiets deurkruis. Stoksielalleen. Op sy versoek neem ek ‘n foto van hom met sy kamera terwyl hy in die pad afry. So ‘n “into the sunset” tipe van foto, behalwe dat die son nog hoog sit.

By Sesriem kry ons petrol.

 

Sossusvlei het water, verneem ons. ‘n Rare gesig wat gesien móét word. Maar gister se duine ry en die gevolglike rugpyn wat ek en my vrou ervaar laat ons besluit om verby te hou.  Teen die tyd wat ons by Sesriem kom het my vrou haar op die agersitplek gemaklik probeer maak in ‘n poging om ‘n posisie te kry waar haar rug minder seer kan wees. Ek self skuif ook maar rond agter die Venture se stuurwiel op soek na daardie ontwykende posisie waarin my rug dalk minder seer mag wees.  Ons sien bloot nie kans om dalk die Venture deur dik sand te moet stoot op pad Sossusvlei toe nie. Ons hou dus deur Maltehoë toe, terwyl Frikkie en Colin en hul gesinne die pad aandurf Sossusvlei toe. Iets wat ons natuurlik onsself later oor sou skop nadat ons hulle fotos gesien het.

 

Maltehoë

 

Ons doen aan by die Pappot op Maltehoë.

 

Hulle het kampeerplek, en ook ‘n kamer wat baie billik geprys is. Ons wil die kamer bespreek ter wille van ons seer rûe, maar Mannetjies verduidelik dat daar nou pas ‘n buitelander op ‘n fiets 3 dae lank in die kamer gebly het. Daar moes ietsie fout gegaan het met sy kosmakery, met die gevolg dat die geur in die kamer dit vir die oomblik ongeskik maak vir menslike bewoning. Ek vertel vir mannetjies van die buitelander op die fiets, en spreek my kommer uit oor die goeters wat mens kan oorkom so op jou eie op ‘n fiets in die verlatenheid.  Mannetjies stem saam, maar met ‘n stemtoon wat dit meer na ‘n wens laat klink as ‘n besorgdheid.

 

 So slaan ons dus toe maar weer tent op en wag vir Frikkie-hulle om op te daag. Colin is weer sy eie koers in.

 

Motorprobleme

 

Vroeg die volgende môre val ons in die pad terug huis toe. Negentig km van die SA grens af staan Siegfried en sy gesin met ‘n linkerhandstuur Ford Explorer.

 

 

Hulle het so pas ‘n band verloor. Dié is darem met ‘n gelapte spaarwiel vervang, maar die Explorer wil nie start nie. Die Explorer het ‘n veiligheidsmeganisme wat die petrolpomp uitsny as daar ‘n harde slag is, om brand te voorkom. ‘n Nota op die enjin sê die petrolpomp moet net ge-reset word, en dat jy die eienaarshandleiding moet raadpleeg. Geen probleem nie, buiten dat Siegfried nie so ‘n boekie saam met die tweedehandse Explorer gekry het nie. Na sowat ‘n uur gee ons op en besluit om die Explorer verder te sleep. Dis egter ‘n outomatiese voertuig, so eers spring die eienaar se handige seuns onder die voertuig in om die dryfaste te ontkoppel. By Vioolsdrif het ons weer selfoonontvangs en kan Siegried die motorhandelaar bel wie verduidelik waar die reset knoppie druk. En siedaar, die Explorer loop weer.

 

Home, James, home, and don’t spare the horses…

 

Ons vertrek eers na 5 die middag by Vioolsdrif. By Vanrhynsdorp neem ons afskeid van Frikkie en sy gesin. My vrou reël ‘n bottel koffie by die restaurant om ons wakker te hou.   By Olifantsdam hou ons stil, drink koffie en hardloop ‘n paar keer om die kar om wakker te word. By Citrusdal hou ons stil, drink koffie en hardloop om die kar. By Moorreesburg haal ons die Explorer in – met al ons stop, koffie drink en om die kar hol het hulle ons al verbygesteek.

 

Om 00h15 toet en flikker ons afskeid van Siegfried-hulle by die Durbanville afdraai. Om 00h45 is ons tuis. Om 01h00 slaap ons. Vas.

 

TOER STATISTIEKE:

 

Afstand afgelê:             5820 km

Liters gebruik:               611

Brandstofverbruik:         9,5 km / liter (Toyota Venture 2.2 GLE)

Nagte oorgeslaap:         14

Tent opgeslaan:             9 keer

 

 

 

As die see gryp

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Kleinbrak se strand, tien jaar gelede. Ek dink dis Kleinbrak. Ek raak altyd deurmekaar met Kleinbrak en Grootbrak. Anyway, die ene Mosselbaai se kant van Rheebok.

Ons het net na 18h00 die middag by die strand opgedaag. My vrou was hoogswanger en het met haar niggie op die strand sit en gesels.

 

Ek en my oudste, toe 9 jaar oud, is water toe. Ek reken toe dis ‘n gawe tyd om hom die basics van body surfing te leer. Nie dat ek eintlik mooi weet hoe nie, maar ek weet darem op daardie stadium nog beter as ‘n nege-jaar oud.

 

Ek maak seker ons bly redelik vlak, en dat daar altyd ander mense dieper in die water is as ons. Die backwash trek baie sterk, maar die volgende brander spoeg jou darem weer uit. So ry ons branders, en as jy so halflyf in die water kom skop jy met jou tone in die grond vas om te bly staan teen die backwash, en dan gaan soek jy die volgende brander.

 

Dan ry ons weer ‘n lekker brander uit strand toe. Ek trap vas op die grond om te keer teen die backwash, maar net my tone raak. Ek besef ek is te diep en die water te sterk. En dan, soos ‘n magiese hand, gryp die water net vir my en my seun tussen die mense uit, en daar gaan ons, see in. Ons is letterlik in die middel van ‘n ry mense gewees, en net ons twee is weggevat. Vreemd.

 

Agterna het ek hierdie belewenis oor en oor in my kop herleef en probeer ontleed. Die swelle was so groot dat ek by tye nie eens die berge kon sien nie, net water en lug. Net omtrent drie weke tevore het ek ‘n eksperiment met my seun in die swembad gedoen om te sien of ek hom in ‘n noodsituasie bo die water sou kon hou. Ek kon nie. Ek het geweet ons is in die moeilikheid. Die water was nie koud nie, en op daardie stadium was ek swem-fiks, so ek was nie besorgd oor myself nie, alhoewel dit bietjie eerie voel op jou eie in die dieperige water.

 

Een van die vreemde dinge vir my is dat ek feitlik niks gedink het nie.  Die enigste gedagte wat ek kan onthou, was toe ek op een stadium gedink het: O, so dis hoe mense verdrink.

 

Ek weet die goeie advies is om nie teen die water te baklei nie en te wag tot die stroom jou iewers terugbring. Ek kan slim wees en sê ek wou nie ‘n kans vat dat die water my seun verder van die strand af wegvat nie en dat dit die rede is dat ons teruggebeur het strand toe. Maar die feit is, ek het nie eens daaraan gedink nie. My instink was om terug te mik kortste pad strand toe.

 

‘n Groot brander is oor my, en ek gebruik die momentum om tot by my seun te kom. Toe ek by hom kom stoot ek hom in die rigting van die strand so hard ek kan, en dieselfde brander vat hom ‘n paar treë verder. Toe breek die brander, en hy is weg onder die vaalbruin skuim. Ek swem vir wat ek werd is om weer by hom te kry, en dan dop sy kop weer uit onder die brander.

So het dit lank aangegaan. Ek ry ‘n swel tot by hom, stoot hom, die swel vat hom weg van my af, maar nader strand toe, en dan breek die brander oor hom en hy is weg. Later kan ek sien van die mense op die strand besef ons is in die moeilikheid. Die lewensredders was reeds huis toe, en ek besef ek kan nie van enige iemand verwag om sonder toerusting in te swem en te kom help nie. Dan is ons bloot almal saam in die moeilikheid.

 

Twee fris myners van Welkom met wie ek vroeër staan en gesels het sien ek later haak in bymekaar en loop so diep in soos hulle kan sonder om self ingesuig te word. Uiteindelik kom ons daar waar hulle my seun uit ‘n brander gryp en met uitgaan strand toe. ‘n Paar branders later kom ek self weer daar waar ek kan staan.

 

My vrou weet toe van niks. Ek wil haar nie te veel ontstel nie, maar sê darem ons was bietjie in die moeilikheid.

 

Later die aand braai ons. My seun is toe lankal verby die ouderdom wat hy op my skoot sal kom sit. Maar elke nou en dan daardie aand kom soek hy my op en kom sit op my skoot. Dan wil ek net tjank. Later sms ek vir ‘n pel. Ek het nodig om vir iemand te sê ek het vandag amper my laaitie verloor.

 

Dis nou 10 jaar later. Soos ek hier tik staan die hare op my arms nou weer orent, soos elke keer as ek die storie bedink. En ek is dankbaar, want ek weet, dit kon soveel anders gewees het.

PGJ

Welkom by die wêreld van akamediese uitnemendheid

Januarie 18, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Vanoggend vergesel ek my seun na die tersiêre instansie waar ons hoop hy die volgende drie jaar groot hoogtes gaan bereik. Dit was ‘n seremonie in ‘n groot oop amfiteater. Ons was vroeg, en ons het ‘n lekker plek onder ‘n boom gekry.

 

Die akademiese prosessie het onder die majestieuse tone van Gaudiamus Igitur uit die gebou gestap gekom en onder die gezibo’s plek ingeneem. Gaudiamus het bietjie gelol, maar iemand het die probleem vinnige opgelos en dit het toe nie verder geklink soos ‘n langspeelplaat wat vashak nie.

 

Die studente en hul ouers is vriendelik welkom geheet. Die Vise-rektor het ‘n toespraak gemaak. Ek kon nie lekker hoor nie – het te ver gesit. Maar dan weer, ek hoef nie te hoor nie, dis my seun wat moet hoor. Nadat ons vir Nkosi Sikilela gesing het verlaat die prosessie weer die gezibo’s terug na die administrasie gebou toe.

 

‘n Welsprekende professor neem toe die mikrofoon oor en doen ‘n lekker ‘pep talk’ waarin hy die studente aanmoedig om ‘n boek of wat te lees. Of vir die wie moontlik al die ondervinding gesmaak het om ‘n boek te lees, om dit nog een te lees. En om ‘n paar flieke te gaan kyk. Hy het voorgestel dat ouens The Social Network gaan kyk. Die punt wat hy probeer maak het was: kry ‘n nuwe idee, voer jou idee uit. Moenie jou bekwaam om ‘n goeie werker te wees nie maar ‘n werkgewer. Eintlik ‘n heel inspirerende toesprakie, het ek nogals gedink. Ek het amper weer lus geraak vir swot.

 

Dan het ‘n dame wie in beheer van HR is verduidelik van die fasiliteite soos mediese, sielkundige en HIV ondersteuning en so aan. Daarna stel sy die SRC voor aan ons, en stel en groot mandoer van die SRC voor.

 

Die kêrel heet toe ook almal kortliks welkom. En toe, minder kortliks, slaan hy oor na Malemese en verduidelik vir ons klompie Eerstejaar- en ander Comrades wat nou daar aandagtig na hom luister dat:

 

– Die gebrek aan fondse vir studente is te wyte aan wanadministrasie.

– Die SRC verstaan die behoefte van honger studente – die SRC sal werk dat almal kos kry.

– Die derdejaars (wie nie eintlik nou daar is nie) moet weet hulle kwalifiseer vir finansiële bystand.

– Freedom is not to end up being dressed fancy.

– “They” will not understand. Hy’t nie gesê wie “they” is nie. Ek is ook nie mooi seker wat dit is wat “they” nie gaan verstaan nie – miskien is dit ‘n case in point, dan.

– Hy gee ons klompie comrades toe ‘n vinnige rondown van die 1976 onluste, van die struggle teen apartheid, en van apartheid education wat maak dat mense nie weet wat Twitter is nie, of dink Google is iets wat jy eet.

 

 

 

Alhoewel ek die toespraak heel vermaaklik gevind het, het ons toe maar besluit om bietjie te loop en die kampus te bekyk. Ek is jammer, dit was regtig ongeskik vir ons. Sal dit help as ek noem dat ons nie die enigstes was nie?  Nie lank daarna nie was die toespraak klaar en is daar verversings aangebied. Die toeloop na die verversings toe was egter bietjie kwaai, toe het ons dit ‘n ‘skip’ gegee en huis toe gegaan.

 

So daar het ons dit: ons eerste skoolverlater se eerste dag op kampus.

 

PGJ

In remembrance of the King of Rock

Januarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Ons gaan ry een middag ‘n draai van Gouritsmond af om te gaan kyk hoe die manne se hengelry gaan by Kanon.  Soos die kraai vlieg is Kanon 2,6km weg, maar dis oorkant die rivier, so padlangs is die 25km om daar te kom.  Lekker outing saam met ons jongste.  Dis sy maatjies se pa’s wat daar vis vang.

 

Die maatjies vind mekaar dadelik.  Chris-Jan is die oudste van die lot, 8 jaar oud.  Nou vermaak die lotjie mekaar.  Speel bietjie wegkruipertjie.  Spring by die duine af, daai tipe dinge.  Min gepla met die ernstige besigheid van visvang waarmee hul pa’s hulle besigh ou.

 

“Kyk hieso, julle, ek gaan ‘n ballas sprong doen!” roep Janko. Hy hardloop oor die duin, maak sy bene oop en land wydsbeen op sy boude onder op die sand.  Nou weet ek ook sommer wat ‘n ballas sprong is.  Nou doen almal ballas spronge. Almal die kleingoed nou, meen ek.  Ek is bloot ‘n waarnemer.  Daar is sekere goed wat grootmense net doen as hulle gesuip is. 

 

Maar soos dit maar gaan moet iemand altyd ‘n beter idee hê.  Hierdie keer is dit Chris-Jan met die beter idee.

 

“Kyk hieso, julle, ek gaan ‘n Michael Jackson sprong doen!”  Dan illustreer hy die tegniek met gutso.  Hy hol by die duin op.  As hy bo kom gryp hy sy knaters vas soos wat Micahael Jackson gereeld op die verhoog gedoen het, en spring by die duin af. Dis eintlik maar net ‘n effense verfyning van Janko se ballas sprong, maar dit vind nietemin byval by. Die hele crowd spring in en doen Michael Jackson spronge.

 

Long live te king of rock, ek sê.

 

PGJ

Namibië toertjie – Hoofstuk 3

Januarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Epupa valla

 

Frikkie se coil

 

Ons paaie skei van Frikkie en sy familie. Hulle bly nog aan in Etosha terwyl die res van die geselskap die pad aandurf Epupa toe. Sowat 4km nadat ons paaie geskei het, gaan staan Frikkie se bakkie met hom.   Volgens oorlewering geskied sy volgende 2 dae as volg.

 

Iemand sleep hom in Halali toe. ‘n Motorwerktuigkundige sluit aan en help soek na die fout. Hulle identifiseer die coil as die moontlike sondaar. Om te toets word ‘n ander Toyota s’n benodig. Frikkie spoor ‘n kelner op wie ‘n soortgelyke bakkie ry. Leen die man se coil, en siedaar, dit werk. Hy bied aan om die coil by die kelner te koop, maar dié wil niks weet nie.   Sondag betaal hy die kelner R100 om sy coil te huur. Frikkie ry alleen deur Tsumeb toe, op soek na ‘n vervangende coil. By geleentheid ry hy tussen ‘n trop van so 20 olifante deur, maar dit amuseer hom nie. Hy’t belangriker sake op die brein.  

 

By Tsumeb kry hy ‘n plek waar ‘n klomp stock cars staan. Hier behoort hy reg te kom. Helaas nee, die plek se outo-elektrisiën is met verlof, en als is toegesluit. Frikkie oorreed die man om ‘n coil van ‘n stock car af te verkoop aan hom. Met tweedehandse coil is hy spoedig weer op pad terug Halali toe. Blikners gery kom hy in Halali aan. Net om natuurlik sy gesin aan te tref, honger om ‘n entjie te gaan ry…..

 

Epupa toe

 

Die Venture kry ‘n pap wiel in Etosha, wat ons vertrek na Epupa toe vertraag. ‘n Assistant by die petrolpomp maak my band vir my reg, en ons en Colin en sy gesin is weer op pad.  Ons doen by Kamanjab se bakkery aan om proviand aan te vul.

 

 

Dan ry ons verder Noordwaarts waar ons op die gasteplaas Rustig gaan oornag. Kort voor die plaas kry ek ‘n tweede pap wiel.  

 

Ek ruil wiele om – en kom agter sy domkrag is net semi-funksioneel. Dit buig in sy poging om die Venture op te lig. Die spaarwiel lyk verdag. Dis nie dieselfe bandgrootte as die ander bande aan die Venture nie. En daar sit ‘n groot prop aan sy een kant waar hy al reggemaak is.

 

Die son begin sak, en dit lyk asof die rit Epupa in die gedrang is. Dis Saterdagaand net voor sonsonder. Kamanjab lyk nie na die dorp waar ek ‘n band gaan kry nie, en Outjo is meer as 100km weg. En dis Saterdagaand.

 

Jörgen Gotshe van Rustig se plaasbakkie is ‘n Toyota Stallion, wat dieselfde wiel- en bandgrootte as my Venture het. Hy stel voor ek los my stukkende band by hom om reg te maak, en dan neem ek twee van sy bande saam met my. Ons is weer op koers! Maar dit raak donker, en ek moet die Venture oorpak om nou ‘n ekstra spaarwiel saam te neem. Weet jy hoeveel goed jy moet herrangskik om ‘n ekstra spaarwiel in jou bagasieruim in te prop!

 

Daardie nag rol ek slapeloos rond, uitgestres. Ek worry oor my bande en my domkrag en al die ander goed wat in die verlatenheid kan verkeerd gaan. Jörgen het ook niks gedoen om my beter te laat voel nie. Tot die teendeel. Hy vertel my hy ry gereeld met toeriste Epupa toe. Soms, vertel hy, kry hy nie ‘n pap wiel nie, maar gewoonlik kry hy as hy gelukkig is net een pap wiel, maar hy het al ook 3 op een rit gekry. Daarom ry hy allerhande tools saam om bande van wielvellings te kan afhaal om reg te maak. Sy vrou waarsku ook dat ons die kinders moet dophou by die valle. Daar is pofadders en krokodille.

 

Dis ‘n snerpende koue en winderige oggend toe ons van die gasteplaas af wegry op pad Epupa toe. Die grondpad is in ‘n uitstekende toestand. Vir lang dele ry ons langs die Etosha se grensdraad, maar ons sien geen wild nie. Dan kry ons ‘n veeartseny-hek. Dit lyk asof hulle daar die Nguni beeste uit die Noorde weghou van die res van Namibië af. Die polisie-beampte daar laat ons sonder voorval deur. Dis die oorgang van Damaraland na die Kaokoveld toe.

Die eerste 255 km Opuwa toe gaan baie goed. Op Opuwa gooi ons vir oulaas petrol in. Die dorp lyk vir my bietjie stowwerig. Verlate.

 

Opuwa
 

 Ek kyk vir bekende bakens in Opuwa, maar kan niks sien wat bekend lyk nie. Gedurende my dienspligtyd was ek eenmaal hier. Ek sou destyds die oggend invlieg, en die aand terug. Nadat ek die oggend douvoordag by Ondangwa se vliegveld aangemeld het om die vliegtuig te haal wat stiptelik om 09h00 sou vertrek, was ek die namiddag teen omtrent 15h00 uiteindelik in die lug.   Ek was die enigste passassier in die vliegtuig. Die ops Dakota het gevlieg op ‘n hoogte wat gevoel het of dit net-net die bomtoppe mis. Blykbaar om onder radar te bly, en om nie deur rakkers met rocket launchers raakgesien te word nie. So het die vlug verloop oor Owamboland, totdat ons die meer bergagtige dele van Kaokoland bereik het. Daar het die Dakota tussen die koppe deur gevlieg, eerder as bo-oor. Dit was ‘n fassinerende ervaring. 

 

Ek dwaal af.  Terug by my toer.  Die volgende 112 km vanaf Opuwa na Okongwati toe is die pad steeds redelik goed, behalwe vir die oneindige hoeveelheid driwwe. Dié moet jy in 1ste of 2de rat doen as jy nie jou kar wil omgooi nie.

 

Van Okongwati na Epupa ry ons van die langste 75km’s wat ek al gery het. Dis nie regtig so erg nie. Dis net, as jy gedog het jy gaan op ‘n pad ry, en dan beland jy op iets ietwat swakker as ‘n slegte plaaspad dan vang dit jou bietjie onkant. Die Venture stamp woes deur die rivierlope in my pogings om nie vas te sit nie.   As ek op my eie was het ek by die eerste rivierloop omgedraai. Ek was oortuig daarvan hier gaan ek vassit.

 

Dit stamp voort vir die res van die 75 km. Plek-plek ry ons darem so vinnig as 40 km/h. Maar meeste van die tyd is ons in 2de of 3de rat. Op plekke het jy ‘n breë strook van sê maar 50 meter breed waar jy kan kies of jy oor die klipperige terrein links wil ry – of oor die klipperige terrein regs. Maar dit toon min ooreenkomste met ‘n pad in die klassieke sin van die woord nie.

 

 

Goeie humor is later by die venster uit. Deel van die probleem is daai ekstra spaarwiel wat ek by Jörgen geleen het. Jy moet tog probeer om ‘n ekstra spaarwiel sommer so in jou voertuig se bagasie-ruim in te laai saam met twee weke se kampgoed. Nou al daai paar goedjies wat moes plek maak vir die ekstra spaarwiel is nou op my vrou se skoot. Sy doen briljant om onder omstandighede die kinders stemmig te hou.

 

Lonely Planet se boek sê van die Epupa-valle dat “it defies description”.   En al wat ek op die oomblik oor die valle kan dink is: “F**** die valle!”

 

Langs die pad sien ons tradisionele krale wat lyk of dit vir toeriste oopgestel is om foto’s te kan neem. Elke Himba wat jou langs die pad gewaar beduie ongelukkig nou ook dat jy moet stop en betaal vir ‘n foto. Nogals jammer, want die Himbas tref jou eintlik as baie trotse en waardige mense, ten spyte van die feit dat hul stamnaam beteken “hulle wat bedel”.

 

En dan, uiteindelik kom ons oor ‘n bult en kyk af op die hoof val van die reeks valle. “Indeed, it defies description!”

 

 

 

Die valle strek oor 1,5 km. Die eerste daarvan is ‘n 37m val. Asemrowend.

 

Ons kry ‘n wonderlike staanplek, letterlik teenaan die rivier, sowat 60m stroomop van die hoof val. Die dreuning klink soos white noise. Harderige white noise, sal ek nou maar sê. Ons besluit dit was inderdaad die moeite werd om te kom.   Ons kinders swem heerlik. Die weer is wonderlik. Aan Angola se kant van die rivier hang ‘n verdwaalde wolkie rond. Die rivier maak natuurlike jacuzzi’s wat baie vlak is. Mens kan dus duidelik sien daar is nie krokodille nie, en dis darem ver genoeg dat jy nie sommer vanself by die waterval sal afval nie.

 

Buite die hek van die kampplek sit ‘n paar Ova-Himbas. Onder andere ‘n vrou met ‘n baba, wat diens doen as model. Ek is nie goed om besigheid te gesels met bostuklose vrouens nie. My vrou doen die onderhandelinge, en vir R5 mag ek foto’s neem van die dame. Ek neem drie.

 

 

 

Langs ons kampeer ‘n groep wat met die 4×4 roete van Ruacana af gery het. Hulle moes hul Toyota RAV plek-plek met die Gelandewagen by steiltes uitsleep. Die RAV het nie laestrek nie, en kon nie die steiltes uitkom nie. Hulle is baie beindruk met die feit dat ek met ‘n Venture daar uitgekom het.   Wanneer hulle Okongwati om terugry sal hulle wel agterkom dis eintlik geen probleem nie.

PGJ

Please call me

Januarie 14, 2011 in Sonder kategorie

Ek wonder of ek bekommerd moet wees wanneer ek ‘n ‘please call me’ op my selfoon kry wat my uitnooi om vir Mathata te bel indien ek binne die kategorie val van “back to school and sexualy active”.    Ek interpreteer dit dat ek beide moet wees.  “Learn your ABC’s:  Abstain, Be Faithfu, Condomize,”  gaan die sms voort.

Mmmm…. wel, OK, ek gaan mos darem gelukkig nie terug skool toe nie, so ek aanvaar ‘that settles it’.

PGJ

Don’t trust anyone….

Januarie 13, 2011 in Sonder kategorie

…. nie eers jou uroloog nie.

 

Jan Twak se hospitaalstorie inspireer my om ook (een van) my hospitaalstories te vertel. Die kruks van die storie (vir die wat nie vandag tyd vir nonsens het nie) is dit: moet niemand vertrou nie, veral nie jou uroloog nie, hoor nou wat ek sê.

 

Dit was eintlik ‘n groot dag, daai dag in April 2002. Vir my en vir Mark Shuttleworth. Nee, ek ken hom nie, ons het net toevallige ‘n gedeelde belangrike dag. Mark is daai dag maan toe, en ek is hospitaal toe.

 

Ek gaan meld die oggend aan by die hospitaal en boek myself in. Die dame agter die rekenaar pons allerhande brokkies inligting op die rekenaar in en druk ‘n vorm uit vir my om te teken.

 

Gelukkig lees ek die vorm, eerder as om net te teken by die kruisies wat sy gemerk het. Ek sien ek is bespreek vir ‘n vasektomie en ‘n besnydenis. Ek skrik. Ek het geweet van die vasektomie, maar die besnydenis is vir my nuus. Ek sê die dame daai besnydenis-ding gaan nie werk nie. As hulle my weer besny gaan dit ‘n amputasie wees. Sy kyk my humorloos aan. Sy neem die vorm terug en vergelyk dit met die besonderhede op haar rekenaar. Die inligting is korrek, lig sy my in. Sy bel nietemin die dokter se spreekkamer. Ek sweet.

 

Die dokter se ontvangsdame sê toe bykbaar dis oraait, ek hoef nie vir ‘n sirkumsisie te gaan nie. Dankie, ek voel nou beter, maar ek sweet nog steeds. Ek meen nou maar, ek is nog nie eens toegelaat nie, en ek bespeur ‘n basies fout, gelukkig darem voordat dit gebeur het. Dis nie asof die waarde van my voorhuid my so aanstaan nie, dis net, sover ek weet, ‘n nie-herhaalbare prosedure. Ek meen nou maar, waaraan sny jy die tweede keer?

 

Nou tik die dame weer die toelatingsvorm oor. Sy is nou al bietjie ongeduldig met my wat so orig is. Sy druk weer die vorm uit en sit dit onder my neus neer om te teken. Baie geïntimideerd besluit ek egter daar is te veel op die spel. Ek sal maar liewerster weer lees voor ek teken.

 

Nee! Wraggies, weggesteek op ‘n ander plek op die vorm staan dit lewensgroot weer: SIRKUMSISIE. Ek begin nou palpitasies kry, benewens die erge sweet wat nog nie tot bedaring gekom het nie.

 

“Seblief toggies?” prewel ek en druk ‘n bewende vinger op die woord.

 

Die dame versag haar houding, tik weer die vorm, en hierdie keer kom ek weg sonder die gewraakte prosedure.

 

Ai, maar slaap ‘n man lekker van die narkose. Met ‘n derde baba in die huis (jy verstaan nou waar die behoefte aan die mediese proseduretjie ontstaan het) het ek lanklaas so lekker geslaap.  Later maak hulle my wakker, my vrou is daar, ek kan maar huis toe gaan. Ek trek aan en ons gaan huis toe. ‘n Rustige daggie uit.

 

Maar narkose, lyk my, is ‘n pes. Iewers het ek ‘n paar uur verloor. Ek meen nou, buiten vir die die ure wat ek lê en slaap het. My vrou vertel my dat ek soos ‘n grapgat aangegaan het en al die nurse’e later rondom my bed gestaan en luister het vir my twakpraatjies. Ek weet niks van daai af nie. Dis eintlik onbillik, ek is seker mens sou iets kon skryf daaroor.

 

My vrou wil my nie alles vertel wat ek gesê het nie. Maar blykbaar het ek haar gegroet met die mededeling dat die nurse sê ons mag nie daai aand seks hê nie. By geleentheid, verstaan ek, het iemand iets van ‘n stand-up comedian gemompel, waarop ek toe blykbaar verduidelik dat ek meen hy is tans tydelik buite aksie.

 

Dit was blykbaar die kuis deel van my vertoning. Ek is vreeslik jammer. Ek is nie seker waaroor nie, maar ek is regtig jammer. Ek het blykbaar ietwat ongepoetsde goeters kwytgeraak.

 

Nou ja, 8 ure later, toe is die “8-ure blok” uitgewerk. Nou sien, terwyl die uroloog besig was het hy ook sommer ‘n sistoskopie gedoen. Dis wanneer hulle ‘n kamera voor by die blaaspyp indruk en loer wat in jou blaas aangaan. Soos ‘n “pee(p)ing tom”?

 

Die uroloog het vooraf mooi verduidelik dat hy dit met ‘n miniatuur kamera doen. Sommer so tjop-tjop. Sy woordkeuse, mag ek noem, het my ietwat ongemaklik gelaat. In ieder geval, toe daai 8-ure blok uitgewerk is, toe raak dit duidelik dat die uroloog NIE met ‘n miniatuur kamera daar in is nie. My outydse Richo KR10 Super kamera met zoomlens is ‘n mooi bog. Of dalk het die uroloog net vergeet om die driepoot af te haal, ek sal nooit weet nie.

 

‘n Paar dae later kon ek darem weer normaal toilet toe gaan sonder om flou te word van die pyn.

 

 

Ek reken Mark Shuttleworth het daai dag meer opwinding gehad as ek. Maar dan weer, dis baie goedkoper om vir ‘n vasektomie te gaan as om maan toe te gaan, en boonop betaal die mediese fonds nie vir trippe maan toe nie.

 

Maar die punt is: oppas vir jou uroloog!

 

PGJ