Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Diskobolos

Desember 10, 2010 in Sonder kategorie

Die een vreemdheid van die Weermag (diensplig) is dat gewone burgerlikes skielik in ‘n rangstruktuur moet inpas waar iemand wie dalk buite die Weermag laer as hy op die sosiale voedingsketting sou wees, nou bo hom in die bevelstruktuur staan. Dit kan lei tot konflik.

 

Neem nou maar byvoorbeeld rugby in die Weermag. Diskobolos, Kimberley, lank terug. Een van die dienspligtiges is ‘n vermaarde rugbyspeler. Hy weet wat hy doen, en hy kan dit goed doen. Ook is hy gewoond dat, vanweë sy bewese vaardighede, hy normaalweg ook die aanvoerder is van enige span waarin hy speel.

 

Maar nou werk ding effens anders mos in die Weermag. Die Kaptein (ek meen nou die ou met die drie sterre op elke skouer) is ook die kaptein van die rugbyspan. Dit beteken nie dat hy noodwendig ook weet wat hy doen nie, maar hy is nogtans die ou met die hoogste rang in die span, en daarom is hy ook die aanvoerder van die span.

 

Tydens ‘n oefening begin die dienspligtige nou lekker in sy element kom. Hy is in sy gemaksone. Hy oefen sy hart uit. Hy moedig sy spanmaats luidkeëls aan, gee raad waar nodig is, en komplimenteer waar komplimente aan die orde is. Dis sy ding daai, hy is gewoond dit werk so.

 

Die Kaptein, aan die ander kant, is ewe gewoond dat laer range luister wanneer hy praat, nie terugpraat nie, en oor die algemeen slegs praat wanneer hulle opgeroep word om te praat. Dit is nou in soverre dit sy staande mag lede betref van laer range. Dienspligtiges, daarenteen, figureer nêrens op sy radar nie. Hulle word nie eens mee gepraat anders as om hulle periodiek wit muur toe en terug, of brandkraan toe en terug te jaag nie.

 

Kaptein begin dus nou redelik gefrustreerd raak met hierdie dienspligte wat nou so half lyk asof hy die span begin oorneem.

 

So stop Kaptein nou eers die oefening en roep die dienspligtige nader. “Luister troep, wie is die Kaptein hier?” wil hy weet.

 

Dis soos daardie retoriese vrae wat jou laerskool juffrou vir jou vra. Jy weet wat die antwoord is, maar nou moet jy vinnig uitwerk wat die eintlik doel van die vraag is, en die verwagte antwoord, juis omdat die regte antwoord voor-die-hand-liggend is. In hierdie geval was daar natuurlik ook nie veel variasies op die tema nie, en was daar ook net een antwoord:

 

“Jammer, Kaptein, nee, Kaptein. Kaptein is kaptein, Kaptein.”

 

PGJ

Plaasstories

Desember 9, 2010 in Sonder kategorie

Ons pas plaas op. Ouma en Oupa is saam. Ek gaan wys oupa hoe ek boer. Ons gaan ry met die plaasbakkie rond, gaan inspekteer bietjie, sien. Nee, boer is cool, ek sê.

 

 

Dit reën kwaai. Teen laatmiddag bedaar die reën. Nou het ek ‘n verskoning om die motorfiets te vat en te gaan kyk of die driffie nog begaanbaar is. Bro’ Johnie arriveer later vandag uit Gauteng uit en ek wil sien of die driffie nog begaanbaar is. Maar die motorfiets is nie lus vir aanskakel nie. Selfstarter. Nee, die battery klink pap. Ek skop die motorfiets, maar dit werk ook nie. Nou laat hardloop ek die motorfiets teen ‘n afdraende af en rukstart, maar daai werk ook nie. Ek klim nou maar af en bekyk die motorfiets vanaf ‘n distansie. Dalk help dit. Dit help sowaar – ek sien die smoorklep onder die sitplek. Trek dit uit en skop weer. Dié keer die ‘kick-starter’, nie die motorfiets nie. Die motorfiets skakel aan.

 

Ry af driffie toe.  Die driffie is nog heeltemal in stand ten spyte van die reën. Nee, ek hou van boer.

 

Ek kry vir Fielies al dapper en stapper op pad terug van iewerster af. Nou ek het mos nou hierdie gehoorprobleem, sien. En die motorfiets raas mos effens. En nou praat party van hierdie manne ook ‘n aksent amper sonder ‘n sweempie van die taal.   Maar nou reken Fielies, of eerder, ek hoor: “warra warra warra … reënt…. warra …. warra …. huis toe…. warra… warra..” Ek sê nee dis reg, ek sal hom ‘n lift gee.

 

Nou in beginsel ry ek amper nie eens motorfiets nie; die ding het al klaar 2 wiele te min mos. Ek kry maar die ding aan die gang en klou dan aan die handles vas en hoop vir die beste. Dus is ek nie eintlik opgewonde daaroor om iemand te lift nie. Maar daremte is Fielies mos nie eintlik swaarder as ek self nie. Fielies kry sy sit agterop die motorfiets en gryp my aan my middelrif. Maar ek is bietjie kielierig, ek gooi amper die motorfiets om. Gelukkig versit Fielies sy greep en kom ons darem heelhuids by die plaashuis uit.

 

 

Nanties wag vir my by die huis. Ek moet ‘n boer in die omte bel oor ‘n sterfgeval. Sy vrou se oompie is dood en hulle wil net weet wanneer die begrafnis is. Dis nou Nanties se vrou se oompie wat dood is, nie die boer se vrou se oompie nie. Oompie Festus word môre namiddag begrawe, vind ek uit. Die begrafnis is op ‘n plaas so 10km weg.   Drie-uur die namiddag. Ek moet almal wie wil begrafnis gaan hou half-drie optel.

 

Voor half-drie word ek opgeklop – almal is reg vir ry. Almal klim agterop die bakkie, behalwe vir Galant. Hy gaan pad beduie.  Daar is uiteraard nie plek vir nog iemand voor in nie. Galant is baie gesellig. Dit laat my dink aan die manne in Atlantis se hof wie altyd, wanneer hulle regtig hul punt wil maak, getuig van “uit my uit, deur die hof tot binne-in jou”. Nou ja, so praat die wyn, uit die bottel uit, deur Galant, tot binne-in my kan jy maar sê.

 

Galant hou vir geen oomblik op met praat nie. Ek luister met ‘n halwe oor. Van wie van ek of die Kêrel is die oudste, van die oompie wie nou begrawe word wie 97 jaar oud geword het, en van Jan Mielies wat laasnag sy motorkar omgegooi het. Eers toe hy vertel hulle wou laasnag middernag hê Nanties moet my kom wakker klop vir die trekker om die motor weg te sleep besef ek die ding van Jan Mielies wat sy kar omgegooi het is ‘n kontemporêre storie. Met dié ry ons juis by die spore verby waar laasnag se ongeluk was. Nanties het geweier om my te kom pla. Gaaf van hom, maar dan weer, mens pla ook nie eintlik onnodig twee isegrimmige boerboele daai tyd van die nag nie.

 

Net die spore lê nog daar, die motor is nie meer daar nie.  Jan Mielies, verstaan ek, is darem nog met ons.

 

 

 

PGJ

Maar Kaptein…..?!

Desember 8, 2010 in Sonder kategorie

Suide van Angola, einde 1987.

‘n Demobilisasie kamp is opgestel waarheen troepe wat onttrek vanaf die Noordelike gevegsfront aandoen voordat hulle teruggaan na hul onderskeie basisse toe, of uitklaar om terug huis toe te gaan. Die Provoos Eenheid, beter bekend as Militêre Polisie, is ook by die kamp ontplooi om wet en orde te handhaaf, maar meer in besonder, om die verkeer te reël wanneer ‘n konvooi daar verby kom.  Dis die ongelukkige manne met vyande binne én buite die weermag.  

 

‘n Groep manne van vermoedelik 32 Bataljon sit en wag vir hulle geleentheid terug na hul basis toe. Hierdie manne het oor die laaste paar weke kwaai gevegte beleef. Hulle sit stil op hul eie, rook ‘n sigaretjie, en oor die algemeen, mind hulle eie besigheid.

 

‘n Jong lid van die Provoos Eenheid kom verbygestap. Hy kom nou pas aan uit Pretoria uit en het geen gevegsondervinding nie. Ook nie veel lewenservaring nie, blyk dit. Dit blyk wel dat hy al in ‘n paar ouens vasgeloop het wat hom vertel het van oorlog. Ouens wat waarskynlik weer by ander ouens gehoor het van oorlog.

 

So begin die Provoos lid die manne vermaak met sy weergawe van oorlogstories, van ‘n oorlog waaruit hulle pas vandaan kom en waarvan hy nog net gehoor het. Hy’t nie veel reaksie gekry nie. Hy’t ook nie eintlik agtergekom dat sy stories nie enige belangstelling ontlok nie. Stone walled is seker die raakste beskrywing van die reaksie wat hy gekry het.

 

Die Kaptein van die Provoos Eenheid kom aangestap. Met een snot hou klap hy die mannetjie plat teen die grond en loop weer weg.

 

Vir ‘n oomblik is dit doodstil.  Hier en daar wil-wil ‘n oorblufte glimlag trek oor van die gesigte van die toeskouers.

  

“Maar Kaptein….,” begin die mannetjie protesteer, maar dan word die res van sy sin vervorm met ‘n oorweldigende huil. Wailing is ‘n beter beskrywing. Tussen die huil en snikke deur sukkel hy orent, vat-vat aan sy gesig waar die klap hom getref het, en loop dan huil-huil weg.

 

Dan raak dit weer stil, en die manne teug weer aan hul sigaretjies met veraf uitdrukkings in hul oë.

 

PGJ

Die Krokodille van Goreangab

Desember 7, 2010 in Sonder kategorie

Die ding van windsurf is dat dit sekere basiese goed verg. ‘n Seilplank self is redelik kardinaal. Dan het jy wind nodig, en heelwat water. Dis soms lastig om veral die laaste twee komponente gelyktydig te hê.  Deesdae lê my windsurfer in ‘n stoor op ‘n plaas. Daar is ‘n dam wat soms water in het, en daar is wind. Maar dis selde dat die aanwesigheid van wind en water gelyktydig is. Dis of die een of die ander. Met die gevolg my windsurfer lê nou al bo-op in die stoor se plafon waar dit al omtrent vergeet is.

 

Ek was nog nie sedert 1987 weer by die Goreangab dam nie. Destyds het ons baie vrolike ure daar en by Walvisbaai met ons windsurfers deurgebring. Deesdae verstaan ek Goreangab nie meer so ‘n gewilde uithangplek nie. Iemand vertel my onlangs jy kan nou enige iets van fiets-speke tot menslike onderdele in die dam kry.

 

Ek dwaal nou bietjie van my storie af, maar ek herinner my ook die verleentheid die dag wat daar ‘n paar aanvallige dames naby aan ons kom nesskop het. Toe hulle met groot omslagtigheid begin om hulleself met sonbrandolie in te smeer, toe gryp een van my vriende my kamera sommer so op sy drie-poot en gaan neem stelling in enkele treë weg van die dames af om hulle mooi te bespied. Ons was later amper handgemeen in my poging om die kamera terug te kry in ons eie laer waar dit meer diskreet aangewend kon word. Ek meen, dit het mos immers ‘n zoom lens op gehad.

 

Op een windstil dag vermaak ons maar onsself toe maar om met die borde op die dam rond te roei. ‘n Vierjarige dogtertjie was ook deel van ons geselskap gewees, en vriend Spy neem haar op ‘n uitstappie op die bord. Die roeiery geskied met die hande, so dit gaan nie baie vinnig nie.   Ek weet nie wat Moetie se naam was nie. Sy was Duits en het haar ma “moetie” genoem. So het ons maar van haar as Moetie gepraat.

 

Moetie se ma het veiliger gevoel dat sy saam met ons by die dam rondspeel as om oor ‘n naweek in die woonstel te bly. Veral nadat sy op ‘n dag in ‘n hartstilstand oomblik vir Moetie gesien het waar sy vrolik op die balkon se rand loop en haarself balanseer. Dit sou nie so erg gewees het as dit nie was dat die woonstel op die 8ste vloer was nie.

 

In elk geval, terug by die dam. Alhoewel mens nie vinnige vordering kan verwag om met jou hande ‘n seilplank te roei nie, kom Spy agter dat dinge besonders stadig gaan. Hy kyk oor sy skouer, net om te sien dat Moetie met altwee haar handjies en beentjies in die water sleep, en dus so goed soos die seilplank se handrem opgetrek nie.

 

Nadat geen mate van vriendelike oorreding vir Moetie kon oortuig dat dit nie ‘n gawe plan is om so in die water te sleep nie moes Spy toe later oorgaan in dreigemente. Hy verduidelik toe mooi vir Moetie dat daar groot krokodille in die dam is en dat dit regtig nie raadsaam is om so jou ledemate in die water te laat sleep nie.

 

Dinge het dadelik beter gegaan, maar nie vir lank nie,  toe is Moetie se ledemate weer almal in die water en is vordering beperk. Spy loer ergerlik oor sy skouer, maar voordat hy vir Moetie weer kan herinner aan die krokodille glimlag sy liefies vir hom en sê: “Hieso is net sulke klein likkidilikies!” terwyl sy met die een  hand beduie hoe klein hulle is.

 

PGJ

Die Travelling Willeboere

Desember 6, 2010 in Sonder kategorie

Nadat ons ons tande effens geslyp het op die Goreangab dam besluit ons dis tyd om die groter waters aan te durf. Nie branders nie, net baie meer water. Walvisbaai is die logiese keuse.  

 

So sit ons een langnaweek in Mei af Walvisbaai toe. Vier man in ‘n Mazda 323, met twee windsurfers op die dak. Die pad is lank, so ons probeer maar bietjie spoed gee. Ja, “probeer” is inderdaad die korrekte woord. Die bedoeling was daar, maar die uitvoering effe gebrekkig. Bulte op rat jy na ‘n laer rat, die enjin raas, maar al wat verander is jou gesigsuitdrukking.

 

Na ‘n ietwat moeisame tog spoed ons Walvisbaai binne. Ek het geen idee meer waar ons tuisgegaan het nie. Baie moontlik by een of ander militêr-verwante bly-plek, want ek kan onthou dat ek lank in die tou moes staan tussen ‘n klomp ander dienspligtiges vir ‘n beurt op die tiekiebox.

 

 

Die seil-geleentheid het ons maksimaal benut. Toe my hande begin blase kry van klou aan die windsurfer se boom moes ek die aftog blaas. Toe het ons nog nie harnasse gehad om die druk van jou hande af te haal nie. 

 

 

 

 

Met ons hande seer en ons lywe moeg is ons terug na die bungalow waar ons tuisgaan. Uiteraard is ‘n braai medies aangedui. Die Saterdagaand na ons klaar gebraai het gaan staan ek in die tou om van die tiekiebox af my vrou (toe nog my girlfriend) te bel. Ek raak aan die gesels met die dienspligtige voor my in die tou.

 

Hy vertel my hy is van Johannesburg. Met dié dat dit so ‘n lekker lang naweek is, van die Vrydag tot die Maandag (ek raai dit moes Paasnaweek gewees het) het hy besluit om huis toe te hike van Walvisbaai af. Vroeg Vrydagoggend het hy ‘n geleentheid gekry Swakopmund toe en ‘n paar kilometer gestap tot buite die dorp waar hy met ‘n hoopvolle duim ‘n geleentheid probeer nader wink het.

 

Daar het min motors Windhoek toe gery. Die stroom voertuie was in die teenoorgestelde rigting. Toe hy ‘n dag-en-‘n-half later nog steeds op dieselfde plek staan het hy besef die naweek Johannesburg toe gaan nie afkom nie. Hy stap toe maar oor die pad waar hy feitlik dadelik ‘n geleentheid kry terug Walvisbaai toe. Nou gaan hy maar sy meisie bel om te sê die verrassing wat hy vir haar vir die naweek beplan het gaan nou nie so lekker werk nie, maar dis darem die gedagte wat tel.

 

Teen Sondag was ons fut bietjie uit vir seil. Van die vier van ons het drie reeds klaar geswot. Ons was dus so 4 jaar ouer as die jonger lid van ons geselskap wie pas uit die skool uit was. Ons was heel gemaklik om in ‘n parkie in Swakopmund onder ‘n boom te sit en ontspan. Charles het anders daaroor gevoel. Hy het ook geen geheim gemaak van sy misnoeë oor ons ou manne wat gevrek is en in die ouetehuis hoort nie.  

 

Ons besluit toe dis nodig om Charles verkeerd te bewys.   Ons is inderdaad jonk genoeg om simpel te wees.

 

 

 

 

 

Teen Sondagaand het dit begin stil raak. Ten spyte van ‘n lekker naweek het ons almal belange elders wat maak dat ons liewer by die huis, of by ‘n spesifieke iemand anders se huis, sou wou wees.

 

Maandag ry ons min of meer nog in dieselfde gemoedstemming terug Windhoek toe. En op ‘n manier is daar no place like home, selfs al is dit jou kamer in die menasie ver weg van jou regte huis af.

 

PGJ

In die gang

Desember 6, 2010 in Sonder kategorie

Stampriet, naby Mariental, Namibië.

 

Ons kuier op ‘n plaas. Tot laataand kuier ons rondom die braaivleisvuur.  Die plaashuis is basies teen-aan die pad, met ‘n toegegroeide heining tussen die huis en die pad. Mens hoor dus eintlik relatief baie verkeer vir ‘n plaas. Nie dat daar eintlik veel verkeer is nie, maar ek meen nou maar, dié wat wel daar verbygaan, die hoor jy.

 

Nog ‘n voertuig kom verby, en dan skielik hoor ons bande gly op gruis en ‘n slag. Toe stilte.

 

Almal vlieg op en draf deur die heining om te gaan kyk. In die pad lê ‘n verskrikte perd. Die perd was “in die gang”, die deel van die pad tussen die grensdrade. Die eienaar van die perd is ‘n ou man. Hy en sy vrou is ook daar. Karretjies-mense, raai ek, behalwe dat daar nie ‘n karretjie aan die perd was nie. Die perd, egter, is hulle kosbaarste besitting, om logiese redes.

Almal staan onseker rond.

 

Iemand kyk of hy die perd kan kry om op te staan. Die perd bring sy nek dapper orent, proes-sug, en sak dan weer terug in die pad. Iemand wie perde ken sluit hom later by die groep aan. Almal kyk in afwagting terwyl hy die perd ondersoek. Hy vat hier vat, druk daar, streel bemoedigend met sy hand oor die perd se nek.

 

“As meneer my net kan help om die perd weer op sy voete te kry?” pleit die ou man.

 

Die man by die perd kyk op na die ou man. Toe kyk hy weer af na die perd, pers sy lippe saam en skud sy kop. Toe vra hy sag: “Het iemand ‘n geweer hier?”

 

“Asseblief, meneer, hy sal weer loop, ons moet hom net op sy voete kry!” Die ontsteltenis in die ou man se oë toe hy besef waarheen dit op pad was ontstel my nou nog.

 

“Daar’s niks wat ons kan doen nie, die perd het sy been gebreek,” verduidelik die man, terwyl hy oor die perd se nek al dringender vryf. Daar is ‘n magteloosheid in die gebaar.

 

Iemand gaan haal sy geweer agter sy bakkie se stiplek gaan uit. Die ou man keer en kom tussenbeide. “Asseblief, meneer, hy gaan weer loop!” Sy trane loop.  Ek loop toe ook.

 

Toe die skoot egter klap kon ek nie anders as om om te kyk nie. Toe die skoot tref is dit asof die perd so op sy sy aan die hardloop gaan vir verskeie sekondes, totdat die stuiptrekkings bedaar.  Toe word dit heeltemal stil.  

“Meneer, hy sou weer geloop het, meneer….” het die ou man verwytend geprewel toe hy langs die dooie perd gaan sit.

PGJ

Windhoek stories

Desember 5, 2010 in Sonder kategorie

Tydens my diensplig in Windhoek het ons baie Saterdae by die Goreangabdam deurgebring. Daar is ek vir die eerste keer blootgestel aan windsurfing. Met die gogga wat destyds (na bewering) die snelgroeiendste sport in Suid-Afrika (en die destydse Suid-Wes) was, het ons basies elke kans wat ons kon kry dam toe gegaan. Soms was daar wind, dan kon ons seil ook.

 

 

 

 

 

In die afwesigheid van wind moes ons maar onsself vermaak. Dit het ook heel dikwels gebeur. Wind of nie, dit was deurgaans pret.

 

 

So ry ons op ‘n dag vrolik terug na ‘n lekker dag by die dam. Dis warm, ons ry kaal bolyf, sommige het ‘n bier in die hand. Die vensters is afgedraai, en by elke rooi verkeerslig bied Smittie joviaal ‘n slukkie bier aan vir dames wie langs ons tot stilstand kom by die verkeerslig. Dan stoot ‘n man maar jou bors uit en druk jou arm styf op die oopgedraaide venster dat jou arms gespierd kan lyk. Ons is cool katte, en geniet die rol terdeë. Ongebonde, niemand ken ons in elk geval van nêrens af nie.

 

Smittie kon improviseer.

 

“Waarvandaan kom julle?” vra twee dames vriendelik so tussen die slukke van Smittie se bier deur by een van die rooi verkeersligte. Wel, die twee windsurfers op die dak gee ‘n aanduiding wat ons gedoen het, maar toegegee, dit gee nie noodwendig ‘n aanduiding waar ons vandaan kom nie. Of dalk het die meisie bedoel waar ons permanente residensie mag wees.

 

“Ons kom nou net van ‘n troue af,” verduidelik Smittie. “Ek en hy het nou net getrou,” beduie hy na my kant toe met die bier wat intussen teruggehandig is. Die verkeerslig slaan genadiglik groen en ek ry vinnig weg. OK, “vinnig” is nou ‘n relatiewe begrip, gegewe die motor en die lading.

 

By die volgende verkeerslig hou ‘n blonde meisie met ‘n Volla langs ons stil. Ek het nog nie behoorlik herstel van Smittie se vertoning by die vorige verkeerslig nie. Smittie besluit die manier om hierdie blondie te beindruk gaan wees met die “song”-gedeelte van “wine, women & song.” Hy draai die bandspeler vol oop dat alles vibreer in die motor.

 

Smittie was suksesvol in dié sin dat die blonde meisie in die Volla darem geamuseerd na ons kant toe kyk. Uiteraard kyk ons nou almal ewe geinteresseerd terug. Dan sluk-sluk ek in herkenning en probeer desperaat ongemerk keer dat Smittie oudergewoonte sy bier aanbied, maar sy bier is in sy linkerhand, en ek sit aan sy regterkant.

 

Ek draai vinnig die musiek dood en groet die blonde meisie op haar naam en probeer dringend ‘n gesprek aan die gang kry voor enige van my kollegas dalkies ietsie effens onkuis mag kwytraak. My kollegas is grootliks beindruk met my dat ek die meisie ken.

 

Sien, ek het geweet my sendeling-dokter vriendin doen haar huisdokterjaar in Windhoek, maar het nog nie in haar vasgeloop nie – tot nou by hierdie rooi verkeerslig.  Ek probeer hard om vinnig terug te default na my ordentlike verstelling toe.  

 

Gelukkig het dit geblyk dat ons vertoning nie onnodig banaal ervaar was nie, want oor die loop van die volgende jaar het ons crowd baie saam gekuier met die dame. Maar ek het tog so half by myself gedink:  “laat dit nou vir jou ‘n les wees”.

 

PGJ

Bloggersprotokol?

Desember 5, 2010 in Sonder kategorie

Ek het vanoggend so half huiwerg kom loer op my blog(s).

Ek het gisteraand my tweede blog hier op Litnet die lig laat sien onder die naam AfrikaNerd.  Ek was so half onseker of iemand dalk op my rug sou spring oorlat dit een of ander ongeskrewe blog-reël sou oortree om onder verskillende name verskillende blogs te bedryf.  Darem toe nie. 

Wanneer ek die kuberkraker uit my gestel uit het sal ek weer voort blog op my pgjonker.co.za blog, alhoewel ek daar hoofsaaklik in Engels skryf.  Gedog dis dalk ‘n gawe gedagte om voortaan daardie bydraes dan sommer in Afrikaans op AfrikaNerd te doen.

PGJ

Kgalagadi

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

Lank terug.

Nadat ek jare gelede vir my ‘n nuwe tweedehandse Venture aangeskaf het, het ek gereken dit was tyd om ‘n paar toere aan te pak wat andersins bietjie moeilik sou wees met my Jetta. Enersyds omdat die Jetta ‘n stadium in haar lewe bereik het wat ek nie meer seker was of sy dit sou maak tot by die werk en terug elke dag nie. Andersyds omdat, ten spyte van ‘n monstroseuse groot boot, ons as gesin die vermoeë het om enige bagasieruim vol te pak – ongeag of ons vir ‘n week of vir ‘n namiddag weggaan. Wat my laat wonder hoe ons dit jare gelede in die weermag reggekry het om 5 ouens in my 1979 Mazda 323, met twee windsurfers op die dak + ons bagasie, vir ‘n naweek van Windhoek af Walvisbaai toe te ry. Maar dit daar gelaat.

 

My vrou het nog altyd ‘n passie gehad om die Kgalgagadi leeus te kan sien. Dis juis hierdie leeus wat my ‘n idee gegee het. Wat van ons vat vir skoonma saam.

 

Nou ja, so is ons dan op reis die wintervakansie. Petrolstop op Vanrhynsdorp. Volgende petrolstop op Brandvlei.

Ons eet middagete in Die Windpomp restaurant wat op sy spyskaart daarmee spog dat dit die beste pomp op die dorp is. My vrou loop ‘n kollege-vriendin raak wie daar woon. Opgewonde verneem sy: “Is jy gelukkig hier?” Die vriendin maak groot oë, skud haar kop, en neem nog ‘n slukkie van haar bier terwyl sy in die spieël agter die toonbank staar. OK, kom ons probeer liewers ‘n ander onderwerp.

 

Daarna mik ons vir Upington se Die Eiland vir ‘n eerste oornag. Die volgende dag pak ons die pad aan Kgalagadi Oorgrenspark toe. Ons wil gou by Ashkam stop. Ons ry per ongeluk die dorp mis en draai om vir die ingang na die dorp toe. Ashkam is nie onnodig groot nie.

 

Die laaste sowat 80km’s tot by die Park was toe nog grondpad. Ons geluk was dat die pad net mooi in die proses van skraap was. Tewens, ons het ‘n tyd lank sommer agter die padskraper aangery, maar dit het darem bietjie stadig gegaan. Ek moes toe maar die sinkplaat aandurf sonder die aanvoorwerk deur die padskraper. Dit was maar ‘n stamperige affere.

 

Dit was ‘n verligting om die Park se hek te bereik na die laaste stukkie sinkplaat. Na die formaliteite maak ons kamp by Tweerivieren.

 

 

Koud

 

Die geheim van diere kyk, is vir my vertel, om vroegoggend uit te wees. Ons het dit nooit reggekry nie. Met die jongste van ons (toe nog net twee) kinders 4 jaar oud, plus ouma, was vroeg opstaan in bitter Kgalagadi koue nie ‘n opsie nie. As ek nou eerlik moet wees dan is voorgaande twee verskonings eintlik maar bloot gerieflik gewees. Daar is net geen manier as die ys buite op die tent lê dat jy my geinteresseerd sal kry in opstaan om diere te kyk nie. Die diere kan wag tot ek eers ontdooi is.

 

Goed, ons het seker die prys daarvoor betaal. Ons het toe nie enige leeus gesien nie. Ons het wel verskeie Gemsbokke en Blouwildebeeste en Springbokke gesien.

 

 

Ek kan met genoegdoening rapporteer dat nie een van daardie spesies uitsterwend is nie. Daar is ook geen rede om die eerste Blouwildebees wat jy sien af te neem nie – glo my, daar sal nog wees. Deesdae maak dit nie meer saak nie, maar daardie was in die pre-digitale tyd toe jy nog beperk was tot sê 36 foto’s (waarvoor jy moes betaal om dit later te kan sien) per film, en moes mens bietjie meer spaarsamig op die foto’s wees.

 

 

Toe dit tyd word om te skuif na Mata-Mata toe besluit ons om liewer in Tweerivieren te bly. Op daardie stadium kon ek beswaarlik die sin insien om my hele pakkasie af te breek, plek daarvoor te soek in die Venture, ‘n halwe dag ry en alles weer gaan opslaan om dieselfde diere op ‘n ander plek te gaan kyk. Toegegee, by terugskouing is ek spyt ek het nie maar deurgedruk nie. Ek weet steeds nie hoe lyk Mata-Mata nie. Maar ‘n buitelugsleepwa met alles wat net oopskuif en –trek en binne minute opgeslaan kan word het tot by nommer 1 op my wenslys gevorder.

 

Augrabies

 

Ons terugreis neem ons Augrabies toe. Ons was gelukkig dat die waterval mooi vol geloop het. Die Kgalagadi koue het maar sy tentakels daar ook om ons gevou, maar dit was darem heel houdbaar.

 

Met die terugry gooi ek petrol in op Kakamas en sien op die kaart daar loop ‘n grondpad Loeriesfontein toe. Een van die locals beveel my af om die pad te ry. Daar is min voertuie op die pad, en blykbaar is daar leiklip op die pad wat geneig is om bande te sny. ‘n Ekstra spaarwiel is dus ‘n sterk aanbeveling, sê die man my.

 

Ná kajuitraad met die familie besluit ons dat ons nog nooit voorheen so goed voorbereid was om langs die pad te gaan staan nie. Ons het kos, water, gas, tente, die werke. Ons sal ‘n dag of twee kan hou as daar ‘n probleem kom.  Dus mik ons vir Loeriesfontein.

 

Daar’s ‘n pad na Loeriesfontein

 

Nee, dit klink nie heeltemal reg nie. Ek het nou vir ‘n oomblik gedink daar is so ‘n song, maar ek verwar dit met die Trein na Matjiesfontein.

 

Die pad is eintlik nie sleg nie. Dis goed geskraap, maar gedagtig aan die waarskuwings van leiklip ry ek stadig. Sover ek op die kaart kan sien moet dit seker so 250km wees Loeriesfontein toe. Dis diep Boesmanland. Hier en daar is ‘n plaashuis sigbaar van die pad af, maar dit lyk asof almal ontruim is.

 

Na so ‘n driekwarier of meer se ry besluit ons dis seker nou tyd om stil te hou om iets te eet. Skoonma stel voor kom ons ry tot ons ‘n boom kry. ‘n Uur later stop ek by die eerste en enigste bosserige boom wat met verbeelding kan deurgaan vir ‘n boom.

 

 

Ons haal die gasbottel uit en begin koffie maak. Ek maak my kaart op die Venture se bonnet oop en probeer uitwerk waar ons dalk kan wees. Na vorentoe en agtertoe strek die pad uit, met geen einde in sig nie.

 

Eisj!

 

Op hierdie sowat 250 km het ons 6 voertuie van voor af gekry. Almal plaasbakkies, almal met ooglopend ‘n ekstra spaarwiel. Ons het ook 6 stukkende motorbande langs die pad gesien lê, twee daarvan met gebruikte (aanvaar ek) brandblussers wat langsaan lê.

 

Op Loeriesfontein tap ons petrol. Ek het al begin wonder oor die volgende petrolpomp. Toé het ek gedink my Venture is swaar op petrol. Tot ek haar vervang het met my 3.4 liter bakkie, toe eers het ek besef hoe lig die Venture eintlik op brandstof was! Ek moes eintlik daai tyd die petroljoggies aangemoedig het om sommer bietjie petrol op die paving te mors oor die Venture so ekonomies was.

 

Maar ek dwaal af. Van Loeriesfontein af mik ons na vriende op Vredendal, en vandaar huis toe in Brackenfell.

 

Lekker eerste lang toertjie met die gesin, met karige kampgoed. Ons hoop was dat dit die begin van groot dinge kon word.

 

PG

Die krag van suggestie

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

‘n Tyd gelede stuur bro’ Johnie vir my ‘n stuk wat illustreer hoe jou brein die vermoeë het om sekere goed in te vul wat nodig is om die geheelprentjie te kan kry.  Die betrokke stuk was ‘n Engelse stuk waarvan elke woord verkeerd gespel is, buiten vir die eerste en die laaste letter.

Die deol van daradie ilsltarsie was om te toon hoe jou brien vnaslef die lterrs kan rnodoskmeml en vir jou ‘n snivlloe itnerpertsaie wreegee.

OK, jy kry die idee. 

Netnou krap ek rond in my blog se kombuis en let op die volgende gedeelte daar.

En ek besef vir die eerste keer dat die woorde langs die kruis lees “Add Badge”.  Tot nou toe, elke keer wanneer ek vlugtig daaroor gelees het, het ek gelees “Add Bandage”.  En ek vermoed die rede hoekom my brein hierdie speletjie met my gespeel het, was vanweë die kruis vooraf wat vir my nog elke keer soos ‘n pleister gelyk het.

Pretty amazing, huh?   Of is ek net pretty stupid, dalk.  [Dis ‘n retoriese vraag wat nie noodwendig beantwoord hoef te word nie.]

PGJ