Interessante mense

November 26, 2010 in Sonder kategorie

Die ding van toer is dat mens interessante mense ontmoet. Soos die dames wat ek die keer by die munisipale stortingsterrein ontmoet het.

Jy mag redeneer dat ‘n rit na die munisipaliteit se mopgat nie tel vir toer nie, maar as jy heeldag self die takke gesaag het, en dit self agter in die bakkie gelaai het, dan, teen die tyd wat jy agter die stuurwiel inskuif om mopgat toe te ry, is dit sekerlik ‘n ontspanningsrit. Ek meen dus dit tel wel vir toer.

Een sonnige winter Saterdag gaan laai ek tuinafval by die mopgat af. Vanweë harde reëns is die uitgangsroete beperk tot ‘n tweespoorpaadjie deur ‘n andersins modderbad. Terwyl ek nou op hierdie spoortjie terugry sien ek hierdie drie meisies raak wat reg langs die spoor staan. Seker so vroeg twintigs, sal ek skat, baie mooi aangetrek. Nogals regtig mooi aangetrek, sal ek nou maar sê.

Dit was nie vir my vreemd om die dames daar te gewaar nie. Ek het aanvaar hulle kom van die woonbuurt teenaan die mopgat. Daar is net ‘n hek tussen die buurt en die mopgate.

Toe ek naby hulle verbyry wonder die een hardop “hoe lyk dit met ‘n lift”. Ek reken toe ek kan netsowel die res van my tuinwerk bietjie uitstel en die dames in die dorp gaan aflaai, wat seker so ‘n kilometer weg is.


Waarheen,” vra ek.

Waar gaan jý heen,” volg ‘n teenvraag.

Nee, ek gaan huistoe, waarheen wil jule gaan?” vra ek weer.

Is jou vrou by die huis?” vra die een.

Nou ja, hierdie gesprek was nie besig om volgens verwagting te verloop nie. Aangesien ek teen hierdie tyd vermoed dat my edel bedoelings dalk verkeerd verstaan is sit ek toe maar liewer my bakkie in rat en ry weg huis toe.

Tuis vertel ek my vrou daarvan. Sy skud net haar kop en reken: “Jy weet ook niks nie.

Nou ja, heelwat later, op ‘n regte toer, laai ek by geleentheid die gesin af by die winkels in Katima Mulilo terwyl ek self afsit na die garage toe om petrol in te tap. Terwyl ek vir die pompjoggie wag om my te help stap daar ‘n jong mooi meisietjie verby. Jonk, ek weet nie of sy al 17 jaar oud kan wees nie. Sy glimlag vriendelik vir my, en ek glimlag terug. Ek meen, dis mos die regte ding om te doen. Haar glimlag verbreed, sy gaan staan, en gee so ‘n wuifie met haar een hand. Nie ‘n normale wuif nie. Agterna het ek gedog dit het meer soos ‘n naderwink gelyk.

Gelukkig onderbreek die pompjoggie my aandag, en moet ek eers aandag gee aan sake voor hande. Toegegee, daar normaalweg is nie veel om aan aandag te gee by ‘n vulstasie nie, maar dit het 5 van ons onnodig lank gevat om die 3.4 V6-enjin se olieprop af te kry. Die jong meisie het intussen verdwyn.

Toe ek die gesin weer agterna oplaai vertel ek my vrou van hierdie vriendelike meisie.

Reken my vrou: “Jy leer ook niks nie, né

PGJ

5 antwoorde op Interessante mense

  1. Weer twee Jonkers (jonkhere) na mekaar. Ken julle mekaar?

  2. Niks fout daarmee om “naive” te wees nie!
    ‘n Smile kos darem niks nie – moet netnie ‘n tweede keer smile nie!
    🙂

  3. Inderdaad ja. He aint’ heavy, he’s my brother.

  4. Buy a womb…?! Sproing! Ek sou ook heeltemal clueless gewees het!

  5. Ag nee! Seker omdat ons in dieselfde skool was.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.