Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Verbrands

November 30, 2010 in Sonder kategorie

Kort nadat ek my splinternuwe tweedehandse bakkie by ‘n car rental plek gekoop het, toe het sy ‘n klep gebrand wat ek moes laat regmaak. Dit blyk toe ‘n algemene kwaal van daardie enjins te wees, en 60 000km’s later toe is dit weer so. Ek troos my toe maar daaraan dat ander ouens met meer eksotiese voertuie in elk geval normaalweg vir ‘n diens betaal wat dit my kos om die fout op my ou-tegnologie bakkie te herstel.

 

Die enjin herbouer het dit goedgedink om sommer al die kleppe vervang. Ek het besluit ek sal waarde vir geld uit hierdie bakkie van my kry, kom wat wil. Dus gebruik ek nou my kleppe om my grondseil in die grond vas te slaan as ek kamp.

 

Jy’t nie ‘n idee hoeveel bevrediging ek daaruit kry om telkens daai kleppe in die grond vas te moker met die hamer nie!

 

 

 

 

 

 

 

ORFF

November 29, 2010 in Sonder kategorie

Vanaand het ek my graad 2 seun se ORFF konsert bygewoon.  Weet nie mooi waarvoor dit staan nie, maar dis soortvan ‘n zooped up slagorkes, met ‘n woonhuis vol xillofone en so om dinge bietjie aan te help.
 
Die juffrou in beheer verstaan duidelik van kindertjies.  Wanneer die spannetjie op die verhoog staan, dan lat sy hulle eers gou almal vir hulle se ma’s en pa’s waai om dit net eers uit hul gestel uit te kry dat hulle kan aangaan met die besigheid van musiek maak.
 
O ja, daar is ‘n paar blokfluite ook in die prentjie.   Ek het altyd gewonder hoekom mense hoekom blokfluit baasraak.  Ek meen nou maar, het jy nou al ooit ‘n blokfluit in ‘n orkes gesien speel?  Enige orkes.  Behalwe nou by die eistedfodd.  Mmmm…?   Nee.
 
Die wysheid van blokfluit is egter as volg deur bro’ Johnie aan my verduidelik.
 
Blokfluit leer die kind die basics van musiek.  Ook kom jy agter of hy enigsins ‘n aanleg het en of hy hou daarvan, teen ‘n geringe kapitale uitleg.  Jy kan verskeie blokfluite koop vir die prys van een klavier, byvoorbeeld.
 
Dan, as dit blyk dat musiek nie eintlik die bloedjie se ding is nie, dan kan jy darem agterna met die blokfluit borrels blaas in die bad.  Die klavier, daarenteen, sukkel vreeslik om by die badkamerdeur in te gaan.
 
Maak eintlik sin, né.  Party mense is net so slim.
 

Karstories

November 29, 2010 in Sonder kategorie

Jare gelede is ek in Windhoek besig met diensplig.

Bro’ Johnie kom kuier in Namibië met sy Jetta. Nuterig, nogals. Die vingerklip in die Suide van Namibië het toe nog gestaan. Nadat hy en sy vrou die vingerklip besoek het, het hy dit nodig geag om baie vinnig daar weg te jaag. Hy wil nie sê hoekom nie, maar kort daarna het die vingerklip dan ook in duie gestort. Bro’ Johnie ontken egter tot vandag toe dat hy iets daarmee te doen gehad het.

 

In sy haas om weg te kom, egter, rol hy toe sy Jetta op die grondpad. Die vieslike detail daarvan kan jy lees in sy eie posting hieroor.

 

Met die Jetta effe mank kom hy toe tot in Windhoek en toer die res van Namibië met my 323 Mazda. Dit was heeltemal ‘n mutually beneficial reëling vir my, want hy kry toe so baie pap wiele dat ek my Mazda terugkry met 3 splinternuwe bande.

 

Twee jaar later toe koop ek die Jetta by hom. Die motor het haar besonders goed gedra vir die volgende 10 jaar, maar teen daardie tyd was sy nou nie meer heeltemal in haar fleur gewees nie. Dit raak toe tyd vir ‘n nuwe motor. Nadat ek die nuwe tweedehandse Venture gaan koop het, wag ek op aflewering, wat sal geskied in ruil vir hierdie Jetta. Dit was dus krities dat die Jetta vir ten minste nog ‘n week moes aanhou loop. Ek moet darem byvoeg dat ek vir die handelaar aangebied het om ‘n lys te maak van alles wat verkeerd is op die Jetta, maar hy het nie belang gestel nie. Hy was tevrede om haar te neem net soos sy is. Dis amper soos ware liefe, jy verstaan.

 

Drie dae later, egter, en voordat die transaksie afgehandel kon word, gaan staan die Jetta toe sowaar die oggend met my op pad skool toe met die kinders.  Verbygaande mammas tel die kinders op, en my vrou kom haal my met my 323 Mazda (wat ek toe nog steeds het).  

 

Ek is toe redelik benoud. As die Jetta se enjin nou heeltemal die gees gegee het, dan is die Venture-transaksie daarmee heen, en dan sit ek met ‘n kar wat nie eintlik kan ry meer nie. Ek het, soos ek gewoonlik doen in krisis-situasie soos hierdie, ‘n paar keer met my hand oor die enjin gestreel, maar dit het nie gehelp nie (dit het al gehelp by ander geleenthede, regtig).

 

My drie-jaar oud dogtertjie wat saam met haar ma gekom het was baie bemoedigend. “Toemaar pappa, liewe Jesus sal sy engeltjies stuur dan gaan hulle die kar regmaak.”

 

Daar het toe nie ‘n engeltjie gekom nie, maar ‘n groot fris motorwerktuigkundige. Hy het bietjie gefroetel met die enjin, en sowaar, daar loop die enjin.

 

Met sy swaar London aksent beduie hy toe vir my dat hy bloot twee plugdrade omgeruil het. “In theory it should not be running at all,” verduidelik hy. Hy stel toe ook voor dat ek die kar reguit na ‘n motorhandelaar toe ry en, as ek so ver kom, nie probeer om enigsins verder as die handelaar te ry nie.

 

Nou ja, die Jetta het toe nog vir drie dae geloop, waarna ek haar by die handelaar gaan afgee het in ruil vir die Venture.

 

Miskien wás die motorwerktuigkundige ‘n engel(tjie)….?

 

PGJ

Rugby op Nuweland

November 28, 2010 in Sonder kategorie

‘n Vriend bel my die Saterdag-middag omtrent ‘n halfuur voordat die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op Nuweland begin om te verneem of ek belangstel om te gaan kyk.  Ek moet net eers die kaartjie in Milnerton gaan optel, sê hy.

 

Ek spring in die motor en ry om die kaartjie op tel in Milnerton, en mik van daar deur die (op daardie stadium) verlate strate deur Kaapstad.  Hoopvol arriveer ek vyf minute nadat die wedstryd begin het by Nuweland.  Ek het goeie hoop om darem nog die grootste deel van die wedstryd te sien.  Maar dis nogal ‘n storie om parkering te kry.  Op en af, heen en weer, ek is later heel verdwaal.  Kry uiteindelik parkering, maar seker 2 km weg van die stadion af.

 

Nou draf ek maar aan stadion toe.  Ek kom van die Suide-kant af, net om agter te kom ek moet by hek #24 wees, wat heel aan die Noordekant van die stadion is.  Toe ek dus uiteindelik natgesweet binne-in die stadion aankom toe sê die horlosie teen die Suid-pawiljoen daar is nog 14 minute oor van die eerste helfte.  Die Springbokke loop 10 – 3 voor.

 

Nou strompel ek na my sitplek toe. Op pad sountoe skrou ‘n ou hier van die kant af vir my ‘n hartlike verwelkoming.  Ek weet nie of hy van nature joviaal is nie.  Eintlik dink ek hy het my met iemand anders verwar.  Ek skrou ewe hartlik vir hom terug.  Mik na my sitplek toe.  Maar daar sit reeds ‘n kêrel.  En hy konsentreer regtig hard op die spel.  Ek spring op en af, roep, swaai my kaartjie rond, maar daai man sien niks.  Gelukkig is die 2 sitplekke agter hom oop, en ek sit maar sommer daar. 

 

Die kêrel regs voor my draai om en berispe my dat ek so laat is.  Ek vra om verskoning en verduidelik dat ek mos nou eers drie-uur my kaartjie in Milnerton moes kry, verstaan,  en deur die stad moes ry en parkering moes soek en moes hardloop na die stadion toe en …..  Hy is baie bly ek is daar en skud blad met my.   “Ja”, kom dit van die sitplek agter my af, “waar was jy, ons wag al heelmiddag vir jou!”

 

Miskien is dit die ding van rugby kyk op Nuweland.  Almal is baie bly om jou te sien, al weet hulle nie wie jy is nie, en selfs sonder dat hulle gesuip is.  Jy moet darem net vir die regte span skree.

 

Die rugby kyk self is bietjie van ‘n teleurstelling.  Dis amper soos om sonder my bril TV te kyk.  Dour ver jaag 30 ouens ‘n rugbybal.  En van waar ek sit kan ons nie die groot skerm sien om die kyk-weer aksie te sien nie.  Maar die stemming is besonders.  Alhoewel dit nie te watwonders was op die stadium wat die Springbokke 19-10 agter was nie. 

 

Twee jong latte probeer die Mexikaanse golf aan die gang kry, maar dit hou net so 5 rye sitplekke ver.  Die man agter my verduidelik ‘n mens doen nie ‘n Mexican wave as jy verloor nie, net as jy wen – dis hoekom dit nie werk nie. Maak eintlik sin, meen ek.  So leer mens allerhande goed van rugby as jy op Nuweland is.

 

Seker die grootste momente van die deel van die wedstryd wat ek wel gesien het was die 2 skepskoppe deur Frans Steyn.  Toe hy die telling gelykop maak met die eerste een is dit omtrent soos ‘n donderbuis wat afgaan soos almal op die pawiljoen mal gaan.

 

Die man wat op my sitplek sit en sy pel twee sitplekke verder aan is Ozzie ondersteuners.  Tussen hulle sit hulle rasta-pel wie ‘n Springbok ondersteuner is.  Hy kry maar swaar terwyl Suid-Afrika agter loop.  “Ek kannie mee’ hyshou saam met djille wat virrie vikeere span skrie nie!” hoor ek hom protesteer.

 

Maar met Frans Steyn se eerste skepskop verander sy posisie vir die beter.  En toe Steyn minute later die wen-skepskop doen, toe is Rasta erg tevrede tussen sy twee pelle.  Dit gaan nou baie bieterder met hom, dankie.

 

Ná die wedstryd moet ek terug na my motor toe.  Dis nogal bedrywig.  Daar is derduisende mense wat, om een of ander rede, almal in die teenoorgestelde rigting beur.  ‘n Ouerige oom is ongeduldig met ‘n jong man wat teen die stroom in beur en wil weet wat hy dink hy doen.  Die klein wysneus reken toe:  “Nee, ek weet self nie,  Oom, ek loop maar heelmiddag so heen en weer”.

 

Op pad na my motor loop ek agter ‘n paar groot lummels met hul Springbokbaadjies aan.  Mens voel nogal braaf so tussen die manne.  Maar hoe verder ek loop, hoe minder word hulle, en hoe meer word die parkeer-aanwysers.  Sommige van hulle het ook groen baadjies aan, maar vreemd, dit het net nie dieselfde trefkrag nie.  Dis ‘n redelike stil straat waar ek darem uiteindelik my motor kry, die informele karwag betaal en koers kry huis toe.

 

Ja-nee, min dinge klop die atmosfeer bu Nuweland, veral as die tuisspan gewen het.

PGJ

Kuberkrakers

November 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek verstaan nie dit nie.

Hierdie ding dat iemand skelmpies ‘n skakel op my website kan wegsteek wat maak dat die besoekers aan die skelm se websites dan my bandwydte opgebruik in plaas van syne!

My webmaster het nou die spoor gevat en agtergekom dat daar 9000 (nege-duisend, ja!) ander webruimtes op hierdie manier op my www.pgjonker.co.za ingeskakel was en rustig my bandwydte gesteel het.

Dit laat my dink aan daai een TV ad waar die couple met die Ozzie aksent vir enige ding sê “It calls for a celebration, dear.” Nou ja, hierdie roep vir ‘n paar erge lelike woorde, eerder as ‘n selebrasie.

 

Uughh!

Interessante mense

November 26, 2010 in Sonder kategorie

Die ding van toer is dat mens interessante mense ontmoet. Soos die dames wat ek die keer by die munisipale stortingsterrein ontmoet het.

Jy mag redeneer dat ‘n rit na die munisipaliteit se mopgat nie tel vir toer nie, maar as jy heeldag self die takke gesaag het, en dit self agter in die bakkie gelaai het, dan, teen die tyd wat jy agter die stuurwiel inskuif om mopgat toe te ry, is dit sekerlik ‘n ontspanningsrit. Ek meen dus dit tel wel vir toer.

Een sonnige winter Saterdag gaan laai ek tuinafval by die mopgat af. Vanweë harde reëns is die uitgangsroete beperk tot ‘n tweespoorpaadjie deur ‘n andersins modderbad. Terwyl ek nou op hierdie spoortjie terugry sien ek hierdie drie meisies raak wat reg langs die spoor staan. Seker so vroeg twintigs, sal ek skat, baie mooi aangetrek. Nogals regtig mooi aangetrek, sal ek nou maar sê.

Dit was nie vir my vreemd om die dames daar te gewaar nie. Ek het aanvaar hulle kom van die woonbuurt teenaan die mopgat. Daar is net ‘n hek tussen die buurt en die mopgate.

Toe ek naby hulle verbyry wonder die een hardop “hoe lyk dit met ‘n lift”. Ek reken toe ek kan netsowel die res van my tuinwerk bietjie uitstel en die dames in die dorp gaan aflaai, wat seker so ‘n kilometer weg is.


Waarheen,” vra ek.

Waar gaan jý heen,” volg ‘n teenvraag.

Nee, ek gaan huistoe, waarheen wil jule gaan?” vra ek weer.

Is jou vrou by die huis?” vra die een.

Nou ja, hierdie gesprek was nie besig om volgens verwagting te verloop nie. Aangesien ek teen hierdie tyd vermoed dat my edel bedoelings dalk verkeerd verstaan is sit ek toe maar liewer my bakkie in rat en ry weg huis toe.

Tuis vertel ek my vrou daarvan. Sy skud net haar kop en reken: “Jy weet ook niks nie.

Nou ja, heelwat later, op ‘n regte toer, laai ek by geleentheid die gesin af by die winkels in Katima Mulilo terwyl ek self afsit na die garage toe om petrol in te tap. Terwyl ek vir die pompjoggie wag om my te help stap daar ‘n jong mooi meisietjie verby. Jonk, ek weet nie of sy al 17 jaar oud kan wees nie. Sy glimlag vriendelik vir my, en ek glimlag terug. Ek meen, dis mos die regte ding om te doen. Haar glimlag verbreed, sy gaan staan, en gee so ‘n wuifie met haar een hand. Nie ‘n normale wuif nie. Agterna het ek gedog dit het meer soos ‘n naderwink gelyk.

Gelukkig onderbreek die pompjoggie my aandag, en moet ek eers aandag gee aan sake voor hande. Toegegee, daar normaalweg is nie veel om aan aandag te gee by ‘n vulstasie nie, maar dit het 5 van ons onnodig lank gevat om die 3.4 V6-enjin se olieprop af te kry. Die jong meisie het intussen verdwyn.

Toe ek die gesin weer agterna oplaai vertel ek my vrou van hierdie vriendelike meisie.

Reken my vrou: “Jy leer ook niks nie, né

PGJ

My muisie se naam is Cha-Cha

November 25, 2010 in Sonder kategorie

 

By geleentheid is ons jongste se speelgroepie op ‘n uitstappie na ‘n plaas in Adderleystraat.  Nee, nie die Adderleystraat in Kaapstad nie, die een aan die buitewyke van Durbanville.  Ja, daar is wraggies so ‘n straat, maar daar staan nie ‘n standbeeld waar die duiwe op kan mis nie.  Hulle moet hulle besigheid elders gaan doen.

 

Die doel van die uitstappie was dat die kindertjies ‘n demonstrasie kry van hoe die boer nat koring droogmaak.   Moet sê, dit was vir my ook nuus dat jy dit kan doen.  Ek het geweet koring kan roes, maar ek het nie geweet jy kan dit droog kry nie.  Ek wonder of dit dan die roes keer? 

 

In ieder geval, ná die boer se vertoning met die koringdroogmaakding toe is almal nou weer op pad terug huis toe.  Maar nou is die spulletjie se fut al bietjie uit en hul lus vir stilsit min.  My vrou is saam om te help toesig hou. Sy was self voorheen ‘n speelskooltannie gewees. So neem sy dit op haar om die spannetjie besig te hou sodat haar vriendin ongestoord die bussie kan bestuur.

 

Elkeen kry ‘n muisie.  ‘n Denkbeeldige muisie wat my vrou onder haar trui uithaal, een vir een.  Almal is vreeslik opgewonde oor hul muisies.  Dis net een mannetjie (ek noem hom maar Jannie) wat bietjie ongeduldig is.  Sien, soos die geluk dit wil hê sit Jannie en sy maatjie op die agterste sitplek.  Dus kom hulle laaste aan die beurt om hul muise te kry.  En net om seker te maak dat my vrou nie dalk oorweeg om hom vir heel laaste te los nie, dring Jannie toe daarop aan om sy muis te kry voordat sy maatjie een kry. 

 

Ter wille van die vrede gee my vrou in, en so kry Jannie sy maatjie se muisie.  Maar my vrou kon darem toe nie help om vir Jannie te verduidelik dat die laaste muis wat vir hom bedoel was eintlik ‘n baie spesiale muis was.  Maar as hy dan nou so wil wees, dan het sy maatjie nou daardie spesiale muis gekry.

 

Maar Jannie laat hom nie vermaak van hierdie tipe sielkunde nie.  Hy slaan sy maatjie totdat dié inskiklik is om muise te ruil. So, nou het Jannie in elk geval sy spesiale muis sonder dat hy hoef te gewag het tot heel laaste.  En hy is baie tevrede met homself.

 

Nou speel almal met hul muisies.  “My muisie is pienk, en sy naam is Cha-Cha”, sê die een dogtertjie.  “My muis is groen”, sê die seuntjie langs haar.  “My muis is ook groen, en sy naam is Groenie”.  Verbeeldingryk, nogals, het ek nou maar gedink.

 

Maar nou vertel my vrou my agterna dat sy, op pad plaas toe, ook die kindertjie besig gehou het.  Tóé het sy vir elkeen ‘n skoenlapper onder haar trui uitgehaal.  Alles het goed gegaan, totdat hulle by ‘n verkeerslig stilhou.  Toe raak almal daai skoenlappers aan die vlieg.  Dis toe groot pandemonium, amper moeilikheid met die verkeer, jy verstaan.  Dis toe met dié dat sy besluit skoenlappers is dalk bietjies te gevaarlik vir kindertjies van hierdie ouderdom.  

 

Dit is toe op dié manier dat Cha-Cha die pienk muis en haar maatjies in die prentjie kom.  

 

PGJ

Bloulig Brigade

November 24, 2010 in Sonder kategorie

 

Die Wes-Kaap het nou ‘n verbod geplaas op die blouligbrigade.  Nogals ‘n verlies.  As jy lid is van die blou lig brigade, meen ek nou maar. 

 

Jare gelede in Windhoek moes ons tydens diensplig elke kwartaal fiksheidstoetse gaan doen.  ‘n Paar push-ups, ‘n paar sit-ups, en as jy nie dit kon regkry om te verdwyn voor die tyd nie, ‘n sinnelose 20 km stap.  Sinneloos, want jy bereik regtig niks deur ‘n klomp onfikse ouens een keer per kwartaal 20km te laat stap nie.  Juis omdat dit ‘n ooglopend slegte gedagte was,  is die ambulans ook saamgestuur. 

 

So ry ek die dag saam met die ambulans.  Dis net ek en die drywer.  Ons het nog nie begin stap nie, so daar is nog geen beseerdes nie.  Die verkeer is bietjie dik en dit gaan maar stadig, so ek begin bietjie verveeld raak.  OK, eintlik lieg ek, die verkeer in Windhoek kan nie eintlik stadig gaan nie, al is dit spitsverkeer.  Ek kon maar net nie die versoeking weerstaan om hierdie funny knoppie voor my op die dashbord te druk nie. 

 

Man, die nexte oomblik toe gaan daai ambulans se alarm aan.  Woeps! maak almal die karre vir ons ‘n pad oop en daar gaan ons.  Ek sit toe maar weer die alarm af, maar glo nou vir my hoe lekker het dit gevoel!  So ek voel vir die manne met die baie blou ligte en swart karre.

 

Tydens diensplig-opleiding in die militêre basis in Kimberley was een van die modules wat ons veronderstel was om in opgelei te word BBP-Beskerming. Teen die tyd wat ons daardie module moes doen was die instrukteurs self al bietjie sat. Hulle besluit toe dis ‘n mors van tyd, want nie een van ons dienspligtiges gaan ooit betrokke wees in BBP-Beskerming nie. Hulle was toe verkeerd.

As dienspligtige in Windhoek is ons inderdaad toe van tyd tot tyd ingetrek om te help met BBP beskerming. Dan is ons nou heavy kovert, elkeen met ‘n tweerigting radio en ‘n vuurwapen. Een ou is met ‘n Uzzi uitgereik – daar was net een Uzzi om uit te reik. Dié het geblyk ‘n lewensgevaarlike instrument te wees. OK, ek weet, dis wat vuurwapens veronderstel is om te wees, maar hierdie outjie was nog gevaarliker.

 

As jy gelukkig was het jy ‘n Walther pistool met ‘n holster gekry.  Soos James Bond, ek sê.  Minder gelukkig, dan het jy die weermag uitgawe Star pistool gekry sonder ‘n holster. Dié moes ek gereeld onder by my broekspyp uithaal oor die ding nie lekker in my belt wou bly sit nie. Ek meen, verbrands, my belt kon nie eens my broek bo hou nie, so maer was ek.

 

OK, ons het nie blou ligte en goed gehad nie.  Vreeslik geheimsinning in privaat klere en privaat voertuie sonder enige identifikasie.   So picture nou die volgende:  jy ry deur Windhoek se strate, minding your own business.   Jy besluit om in te druk voor ‘n onopvallende voertuig, net om te sien die passassier kyk jou dreigend aan en lig iets bo die voertuig se vensterraam wat vrek baie soos ‘n gedeelte van ‘n Uzzi lyk.   Jy lus vir indruk gaan mos plotseling verdamp.

 

Een dag na so ‘n BBP-Beskermingsoefening verduidelik Hugo vir ons presies hoe gevaarlik ‘n Uzzi is en hoekom. Dit doen hy terwyl hy besig is om die Uzzi veilig te maak. As ‘n lewendige illustrasie, alhoewel onbedoeld, gaan die skoot in die proses af.   Ons is almal stil geskok, en Hugo het sy melk weggeskrik.  By wyse van eliminasie kon ons gou agterkom niemand kreun nie, niemand is beseer nie.  Meer in besonder, veral, niemand is dood nie.  ‘n Diskrete loer af in die gang het gewys dat die rondte ook nie deur die hout-muur getrek het nie. Die rondte kry ons toe binne-in ‘n kabinet waar dit mooi veilig vassit binne-in ‘n lekker dik lêer.

 

Teen die tyd wat van die staande-mag offisiere kom navraag doen het oor die “skoot” wat hulle hoor klap het kon ons hulle met ‘n entoesiastiese demonstrasie (probeer) oortuig dat dit iemand was wat ‘n kardoes laat ontplof het. Hugo het homself mooi diskreet voor die kabinet geposisioneer dat die koeëlgat nie opsigtelik was nie.  Teen daadie tyd het hy nog nie kans gehad om masking tape daaroor te plak nie.

 

Maar terug nou by die BBP beskerming.  Dit was heel opwindend, so half ons eie “I spy” storie waar elkeen ‘n kode-naam het. My kode naam was nogal eksoties gewees: “Wiele”. Soos in “Wiel, Wiele, Wiele, dis Kaspaas, berig oor”, waarop Wiele dan nou die gebruiklik “Wiele, stuur” ding sou doen.  So roep iemand op ‘n dag oor die tweerigting radio:

“Jaco, Jaco, Jaco, kom in”.

Stilte.

“Jaco, Jaco, Jaco, waar is jy, kom in.”

Stilte.

“Waar is daai bl***die Jaco”.

Stilte.  Tot iemand die moed bymekaarskraap om anoniem oor die radio te se:

“Majoor, jý is Jaco”.

Lang stilte.

 

PGJ

Die Renosters van Halali

November 24, 2010 in Sonder kategorie

 

Dit was ‘n idilliese wintersaand in Etosha. Halali se watergat het die belofte van renosters ingehou. Vroeër die dag was ons gelukkig genoeg om ‘n leeu jagtog dop te hou. Wel, eintlik het ons dit gefnuik deur onbewusteluk tussen die leeu en sy prooi te beland. Maar dis ‘n ander storie.

 

Nou sit ons by die watergat. Die son is net onder. Daar is heelwat mense. Dit is skoolvakansie, en die hele Wes-Kaap is daar. Ek weet, want dis hulle wat gemaak het dat ons 3 ure gevat het om ‘n paar dae vantevore by Noordoewer die grensformaliteite af te handel.

 

Ons hoop dat die renosters wel hulle opwagting maak. ‘n Paar koedoes verskyn. Sewe, om presies te wees. Ek weet nie hoekom ek sulke goed tel nie. Hulle het hulle drink gekry en weer geloop.

 

En dan maak twee renosters hul verskyning. (Hulle was natuurlik makliker om te tel as die sewe bewegende koedoes.) ‘n Koei met ‘n kleintjie (hy’s ook maar verbrands groot, mind you). Daar hang hierdie gedempte, swanger afwagting in die lug. Dan, vanuit ‘n ander hoek, kom nog ‘n renoster aangestap. Hy lyk nie deel van die eerste twee wat opgedaag het se outfit nie. Mmmm….. miskien kan daar romanse in die lug wees.

 

Nou en dan hoor jy die waarderende, dog gedempte “aaahh” van iemand, maar verder is dit stil.  

 

Tot die stilte onderbreek deur ‘n vyfjarige seuntjie wat kliphard ‘n wind laat. Soos Shreck is hy ook seker onder die sterreteken van die Flatulent gebore. Dit was nou nie so hard dat die renosters dit kan hoor nie, maar hard genoeg vir almal in die nabyheid om te hoor. Niemand sê iets nie, maar skielik lyk dit asof almal in ‘n bus sit wat op ‘n sinkplaatpad ry soos almal skud van die lag, maar ewe hard probeer om nie hardop te lag nie.

 

Maar dis nodeloos. Dis amper soos om in die kerk te probeer om nie te lag nie. Daai lag gaan nie weg voordat jy hom nie goed lug gegee het nie. Later lag almal maar, behalwe die vyfjarige seuntjie en sy ma.

 

Ek sê jou, dude, gewyde oomblikke.

 

PGJ

Die redding van Stanley

November 23, 2010 in Sonder kategorie

 

Flat Stanley is ‘n gelamineerde papiermannetjie uit Nederland uit. Die laerskool waar hy vandaan kom stuur hom die wêreld vol om te gaan kuier. Dan moet sy gashere fotos terugstuur van waar Stanley orals gekuier het. Later moet Stanley weer per pos teruggestuur word sodat die laerskool hom na ‘n nuwe bestemming kan stuur. So leer die bloedjies bietjie meer van die wêreld, en kry Stanley darem ‘n paar lekker toertjies ook op die koop toe.

 

So op die manier kom Stanley toe by ons uit. Nou ja, watter beter landmerk kan jy nou voor vra as Tafelberg. Dus sit ons af Melkbosstrand toe om vir Stanley te gaan afneem teen die agtergrond van Tafelberg. Maar nee, na twee weke van sonskyn is Tafelberg toe nou net mooi onder die wolk kombers.

 

Ons probeer toe maar vir Stanley teen die agtergrond van Robbeneiland afneem. Dis immers ook histories, nie dat ek verwag enige laerskoolkind in die Nederland sal nou eintlik weet van Robbeneiland nie.

 

Ons tweede poging die volgende dag is op ‘n bult buite Durbanville waar jy darem die bo-punt van Tafelberg onder oë kan kry. Dis op ‘n plaas waar perde aangehou word.

 

Nadat Stanley mooi gefotografeer is, weer eens teen Tafelberg in die verte, word hy en die kamera gebêre.  ‘n Donkie kom aangesuiker en bewonder my kamerasak. Hy druk sy neus daarin om dit beter te inspekteer.

 

“Ahaa, JPEG’s, net wat ek wou hê vir ‘n snack,” kan ek hom hoor sê. “Ahaa, en wat het ons hier, ‘n knapie uit die Nederlande uit.”

 

En daar trek die donkie met my card reader met ‘n Flash Disk vol foto’s daarin plus Flat Stanley. In sy bek, uiteraard.  Die donkie word agterna gesit om vir Stanley te red (ek was nie daar om self bekommerd te wees oor my card reader nie, want niemand anders was daarmee gepla nie).  

 

Gesteurd laat val die donkie darem later my card reader in ‘n hoop mis, en vir Stanley ‘n entjie verder. My dogter het darem die mis afgevee van my card reader voordat sy dit in die kamerasak teruggesit het.  

 

Sy het ook Stanley se trane afgevee. Alhoewel ek vermoed dit kon eerder ‘n bietjie donkieslym gewees het.

 

Nou sê jy vir my die donkie is ‘n wonderlike ding…..?

 

PGJ