Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Weet iemand?

Oktober 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek sien sommige gebruikers het ‘n skakel na ‘n vorige plasing toe, maar met bloot ‘n woord, ipv die hele url adreslyn.

Ek is nou simpel gesukkel om dit reg te kry.  Kry ook nie die antwoord by die hulpbron nie.

Kan iemand my gids deur die oefening?  Met ander woorde, ek wil met ‘n verwysing na ‘n vorige plasing dit kan doen met ‘n skakel wat bloot ‘n woord vervat, en nie die hele url nie.

PGJ

Sneeuwitjie doen haar ding

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek het ‘n paar dae terug geskryf van die Sneeuwitjie konsert.

Ek sien daar is nou ‘n video clip daarvan op Youtube.  Dis 2 minute lank waarvan die eerste minuut die hip-hop dans is.

http://www.facebook.com/l.php?u=http%3A%2F%2Fwww.youtube.com%2Fwatch%3Fv%3DfAGjUcC3ZaA&h=0b402

Man, daai’s nou cool, ek sê.

PGJ

Plattelandse troue

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek was bevoorreg om ‘n paar naweke gelede weer ‘n heerlike plattelandse boere-troue by te woon. Lekker dans, lekker musiek, met ‘n DJ wat sy gehoor mooi gelees het.

Ouboet trou. Kleinboet maak ‘n toespraak en stel die heildronk in. Of eintlik, eerder Jongboet, want hy is lankal nie meer klein nie.

“My ma is ‘n stresvolle dame,” reken hy in sy toespraak. Almal verstaan. ‘n Ma stres mos maar erg voor so ‘n troue.

“Ouboet, ek onthou nou nog,” vertel hy, “toe jy die dag besluit het ons gaan nou vlieg. Ma en pa was nie by die huis nie, toe laat jy dat ons vlerke van karton maak, want ons gaan nou vlieg.”  Wel, dit klink heel moontlik, reken ek, Ouboet het juis intussen ‘n ingenieur geword, alhoewel nou nie in die lugvaart rigting nie.

“Toe klim ons twee op die dak, reg daar waar die roosbedding is.” Ek sien die prentjie van hierdie twee laaities op die plaasopstal se dak.

“Toe vra ek wie gaan eerste vlieg, toe sê jy ek gaan, want ek is die jongste. Maar ek sê toe jy moet eerste gaan, want jy is die oudste.” Jy kry die prentjie. Maar Ouboet het sy eie manier gehad om die onsekerheid op te los.

“Toe stamp jy my van die dak af dat ek eerste kan vlieg, maar ek het nie baie ver gevlieg nie. Ek val toe in die roosbedding reg teen die huis.” Wel, so leer mens, nie waar nie, né?

“En toe ma en pa by die huis kom toe kry ons altwee pak,” onthou Jongboet. “Ek is eintlik nou nog kwaad daaroor, maar Ouboet, ek vergewe jou. Kom ons drink ‘n heildronk.”

PGJ

Van Brille en al daai

Oktober 15, 2010 in Sonder kategorie

Van Brille en dinge         

Nes ek dink die somer is hier, dan glip daar weer ‘n ysbeertjie verby, of ‘n bui reën sak uit. Nie dat ek kla nie. Ek hou van winter. Maar ek dink die laaste ysbeertjie is nou laasweek hier by my verby. My swembad is ook sommer lekker vol oor ek my geut met ‘n pyp na die swembad toe kan herlei as dit reën.

 

Somer beteken dis nou weer tyd om in die tuin in te spring om ‘n mate van fatsoenlikheid in die oerwoud te herstel. Stowwerige, sweterige Saterdagoggende. Met my bril wat telkens in die pad beland oor hy van my gesig af wil gly.

 

Wat my weer laat onthou van die dag wat ek besluit het om daai Lasik operasie aan my oë te doen. Dis die een waar hulle ‘n stukkie soortvan ‘wegskuur’ aan die voorkant om die fokuspunt van die ligstrale sodoende te verander, en dan sien jy weer sonder ‘n bril.  

 

Die lastigheid van die operasie is dat jy wakker is, alhoewel jou oog verdoof is. So jy kyk vir wat nou hier aan jou oog gedoen word. Alhoewel jy niks kan voel nie, is daar min wat aan jou verbeelding oorgelaat word. Ekke issie daai ou nie. Genadiglik, dus, raak ek toe flou voordat ek in my broek kon bol.

 

So nou het ek maar steeds my bril. Ek het in elk geval intussen besluit my bril enhance my looks….

Sneeuwitjie en die hele gespuis

Oktober 14, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraand het my Graad 2 seun in die skoolkonsert gespeel. Sneeuwitjie en die Sewe groei-gestremdes.   Hy was ‘n muishond gewees, maar hy het darem nie gestink nie. Of ten minste, nie wat ek van weet nie. Dit was nie deel van die repertoire gewees nie, maar hy kan soms spontaan wees.

 

Ek was verstom wat juffrouens kan regkry met sulke jong kindertjies. Die skool gaan net tot by Graad 3. Sneeuwitjie haarself was bloot fenomenaal. Jy kan nie glo ‘n Graad 3 kind kan so toneelspeel nie.

 

Ek dink natuurlik nie Walt Disney het ooit voorsien dat die prins op ‘n Kurt Darren liedjie in Afrikaans vir Sneeuwitjie sou sing en dans nie.  Dis maar die ding van die global village, reken ek.

 

Die dogtertjie wat Dopey gespeel het was my persoonlike gunsteling. Ek kon net nie agterkom of sy toneelspeel en of sy bloot haarself was nie, maar ek was omtrent lus om haar in my sak te steek en huis toe te vat na die tyd.

 

Daar was natuurlik jou minder gesofistikeerde toneelspelers ook. Die een mannetjie doen sy ding daar met ‘n deadpan gesig. Die volgende oomblik herken hy sy ma of sy pa. Sy gesig helder op en hy waai entoesiasties vir hulle. Hy vergeet vir die oomblik om die dogtertjie langs hom te vang wat met ‘n danspassie in sy arms moet beland, maar herstel darem vinnig genoeg dat hy haar nie laat val nie.

 

Een jonger boetjie het ook nader gestap om reg teen die verhoog te kom staan om te probeer agterkom hoekom sy boetie dan nou sulke snaakse klere en grimering aan het.  Op daardie stadium het die script juis geverg dat ouboet reg op die voorkant van die verhoog moes sit, so dit was nie moeilik vir kleinboet om mooi te inspekteer nie.

 

Ek was bietjie gefnuik met my geskiedenis wat bietjie verroes is. Toe Sneeuwitjie die dwergies se huis ontdek en lyk of sy vir die bed mik, toe dog ek dis die drie beertjies se huis, en toe kon ek nie lekker uitgewerk kry hoe die drie beertjies hier inpas nie. Maar toe daag die dwergies daar op, en toe is ek weer by.

 

Dis eintlik ‘n scary storie vir kindertjies dié, ek sê jou. Op ‘n stadium besluit die stiefma sy gaan nou sommer self vir Sneeuwitjie opfix met die vergiftigde appel. Die nexte oomblik toe is die hele verhoog vol van ‘n klomp dansende swartgeklede klein bliksempies wat haar help planne maak, met sulke eerie musiek. Scary stuff, man!

 

En toe Sneeuwitjie nou daar neerval nadat sy teen almal op en af van die verhoog af se waarskuwings die verbrande appel eet, toe speel Another one bites the dust, gevolg deur die stiefma wat sing That’s the way aha, aha, I like it.

 

Almal in die skool moet natuurlik deelneem, met die gevolg dat daar soms 24 dwergies op die verhoog was. Dit raak soms verwarrend, maar ek kom toe agter die trick is om liewer op die danspassies te konsentreer. Dis immers ‘n musiek blyspel.

 

Ai, fenomenaal, man. Ek het nou sommer finaal besluit: ek like hip-hop.

 

PG Jonker

www.pgjonker.co.za

 

Lughawe stories

Oktober 13, 2010 in Sonder kategorie

Op ’n goeie Saterdag agtermiddag bevind ek my op die lughawe in Kaapstad. Vir die tweede keer die dag. My swaer vlieg Dublin toe waar hy die laaste vyf jaar werk.

Die oggend reeds het ons lughawe toe gery om hom in te boek sodat hy ’n sitplek kan kry wat sy lang bene kan akkommodeer, maar toe was die toonbank nog nie oop vir besprekings nie. Nou is ons weer hier.

Daar is geen sitplekke beskikbaar in ekonomie-klas met baie beenspasie nie. Swaar verduidelik mooi vir die beamptes van die moeite wat hy het met beide knieë wat gebreek is in ‘n onderonsie met drie Marsmannetjies uit die buitenste ruimtes. In ruil vir sy innoverende poging skuif hulle hom toe na ‘n sitplek by die nooduitgang waar hy sy bene lustig kan rondswaai.  

Swaer gaan loop ’n draai. Ek kry my sit op sy bagasietrollie saam met sy oorblywende bagasie en wag vir hom. Dis warm en ek haal my bril af om sweet uit my oë te vee, kop onderstebo.

Ek kyk op en deur die waas van my sonder-bril-kyk sien ek ’n swart man doelgerig op my afstap. (Ja, in die Suid-Afrikaanse konteks maak dit saak wat sy etnisiteit is.) Ek sit my bril terug op my oë en let op dis een van die portiere. Daar is niemand anders naby my nie, dus is daar geen verwarring daaroor dat hy na my toe op pad is nie.

Ek dog oeps! dalk mag ek nie op die bagasietrollie sit nie. So ek staan maar van die trollie af op, maar dit sukkel, want ek het myself so half vasgesit tussen die stukkies bagasie, en boonop sit ’n mens mos maar laag op so ’n trollie. Soos ek myself uiteindelik regop getrek kry van die trollie af, is die portier net mooi by my.

Voor ek kan keer gryp die man my aan die skouer met sy linkerhand. Met sy volgende beweging gryp hy my met die ander arm ook vas. En hy sê vir my: “My friend, don’t cry, don’t cry, everything is going to be OK”. Hy gee my ’n beerdruk dat my asem weg is terwyl hy my bly bemoedig.

Hy los my later met die een arm, maar hou my in ’n stewige greep met sy ander arm.

Met dié kom swaer teruggestap. Ek beduie vir die portier nee, ek is eintlik oukei, dáár is die man wat weggaan, waarop hy ons al twee verder troos.

“Don’t you worry, it will be better soon, everything will be OK”.

 

En toe is hy vort om aan te gaan met sy werksaamhede.

Heads you lose

Oktober 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek was vir ‘n tyd lank in die bevoorregte posisie om saam met ‘n pel op sy seiljag te kon seil. Met hierdie seilery leer mens allerhande interessante dinge.

Byvoorbeeld, het jy geweet dat die toilet op ‘n seiljag die “heads” is. En dit is nie “downstairs” nie, maar “down below”. Dis ook nie “down under” nie, want dis waar Australië is. Dit beteken ook dat jy nie aankondig dat jy vir ‘n vinnige wieps na die toilet toe gaan nie. Nee, heelwat meer eksoties as dit. “I’d say, ol’ chap, just going down below to use the heads, I say”.

So reken ek toe ek moet seker leer hoe die toestel werk. So vra ek dus toe gou instruksies by skipper Matthys oor hoe om die “heads” te spoel. Die instruksies klink toe amper iets soos volg:

“Jy flip die levertjie na links, maak die seacocks oop en pomp. Flip die levertjie na regs, pomp, en maak die seacocks toe.”

Maar nou is ek mos nie onnodig handig nie, en ook nie so vinnig van begrip wanneer dit by tegniese sake kom nie. So nou moet ek eers weer stadig die proses probeer assimileer.

Raait, die levertjie na links, is dit nou links as jy vorentoe kyk, of as jy agtertoe kyk? Nee, dis as jy vorentoe kyk. Vergeet van vorentoe of agtertoe, dis aan die port side van die boot. OK dit verstaan ek mooi. Maar ehmm… soortvan, van watter levertjie praat ons nou eintlik in die eerste plek?

Goed, ons doen dit stap vir stap. Ek weet nou al by watter levertjie ek moet begin.

Maar jy praat van seacocks? Genugtig. Ek het al gehoor van tennis-elmboë en seemansvoete, maar seacocks!? Maar nee, dis toe nie ‘n mediese toestand nie, maar doodgewoon die twee swivel krane wat die inlaat- en die uitlaatpyp vir die plumbing moet oop- en toemaak. En van groot belang: as jy klaar is moet altwee seacocks toe wees.

Wel, noudat ek die basiese terminologie half onder beheer het gaan dat al makliker. Levertjie na links, seacocks oop, pomp 15 keer, levertjie na regs, pomp weer 15 keer. Dan is daar nog ‘n permutasie van inlaat seacock toe en die uitlaat seacock oop en pomp nog ‘n paar keer, maar ek dink dit is vir een of ander noodmaatreël wat nie in ‘n gesinspublikasie hoort nie.

En al wat ek wou weet was hoe om die toilet te spoel!

So ter nagedagtenis maak die skipper die opmerking: in geval van twyfel, gaan terug en gaan maak seker! Nou ja, nadat ek toe nou die toestel mooi baasgeraak het en weer my sit op die dek gekry het, toe begin ek wonder of daai seacocks nou toe of oop is. Maar ek weet ek het dit toegemaak, so ek weier om my te laat beïnvloed deur hierdie lawwe gedagtes nie. Maar hoe langer ek daar sit, hoe meer teister die visioene van ongepoetsde bruinbere wat skelmpies by die septic tenk uitkruip boontoe en daar sit en wag vir iemand om die heads se deur oop te maak dat hulle kan “whah!” skree. Dus gaan check ek nou maar later ek het allester mooi toegemaak.

Ek kan nou verstaan waarom die transom van die boot die voorkeurposisie is, bo die heads. Dis net soveel eenvoudiger.

Elke saak het twee kante

Oktober 11, 2010 in Sonder kategorie

Annernag word my vrou wakker. Sy hoor die kreepy hyg na sy asem. Ons gaan kyk wat gaan aan.

 

Bastian, skoonma se waansinnige een-jaaroud Labrador kuier daar. Dié het ‘n onderonsie met die kreepy gehad, sien ons. Die meeste van die pyp lê buite die swembad. Die kreepy self is darem nog in die swembad, maar die pyp suig lug deur die pomp. Gelukkig nie eintlik veel skade nie. Ons kon net die spul weer mooi terugsit, net een pyp is onbruikbaar.

 

Intussen lê ons tweedehandse bulhond, Zoë, en dreun soos sy snork.

 

Bastian die Labrador se weergawe

 

Ek kan nie verstaan nie. Ek kuier hier by die mense in die Kaap. Die ou bulhond, Zoë, is maar lekker isegrimmig. Ek probeer my bes om met haar te speel, maar sy is niks lus nie. Plaas sy my jaag, byt sy my ore. Ek verstaan nie hoekom sy so knorrig is nie. Die lewe is so ‘n plesier. Die ou knorpot.

 

Dis donkernag. Maar wag, wat hoor ek daar? “Woepe-woepe-woepe…..” Dit kom uit die swembad uit. Wag, laat ek gaan kyk. My wêreld, hier is ‘n monster in die swembad! Dit moet sy hartklop wees wat so “Woepe-woepe-woepe” maak. “Hey, Antie Zoë, kom kyk bietjie hier!”

 

Nee, sy snork net al harder.   Ek wonder of ek die mens moet waarsku. Nee wag, ek gaan sommer self dié probleempie oplos. Wag, hier kom daai ding nou net mooi by die kant verby. As hy naby kom gaan ek hom gryp en hom vol gate byt.

 

Wag, wag, OK, hetjou! Kom ek sleep sommer die hele ding uit die swembad uit. Aaahh, dit werk goed. Ek hoor eintlik hoe hyg hy na sy asem. binnekort gaan hy ophou asemhaal. Die mens van hierdie huis gaan so trots op my wees!

 

Aha, daar sit hulle nou die buiteligte aan, hier kom hulle uit. Vreemd, hulle sê niks, probeer my nie eens vertel hoe oulik dit nou was nie? Kan jy glo, daar sit hulle weer die hele vreemde dier aanmekaar vas? Hoe werk dit dan nou?

 

Daar “woepe-woepe-woepe” die ding nou weer. En hulle is bly daaroor. Besef hulle dan nie dis ‘n gevaarlike ding nie?

 

Gmmff. Daar gaan almal nou slaap. Dis nog net die baas van die huis buite. Hy gaan my darem seker op die kop klop en vertel hoe oulik dit was.

 

“Hey! Wat maak jy? Hoekom slaan jy my met daai pyp?! Ek is die goeie ou in die storie….!”

 

Zoë se weergawe

 

Jig, maar dis ‘n irriterende jong hond, hierdie Labrador. Laat my vir geen oomblik met rus nie. Dis nou nag, maar hy blaf vir alles wat beweeg. Dis veronderstel om my werk te wees daai. Ek doen dit gewoonlik. Maar OK, as hy dan so wil wees, dan gaan ek net rustig in my mandjie lê en slaap.

 

Ag aarde tog, wat doen die hond nou. Lyk of hy die kreepy krawly wil aanval. Vir ‘n slim hond kan hy maar lekker stupid goed doen.   Wag, ek gaan hom niks sê nie. Sy kierang sal braai. Hy gaan daai pyp stukkend byt, dan gaan die mense in die huis agterkom ek is eintlik die brein in hierdie outfit.

 

“Hey, Antie Zoë, kom kyk bietjie hier!” Nee, ek gaan hom ignoreer. Ek snork sommer harder. Hy moet maar aangaan en opsnork. Gie-gie-gie, daar byt hy nou die pyp stukkend. Kan jy nou meer, daar trek hy die hele kreepy by die swembad uit.   Wonder of ek moet blaf dat die baas nou kan uitkom om te sien wat hier aangaan.

 

Nee wag, daar gaan die ligte nou aan, hier kom almal uit. Gie-gie-gie. “Wel, goodnight folks, ek gaan nou lekker verder slaap” Gie-gie-gie-gie…..

Koeloe se bek is toe

Oktober 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek kom nou die dag tussen my ou musiekboeke af op ‘n ou Sus-en-Daan boekie. Dis daai model waarmee ons in sub A geleer lees het.

 

Ek het ‘n neef (klein-neef, eintlik) van Graafwater wie ek al een keer in my lewe gesien het. Ek was toe 5 jaar oud en hy 25. OK, ek het ander klein-newe ook, maar ek meen nou maar, hierdie klein-neef is die ou oor wie die storie gaan.

 

Anyway, toe hy in Sub A was het hulle hom ook met Sus-en-Daan probeer leer lees. Dit moes omtrent in 1950 gewees het. Dis eintlik ontersaaklik, buiten natuurlik dat dit vir jou wys vir hoe lank Sus-en-Daan kontemporer gebly het. Ek aanvaar dis deesdae seker Sipho-en-Dlamini. Maar ek dwaal af.

 

Een van die absoluut boeiende verhale in Sus-en-Daan was die een van waar Boef die hond vir Koeloe die kalkoen jaag terwyl hy hom aanmoedig: “Woef, Woef, Vlieg, Koeloe, Vlieg!” Maar Koeloe vlieg nie. Want, sê Koeloe skaapagtig volgens die prentjie: “Ek kan nie vlieg nie.”  Boef het natuurlik nie daai ding geweet nie.

 

Die gedagte is natuurlik om deur ‘look-n-learn’ te leer lees.  Jy kyk die prentjie, onthou wat juffrou in die klas gesê het, en dan raai jy wat die woorde moet wees, of so iets.  Ek is eintlik nie ‘n pedagoog nie.

 

Nou vra juffrou vir neef George:  “En wat sê Koeloe?”

 

Neef George konsentreer en bestudeer die boekie, maar die stilte word net al langer.  Juffrou kan sien George probeer, maar selfs sy raak later bietjie ongeduldig.  Dis nou nie asof George die enigste kind in die klas is wat vandag nog hierdie deel moet baasraak nie.  So toe juffrou nou teen die derde keer wil weet wat Koeloe sê, toe is sy nou ook nie meer onnodig geduldig nie.

 

Maar neef George is nie ‘n man wat hom laat intimideer nie. Sê neef George (duidelik ‘n linker-brein kêrel): “Maar Koeloe sê niks, Koeloe se bek is dan toe!”

 

Plaaskinders verstaan mos daai ding.?

 

PGJ

 

Are you ready, Steve?

Oktober 7, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil nog eendag in ‘n band speel. Dit hoef net eenkeer te wees. Maar ek wil die ou wees wat in die mikrofoon sing. En daar moet ‘n ou in die band wees wie se naam Steve is. Dan wil ek so oor my skouer kan roep: “Are you ready, Steve?”

Hier in die sewentigjare het my broer ‘n langspeelplaat gehad waarop hierdie song was wat so begin het. Ek kan nie eintlik die song onthou nie, net hierdie intro. Dit het my gefassineer. Die leier van die band skrou daar vir Steve om te hoor of hy gereed is. Steve is nie ‘n man van baie praat nie. Hy praat niks terug nie (amper soos Koeloe, maar dis volgende keer se storie). Dan die nexte ding dan kom die musiek met ‘n groot kabaal aan die gang.

Dis vir my een van daai ikoniese momente, man.  Amper soos Clint Eastwood se “C’mon, make my day,” in die fliek Sudden Impact.  Of Clark Gable se “Frankly my dear, I don’t give a damn,”  in Gone with the Wind.  Ek soek natuurlik nog vir die gepasde geleentheid om self hierdie twee frases ook aan te wend, maar ek is maar ‘n bietjie versigtig, jy verstaan. 

Anyway, terug by Steve:  ek was te jonk om te weet wie die band was. My broer was 5 jaar ouer (hy’s eintlik nou nog 5 jaar ouer as ek, noudat ek daaraan dink) en bietjie van ‘n musiek nut. Hy sê my dit was een van daai ou Sprinbok Hits, of dit was dalk die real Mccoy, ‘n LP van The Sweet. Ballroom Blitz, was die song se naam blykbaar.

 

 

Ek het lanklaas van Steve gehoor. Ek dink dis nou weer tyd vir bietjie inspirasie.

PGJ