Matriekstories

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Vrydagoggend was die formele laaste dag van die matrieks by die skool. ‘n Hele prosessie is gereël, met ‘n kort kerkdiens, terugstap skool toe, verversings geniet en so aan. Ons kon net die kerkdiens gedeelte bywoon. Ons was bietjie vroeg, en besluit toe dat ‘n wegneem koffie van die Mugg & Bean medies aangedui is. Dié sit ons toe buite die kerk in die motor en drink.   Iets wat my later sou berou.

 

Dit was heel aandoenlike oomblikke. In die kerk het my vrou het ‘n traan weggepik by die herinnering aan die laaitietjie wat ons 12 jaar gelede by die laerskool afgelaai het. Met die ander outjies destdys rondom hom in trane het hy opgespring toe die bevel kom, oor sy skouer geloer, gewaai en gesê “OK baai”, en toe is hy haastig weg na die nuwe avontuur toe. Voor sy ma nog oor hom kon huil.

 

My selfoon bliep ‘n boodskap. ‘n Kollega laat weet sy het die vorige dag na werk tuis gekom en haar seun vasgebind in haar hangkas aangetref waar die rowers hom gelos het. Ongedeerd, maar nie baie vrolik nie. Dinge is bietjie hectic daar en sy gaan nie inkom vir werk nie.

 

Ek dwaal af. Terug by die diens. My seun is nou darem heelwat groter as in Graad 1, alhoewel nie soveel langer regtig nie, noudat ek daaraan dink. Spasie in die kerk was bietjie knap met al die matrieks, ouers, en selfs graad 11’s daar. Die matrieks sit in ‘n blok op hulle eie. So sien ek van waar ek agter hulle sit hoe my seun se pel J hom nog inwurm in ‘n klaar te vol bank. Met spasie beknop sit J nou maar so half op een boud en balanseer homself met sy arm om my tasdefensiewe seun se nek. Ek en my vrou kon nie help om te grinnik nie.

 

Ons sing vir hulle ‘Laat Heer u seën op hul daal.’ Soos destyds in Graad 1 stort my seun geen traan nie.   Na die diens stap almal rustig terug skool toe. Waarskynlik ‘n laaste keer wat hulle so saam sal wees.

 

En al wat ek op daardie stadium aan kan dink is verbrands! hoe kón hulle, selfs al was dit 150 jaar gelede, ‘n kerk sonder toilette bou….!

 

3 antwoorde op Matriekstories

  1. TS het gesê op Oktober 25, 2010

    Baie geluk met die jong man wat julle so mooi ‘opgebring’ het…
    Sterkte met die eksamens en al hierdie klomp laaste kere. Dit het ook sy eie bekoring

    Ek moes dadelik kyk waar jy woon want ek weet van enkele kerk hier in die Noorde sonder ‘n toilet

  2. Druktyd het gesê op Oktober 25, 2010

    Baie geluk! Ek is vreeslik jammer vir jou kollega se seun! Soos altyd, goed geskryf!

  3. Hoop hy doen baie goed in die laaste eksamen.
    Ouers is mos meer nervieeeeus as die kinders.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.