Slaat hom, pappa, slaat hom!

Oktober 22, 2010 in Sonder kategorie

Dit was een van daai rowwe dae tuis gewees. Dus stuur my vrou vir my, ons nege-jaar oud dogter en vir Klein-Jan (2 jaar oud) af na die biblioteek toe. Sy’t gemeen dis beter vir haar geestestoestand dat ons liewer die biblioteek moet gaan ontwrig. Die biblioteek is egter reeds toe. Miskien maar goed so, nou word ons darem nog toegelaat daar – dinge mag anders verloop het as die bib nog oop was daardie dag.

Op die grasperk voor die biblioteek is ‘n lekker speelparkie. Dis laterig die middag, so daar is niemand anders nie. Ons het die speelparkie vir onsself. Anita spring dadelik op een van daai naarmaak-wiele wat jy aan vasklou en dan in die rondte laat draai. Dis ‘n groot wiel met ‘n dubbele rand om lekker aan vas te hou. Anita sit bo-op die wiel. Ek word getaak om die wiel se energiebron te wees. Klein-Jan kyk toe. “Willie opklimmie”, sê hy.

Hoe lekkerder die wiel draai hoe nader staan Klein-Jan. Hy begin ‘n ernstig belangstelling ontwikkel tsv sy aanvanklike “willie opklimmie”. Dit word toe later “wil opklim”. Ek stop die wiel en sit hom op die wiel. Ek monteer hom nou mooi wydsbeen oor die dubbele rand en sit sy hande mooi op die pype om aan vas te hou. Die wiel is so ‘n meter bo die grond, so ek gaan maar stadig dat hy nie afval nie.

Soos Klein-Jan nou die ding agterkom geniet hy dit al meer. Hy leun in die draai in kompleet soos mens op ‘n motorfiets sou maak. Hoe vinniger dit gaan hoe meer geniet hy dit. So nou gaan ons so ‘n klein bietjie vinnigder. Ek hou hom mooi dop dat dinge darem nie te rof raak nie. Tot dit nou eintlik heel lekker vinnig gaan.

Nou ja, dit moes seker een of ander tyd gebeur. Middelpuntvlietende krag bereik toe mettertyd die deurbreekpunt waar ‘n twee-jaaroud se handjies nie meer daarteen kan stry nie, en woeps! dop Klein-Jan af van die wiel af. Hy tref die grond dat hy hik.

Die feit dat hy nie baie seer gekry het nie doen geen afbreuk aan sy entoesiasme om te skree daaroor nie. Dit vat ‘n tydjie om die ergste sand weer uit al die holtes uit te kry so tussen die spoeg en snikke deur. Mettertyd raak die snikke bietjie stiller. Dit beteken egter nie dat sy vlak van ontevredenheid enigsins verander het nie.

Nadat hy mooi tot verhaal kom toe draai hy om na die wiel toe, wys dit aan my uit en sê: “Slaat hom, pappa, slaat hom!”

 

Toe slaat ek hom maar. Ek meen nou die wiel, nie vir Klein-Jan nie.

6 antwoorde op Slaat hom, pappa, slaat hom!

  1. Ai in my geestesoog sien en beleef ek die episode saam.

  2. zephur het gesê op Oktober 22, 2010

    Stoute wiel…

    Maar Klein Jan het darem geniet.

  3. Pa kan alles en almal regsien.

  4. 🙂 My pa skrik vir niks nie…

    Nice!

  5. hehehe
    Oulike klein-Jan!

  6. Druktyd het gesê op Oktober 25, 2010

    Oulik!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.