Die Moederstad en sy Mense

Oktober 20, 2010 in Sonder kategorie

My pel Riaan gaan kyk toe Saterdag rugby op Nuweland. Dis die wedstryd waar WP die Cheetahs in opgedreun het. Daar is groot opgewondenheid in sy huishouding. Sy drie seuns, wie se ouderdomme wissel van Graad 1 tot Graad 7 is saam met hom.

 

Nuweland is bekend vir sy gees. Gegewe die feit dat hierdie ‘n halfeindstryd is, soveel te beter.   Daar is manne met volledige monderings van die span van hulle keuse. Daar is selfs ‘n paar Blou Bul ondersteuners, ten spyte van die feit dat hulle span elders speel. Maar dan weer, nie almal kon dit maak Durban toe nie, en waarom nou dat logistieke probleme jou entoesiasme demp.

 

Hulle sitplekke is amper raak-afstand van waar die WP se dans-squad hulle passies doen. Die meisies doen dit baie mooi, verstaan ek. Die choreografie en al daai mos nou.

 

Kwinkslae, grappies en goeie humor is aan die orde.

 

Nie almal het egter noodwendig ‘n goeie sosiale filter nie.

 

Dan kom dit luidkeëls, en by herhaling, van ‘n man hier vier sitplekke weg: “Jou ma se ****!” (Kaapstad is immers mos darem die moederstad.)

 

Niemand voel eintlik om die spreker aan te spreek en almal se dag te bederf nie. Maar dit blyk dat die man min variasie op sy tema het, en die herhaalde uitdrukking begin later Riaan se ore te skroei. Veral nou ook met sy jong seuns by hom.

 

Uiteindelik kan hy homself nie bedwing nie. Hy draai om na die spreker toe. “Maar meneer, jy KAN mos nie so hier praat nie?!” roep hy verontwaardig uit. Dit is uiteraard die tipe opmerking wat manne soos hierdie oombliklik in hulle spore sal stuit, verstaan.

 

Vir ‘n oomblik is daar ‘n verstomde stilte.

 

“Jou pa se *****!” Goed, so die man het darem ‘n variasie op sy tema, alhoewel die idioom nie heeltemal werk nie. En dis ook nou nie heeltemal die variasie wat Riaan in gedagte gehad het nie.

 

Nadat enkele gedagtes heen en weer gewissel is sonder ‘n definitiewe uitkoms besluit Riaan om maar liewer maar die aftog te blaas. Later kyk hy weer in die rigting waar die spreker gesit het, want die man praat nie meer saam nie. Roep ook niks nie. Maar hy sit sowaar nog daar, hy is nou net meer beheersd as vroeër.

 

Ná die wedstryd stap Riaan oor na die man toe en skud blad. “No hard feelings, pel”.

 

“Ja, jy moet maar next time jou kindertjies se oë ook toedruk vir daai girls wat so dans, nuh?” kon die man darem nie help om ‘n klein stekie terug te kry nie.

 

 

PGJ

3 antwoorde op Die Moederstad en sy Mense

  1. Baie knap gedaan. Heerlik. The understatement in “enkele gedagtes heen en weer gewissel is sonder ‘n definitiewe uitkoms” is exquisite.

    Dis die eerste keer wat ek jou skrywe lees – dankie aan a mede-blogger – en ek is bly sy’t my hiernatoe verwys.

    Dankie.

  2. Philjann het gesê op Oktober 21, 2010

    PG Jy het jou roeping gemis jy moes n skrywer vir politieke figure geword het jou humor en weergee van inligting tussen die lyne is sonder weerga

    Dankie dit het my dag gemaak

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.