Plattelandse troue

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek was bevoorreg om ‘n paar naweke gelede weer ‘n heerlike plattelandse boere-troue by te woon. Lekker dans, lekker musiek, met ‘n DJ wat sy gehoor mooi gelees het.

Ouboet trou. Kleinboet maak ‘n toespraak en stel die heildronk in. Of eintlik, eerder Jongboet, want hy is lankal nie meer klein nie.

“My ma is ‘n stresvolle dame,” reken hy in sy toespraak. Almal verstaan. ‘n Ma stres mos maar erg voor so ‘n troue.

“Ouboet, ek onthou nou nog,” vertel hy, “toe jy die dag besluit het ons gaan nou vlieg. Ma en pa was nie by die huis nie, toe laat jy dat ons vlerke van karton maak, want ons gaan nou vlieg.”  Wel, dit klink heel moontlik, reken ek, Ouboet het juis intussen ‘n ingenieur geword, alhoewel nou nie in die lugvaart rigting nie.

“Toe klim ons twee op die dak, reg daar waar die roosbedding is.” Ek sien die prentjie van hierdie twee laaities op die plaasopstal se dak.

“Toe vra ek wie gaan eerste vlieg, toe sê jy ek gaan, want ek is die jongste. Maar ek sê toe jy moet eerste gaan, want jy is die oudste.” Jy kry die prentjie. Maar Ouboet het sy eie manier gehad om die onsekerheid op te los.

“Toe stamp jy my van die dak af dat ek eerste kan vlieg, maar ek het nie baie ver gevlieg nie. Ek val toe in die roosbedding reg teen die huis.” Wel, so leer mens, nie waar nie, né?

“En toe ma en pa by die huis kom toe kry ons altwee pak,” onthou Jongboet. “Ek is eintlik nou nog kwaad daaroor, maar Ouboet, ek vergewe jou. Kom ons drink ‘n heildronk.”

PGJ

3 antwoorde op Plattelandse troue

  1. louisna het gesê op Oktober 19, 2010

    Ouboet, wat ‘n mooi naam

  2. roosdorings se krap- en steekmerke kan so lank en seer brand
    endat ek dit nou moes sê… 😉

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.