Plaasuitsettings

Oktober 4, 2010 in Sonder kategorie

 

Die ontwikkelaar het verskeie miljoene vir die plaas betaal. Daar gaan nóg verskeie miljoene spandeer word, want dit gaan ‘n spogontwikkeling raak. Jammer oor die landbougrond wat daarmee heen is, maar dis vooruitgang, reken ek.

 

Daar is net hierdie lastigheid van die ses gesinne op die plaas wie se huisie net mooi in die middel van die ontwikkeling gaan wees. Hulle kan uiteraard nie daar bly nie. Van die mense is al jare op die plaas. Soos in 55 jaar. Sê daai man: “Meneer, ek trek nie voor die bulldozers hier is nie. En selfs as daai bulldozers kom, dan trek ek steeds nie. Ek gaan nêrens nie.”

 

Duidelik ‘n resep vir moeilikheid. Dis waar my pel in die prentjie kom. Hy is ‘n prokureur, en hy doen daai tipe werk. Arbeidsreg, en die afsit van plase op ‘n wettige manier. [Interessant, ek merk dat kontemporêre politici verkies om deurgaans ook na wettige afsettings te verwys as onwettige afsettings.]

 

Lastig. Afghangende hoe jy daarna kyk. Gelukkig is daar ‘n bietjie geld beskikbaar om die probleem op te los. Hofsake is duur stories mos.

 

My pel se vrou is saam met hom ‘n prokureur in sy praktyk. Maar sy wou baie liewerster ‘n sendeling as ‘n prokureur gewees het. My pel self ook so soortvan. Hy is een van daardie rare sakemanne wat nie sy sukses meet aan omset en inkomste nie. Dis dié dat hy soms amper ‘n pyn in die agterent kan wees in sy ywer om ‘n probleem op te los. So sal hy ‘n hofsaak afhandel waar twee (gewese) vriende se dinge suurgeloop het en hulle mekaar in die hof pak. En waar ander prokureurs dan sal wegstap en die rekening lewer weier hy om te loop voor hy nie eers ‘n daadwerklike poging aangewend het om die vriendskap herstel te kry nie.

 

So word ‘n nuwe plan bedink. Baie vergaderings. Daar is mos ‘n paar Rand beskikbaar. Die ontwikkelaar is bereid om die befondsing selfs bietjie op te stoot vir Die Antwoord. Nog vergaderings.

 

My pel se vrou bestudeer die 45-bladsye studie wat gedoen is oor wat die impak sal wees van ‘n verskuiwing van die ses gesinne. Sy gaan ontmoet hulle. Probeer leer hulle ken so goed as moontlik dat sy kan weet wat elkeen se style en voorkeure is. Dan takel sy die internet, Google Earth, koerantadvertensies. Sy gaan sien eiendomsagente. Vir weke lank. Sy identifiseer huise op die dorp, elkeen individueel beoordeel aan die hand van hoe sy die ses gesinne leer ken het.

 

Dan gaan besoek sy en vyf gesinne die huise wat sy geidentifiseer het. Sy wys vir elkeen watter huis sy gedink het vir hulle sal werk. Op pad terug plaas toe sit iemand in met ‘n gesang: “Deurgedra, Hy het ons deurgedra…..” So gaan almal gaan terug na hul huise toe, waar daar in elke huis ‘n prentjie van Jesus hang wat op die bewoners afkyk.

 

Die sesde gesin verkies ‘n ander dorp. Op ‘n Sondag middag ry hulle na die ander dorp toe om daar te gaan huis soek. Drie voertuie vol opgewonde toeskouers ry saam om die oefening mee te maak. ‘n Huis word gekry.

 

Die navorsing en moeite, en meer belangrik seker, die opregte behoefte om ‘n huis te kry wat pas by elke gesin, werp vrugte af.

 

Dis nou ‘n paar weke later.

 

Die bulldozers is nou al amper op pad. Daar is geen onmin nie. Opgewondenheid, ja, oor ‘n nuwe begin, in nuwe huise, elk met sy eie kaart en transport. En sommer met ‘n gratis testament ook ingegooi in die deal.

 

Dis vooruitgang, reken ek.

 

PGJ

www.pgjonker.co.za 

5 antwoorde op Plaasuitsettings

  1. TS het gesê op Oktober 4, 2010

    Sjoe dit klink na ‘b sprokie… is dit waar?

  2. pgjonker het gesê op Oktober 4, 2010

    Ja, 100% waar. PGJ

  3. Anchoroid het gesê op Oktober 5, 2010

    Baie waar, maar glo dit of nie – so `n rukkie gelede gee ek my arbeiders op my lappie grond `n ietsie ekstra by hul jaarlikse bonus. Kry ek mos toe na die naweek 2 bedankings want: “As ek hulle die ekstra kon gee, dan betaal ek hul mos heeltyd te min”. Ek betaal terloops meer as die vasgestelde bedrag

  4. zephur het gesê op Oktober 5, 2010

    Klink na ‘n goeie oplossing…

    Daar is ‘n oplossing…as ‘n mens hom wil sien

  5. antjienz het gesê op Oktober 8, 2010

    Laat my nou dink aan die liedjie Skipskop waar die mense daar by Arniston se kant moes trek toe Krygkor met hul toetsbaan daar begin het. Skipskop…Skipskop…sit jou goedjies op jou kop….

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.