Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Rooftog

Oktober 29, 2010 in Sonder kategorie

Thomas* kom van Zimbabwe af. Hy is jonk, nog nie dertig nie, maar ‘n enterpreneur. In Harare het hy sy eie karate dojo gehad. Die probleem is net dat, as mense nie kos het nie, dan betaal hulle ook nie eintlik hul fooie nie. Ook oefen hulle dan nie so kwaai baie nie.

 

Die gevolg was dat Thomas ‘n uitkoms in Suid-Afrika moes kom soek het. Hier in Afrika se land van melk en heuning.  Die roete af Kaap toe loop vir Thomas deur Johannesburg. So bevind hy hom iewers in downtown Johannesburg met ‘n enkele sak bagasie, op soek na die punt van die reënboog iewers in Kaapstad.

 

Johannesburg kan ‘n wrede plek wees, sal Thomas agterkom.

 

Drie manne reken hulle kan sy sy sak klere beter aanwend as hyself, en dring aan daarop. Ten spyte van sy nie te groot 66kg liggamsbou kan Thomas sy man staan teen enige een wie wil probeer. Hy kan ‘n uur lank elke minuut teen ‘n vars teenstander ‘n geveg volhou sonder om onnodig moeg te lyk aan die einde van die uur. Dis anders, egter, wanneer jou drie teenstanders gewapen is met onderskeidelik ‘n pistool, ‘n mes en ‘n skroewedraaier. Dis veral die vuurwapen wat die balans bietjie kwaai teen Thomas opstapel.

 

Teen die tyd, egter, wat Thomas besluit dat ‘n toegewing oor sy besittings moontlik onder omstandighede die aangewese weg mag wees het die teenkant reeds die reuk van bloed gekry. Hulle oormag het dit net onweerstaanbaar gemaak – hulle móés vir Thomas wys dat sy gedrag nie in lyn is met hulle verwagting nie en dat die kwessie “had to be taken to the next level” soos wat die skurke in die movies sal sê.

 

Met dié dat Thomas die grond tref het hy reeds twee gapende wonde aan sy bo-arm, komplimente van onderskeidelik die mes en die skroewedraaier. Dan, met die opkykslag sien Thomas dat die pistool nie ‘n magasyn in het nie. Dalk mag daar ‘n rondte in die kamer wees, maar dis ‘n risiko wat die moeite werd is om te loop.

 

Thomas se orentkom en die platslaan van die man met die vuurwapen is een beweging. Met jare se gebreide tegniek, gekombineer met elke ons spierkrag in sy lyf, word Thomas se 66kg skielik soos die skop van ‘n muil.  Die maat met die pistool tref die grond voordat hy weet waar die hou vandaan kom.

 

Die ander twee manne se bravado verdamp skielik. Ongelooflik, eintlik. Ten spyte van hulle getals- en wapen-oorwig kies hulle die hasepad. Die maat met die pistool sien die wysheid in hierdie maneuver, strompel op sy voete met sy leë pistool en doen hulle dit flink na.

 

Dan, wanneer die stof letterlik gaan lê het stap die twee polisiebemptes wat die petalje eenkant gade geslaan het nader om te verneem of hy oraait is. Hy is, dankie.

 

PGJ

 

Ouboet leer praat

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Toe Ouboet nog klein was het sy Oupa nog geleef. Oupa en ouma het ook in ‘n aparte huis op die plaas gebly.

 

Soos dit nou maar gaan het Oupa maar bedags daar aangekom, dan vat hy vir Ouboet om saam met hom te gaan ry.

 

Oupa het so half onduidelik gepraat. Ek kon nooit lekker uitmaak wat die oubaas sê nie. Ouboet, aan die ander kant, praat nog nie juis nie.  

 

Op ‘n dag kom Ouboet terug van ‘n uitstappie saam met oupa. “Wha-wha-wha-wha… pappa…” praat die mannetjie. Ag, te wonderlik, die kind begin te praat!

 

Na ‘n later uitstappie saam met oupa kom Ouboet terug. “Wha-wha-wha-wha… mamma…”

 

Dis eintlik die lekker ding van ‘n oupa en ‘n ouma. Hulle kan ‘n bydrae lewer tot die opvoeding sonder dat te veel van ‘n probleem hoef te word vir hulle. Vanaand gaan elkeen sy eie rigting, en ouma en oupa hoef nie doeke te doen of te dissiplineer nie. Dis duidelik ‘n wedersyds gunstige reëling hierdie. Oupa hou vir Ouboet onder sy ma se voete uit, en in die proses leer hy ook sommer vinniger praat ook.

 

So kom Ouboet weer terug van ‘n uitstappie af. En sê “Wha-wha-wha-wha… donnig…”

PGJ

www.pgjonker.co.za

En so begin menige bakleiery…

Oktober 27, 2010 in Sonder kategorie

Zeppie reageer op my vorige posting met die opmerking “en so begin menige bakleiery.”

Ek kan nou nie help om aan daai simpel grappie te dink van die ou wat vertel hoe hy in Johannesburg spitsverkeer in ‘n ongeluk beland nie.  Eintlik sy skuld gewees, sê hy.

“Na die botsing klim ek uit my motor uit.  Die ander voertuig se bestuurder klim ook uit.  Ek sien dis ‘n dwergie.  Die dwergie stap om die kar na my kant toe.  Hy skop ‘n paar keer teen sy kar se wiele, maar sy kar bly maar net so stukkend.  Hy skud sy kop.  Dan sê hy vir my ‘I’m not happy’. 

“Ek sê toe vir die dwergie, ‘So if you’re not heppie, who are you then?’  En dis hoe die bakleiery begin het…

Sorrie, simpel grappie, ek kon dit net nie weerstaan nie. 

PGJ

Padwoede

Oktober 27, 2010 in Sonder kategorie

Klaas is ‘n groot man. Hy ry ‘n groot Land Cruiser bakkie.

 

So ry hy op ‘n dag deur die buurt, minding his own business.   By ‘n stopstraat sien hy ‘n man en sy vrou met ‘n hond. Klaas hou mooi stil, trek weer weg.

 

“My hond, my hond!” skree die man skielik.

 

Klaas verstaan nie mooi nie. Hy kan die man se hond sien, en die hond is nie naby sy Cruiser nie. Half ergerlik vra hy die man wat gaan aan.

 

“Jy’t oor my hond gery!” beskuldig die man vir Klaas.

 

Nou is Klaas self ergerlik. Is die man dan nou simpel. Sy hond makeer niks nie. Die hond se eienaar gaan voort om vir Klaas te vertel dat sy bestuursvernuf ook nie aan standaarde voldoen nie. Nou, Klaas is ‘n ex- valskermsoldaat en grensvegter, en neem nie geneë met hierdie tipe van ongegronde bewerings nie. Meer in besonder verskil Klaas van die honde-eienaar oor sy bestuursvernuf, en deel die man ook so mee. Net in effens meer kleurvolle taal.

 

Intussen kom die honde-eienaar se ander (klein) hondjie, ene wat lyk soos ‘n muis wat deur ‘n toiletborsel loer, onder Klaas se bakkie uit. Dié was toe inderdaad onder die bakkie, maar die bakkie is gelukkig wydsbeen oor hom, sonder dat Klaas geweet het van hom.

 

Ergerlik sit Klaas sy bakkie in rat en trek weg. Hy wou dit eintlik met skreeuende bande doen ter wille van die effek, maar dis opdraend, en die bakkie is nie eintlik vir drag racing gemaak nie. Die geraas van die enjin maak darem tot ‘n mate op daarvoor.

 

‘n Blok verder begin die hele voorval nou vir Klaas bietjie pla. Hy het nie die klein hondjie gesien nie, en eintlik verstaan hy dat die man so ontsteld was. Die hele gesprek was onnodig. Nog ‘n blok verder besluit Klaas nee, die saak moet reggestel word. Hy gaan liewer die man om verskoning vra.

 

Nadat hy ‘n nege-punt draai in die pad gedoen het is Klaas nou weer met sy bakkie op pad terug om die man en sy honde te gaan soek dat hy kan vrede maak.

 

Die honde-eienaar hoor die gebrul van die bakkie se enjin nog voor die bakkie hom die hoek verskyn. Dan sien hy die bakkie aangery kom. Die man hardloop na ‘n hoop met klippe wat ‘n entjie weg lê. Teen die tyd wat Klaas stilhou met sy bakkie is die man gereed, gewapen met ‘n klip in elke hand. Oor die afstand skree hy vir Klaas om, ter wille van sy eie veiligheid nie nader te kom nie. Klaas kan sien die man is ernstig oor sy selfverdediging.

 

Na hy ‘n oomblik gewik en geweeg het besluit Klaas dit gaan nou nie heeltemal so lekker werk om vir die ou oor ‘n afstand om verskoning te skree nie.

 

Dus, tot die man se verligting, besluit Klaas toe maar om die verskoning te los, klim in sy bakkie en ry baie beskaafd weg.

 

PG Jonker

www.pgjonker.co.za

Almal se naam is Makazol

Oktober 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek het die eerste 7 jaar van my akademiese loopbaan op die banke van die HP Williams Laerskool op Stompneusbaai deurgebring. Dit was ook die enigste deel van my skoolloopbaan wat lekker was. Of eintlik, net die eerste 6 jaar daarvan. Ek was hondbang vir ons standerd 5 meneer, so dit was bietjie van ‘n moeilike jaar. Daarna moes ons busry dorp toe om op Vredenburg skool te gaan. Nou, dertig jaar na ek skool klaargemaak het, is dit nog steeds soms vir my te goed om waar te wees dat ek nie Maandag hoef skool toe te gaan nie. En nee, dis nie die skool se skuld nie, dit was maar my eie skuld dat dit nie vir my lekker was nie.

 

Destyds was dit nog nie polities onkorrek om gevangenes uit te plaas by plekke soos skole om daar in die tuin te werk nie. Toe was dit ook nog nie polities onkorrek om hulle bandiete te noem nie.

 

Ons het nooit geweet waarvoor Makazol in die tronk was nie. Maar dit kan darem seker nie vir iets te gewelddadigs gewees het nie, anders sou hulle hom nie in ‘n laerskool se tuin laat werk het nie. Maar omtrent vir solank ek op laerskool was, was Makazol maar deel van die outfit gewees.

 

Ons het nie snaaks daarvan gedink om vir ‘n hele dag nie skool te gaan nie, maar in plaas daarvan die visdam skoon te maak, of te skoffel in die tuin nie. Vir ons het dit maar gevoel soos deel van die kurrikulum. En veral as die visfabriek 300m verder in volle swang vis verwerk het, met die aroma daarvan in die lug, dan het dit in elk geval heel natuurlik gevoel om buite in die tuin te werk.

 

Die opdrag was gewoonlik: “Julle moet vandag vir Makazol gaan help”. Dan is ons almal te opgewonde. Dis baie lekkerder om buite in die tuin te werk, veral as daar nog ‘n kans is dat jy modderbesmeerd huis toe kan gaan na ‘n poging om die visdam bietjie skoon te maak.

 

Kort voor lank begin iemand met ‘n werkersliedjie: “Ons almal se naam is Ma-ka-zol.” Vinnig-vinnig skoffel en pik en watookal almal in ritme op die afgemete maat van “Almal se naam is Ma-ka-zol.” Gewoonlik darem teen ‘n effens vinniger tempo as wat Juffrou Baard vir ons “Met dofsware plof…” sou voorlees.

 

Sedert my Graad 2 (destyds was dit nog Sub B gewees) was my vrou saam met my deel van hierdie gereelde werkerspan. [Ek like haar al van ek 6 jaar oud is].  Sy onthou ook vir Makazol. So wonder ek nou annerdag hardop, wat Makazol se ma tog sou besiel het om hom Makazol toe noem.

 

“Jy weet ook niks nie,” skud my vrou haar kop. “Rol ‘n zol, Maak ‘n zol, Makazol….!”

 

OK, so nou weet ek hoekom Makazol in die tronk was. Dalk was dit nie veronderstel om so lank te vat voor ek dit ook kon agterkom nie.

 

PG Jonker

www.pgjonker.co.za

 

 

Matriekstories

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Vrydagoggend was die formele laaste dag van die matrieks by die skool. ‘n Hele prosessie is gereël, met ‘n kort kerkdiens, terugstap skool toe, verversings geniet en so aan. Ons kon net die kerkdiens gedeelte bywoon. Ons was bietjie vroeg, en besluit toe dat ‘n wegneem koffie van die Mugg & Bean medies aangedui is. Dié sit ons toe buite die kerk in die motor en drink.   Iets wat my later sou berou.

 

Dit was heel aandoenlike oomblikke. In die kerk het my vrou het ‘n traan weggepik by die herinnering aan die laaitietjie wat ons 12 jaar gelede by die laerskool afgelaai het. Met die ander outjies destdys rondom hom in trane het hy opgespring toe die bevel kom, oor sy skouer geloer, gewaai en gesê “OK baai”, en toe is hy haastig weg na die nuwe avontuur toe. Voor sy ma nog oor hom kon huil.

 

My selfoon bliep ‘n boodskap. ‘n Kollega laat weet sy het die vorige dag na werk tuis gekom en haar seun vasgebind in haar hangkas aangetref waar die rowers hom gelos het. Ongedeerd, maar nie baie vrolik nie. Dinge is bietjie hectic daar en sy gaan nie inkom vir werk nie.

 

Ek dwaal af. Terug by die diens. My seun is nou darem heelwat groter as in Graad 1, alhoewel nie soveel langer regtig nie, noudat ek daaraan dink. Spasie in die kerk was bietjie knap met al die matrieks, ouers, en selfs graad 11’s daar. Die matrieks sit in ‘n blok op hulle eie. So sien ek van waar ek agter hulle sit hoe my seun se pel J hom nog inwurm in ‘n klaar te vol bank. Met spasie beknop sit J nou maar so half op een boud en balanseer homself met sy arm om my tasdefensiewe seun se nek. Ek en my vrou kon nie help om te grinnik nie.

 

Ons sing vir hulle ‘Laat Heer u seën op hul daal.’ Soos destyds in Graad 1 stort my seun geen traan nie.   Na die diens stap almal rustig terug skool toe. Waarskynlik ‘n laaste keer wat hulle so saam sal wees.

 

En al wat ek op daardie stadium aan kan dink is verbrands! hoe kón hulle, selfs al was dit 150 jaar gelede, ‘n kerk sonder toilette bou….!

 

Slaat hom, pappa, slaat hom!

Oktober 22, 2010 in Sonder kategorie

Dit was een van daai rowwe dae tuis gewees. Dus stuur my vrou vir my, ons nege-jaar oud dogter en vir Klein-Jan (2 jaar oud) af na die biblioteek toe. Sy’t gemeen dis beter vir haar geestestoestand dat ons liewer die biblioteek moet gaan ontwrig. Die biblioteek is egter reeds toe. Miskien maar goed so, nou word ons darem nog toegelaat daar – dinge mag anders verloop het as die bib nog oop was daardie dag.

Op die grasperk voor die biblioteek is ‘n lekker speelparkie. Dis laterig die middag, so daar is niemand anders nie. Ons het die speelparkie vir onsself. Anita spring dadelik op een van daai naarmaak-wiele wat jy aan vasklou en dan in die rondte laat draai. Dis ‘n groot wiel met ‘n dubbele rand om lekker aan vas te hou. Anita sit bo-op die wiel. Ek word getaak om die wiel se energiebron te wees. Klein-Jan kyk toe. “Willie opklimmie”, sê hy.

Hoe lekkerder die wiel draai hoe nader staan Klein-Jan. Hy begin ‘n ernstig belangstelling ontwikkel tsv sy aanvanklike “willie opklimmie”. Dit word toe later “wil opklim”. Ek stop die wiel en sit hom op die wiel. Ek monteer hom nou mooi wydsbeen oor die dubbele rand en sit sy hande mooi op die pype om aan vas te hou. Die wiel is so ‘n meter bo die grond, so ek gaan maar stadig dat hy nie afval nie.

Soos Klein-Jan nou die ding agterkom geniet hy dit al meer. Hy leun in die draai in kompleet soos mens op ‘n motorfiets sou maak. Hoe vinniger dit gaan hoe meer geniet hy dit. So nou gaan ons so ‘n klein bietjie vinnigder. Ek hou hom mooi dop dat dinge darem nie te rof raak nie. Tot dit nou eintlik heel lekker vinnig gaan.

Nou ja, dit moes seker een of ander tyd gebeur. Middelpuntvlietende krag bereik toe mettertyd die deurbreekpunt waar ‘n twee-jaaroud se handjies nie meer daarteen kan stry nie, en woeps! dop Klein-Jan af van die wiel af. Hy tref die grond dat hy hik.

Die feit dat hy nie baie seer gekry het nie doen geen afbreuk aan sy entoesiasme om te skree daaroor nie. Dit vat ‘n tydjie om die ergste sand weer uit al die holtes uit te kry so tussen die spoeg en snikke deur. Mettertyd raak die snikke bietjie stiller. Dit beteken egter nie dat sy vlak van ontevredenheid enigsins verander het nie.

Nadat hy mooi tot verhaal kom toe draai hy om na die wiel toe, wys dit aan my uit en sê: “Slaat hom, pappa, slaat hom!”

 

Toe slaat ek hom maar. Ek meen nou die wiel, nie vir Klein-Jan nie.

I have a theory

Oktober 21, 2010 in Sonder kategorie

I have a theory. Not to be mistaken for Martin Luther King’s dream, although it does touch upon both politics and religion. I consider both topics to be dangerous ground to cover. Hence, I do this posting with some trepidation.

South Africa (that’s now the old one where I used to live in) used to call itself a christian nation.   The churches were full, there were no/little sport on Sunday and the Scope came with little stars on strategic places. So I’m told; we were not allowed access to those subversive publications. Even Ruiter in Swart had to be read with circumspection so as not to have it confiscated.

It is now 16 years later, and little of what was previously considered to be the hallmark of a christian nation has remained. This has been the case now, according to my observation, for many years. In fact, things seem to have started changing shortly after 1994. It puzzled me how quickly the changes could take place, putting a bit of a question mark behind the whole thing of the “christian nation.” And before you start an sms campaing against me, what I mean by that is, if we were this truly christian nation, then the changes could or should mos not have taken place so abruptly.

So why did this happen? This is my theory.

People live off the incentives offered by society, a wise colleague of mine once said.

In the old SA, and maybe more so on the platteland, you would have found that the ‘important’ people in town would serve on all the committees there were to serve on.   School committee, school board, church council, Broederbond and what have you. I would assume their could have been some other influencial committees – just can’t think of them now.

So the same people, by default rather than by design, became the major influence in town. More in particular, they became the people who could influence your appointment or promotion.

 

Also, everyone toed the line with regard to what was considered to be patriotic and acceptable behaviour – politically, morally and in religious terms. Not that everyone necessarily subscribed to those principles, but everyone accepted that you should be seen (or pretend) to do so, because everyone is to some extent watching everyone. So the opinion formers of the town would express opinions which they knew constituted the minimum requirements for acceptable behaviour – once again, not because they necessarily subscribed to those, but because it was “the right thing” to do. That is what society expected of them. Or maybe, that is what everyone thought society expected of them.

 

So it became a bit like a dog chasing his own tail. You behaved in a certain way because you thought that is what society expected of you. Individually, very few might even have had their hearts into their actions, but all assumed that everyone else (and everyone else = “society”) considered this to be the way to conduct themselves.  

Soon after the change of the guard in 1994, however, it dawned on people that there is very little to gain from conforming to what previously constituted “proper” behaviour. Deviating from this norm did not necessarily constitute a career limiting option any more. Maybe for the same reason, two weeks after the 1994-election, you would have been hard pressed to find a living member of the NP who would admit to have ever supported apartheid.

 

Those in power, and in particular those who previously could influence your destiny, have lost that influence. So the incentive to toe the line fell away, resulting in people going their own merry way, and ignoring the previous norms that were set.

 

So my theory is that the previous conforming behaviour had more to do with personal gain than with true beliefs or convictions. Hence the speed with which things changed after 1994, creating the impression of a moral decline, whereas everyone maybe just become slightly more honest.

Eish, now I’m tired! I think maybe I should rather stick to writing nonsense and twakpraatjies.

Die Mooiste Vrou

Oktober 21, 2010 in Sonder kategorie

“Sy is die mooiste vrou wat julle nog gesien het,” hoor ek die oom verduidelik hier van die een kant af. Hy sit op ‘n rusbank en gesels met niemand eintlik in besonder nie. Ons sit in die ontvangslokaal van die hospitaal. Dis diep Desembervakansie, en my seuntjie het ‘n koors wat ons nie kan afkry nie. Nou sit ons en wag vir die doktor.

 

“Ons is vandag 50 jaar al getroud, sy is 12 jaar jonger as ek, maar sy is nog steeds die mooiste vrou wat jy nog gesien het.” Ek skat die oom so rondom 80 jaar oud.

 

Die sekuriteitswag draai ‘n plastiek stoel om en gaan sit teenoor die oom. “Is dit so, oom? Sjoe, maar dis ‘n lang tyd om getroud te wees,” vra hy belangstellend.  Die oom wend hom tot die sekuriteitswag en gesels verder oor sy vrou. Hy is so opgewonde oor sy vrou van vyftig jaar soos ‘n skoolseun oor sy eerste kys.

 

“Waar is sy dan nou, oom?” vra die sekuriteitswag.  Eintlik weet hy,

 

“Sy is hier binne, hulle gaan haar nóú bring, dan sal jy sien.” Die oom raak bietjie ongeduldig. Hy is al moeg gewag. Eintlik dink ek die oom stres ‘n bietjie. Dalk is hy bang hulle bring haar nié. Maar eintlik is hý die pasiënt, nie sý nie, kom ek mettertyd agter. Dit klink asof die oom homself soortvan ontslaan het uit die hospitaal, en die tante is nou nog besig met die dokter. Ek vermoed hy het dalk nie heeltemal die tannie se ondersteuning met dié dat hy nie in die hospitaal wil bly nie.

 

“Hulle bring die tannie nou-nou, oom,” staan ‘n verpleegster nader. “Sy gaan nou hier wees, kom ons help solank vir oom na oom se motor toe.”

 

“Nee, nee, ek was al by my kar. Dit help niks. Ek is nou al weer terug,” protesteer die oom. Die ou bene is nie meer so sterk soos die dag toe hy voor die kansel gestaan het nie, maar hy wil nie gehelp wees nie. “Nee, julle moet net vir háár bring dat ek haar kan huis toe neem.”

 

Almal in die ontvangslokaal luister saam. Mens kan nie eintlik anders nie, die vertrek is nie so groot nie. Ek neem die mense rondom my waar. Niemand is vermakerig nie. Niemand rol hul oë nie. Almal is vriendelik en simpatiek met die oom. Niemand lyk of hulle hom wil tune nie. Almal raak nou al nuuskierig oor sy vrou.

 

Uiteindelik kom sy vrou saam met ‘n verpleegster aangestap. Sy ís mooi. Die oom raak rustig. “Sien, dis my vrou,” beduie die oom trots. “Sien, ek het julle gesê sy is die mooiste vrou wat julle nog gesien het. Vyftig jaar is ons vandag getroud.” Hy neem haar arm in altwee sy hande. “Kom ons gaan huis toe, my skat.”

 

Die oom se bene sukkel bietjie toe hy trots met die tannie uitstap, maar die res van sy lyf huppel, en sy gesig lewe. Sy Kaap is weer Hollands.

 

Maar ek het tog die gevoel gekry dat die tannie se Kaap ‘n bietjie van ‘n besorgde reënwolkie het toe sy saam met hom daar uitstap.

Die Moederstad en sy Mense

Oktober 20, 2010 in Sonder kategorie

My pel Riaan gaan kyk toe Saterdag rugby op Nuweland. Dis die wedstryd waar WP die Cheetahs in opgedreun het. Daar is groot opgewondenheid in sy huishouding. Sy drie seuns, wie se ouderdomme wissel van Graad 1 tot Graad 7 is saam met hom.

 

Nuweland is bekend vir sy gees. Gegewe die feit dat hierdie ‘n halfeindstryd is, soveel te beter.   Daar is manne met volledige monderings van die span van hulle keuse. Daar is selfs ‘n paar Blou Bul ondersteuners, ten spyte van die feit dat hulle span elders speel. Maar dan weer, nie almal kon dit maak Durban toe nie, en waarom nou dat logistieke probleme jou entoesiasme demp.

 

Hulle sitplekke is amper raak-afstand van waar die WP se dans-squad hulle passies doen. Die meisies doen dit baie mooi, verstaan ek. Die choreografie en al daai mos nou.

 

Kwinkslae, grappies en goeie humor is aan die orde.

 

Nie almal het egter noodwendig ‘n goeie sosiale filter nie.

 

Dan kom dit luidkeëls, en by herhaling, van ‘n man hier vier sitplekke weg: “Jou ma se ****!” (Kaapstad is immers mos darem die moederstad.)

 

Niemand voel eintlik om die spreker aan te spreek en almal se dag te bederf nie. Maar dit blyk dat die man min variasie op sy tema het, en die herhaalde uitdrukking begin later Riaan se ore te skroei. Veral nou ook met sy jong seuns by hom.

 

Uiteindelik kan hy homself nie bedwing nie. Hy draai om na die spreker toe. “Maar meneer, jy KAN mos nie so hier praat nie?!” roep hy verontwaardig uit. Dit is uiteraard die tipe opmerking wat manne soos hierdie oombliklik in hulle spore sal stuit, verstaan.

 

Vir ‘n oomblik is daar ‘n verstomde stilte.

 

“Jou pa se *****!” Goed, so die man het darem ‘n variasie op sy tema, alhoewel die idioom nie heeltemal werk nie. En dis ook nou nie heeltemal die variasie wat Riaan in gedagte gehad het nie.

 

Nadat enkele gedagtes heen en weer gewissel is sonder ‘n definitiewe uitkoms besluit Riaan om maar liewer maar die aftog te blaas. Later kyk hy weer in die rigting waar die spreker gesit het, want die man praat nie meer saam nie. Roep ook niks nie. Maar hy sit sowaar nog daar, hy is nou net meer beheersd as vroeër.

 

Ná die wedstryd stap Riaan oor na die man toe en skud blad. “No hard feelings, pel”.

 

“Ja, jy moet maar next time jou kindertjies se oë ook toedruk vir daai girls wat so dans, nuh?” kon die man darem nie help om ‘n klein stekie terug te kry nie.

 

 

PGJ