HOFSTORIES

September 30, 2010 in Uncategorized

Ek het onlangs nodig gehad om die hof te besoek.  Bellville se Landdroshof.  Nee, ek was nie in die moeilikheid nie.  My bywoning was heeltemal bona fide en in die eerbare deelname aan die regsproses.

Vroegoggend is daar lang toue buite die hek.  Almal moet eers deur ‘n skandeerder gaan.  Alle AK47’s en messe en al daai goed word gekonfiskeer.  Die tou staan ver op die sypaadjie uit.  Daar is baie mense.  Daar is ook baie voertuie.  Van die soort wat hulle op die TV op “Pimp my ride” gebruik.  Maar dis die “before”-weergawes wat hier rondry.  Ploiing karre met nuwe leersitplekke en mag wiele. Custom made chroom sierroosters.  Zooped up motors, gekreukeldes, motors met verlaagde suspensies en spoilers, fur op die dashbords.  Daar is ook voertuie wat ‘n kombinasie van sommige of feitlik al voorgaande kenmerke toon.

Oorkant die pad in die son staan 5 manne.  Groot Menere.   Aangetrek met baie netjiese denims, baadjies met gewilde handelsmerke op en pette.  Nie sommer sulke bofbalkeppe nie, nee, larnie hoede, ek sê.  Goue ringe, goue armbande, goue hangers om die nek en so.  Hulle besigtig die ry van daardie kant van die pad af, ietwat uitdagend.  Dis nie die tipe manne wat jy gaan afstaar nie.

‘n Harley-Davidson kom aangery.  Hy pute-pe-pute-pe-pute op die sypaadjie op en in die rigting van die Groot Menere af.  Die Groot Menere maak respekvol pad dat meneer Harley Davidson kan parkeer.  Hy klim af en stap na die agterkant van die ry soos ‘n cowboy  in ‘n Wild West  fliek sal maak. Hy haal nie sy valhelm af nie.  Die Groot Menere bewonder sy motorfiets.

Dan begin die Groot Menere een vir een by die ry inval.  Voor in, nie agter in nie.  Niemand protesteer nie.  Ek ook nie, want ek is mos nie haastig nie.  

Ek kry berig dat die aangeleentheid waarvoor ek daar moet wees eers ‘n uur later gaan begin.  Ek besluit om maar gou oor te stap na Binnelandse Sake om ‘n ID boek te gaan haal.  By Binnelandse Sake is ek heel voor in die tou.  Ek voel so half verleë.  Dis so al asof mens voel jy moet liewer ‘n tou gaan soek om agter in te staan. Dis net te goed om waar te wees.  Die man agter die toonbank tik op sy rekenaar.  Ek kry ‘n sms van Binnelandse Sake af wat sê dat my ID boek gereed is om af te haal. Die man gee my ID boek vir my.  Een-en-’n-half minuut later stap ek uit by Binnelandse Sake.

Nou gaan val ek maar weer agter in die ry in by die hof.  Mettertyd is ek darem binne-in die gebou.  Ek gaan loop ‘n draai. Vonkiespat en Ugly Pops was al voorheen daar,  sien ek uit die grafitti teen die muur.

Buite keer ‘n man my voor en vra of ek hom kan sê waar hy moet wees.  Hy wys my die dokument in sy hande.  Dis een wat die Balju by hom afgelewer het wat sê hy moet daar wees om te verduidelik hoekom  hy nie vir vir minagting van die hof vir gevangesetting verwys moet word nie.  

Ek sê jou, daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan as met jou.

PGJ

www.pgjonker.co.za

5 antwoorde op HOFSTORIES

  1. TS het gesê op September 30, 2010

    Dankie… ‘n lekkerlees blog!

  2. Wonder of laaste sin ooit ‘n “heelagter” posisie in die tou sal bereik

  3. Jy was gelukkig by binnelandse sake!Lekker gelees hier by jou,dankie!

  4. Daar is niks eerbaar om enige siviele hof(tempel) by te woon of te betree nie.

  5. vega het gesê op Maart 14, 2013

    Die 5 GROOT MANNE het seker ‘n skivvie gehad wat plek gehou het. So leer ‘n mens…

Los ’n antwoord vir rosiemetdorings. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.