SANDSTORIES

September 28, 2010 in Sonder kategorie


My vrou lig my een Saterdagoggend in dis tyd om die speelskooltjie wat van die huis af bedryf word se sandput aan te vul. Dis ‘n periodieke gebeurlikheid. Ek wonder natuurlik altyd waarheen die ou sand is. Ek meen, die kleingoed kan tog nie die sand opeet nie? Of dan weer, dalk kan hulle.

 

Normaalweg kry ek sommer vir my ‘n paar los sakke sand. Dan is dit heel eenvoudig. Ek stoot die bakkie agteruit in my jaart in tot sover ek kan kom, tel die 10 vyftig-kilogram sakke op (een op ‘n slag, anders is die pret te gou oor) en gaan gooi dit in die sandput.

 

Aangesien ek hierdie keer ‘n paar dae verlof tot my beskikking het besluit ek toe op ‘n bakkie-vrag sand ipv die sakke-sand ding. Dis eintlik heel eenvoudig. Ek trek daar by die bou-plek in met die bakkie, hulle gooi hom gelyk vol sand teen ‘n fraksie van die prys van 10 sakke sand, en daar gaan ek.    

 

By die huis dink die kinders natuurlik hierdie mobiele sandput is ‘n cool ding. Hule is dadelik agter in die bakkie in en speel op die sand, terwyl ek nou maar so stuk-stuk die sand onder hulle weg werk.

 

Sedert die vorige keer se sand-aanvul oefening het daar ‘n trekkerbuiteband bygekom as ‘n anneks tot die sandput. Dus moet die trekkerband eers vol sand gegooi word. Maar ek sien darem nie kans om weer daai vragte met ‘n graaf uit die kruiwa te skep nie. Dus besluit ek om ‘n ‘ramp’ te bou om tot bo-op die trekkerband te ry.

 

 

Weet jy hoe breed is so ‘n trekkerband? Vreeslik breed. Dus, indien die trekkerband op sy sy lê dan is breedte natuurlik eweredig aan hoogte. Welke hoogte baasgeraak moet word met die kruiwavrag. Eers het ek 2 planke met ‘n tou aan mekaar vasgemaak. Maar dis so ‘n simpel nylon tou waarvan jy nie die knope styf genoeg getrek kan kry nie. So dis so goed soos daar is nie ‘n tou aan nie.

 

 

Nietemin, Supervan besluit om die ramp maar in elk geval so aan te durf.

 

Ek kry my eerste kruiwa-vrag vol sand en [hardloop] [draf] [stap] wankel na die buiteband toe. Mens moet natuurlik spoed hê om die ramp uit te hardloop met die kruiwa. Maar deesdae staan daai hele jaart vol klimrame en al daai. So jy kan nie spoed kry nie. So eers navigeer ek tussen al die speelrame deur tot by die onderpunt van my ramp. Maar nou is daar nie meer spasie oor om spoed te kry nie. Ek het in elk geval intussen my bedenkinge gekry oor die spoed-ding. Kan jy jou voorstel ek hardloop met ‘n spoed die ramp uit, die planke beweeg weg van mekaar af en ek en kruiwa val tussen die planke deur – jy kry die prentjie.

 

 

Nou ja toe, met brute krag beur ek toe maar die ramp uit. Eintlik, al wat ek moet doen is om bo te kom. Die res is veronderstel om so half vanself te gebeur. Jy druk mos maar die kruiwa se punt iewers vas, tip hom oor en swaartekrag doen die res. So daar gaan ons. Kom bo. Met momentum. Ek kan nie meer die formule van momentum onthou nie, maar massa was een van die veranderlikes. So hou nou in gedagte die 75kg sand plus die kruiwa se seker 20kg en my gewig agterna. Bo gekom is daar niks om die ding teen te stop om hom te tip nie. En ja, weliswaar gebeur die res so half vanself. Die kruiwa foeter bo van die planke af kop eerste binne-in die trekkerband in. Ek kry myself darem gestut teen die kruiwa se handvatsels voordat ek agterna kan val. Gelukkig is daar mos in elk geval nie eintlik plek vir my én die kruiwa gelyk in die trekkerband nie. Nou is die kruiwa darem mooi geposisioneer om die sand uit te kry. Hy staan dan nou met sy bene in die lug.

 

Nou, kom ek agter, is die probleem om die oefening in reverse te doen. Ek wil weer die kruiwa terughê om nog ‘n vrag sand mee te gaan haal. Maar hy sit nou vas onder die sand. En om hom daar uit te kry moet ek hom nou teen swaartekrag en met geweld daar uit trek. Miskien moet ek nou eers daai detail los. Voldoende om te sê ek het dit moeilik gevind om die kruiwa weer uit die trekkerband uit te kry. Maar met geweld kan mens ‘n viool teen ‘n boom ook stukkend slaan, het oom Koos Spamer altyd gesê. So mettertyd het ek darem weer die kruiwa daar uit.

 

 

Intussen speel die kinders vrolik in die mobiele sandput agter in die bakkie. Dit laat my toe nogal dink aan my pel Spy wat altyd gesê het hy haat vriendelike mense, want hy is depressief.   Voldoende om te sê dat die kinders op daardie stadium heelwat vroliker was as ek. En toe het ek nog nie eens geweet dat daar nog 13 sulke ritte voorlê nie.

 

PGJ

www.pgjonker.co.za

 

2 antwoorde op SANDSTORIES

  1. Lekker storie. Veral daai stuk waar jy so wankel agter die kruiwa aan. Ek aanvaar teen die 13e rit was jy al mooi gekonfyt in hierdie oefening.

    Mooi gaan
    Leon

  2. antjienz het gesê op Oktober 8, 2010

    Wetie hoekom jy nie sommer kinderarbeid gebruik het nie. Trek die bakkie tot teen die trekkerband en gee die kinders sandgrafies om die band vol te maak terwyl jy ‘n ogie deur die venster hou. Dit sou hulle lekker besig gehou het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.