Jy blaai in die argief vir 2010 September.

HOFSTORIES

September 30, 2010 in Uncategorized

Ek het onlangs nodig gehad om die hof te besoek.  Bellville se Landdroshof.  Nee, ek was nie in die moeilikheid nie.  My bywoning was heeltemal bona fide en in die eerbare deelname aan die regsproses.

Vroegoggend is daar lang toue buite die hek.  Almal moet eers deur ‘n skandeerder gaan.  Alle AK47’s en messe en al daai goed word gekonfiskeer.  Die tou staan ver op die sypaadjie uit.  Daar is baie mense.  Daar is ook baie voertuie.  Van die soort wat hulle op die TV op “Pimp my ride” gebruik.  Maar dis die “before”-weergawes wat hier rondry.  Ploiing karre met nuwe leersitplekke en mag wiele. Custom made chroom sierroosters.  Zooped up motors, gekreukeldes, motors met verlaagde suspensies en spoilers, fur op die dashbords.  Daar is ook voertuie wat ‘n kombinasie van sommige of feitlik al voorgaande kenmerke toon.

Oorkant die pad in die son staan 5 manne.  Groot Menere.   Aangetrek met baie netjiese denims, baadjies met gewilde handelsmerke op en pette.  Nie sommer sulke bofbalkeppe nie, nee, larnie hoede, ek sê.  Goue ringe, goue armbande, goue hangers om die nek en so.  Hulle besigtig die ry van daardie kant van die pad af, ietwat uitdagend.  Dis nie die tipe manne wat jy gaan afstaar nie.

‘n Harley-Davidson kom aangery.  Hy pute-pe-pute-pe-pute op die sypaadjie op en in die rigting van die Groot Menere af.  Die Groot Menere maak respekvol pad dat meneer Harley Davidson kan parkeer.  Hy klim af en stap na die agterkant van die ry soos ‘n cowboy  in ‘n Wild West  fliek sal maak. Hy haal nie sy valhelm af nie.  Die Groot Menere bewonder sy motorfiets.

Dan begin die Groot Menere een vir een by die ry inval.  Voor in, nie agter in nie.  Niemand protesteer nie.  Ek ook nie, want ek is mos nie haastig nie.  

Ek kry berig dat die aangeleentheid waarvoor ek daar moet wees eers ‘n uur later gaan begin.  Ek besluit om maar gou oor te stap na Binnelandse Sake om ‘n ID boek te gaan haal.  By Binnelandse Sake is ek heel voor in die tou.  Ek voel so half verleë.  Dis so al asof mens voel jy moet liewer ‘n tou gaan soek om agter in te staan. Dis net te goed om waar te wees.  Die man agter die toonbank tik op sy rekenaar.  Ek kry ‘n sms van Binnelandse Sake af wat sê dat my ID boek gereed is om af te haal. Die man gee my ID boek vir my.  Een-en-’n-half minuut later stap ek uit by Binnelandse Sake.

Nou gaan val ek maar weer agter in die ry in by die hof.  Mettertyd is ek darem binne-in die gebou.  Ek gaan loop ‘n draai. Vonkiespat en Ugly Pops was al voorheen daar,  sien ek uit die grafitti teen die muur.

Buite keer ‘n man my voor en vra of ek hom kan sê waar hy moet wees.  Hy wys my die dokument in sy hande.  Dis een wat die Balju by hom afgelewer het wat sê hy moet daar wees om te verduidelik hoekom  hy nie vir vir minagting van die hof vir gevangesetting verwys moet word nie.  

Ek sê jou, daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan as met jou.

PGJ

www.pgjonker.co.za

Oom Gert

September 29, 2010 in Sonder kategorie

Oom Gert Smit het altyd die lorrie gery by Suid-Oranje Vissery op St. Helenabaai.  Mooi stadig, geduldig, met ‘n lankmoedigheid wat hom hom uitgeknip gelaat het vir die werk.

In 1970 rond skaf die fabriek ‘n MAN loskop lorrie aan.   Hierdie lorrie het Oom Gert se baba geword.  Hy alleen het die lorrie gery.  Vir dekades.  Die lorrie is soos ‘n baba opgepas, het nooit vinnger as 80km/h gery nie, en was te alle tye in tip-top kondisie.  Oom Gert het mooi na sy goed gekyk.

Op ‘n dag is Oom Gert op ‘n trip Luderitz toe.  Maar dis ‘n lang pad, so hy moet ‘n hulpdrywer saamneem.  Oom Gert is nie lus vir ‘n hulpdrywer nie, hy kan self ry.  Maar hy neem nou maar sy hulpdrywer saam, want hy moet.  Dié is ewe bly om ‘n slaggie weg te kom van die fabriek af om iets anders te doen.  En om ‘n slag ‘n kans te kry om die MAN lorrie te bestuur.

Vroeg oggend vertrek hulle op St. Helenabaai.  Oom Gert bestuur.  Tagtig km per uur, soos altyd.  Teen 80km/h vat dit nogals ‘n tydjie om op enige plek uit te kom, maar dit vat in besonder lank om by Luderitz uit te kom.   Maar Oom Gert is nie haastig nie.   Oom Gert stop ook nie eintlik nie.  Die trok het groot dieseltenks, en dit is hoogstens blaaskapasiteit en miskien honger wat Oom Gert noop om te stop.  Oom Gert raak ook nie moeg nie.  Dus, teen die tyd wat hulle in Luderitz kom is Oom Gert se hulpdrywer al moeg gewag, maat hy het nog niks beurt gekry om te bestuur nie.

Maar nou ja, ten minste bied Luderitz ‘n mooi uitsig, en die vooruitsig om lekker in ‘n gastehuis te oornag, reken die hulpdrywer.

Die lorrie word afgelaai in Luderitz.   ‘n Uur later reken Oom Gert:   “Ek is haastig, kom ons ry.”

“Hoe bedoel oom dan nou?”

“Ons ry terug huis toe.”

En daar is die trok weer op pad terug op die langpad,  St Helenabaai toe, steeds met Oom Gert (heelpad) agter die wiel, 80km/h, tot op St Helenabaai.

Oom Gert het later afgetree.  Die tannie is later oorlede, en Oom Gert het alleen in hulle huisie aangebly.  Tot hier in Augustus 2010 toe inbrekers een nag gekom het.  Oom Gert het nie die aanval oorleef nie.  Hy was 88 jaar oud. 

Rus sag, Oom Gert.  Ons harte is seer dat dit só gebeur het.

PGJ

www.pgjonker.co.za

SANDSTORIES

September 28, 2010 in Sonder kategorie


My vrou lig my een Saterdagoggend in dis tyd om die speelskooltjie wat van die huis af bedryf word se sandput aan te vul. Dis ‘n periodieke gebeurlikheid. Ek wonder natuurlik altyd waarheen die ou sand is. Ek meen, die kleingoed kan tog nie die sand opeet nie? Of dan weer, dalk kan hulle.

 

Normaalweg kry ek sommer vir my ‘n paar los sakke sand. Dan is dit heel eenvoudig. Ek stoot die bakkie agteruit in my jaart in tot sover ek kan kom, tel die 10 vyftig-kilogram sakke op (een op ‘n slag, anders is die pret te gou oor) en gaan gooi dit in die sandput.

 

Aangesien ek hierdie keer ‘n paar dae verlof tot my beskikking het besluit ek toe op ‘n bakkie-vrag sand ipv die sakke-sand ding. Dis eintlik heel eenvoudig. Ek trek daar by die bou-plek in met die bakkie, hulle gooi hom gelyk vol sand teen ‘n fraksie van die prys van 10 sakke sand, en daar gaan ek.    

 

By die huis dink die kinders natuurlik hierdie mobiele sandput is ‘n cool ding. Hule is dadelik agter in die bakkie in en speel op die sand, terwyl ek nou maar so stuk-stuk die sand onder hulle weg werk.

 

Sedert die vorige keer se sand-aanvul oefening het daar ‘n trekkerbuiteband bygekom as ‘n anneks tot die sandput. Dus moet die trekkerband eers vol sand gegooi word. Maar ek sien darem nie kans om weer daai vragte met ‘n graaf uit die kruiwa te skep nie. Dus besluit ek om ‘n ‘ramp’ te bou om tot bo-op die trekkerband te ry.

 

 

Weet jy hoe breed is so ‘n trekkerband? Vreeslik breed. Dus, indien die trekkerband op sy sy lê dan is breedte natuurlik eweredig aan hoogte. Welke hoogte baasgeraak moet word met die kruiwavrag. Eers het ek 2 planke met ‘n tou aan mekaar vasgemaak. Maar dis so ‘n simpel nylon tou waarvan jy nie die knope styf genoeg getrek kan kry nie. So dis so goed soos daar is nie ‘n tou aan nie.

 

 

Nietemin, Supervan besluit om die ramp maar in elk geval so aan te durf.

 

Ek kry my eerste kruiwa-vrag vol sand en [hardloop] [draf] [stap] wankel na die buiteband toe. Mens moet natuurlik spoed hê om die ramp uit te hardloop met die kruiwa. Maar deesdae staan daai hele jaart vol klimrame en al daai. So jy kan nie spoed kry nie. So eers navigeer ek tussen al die speelrame deur tot by die onderpunt van my ramp. Maar nou is daar nie meer spasie oor om spoed te kry nie. Ek het in elk geval intussen my bedenkinge gekry oor die spoed-ding. Kan jy jou voorstel ek hardloop met ‘n spoed die ramp uit, die planke beweeg weg van mekaar af en ek en kruiwa val tussen die planke deur – jy kry die prentjie.

 

 

Nou ja toe, met brute krag beur ek toe maar die ramp uit. Eintlik, al wat ek moet doen is om bo te kom. Die res is veronderstel om so half vanself te gebeur. Jy druk mos maar die kruiwa se punt iewers vas, tip hom oor en swaartekrag doen die res. So daar gaan ons. Kom bo. Met momentum. Ek kan nie meer die formule van momentum onthou nie, maar massa was een van die veranderlikes. So hou nou in gedagte die 75kg sand plus die kruiwa se seker 20kg en my gewig agterna. Bo gekom is daar niks om die ding teen te stop om hom te tip nie. En ja, weliswaar gebeur die res so half vanself. Die kruiwa foeter bo van die planke af kop eerste binne-in die trekkerband in. Ek kry myself darem gestut teen die kruiwa se handvatsels voordat ek agterna kan val. Gelukkig is daar mos in elk geval nie eintlik plek vir my én die kruiwa gelyk in die trekkerband nie. Nou is die kruiwa darem mooi geposisioneer om die sand uit te kry. Hy staan dan nou met sy bene in die lug.

 

Nou, kom ek agter, is die probleem om die oefening in reverse te doen. Ek wil weer die kruiwa terughê om nog ‘n vrag sand mee te gaan haal. Maar hy sit nou vas onder die sand. En om hom daar uit te kry moet ek hom nou teen swaartekrag en met geweld daar uit trek. Miskien moet ek nou eers daai detail los. Voldoende om te sê ek het dit moeilik gevind om die kruiwa weer uit die trekkerband uit te kry. Maar met geweld kan mens ‘n viool teen ‘n boom ook stukkend slaan, het oom Koos Spamer altyd gesê. So mettertyd het ek darem weer die kruiwa daar uit.

 

 

Intussen speel die kinders vrolik in die mobiele sandput agter in die bakkie. Dit laat my toe nogal dink aan my pel Spy wat altyd gesê het hy haat vriendelike mense, want hy is depressief.   Voldoende om te sê dat die kinders op daardie stadium heelwat vroliker was as ek. En toe het ek nog nie eens geweet dat daar nog 13 sulke ritte voorlê nie.

 

PGJ

www.pgjonker.co.za